#Stukkendeharte Hoofstuk 28 - Rooi Mier
Sahara het nog nie afgekoel nie. Verdomde man. Indien Lawrence nooit weer vir haar wil sien nie sal dit sy skuld wees.
"Ek sal hom seker maar moet bel om te verduidelik. Hy moet nou nie hardkoppig wees en nie wil antwoord nie. Ek sal nooit die seer in sy oë kan vergeet nie."
Sahara skakel sy nommer. Gelukkig het sy dit gestoor toe hy gebel het.
Hy antwoord nie. "Ek sal maar later weer probeer."
John en Martin is oppad huistoe.
"Dit was nou 'n lieflike middag nê. Net jammer om van Jolene te hoor. Ek kry Elton so jammer."
"Ja John. Dit moet nie lekker wees nie. Ek weet nie hoe dit moet wees nie. Ten minste het ons nie vooraf geweet ons vroue gaan sterf nie."
"Martin ons sal hom maar net moet ondersteun. Nou hoekom is ons so swartgallig? God het mos die laaste sê of hoe?"
"Ja jy het my mos geleer om nooit tou op te gooi nie. Weet jy ek sal nooit ons tyd saam onder die brug vir enigiets wil verruil nie."
"Dit was moeilik Martin maar daar het ek menslikheid geleer."
"Ek sien jy is gereed om aan te beweeg John my vriend." Martin gee 'n stout laggie.
"Wat bedoel jy?"
"Een woord, Linda!"
John glimlag skaam. "Dink jy nie dit is te vroeg nie my vriend."
"Nee man John. Hoe kan dit te vroeg wees? Ons was vir drie jaar onder die brug en dit is nou nog twee jaar later. God het jou vergewe, jy het jouself vergewe."
"Lekker gesê né maar jý beweeg nie aan nie."
"Hoe weet jy. Miskien is daar iemand." Martin glimlag weer.
John kyk hom aan. "Hier dink ek ons weet alles van mekaar af en nou moet ek hoor jy vry skelm."
"Hokaai my vriend. Darem nog nie daar nie."
"Gepraat van geheime, ek het jou nog nie vertel van my broer nie. Dit was skokkend wat ek alles van hom gehoor het. Dan is daar nog iets wat ek moet ondersoek ook. Jou gebede sal waardeer word."
"Ons is amper tuis. Jy kan my oor 'n koppie koffie vertel."
Bennie van Wyk skakel Paul se nommer.
"Paul?"
"Goeie middag Meneer van Wyk."
"Weet die man nie dit is Sondagaand nie. Dit is my afdag. As ek nie die geld nodig gehad het nie sou ek nie nou geantwoord het nie.
Sy verdomde seun het ook nou nog veroorsaak dat Sahara kwaad is vir my. Hoekom gaan mors hy nie met sy petiers nie. Blerrie nat agter die ore voorbarige snotkop," dink Paul.
"My seun was vanmiddag in 'n ongeluk. Hy is opgeneem in Somerset Hospitaal."
"Jammer om te hoor Meneer. Hoe gaan dit met hom?"
"Niks ernstigs nie Paul. Hulle gaan net môre x-strale neem om seker te maak daar is nie gebreekte ribbes nie.
Ek het gebel om te vra of jy nie môre vir hom 'n selfoon kan gaan koop nie. Syne het weggeraak op die ongelukstoneel. Ek is môre in die Kaap dan sal ek dit by jou kry."
"Maak so meneer."
"Sien jou dan môre Paul."
Paul wonder wat die verband tussen hom en Sahara is en hoekom wil sy seun 'n verhouding met Sahara Muller hê.
Ten minste sal Sahara hom nie vanaand kan bel nie en sy weet seker ook nie dat hy in 'n ongeluk was nie.
"Hoekom is Lawrence deesdae so stil? Hy het my nog nie een keer die naweek gebel nie en dit is nou al Sondagmiddag. Ek verlang so baie na hom."
Janice het nog nie opgegee op Lawrence nie. Sy is lankal nie meer kwaad oor daardie aand nie. Die feit dat hy nie meer elke dag bel nie beteken nie hy is minder bekommerd oor hulle nie. Hy is seker maar net besig. Larisa sê ook dat hy skaars is.
Sy sien flitse van hulle met die bulletjie en 'n dogtertjie. So opgewonde sy is oor die geboorte van hul bulletjie is so banger raak sy oor die naderende onbekende dag.
Lawrence raak wakker. Die pynstillers het hom uitgeskop. Alles lyk bietjie vreemd tot dat besef hy lê in 'n hospitaal.
"Het die Here my lewe vir 'n derde keer gered? Ek sal seker nooit weet nie maar as dit U is wil ek net baie dankie sê."
"Sahara, Sahara. Dit was altyd lekker om daai naam te noem. Nou voel ek net diep seer. Niemand het my nog ooit so teleurgestel soos sy nie. As daai Paul karakter nie opgedaag het nie sou ek soos die grootste dwaas voorgekom het. Hoekom het sy nie net vir my op die telefoon gesê sy sien die middag iemand nie. Dalk was dit haar plan om my te wys ek is nog 'n seuntjie teen haar.
Ek is finaal klaar met haar. Paul moet haar maar gelukkig maak."
Hy begin doelbewus sy gedagtes in 'n ander rigting te stuur.
"Ek het vir Janice en my bulletjie gruwelik afgeskeep die laaste tyd. Laat ek haar sommer nou bel."
Dit val hom by dat hy sy sel verloor het.
"Verpleegster, kan ek miskien jou sel leen om my foon en sim te blok?"
"Met plesier en my naam is Aida. Ek bring dit later, enigiets vir jou."
Lawrence maak of hy nie die laaste deel gehoor het nie. Noudat hy so daaraan dink sal Janice nogal nie 'n onaardige bruid wees nie. Hy klap homself teen die kop. Hy probeer baie hard om die beeld by die naam te kry maar die beeld bly Sahara.
Skielik verlang hy vir Anton. Hy sou nou vir hom gesê het.
"L, sien mos nou Sahara het aanbeweeg. Janice is mos ook 'n baie mooi girl en die ma van jou seun."
Larisa en hulle twee kom nou dertien jaar saam aan. Hulle is, of liewer was, van hul eerste skooldag al saam. In die dertien jaar het hulle die beste van vriende geword.
"Ek mis vir Anton."
Wilmien le Fleur is besig om Anton se kaste uit te pak. Sy moes haar geestelik voorberei. Hy het nog sy hele lewe voor hom gehad.
"My seuntjie, jy het my hopeloos te gou verlaat."
Sy onthou nog sy eerste dag van skool. Hy het hom so braaf gehou.
"Mammie en Pappie, ek is mos al 'n groot seun nê. Ek gaan nie soos die ander kinders huil nie."
Hy het baie braaf voorgekom maar sy het geweet dat hy eintlik vreesbevange was. Sy kon voel hoe sy klein handjie hare styf vashou waar hy hand aan hand met haar en James geloop het. Hy was so trots om sy Franciscus Primêr skooldrag aan te trek daardie oggend. Dit was vir haar so moeilik om daardie dag sy hand te los om sy eerste treë te gee in die vreemde uitdagende wêreld wat hy betree het.
"Mammie moet my nie soen voor die ander kinders nie. Hulle gaan dink ek is 'n baba. Ek is mos groot nê Pappie."
Sy vind 'n fotoalbum. Daar pryk hy in sy eerste skooluniform. Daardie middag kon hul ouers hulle vir die laaste in die klas gaan haal. Sy was so hartseer want hy het al aanbeweeg.
"Ek kom nou Mammie. Hier is my nuwe vriende, Lawrence en Larisa. Ons het besluit om vir ewig vriende te wees. Sien julle môre my maatjies."
James weet sy vrou is besig om Anton se goed op te pak. Hy weet sy wil alleen wees met haar herinneringe. So hier sit hy alleen en haar pakkery het hom ook nou laat dink.
Hy sien hoe Anton kraai van die plesier toe hy sy eerste trap op sy driewiel neem. Hy moes net keer want Anton het hom verbeel hy is op 'n regte fiets en wou net straat toe.
Net nou die dag nog het hy sy leerlingbestuurslisensie gekry.
"Ek het hom sy eerste les gegee. My senuwees was gedaan."
James huil nie maklik nie maar hy is alleen. Niemand sal sy trane sien nie.
"Hoekom Here? Miskien moes ons hom nie Kaap toe laat gaan het nie."
Larisa sit in haar kamer en staar na Anton se foto op haar kassie. Sy voel deesdae so eensaam. Gedagtes uit die verlede is al wat haar besig hou.
Sy hoor hom. Haar eie Anton le Fleur, "Ek het jou lief my hartedief".
"Larisa, jy is my eerste liefde. Larisa, jy is my laaste liefde. Ja, ek is nog jonk en die lewe lê voor my, maar ek ken hierdie hart van my. Elke klop spel 'n letter van jou naam uit. My asemteue fluister onhoorbaar jou naam, Larisa.
Ek sien jou in elke blomtuin. Die wind dra die fluistering van jou stem wanneer ek ver van jou af is. Jy weet ek is nie die diepgelowige nie maar ek sien hoe God jou vorm, sel vir sel met my in gedagte."
"Ek weet jy is nog nie reg nie. Hoe sal ek jou kan versorg? Dit wil ek jou egter belowe, hierdie was maar hoofstuk 1 van my liefdesverklaring. Met jou gaan ek 'n oneindige verhaal skryf."
Hul oneindige verhaal het so vroeg geëindig. Hy is vir ewig weg. Larisa se trane begin weer te vloei. Daar is geen geluid nie, net trane wat van nêrens af begin vloei.
"Anton, hoekom moes jy my verlaat? Dink jy nie ook dit was hopeloos te vroeg nie?
Ek is so eensaam my lief, so, so baie eensaam."
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking