Donderdag 11 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 30 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 30 - Rooi Mier
Candice gaan eerste in. Sy is heel op haar gemak in die omgewing. 
"Larisa, jy het mos nog nie gelewe nie né. Vanaand gaan jy so bietjie begin lewe. Kom ons noem vir nou maar eers net die plekkie 'n sjebeen, afhangende hoe die aand verloop."
"Yvonne, ek hou nie van die plek nie. Kan ons nie maar hostel toe gaan nie." Larisa voel angstig.
"Hi Candy, ek hoop jy is reg vir vanaand. Ons gaan lekker party vanaand."
"Hi G, kom gou hier." Candice wink vir G (soos in die Engelse letter) om haar te volg weg van Larisa en Yvonne af.
"Wat sê jy Candy, gaan die ding ruk vanaand?"
"Nee G, ons moet dit stadig vat. My vriende is bietjie preuts, veral Larisa. Ons moet dit stadig vat veral met haar. Yvonne gaan nie 'n probleem wees nie. Sy sal enigiets doen om my guns te behou.
So ek gaan nou vir my en Yvonne elkeen 'n bier bestel en vir Larisa 'n koekdrank. Wees net versigtig dat julle net so 'n klein bietjie skop in daai koeldrank gooi. Sy moet nie iets proe nie."
"Ek maak so  Candy girl."
"Ek sal probeer om Larisa net so twee koeldranke te laat drink. Die tweede kan so bietjie meer skop kry."
"Ons maak so Candy. Wanneer gaan jy weer Gauteng toe."
"Ek sal moet bly tot die semester klaar maak. Vergeet jy dan ek studeer kastig. Laat ek nou na my kastige vriendinne toe gaan. Waar is die musiek vanaand. Die plek is dood daar sonder."
Die plek is vol vir 'n Maandagaand maar dit lyk of die plek waar Larisa hulle sit bespreek was vir hulle. 
'n Stem sê op die luidsprekers, "Ons gaan bietjie musiek speel maar probeer om nie te raas nie. Julle weet mos daai Pastoor hier in die straat gaan weer die polisie laat kom."
Die atmosfeer verander amper oombliklik toe die musiek begin speel. Daar is nie veel sprake van lirieke nie, wie worry dan nou van woorde, solank hulle die ritme voel.
Candice knik in die rigting van G. Hy bring onmiddelik die drankies.
Sy kyk na die mense wat nou gejaagd voorkom. "Die klomp swape besef nie hulle word beheer deur musiek nie. Die ritme wat hulle aan hul liggame voel laat hulle meer geld spandeer. Dit is iets wat sy lankal geleer het."
"Larisa, hier is jou koeldrank. Kyk 'n bietjie om jou. Voel jy nie sleg dat jy die enigste hier binne is wat koeldrank drink nie?"
"Nee, Candice, ek hoef nie in te wees om ander mense gelukkig te maak nie. As ek die koeldrank klaar gedrink het gaan ek maar vir my 'n uber bestel."
"Moenie bekommerd wees nie Larisatjie. Ek en Yvonne gaan net twee biertjies drink dan kan ons maar ry."
"Nee Candice, julle kan maar bly. Na dié koeldrank is ek weg."
"Yvonne, die meisiekind gaan ons aand bederf."
"Julle gaan my nie skuldig laat voel nie. Ek wou in die eerste plek nie saamgekom het nie."
Twee polisiemanne in uniform stap in. Candice sien hulle en loop agter hulle aan na wat vir Larisa lyk na 'n kantoor toe. Na 'n rukkie kom hulle uit en gaan weer uit. Candice kom na 'n minuut of so uit en sluit weer by hulle aan. Sy sê nie 'n woord oor wat so pas gebeur het nie. Larisa merk dat sy nog nie eintlik aan haar bier gedrink het nie.
Sy voel nie op haar gemak in die plek nie en wil so gou as moontlik wegkom. Sy drink vinnig aan haar koeldrank en hoop die ander twee gaan dieselfde doen. Dit lyk egter nie of dit gaan gebeur nie.
"Candice, ek gaan nou maar my uber bestel."
