#Stukkendeharte Hoofstuk 14 - Rooi Mier
Janice staan swaar op uit die stoel. Dit is besonders warm vandag in Upington. Sy is nou ses maande swanger maar sy voel soos 'n walvis. Sy vryf oor haar maag terwyl sy aan Lawrence dink.
"Wat maak hy? Hy is nou wel nie lief vir my nie maar hy kontak my gereeld. Al wat ek weet is dat hy 'n goeie pa gaan wees vir ons kind. Dit is snaaks dat hy nog nie gebel het nie."
Haar gedagtes gaan terug na daardie dag toe sy 'n aborsie sou gehad het.
"Ons moet tweeuur by die kliniek wees Janice. Kom ons ry."
Janice klim langs haar ma in die motor. Haar emosies is 'n warboel. Sy het klaar vir haar ma gesê sy is seker so sy kan nie nou kop uittrek nie.
By die kliniek moet hulle 'n tydjie wag voor dit hulle beurt is. Daar sit nog 'n leerder wat nou eers graad 10 is. Janice wonder wat deur haar kop gaan. Ten minste het sy haar ma by haar maar die meisie is alleen. Haar ouers weet seker nie eers van haar swangerskap nie.
"Janice Louw!," roep die suster.
Angela vra, " Wat gaan nou gebeur suster?"
"Die dokter gaan haar eers ondersoek om te kyk of sy gesond is; indien nie sal hy nie die prosedure doen nie. Sy sal dan 'n ander datum moet kry."
Die deur bars oop. "Janice, Janice. Moenie dit doen nie."
"Lawrence? Wat maak jy hier?"
"Asseblief Janice, moenie my kind doodmaak nie."
"Meneer, dit is nie doodmaak nie want dit is nog nie 'n kind nie."
"Miskien nie vir jou nie maar ek sien dit as 'n lewe waaraan ek deel het suster. Asseblief Janice."
"Lawrence wat maak jy hier. Dit is haar liggaam en haar besluit. Kom my kind."
"Nee Mammie, ek en Lawrence moet eers praat. Ons kan mos op 'n ander dag weer kom."
"Dankie Janice." Lawrence klink verlig.
"As dit jou besluit is my kind respekteer ek dit."
Angela vra die suster om verskoning. Dié frons net en stap by die dokter se spreekkamer in.
Hulle is nou buite.
" Waar gaan julle praat? Of dit is ook nie my besigheid nie. Ek gaan julle los. Hier is 'n paar rand Janice."
Daardie middag praat hulle oor die feit dat hulle albei die kind wil hou. Lawrence wil gaan werk om vir sy kind te kan versorg.
Hulle praat oor die feit dat Lawrence nog lief is vir Sahara en daarom voel Janice dat hulle net ouerskap moet deel, niks meer nie.
Hy vra haar om verskoning dat hy haar lewe opgemors het en sê hoe dankbaar hy is dat sy nogtans die opoffering ter wille van hul kind gaan maak.
'n Paar dae nadat hulle die storms tuis hanteer het, het Lawrence se ouers weer haar kom spreek. Hulle wou weet of Lawrence maar kon aangaan met sy studies terwyl hulle die finansiële sy van die kind sal dra totdat hy klaar is. Hy moet hulle dan terugbetaal.
Sy pa verduidelik hoe dit tot voordeel van die kind sal wees as hy sy studies voltooi. Hy verduidelik ook dat dit alles gaan afhang van hoe Janice en die Louw's daaroor voel. Haar ouers het nie dadelik ingestem nie maar nadat Janice hulle oorreed het 'n paar dae later die groen lig gegee. Lawrence wou natuurlik nie maar Janice en sy ma het hom oorreed.
Terug in die hede. Terwyl sy by die voordeur uitstap om onder 'n boom buite te gaan sit dink dat sy iets opgemerk het die dag dat Lawrence en sy ouers daar was. Iets was nie pluis tussen hom en sy pa nie. Daar is duidelik spanning van ten minste Lawrence se kant af.
Lawrence en Janice het 'n goeie vriendskaplike verhouding opgebou en Janice probeer maar haar gevoelens onderdruk.
Hy bel gereeld en as dit van hom afhang sal sy permanent is die dokter se spreekkamer wees. Sy seun moet groot, gesond en sterk wees.
Sy sien so uit na sy oproepe. Haar hart wil nie laat gaan nie. Ander meisies van haar ouderdom was al 'n paar keer verlief maar haar hart het vasgesteek by hom. Sy vra hom nooit uit oor Sahara nie maar sy wonder tog of hulle kontak het. Soms huil sy haarself aan die slaap.
Daar is 'n onrustigheid in haar. Hy het nog altyd elke tweede dag gebel maar vandag lui haar sel nie.
Sahara voel ook onrustig. Sy kan die gevoel net nie afskud nie.
"Net môre gaan ek Lawrence se nommer probeer kry."
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking