#Stukkendeharte Hoofstuk 51 - Rooi Mier
"Rachel, wat ek by jou wou weet, het jy nie die kis oopgemaak by sy begrafnis nie?"
"Nee, die begrafnisondernemer het my aangeraai om dit nie te doen nie.
So hy leef die heeltyd. Die vuilgoed. Hoe kon hy verklaar dat hy my liefhet en dit aan my doen? Het ek nie al genoeg gely nie?"
"Wat nou Rachel? Dit is jou man."
"En dit is jou broer Martin. Die logiese ding is om by die polisie uit te kom en 'n verklaring af te lê. Ek kan dit egter nie nou hanteer nie. Kan ons dit nie maar môre doen nie? Dit gaan tog nie 'n verskil maak of ons dit nou of môre doen nie."
John wat die hele tyd geluister het stem saam dat hulle môreoggend moet gaan en eers behoorlik moet rus.
Sarie en baie hartseer vanaand. Sally se oorskot het vandag in Vanwyksvlei aangekom. Met haar aankoms by die lykshuis het sy Steven daar gekry. Hy het haar nie sien inkom nie. Die liggaam was uit die laai gehaal en het op 'n tafel gelê waar die ondernemers hul laaste voorbereidings moes doen vir die begrafnis.
Sarie het vroeër die week 'n rokkie gaan koop waarin die liggaam begrawe moes word. Sommige mense dink miskien dat dit geld mors is maar dit is 'n tradisie wat nog lank gaan bly.
Steven sit met sy hand op haar koue voorkop.
"My dogter, ek is so lief vir jou. Vergewe my dat ek nie daar was in jou grootste nood nie. Ek was so vasgevang in my eie dinge dat ek nie eers geweet het jy het seer nie. Die mense die naaste aan jou het jou gefaal my kind.
Ek wil jou egter vertroos met die wete dat wanneer ek vir jou sê ek weet wat jy deurgemaak het, dan bedoel ek dit."
Steven se trane vloei nou.
"My kind, dieselfde ding het met my gebeur. Ek was net twaalf. Hy was agtien. Ek was liggamlik seer my kind, maar weet jy wat die seerste was?
Dit was toe my pa my uitlag toe ek hom vertel. Hy het my vertel ek het 'n wilde verbeelding. Mans doen nie dit met anders mans nie, en as dit dan waar is, hoekom het ek nie geveg nie? Is ek dan 'n sissie?
My kind, my lewe was nooit weer dieselfde nie. Daar was 'n stadium in my lewe dat ek werklik geglo het ek het dit verdien omdat ek 'n swakkeling was; 'n blerrie sissie wat nie vir homself kon opstaan nie. "
Sarie is geskok waar sy staan en luister.
Steven vryf deur Sally se hare.
"Ek het 'n eensame kind en jongman geword. Soos ek ouer geword het, het die oortreder mag oor my verkry. Ek was totaal en al in sy mag. Wanneer hy naby my gekom het, het ek 'n verlammende vrees ontwikkel. Dit was asof ek heeltemaal afgeskakel het.
Hoe ouer ek geword het hoe moeiliker was dit om iets te doen. Die samelewing het my geleer dat mans wat verkrag word liewer in stilte moet ly. Hulle moes dit nie waag om eers dié moontlikheid te noem nie. Ek het begin drink om die seer weg te neem.
Dit was eers net naweke toe het dit in die week ook al hoe meer gebeur. As ek egter nugter geword het, het die seer teruggekom.
Eendag het ek jou ma ontmoet. Ek het opreg lief geword vir haar. Dit het my aangespoor om die drank te los my liefling kind. Ons het nie 'n lang verhouding gehad voor ons getrou het nie.
Jy was binne 'n jaar na die troue gebore. Jy was die mooiste baba ooit. Te hel met almal wat sê babas is nie mooi nie. Jy was beslis my kind.
Ons drie was gelukkig. Willem het in ons lewens gekom. Hy het my oortuig dat een drankie nie 'n probleem gaan wees nie my kind. Dit was die grootste leuen ooit. Na net een drankie wou ek weer en weer drink.
Dit was toe dat ek besef het ek was 'n alkoholis. Ek kon net nie weer wegkom van drank af nie. Willem het die geld voorsien en ek het gedrink.
Min het ek geweet dat my drankgebruik my vrou in 'n posisie sou plaas waar sy met haar liggaam ons voortbestaan moes verseker. Daarvoor kan en het ek haar ten volle vergewe. Dit was immers ek wat haar daartoe gedryf het my kind.
Wat ek haar egter nie kan vergewe is die feit dat sy jou nie geglo het toe jy vertel het Willem het jou verkrag nie. Ek moet ook deel van die blaam dra my kind. Nogtans, dit was onvergeefbaar. Sy en Willem moet uit my lewe uit. Ek het nie meer 'n vrou en 'n broer nie.
Die Bybel leer my ek moet vergewe. Hoe? Sê my hoe asseblief."
Steven het vooroor geleen en haar op die voorkop gesoen. Sy mond het koud gevoel, so asof sy hom nie kon vergewe nie. Dit het meer trane laat vloei. Hy het skielik bewus geword van Sarie se teenwoordigheid, sy trane met sy hand afgevee en sonder 'n woord verby haar geloop.
Dit het Sarie baie seergemaak; meer nog as die woorde dat hy haar nie gaan vergewe nie.
Nou lê sy alleen op hul bed en huil. Sy hoor hom werskaf in die kombuis.
"Hoekom het hy my nooit vertel van wat hy deurgemaak het nie? As ek maar net geweet het met watter seer hy rondloop. As ek maar net geweet het hoekom hy so gedrink het.
Ek het hom nooit gevra hoekom hy so drink nie. Dit was net beskuldigings van suiplap en dronkgat. Ek het hom gereeld vertel van sy slegtigheid."
Sy huil haarself aan die slaap.
Willem lê in sy enkel sel en oordink sy lewe. Was dit alles die moeite werd?
Wat beteken al die geld in sy bankrekening as hy dit nooit kon geniet nie? Niemand moes weet hy het miljoene in die bank nie want hy moes altyd lewe soos die mense rondom hom. Net genoeg om nie uit te staan nie.
Met sy eerste onwettige diamantetransaksie het hy in sy kop al die luukshede gesien wat hy sou aanskaf. Sy drome was egter vinnig vernietig toe 'n medelid van die sindikaat hom waarsku teen buitensporige spandering. So sy Switserse bankrekening het maar net bly groei en groei.
Nou beteken dit nog minder want hy het nie toegang tot dit nie. Hy het eintlik sy tyd en sy lewe gemors.
Dan is daar Sally. Hoe spyt is hy nie nou omdat hy dit aan haar gedoen het nie. Hy onthou die haat wat sy in haar oë gehaat het elke keer as hy naby haar gekom het die afgelope jare. Dit het hom so sleg laat voel. Hy het dan altyd meer geld spandeer op Steven en Sarie se huis. Môre is haar begrafnis.
Sy huis in Carnavon is verwaarloos want hy is weinig daar. Hy kan die eensaamheid nie verdra nie.
Willem was op 'n stadium getroud. Hy was egter so baie weg van die huis af dat toe hy een keer terugkeer na maande se afwesigheid was sy weg. Daar was nie kinders nie. Hy kon agterkom aan die stof in die huis dat sy al lankal weg is.
Hy het onthou dat sy gedreig het om hom te verlaat indien sy sou vasstel dat hy besig is met misdadige aktiwiteite. Daar was nie 'n nota wat vol stof was. Daar was net op geskryf,
"Ek het jou gewaarsku."
Hy het haar nooit weer gesien nie.
Sarie! Hy het lief geraak vir haar maar dit was sy broer se vrou. Die enigste manier wat hy geken het was om haar af te dreig sodat hy naby haar kon kom.
Van haar kant af was dit egter 'n koue, emosielose afvêre. Hoe het hy nie gehoop dat sy net eenkeer reageer nie. Sy het egter altyd net daar gelê; sonder uitdrukking of die wys van emosies. Hy sou tevrede gewees het as sy dalk ook net woede of haat getoon het maar daar was niks. Hy het haar probeer uitlok, probeer verneder maar dit het nie gehelp nie.
Al wat hy daaruit kon kry was liggaamlike bevrediging wat hom eintlik soos 'n dier laat voel het.
Nou lê hy hier. Niks, maar niks wat hom laat voel hy het iets bereik nie. Hy sien op die TV nuus van 'n Meneer M wat gesoek word. As hy maar weet dat hy eendag so ellendig sal voel, sal hy homself nou al oorgee. Misdaad betaal nie.
Willem sal sekerlik meeste van wat hy besit verloor want die staat gaan daarop beslag lê. Al wat oorbly is sy lewenspolisse. Hy het Steven die begunsdigde gemaak maar hy weet dit sal nie uitbetaal as hy selfdood dien nie. Daar bly net een uitweg oor.
Hy sal maar 'n plan moet beraam.
Rachel kan nie slaap nie. Net toe sy dink dit gaan veilig wees om uiteindelik terug Suid Afrika toe te trek, is Max terug op die toneel. Hy moet gestop word. Gelukkig het sy foto's van hom saamgebring om aan sy familie te oorhandig. Sy wou niks van hom hou nie maar kon dit nie opskeer nie. Nou kan sy dit aan die polisie oorhandig sodat hulle dit op die nuus kan wys.
Steven voel ligter vanaand. Vir die eerste keer kon hy sy geheim deel met iemand wat sou verstaan. Sy eie dogter.
Daar is tog waarheid daarin dat 'n mens jou seer met iemand moet deel.
"Goeie nag my liefling kind; my Sally."
**
Mattheüs 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en *julle sal rus vind vir julle siele;
30 want *my juk is sag en my las is lig.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking