Donderdag 11 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 16 - Rooi Mier

 #Stukkendeharte Hoofstuk 16 - Rooi Mier

Die persoon in die ander motor sit kop op die stuurwiel. Sy skouers ruk en dit is duidelik dat hy baie bedroef is.

Hoekom, hoekom Here? Jy red en tog toelaat jy ook die dood. Sy trane vloei opnuut. 

Hy kyk op in Janice se gesig waar hulle verby hom stap.

"Lawrence, is dit jy?"

Hy klim uit die motor en stap na hulle toe. Sonder 'n woord omhels hy Larisa. Sy trane laat haar trane opnuut vloei.

Na 'n rukkie stap hy na Janice en gee haar ook 'n drukkie.

Lawrence vee sy trane af met 'n sakdoek wat alreeds nat lyk en stap na Janice se ouers toe en vra of hulle met hom kan ry. Hy sal hulle kom aflaai. Hulle stem in en ry weg.

Die twee meisies klim by hom in die motor.

"Larisa, ek wil eers verskoning vra omdat ek nie betyds vir die begrafnis was nie. Ek het jou vertel van die taak wat Maandag ingehandig moet word. Wel, ek het Vrydagaand heelaand en Saterdag tot namiddag gewerk aan dit. 

Na dit het ek 'n bietjie gaan skuins lê en aan die slaap geval. Toe ek wakker word was dit alreeds te laat vir die bus.

Ek het my pa gebel en hy het deur 'n huurmaatskappy vir my 'n voertuig gereël wat ek eers teen 20:00 die aand gekry het.

Omdat ek so moeg was moes ek baie aftrek en het eers hier aangekom toe julle van die kerk af oppad was begraafplaas toe.

My hart is so seer dat ek nie my vriend kon begrawe nie.

Hoe het jy dit hanteer Larisa?"

Sy begin weer te snik. Hy sien in die truspieël dat sy nie nou kan praat nie. Haar kop rus op Janice se skouer.

"Janice, hoe gaan dit met jou en die baba? Jammer ek het julle die week afgeskeep maar dit was 'n harde week vir my."

"Ons is ok Lawrence. Dit raak elke dag net moeiliker om die vrag rond te dra. Jou kind maak my klaar."

"Larisa gaan mos nog 'n week bly. Ek het ook besluit om eers volgende naweek weer Kaap toe te gaan. Ons drie kan mos môre eiland toe gaan? So namiddag want ek wil nog na Anton se ouers toe gaan. Ek wil hulle net gaan inlig oor wat daai dag gebeur het."

"So gaan julle nou na Anton hulle se huis of moet ek julle by julle huise gaan aflaai?"

"Huistoe"antwoord die meisies gelyk. 

"Ok. Ek wil gaan slaap."

Janice is dankbaar om te hoor hy gaan die week bly. Hy laai eers Larisa af.

Oppad na Janice se huis vra hy, "Het jy en die baba enigiets nodig? Ek sal by my pa solank geld kry."

"Met jou en my ouers sal ons 'n aparte huis moet kry om net die kind se goed in te stoor. Moet jy asseblief nie ook nog goed gaan koop nie. Ons albei is gesond so ek benodig ook nie nou geld nie.

Jy probeer jou seer wegpraat maar ek weet dat jy en Anton na aanmekaar was."

"Dit is baie seer Janice. Ek probeer dit nie wegsteek nie. Weet jy hoe voel dit om skuldig te voel dat jy lewe en jou beste vriend het dit nie gemaak nie?"

Nadat hy Janice afgelaai het ry hy na Sahara se huis net om te sien of haar motor daar staan. Daar staan 'n vreemde motor. Net toe hy wil wegtrek kom daai orige vrou aangestap. Sy loop direk na hom toe so uit goeie maniere moes hy wag.

"Jongman, jy was mos eendag hier om na Sahara te vra.? Ek onthou gesigte goed."

"Ja mevrou".

"Ek is nie 'n mevrou nie"

"Ek is jammer …"

"Sandra, my naam is Sandra, soos in Sandra sonder man of kêrel. Hoor mooi, niemand in my lewe nie.

Het jy iemand?"

"Nee uh uh  Sandra. Waar is Sahara?"

"Kan ons miskien 'n koffietjie gaan drink iewers of jy kan by my kom drink dan vertel ek jou alles."