"Wag net gou. As ek terugkom kan ons maar ry. Drink maar my bier ook Yvonne."
Sy stap weer na die kamer wat wil voorkom is of dit 'n kantoor kan wees. Die G karakter volg haar die keer. Yvonne wat haar bier klaargemaak het, drink die helfte van Candice sn in een slag.
Intussen raak die kelners al besiger en die mense meer luidrugtig. Party begin dans.
Na omtrent vyf minute kom Candice weer uit. Larisa voel nie so lekker nie. Sy skryf dit toe aan die spanning wat sy ondervind. 
Larisa staan onmiddelik toe sy Candice sien op en gaan roep vir Yvonne wat net nadat Candice weg was gaan dans het met twee mans. Dit was duidelik dat sy hulle nie ken.
Die een vat Larisa aan die arm.
"Wil jy nie bietjie daai sexy liggaam skud nie."
"Los haar af." Dit is Candice.
"n Man wil mos maar net bietjie lyf skud Candy."
Hy los Larisa se arm.
"Kom Yvonne, jou vriendin kap ons aand kort."
Op pad  koshuis toe is dit maar stil in die motor. Candice lyk glad nie gelukkig nie. Larisa voel iets is nie reg nie. Sy voel net anders maar kan nie haar vinger daarop plaas nie. Dit voel net of sy meer energie het.
Candice is 'n bietjie knorrig. Toe sy uitklim hoor Larisa sy vra vir Yvonne hoekom sy vir haar saamgebring het. Daar is so baie ander meisies.
Daardie aand kon Larisa nie aan die slaap raak voor eers 02:00 vm nie.
Lawrence het tot omtrent 22:00 probeer om Larisa te bel maar sy het glad nie geantwoord nie. Hy voel nou regtig bekommerd en baie skuldig.
Die oggend probeer hy weer maar tevergeefs. Hy stuur toe maar 'n whatsapp boodskap. 
"Larisa, kontak my asb."
Larisa raak eers teen 10:00 wakker. Sy voel nou meer teneergedruk as gister. Aan die tyd sien sy dat sy al twee klasse gemis het. Dit pla haar egter nie want sy is nie van plan om enige klasse vandag by te woon nie. 
"Ek bly net hier in my bed vandag."
Dit voel vir haar dat daar iets is waarna haar liggaam soek. Sy onthou die energie wat sy die vorige aand gehad het.
Candice bel vir G.
"Gisteraand was nie 'n goeie aand vir ons nie. Ons kon nie die meisie druk sonder dat sy agterdogtig raak nie.
"Dan gaan ons maar 'n ander meisie moet vind so spoedig moontlik Candice. Jy is eintlik die een wat moet bekommerd wees. Jy is mos direk onder Meneer M. Weet jy wat sy regte naam is?"
"Moenie kanse vat nie G. Jy weet mos ek kan jou nie sê nie. Is die aflewering wat gereed was gisteraand gemaak?"
"Natuurlik, Candy. Hoe ken jy my?"
"Dan praat ons later weer sodra ek bevestiging gekry het van Meneer M."
G sit sy selfoon in sy sak. Hy voel die afgelope tyd nie meer lus vir om voort te gaan nie.
"Hoe gaan ek myself bevry?" Hy weet dat dit baie moeilik gaan wees. Dit blyk dat hy altyd 'n skaduwee het. Hy voel net nooit op sy gemak in die publiek nie. 
"Ek berou die dag dat ek Candice ontmoet het. Kan ek nie maar die tyd terugdraai nie. As ek weer kon kies, dan sou ek die eenvoudige lewe sonder geld wat  gehad het enige tyd kies bo die stewige bankrekening maar altyd oor die skouer loer lewe.
Gelukkig is een van die polisiemanne op hul betalingslys ook 'n goeie vriend. As dit begin lyk of die res van die polisie iets weet sal hy nog voor Candice weet."
G het ook 'n vrees vir die geheimsinnige Meneer M.
Sally wil net haar kantoor sluit toe Mnr Solomons, die skoolhoof in haar deur verskyn.
"Juffrou September, net 'n oomblik. Ek wil net daai verslag hê wat die departement nou per e-pos gestuur het."
"Ek het niks gesien nie Meneer want ek het nou net die rekenaar afgeskakel."
"Dit moet daar wees Juffrou. Kyk net gou. Jammer vir dit."
Waaroor gaan dit meneer? Sy gaan sit weer agter haar lessenaar en skakel die rekenaar aan. Solomons sluit die deur en stap na haar lessenaar toe. 
Sally staan vinnig op van haar lessenaar af op.
"Meneer Solomons, ek moet ongelukkig nou gaan. Dit is laat en u kan die verslag mos op u skootrekenaar kry."
Hy is by haar. Hy haal skielik iets uit sy sak en druk dit voor haar neus.
Sally raak wakker. Hoekom lê ek op my lessenaar? Haar klere voel ook nie reg nie. Mnr Solomons verskyn skielik in die deur.
"Is jy wakker? Jy het darem lekker geslaap."
Sy onthou nou hy het van die deur na haar gestap, 'n wit lappie uit sy sak gehaal. Verder is daar niks. Sy het altyd ongemaklik rondom hom gevoel nou is daar 'n vrees.
"Het hy my .. Nee, dit kan nie wees nie."
Sy weet tog dat iets gebeur het.  Haar klere voel nie reg nie. Sy deins terug van hom af toe hy nader kom.
"Jy is reg Juffrou September, ek kan maar die e-pos tuis lees. Kom ek neem jou huistoe. Die opsigter is besig by die agterste klasse. Hy gaan nou die gebou kom sluit."
"Sally is nou heeltemaal vreesbevange maar sy kan nie vir hom sê sy wil nie met hom ry nie. Sy volg hom maar haar hele liggaam bewe."
"Juffrou September? Hoekom glo die mense nooit as 'n meisie wat kort minis dra gaan kla dat hulle aangeval was nie?"
Sy antwoord nie en sy weet instinktief wat hy eintlik vir haar sê.
Sy klim uit sy motor en stap na haar woonplek toe. Haar ouers het Van Wyksvlei toe getrek ses maande gelede. Sy woon alleen. Sy sluit haar deur oop en weer toe agter haar. Sy stap reguit na haar kamer. Val op die bed neer en begin te huil.
Nie alweer nie. Niemand het haar geglo toe sy veertien was nie hoekom sal hulle nou? Haar oom het haar 'n slet genoem wat met opset sy aandag wou trek. Sy kan tot nou toe nog nie onthou dat sy onbehoorlik teenoor hom opgetree het nie.
Hy was die een wat haar altyd vasgedruk het as hy haar gegroet het. Vir haar was dit normaal. 
Sy raak aan die slaap.
Teen die aand is Lawrence regtig bekommerd oor Larisa. Sy het nog steeds nie op sy boodskap reageer nie.
"Mammie, ek gaan mos eers volgende week klasse bywoon. Is dit reg as ek môremiddag eers by my kampus omgaan om my kamermaat te kry? Ek wil klere gaan kry. Dan moet ek by Larisa in Stellenbosch uitkom. Ek is baie bekommerd oor haar. Sy reageer nie op my biodskappe nie."
"Sal jy kan ry? Ek kan iemand kry om te bestuur."
"Ek sal regkom Mammie."
"Dan is dit oraait my kind. Ek wonder self hoe dit met haar gaan."
'n Ouerpaar stap teleurgesteld by die polisiekantoor in Cloetesville uit. Hulle is so bekommerd. Waar kan hulle nog soek? Hulle het nou al almal gedek aan wie hulle kon dink wat hulle dalk kan inligting gee. Daar was wel gesê dat sy gisteraand by 'n sjebeen in Cloetesville gesien was. Nou is hul dogter skoonveld. Die polisie sê dit is eers môreoggend 24 uur dan kan hulle help. Hulle het eers vanoggend ontdek dat sy nooit in haar bed geslaap het nie.
©Rooi Mier 13.07.2022
Alhoewel  die skool, Carlton -Van Heerden Sekondêr in werklikheid bestaan wil ek dit benadruk dat die storie  fiktief is en geensins gebaseer is op enige personeellid daar nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...