Sy knipoog vir hom.

"Nee, Sandra. Ek moet by die huis kom. Ek is baie moeg. Ons praat weer."

"Dit is 'n date." Sandra flip haar hare en byt op haar onderlip.

Lawrence kan nie vinnig genoeg daar wegkom nie.

Hy glimlag en praat met homself, "Wat makeer Antie Sandra?"

Die Maandagoggend besluit hy om by die skool om te gaan. Miskien, net miskien sal die sekretaresse Sahara se nommer het.

"Lawrence is dit jy? Jy lyk darem oulik sonder skooluniform."

Soos haar gewoonte is gee sy nie kans nie. "Hoe kom jou baba aan? Jammer jy is alreeds gevat, mens maar jy is aantreklik."

"Wat makeer die vroue? Is daar iets in die water?" Lawrence voel skaam. Hy was nog nooit iemand wat agter vrouens aan gehardloop het nie.

"Weet juffrou dalk waar Juffrou Sahara Muller haar bevind? Ek moet haar dringend sien, of dalk net haar nommer."

"Jy hoef nie meer vir my juffrou te noem nie. My naam is Sally September, jy weet mos, maar noem my net Sally.

"Ek mag nie haar nommer gee nie. Sy is mos in die Kaap. Gee my jou nommer dan kan ek dit vir haar gee en vra dat sy jou bel."

"Ok. Kom ek skryf dit op 'n papier."

"Jy was seker hier vir Anton se begrafnis. Of nee, ek het jou nie gesien nie."

"Ek was daar. Sally, ek moet nog iewers heen. Dankie en totsiens."

By Anton se huis is sy ouers besig om uit tery net toe hy naby kom. Hy ry toe maar verby. "Ek moes gebel het."

Hy ry maar eers weer huistoe. 

"So Sahara is in die Kaap. Nou kan ek haar gaan opsoek as ek weer terug in die Kaap is."

Gistermiddag het hy gaan slaap. Toe hy opgestaan het, het hy tot laat toe met sy ma gesels. Dit het meestal oor die verwagte baba gegaan en oor hoe hy voel omdat sy beste vriend dood is. Hy voel nog bietjie tam maar besluit om liewer sy ma te help in die tuin totdat hy later vir Janice en Larisa gaan optel.

Hulle gaan koop vir hulle biltong en droëwors plus sap en skyfies voor hulle eiland toe gaan. Dit is 'n lekker middag. Hulle sit sommer op die gras op 'n kombers wat Lawrence in die kar gegooi het. Die geselskap gaan meer oor hulle herinneringe aan Anton.

Lawrence is elke keer vinnig by as Janice net beweeg. Hy het selfs gevra of hy aan haar maag mag vat. 

Larisa loer in sy rigting en glimlag net. Sy wonder of hy besig is om aan te beweeg. Die tye wat hulle saamgekuier het in die Kaap het hy óf van sy naderende vaderskap gepraat óf van Sahara.

Sy kan op haar een hand tel hoeveel keer hy Janice se naam genoem het, maar sy weet ook dat hy elke dag gebel het.

Na 'n heerlike ontspanne middag laai hy eers weer vir Larisa af. By Janice klim hy uit en stap saam met haar tot by die deur.

Angela maak oop en nooi hom binne. Hulle gesels oor die baba wat sy opwagting einde Junie sou maak. Lawrence het gelukkig vakansie dan so hy hoef nie klas te mis nie.

Tuis skakel hy Anton se pa. Hy sê Lawrence kan die volgende middag kom dan sommer by hulle middagete geniet. Hy is nog die week by die huis. As Lawrence wil mag hy sy ouers saambring. 

Bennie werk egter. Lawrence belowe om sy ma te vra. Aan aandetetafel vertel Lawrence sy ouers van sy planne vir die volgende dag.

"Ek het mos nog nie eintlik vir julle vertel wat daai dag met die ongeluk gebeur het nie. Dan vertel ek sommer een keer."

"Ek is net dankbaar dat dat die Here jou weereens gered het."

"Ja Hy het Mammie. Hy het."

Iris kyk hom verwonderd aan."Is daar 'n verandering in my kind", dink Iris. "Die kind wat ek ken sou gesê het dit is toeval."

©Rooi Mier 13.07.2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...