#Stukkendeharte Hoofstuk 53 - Rooi Mier
"Daar is nuwe verwikkelinge rondom die ondersoek van die geheimsinnige Meneer M. In 'n skokkende ontwikkeling nuwe getuies het aan die lig gekom dat Meneer M eintlik Max Adriaanse is. Hy was voorheen bekend in misdaadkringe as een van die grootste dwelmbase.
Max Adriaanse het destyds verdwyn en later is vasgestel dat hy Namibia toe verhuis het en glo daar gesterf het.
Sy broer en sy vrou het toevallig twee dae gelede na 'n nuusberig ontdek dat Meneer M eintlik die 'afgestorwe' Max is. Hulle was beide baie geskok en het die volgende dag dié ontdekking met die polisie gedeel.
In die ontvouing van gebeure was Candice Williams, wat verlede week gearresteer was as lid van Meneer M se bende, dood gevind is in haar sel. Dit wil voorkom dat sy vermoor was.
Daar is nog 'n verdere skokkende onthulling. Candice Williams was die biologiese dogter van Max Adriaanse.
Nog 'n voortvlugtige lid van die bende is op dieselfde dag in 'n motorongeluk dood.
Hier is foto's van Max Adriaanse. Die polisie vra dat die publiek asseblief nie hom sal nader indien hulle hom iewers waarneem nie maar eerder die polisie sal kontak."
Larisa sit geskok en luister na die nuus. Sy het nooit regtig vattigheid aan Candice gehad nie maar sy sou haar beslis nie dood wou gehad het nie.
Sy was bly om te verneem van Yvonne se redding. Sy sal graag op haar vriendskap met Yvonne wou voortbou.
Sy sien uit na die komende naweek. Sahara het haar en Lawrence genooi om Saterdagaand by haar te kom oorslaap. Sy het dit nodig want die eksamens het begin en sy het 'n breek nodig. Die naweek in Lawrence se teenwoordigheid sal natuurlik weer sterk herinneringe na vore bring. Larisa het egter geleer om daarmee saam te lewe. Daar vloei nog gereeld trane en sy hoor nog soms sy liefdesverklaring, maar dit los haar nie meer met hopeloosheid agter nie. Sy is van plan om Sondagoggend vroeg weer terug te kom. Sy skryf die Maandag.
Martin en Rachel het ook so pas die oggend nuus gekyk. Dit skok hulle om uit te vind dat Max 'n dogter het wat betrokke was by sy misdadigheid.
"My broer was 'n vark. Hoe betrek jy jou eie kind by jou misdade? Net iemand harteloos doen dit."
"Wat my die meeste pla is dat sy vermoor is en op dieselfde dag is daar nog een van sy bendelede dood in 'n ongeluk. Daar steek iets meer in Martin."
"Ek is glad nie verbaas nie. Niks omtrent my broer skok my meer nie. Dit is net so jammer dat my klein niggie dood is voordat ek haar ontmoet het.
Een van die dinge wat jy my gevra het om te ondersoek was die moontlikheid van 'n dogter. Wel, dit is nou bevestig. Jou man het nog 'n kind gehad."
Lawrence lê nog in sy bed. Hy skryf nie vandag nie. Hy dink daaraan om later te begin studeer. Vir nou wil hy net ontspan.
Hy kan egter nie heeltemaal ontspan nie. Binne 'n paar weke gaan sy tweeling gebore word. Hy moet nog met 'n naam opkom vir sy prinsessie. Janice gaan die naam van die bulletjie gee.
Op die oomblik sit hy met drie name. Hy moet nog op 'n finale naam besluit. Die dokter het juis gesê dat tweelinge onvoorspelbaar is. Soms maak hulle vroeër hul opwagting. Hy is dankbaar dat hulle die geslagte van die kinders weet.
Daar sou beslis nie tyd gewees het vir 'n geslagsonthulling partytjie nie. Hy stuur vir Janice drie name waaruit hy gaan kies. Dit is nou sy kortlys.
Janice is ongemaklik groot. Sy moet nog 'n laaste draai by die babawinkels maak voor die twee gebore gaan word. Sy wil liewer tuis wees as die pyne begin. So opgewonde sy is, so wens sy die dag kan nou aanbreek.
Sal sy die pyn kan hanteer? Biljoene vroue het al voor haar. Hoekom sal sy nie ook kan nie. Dit help egter nie. Mense sê altyd dit is die seerste pyn wat 'n mens kan ondervind.
Sy moet ook nog 'n naam vir haar ongebore seuntjie kry. Sy wens Lawrence se eksamens was al verby. Sy het hom hier nodig. Hy het nou die dag van hul toekoms gepraat.
Vir haar klink dit hy sien hulle saam. Sy wonder soms of hy oor Sahara is. Dit is maklik om te sê hy moet net, maar is hy werklik? Sy wil nie 'n gedwonge keuse wees nie.
Hy moet haar kies omdat hy lief is vir haar en nie omdat hy nie sy suster kan trou nie. Sy is nogal jammer vir hulle maar weet dat haar kanse omtrent zero sou wees as hulle nie 'n verband gehad het nie.
Dit het op 'n tyd onkeerbaar gelyk. Nou is Sahara haar babas se auntie. Die noodlot is soms 'n grapjas. Dit plaas jou in die onmoontlikste posisies.
Shane en sy span gaan van vandag af baie leidrade moet opvolg. Dit gaan altyd so wanneer iemand gesoek word en dit word bekend in die media. Die probleem is dat hulle nie 'n enkele leidraad of sogenaamde leidraad kan afmaak as niks nie. Dit is dalk net daai een wat jou op die spoor van die voortvlugtige plaas.
Die sosiale media is aan die brand met dié storie. Hulle het selfs vir Meneer M gister by die Augrabiese Watervalle gesien.
Gavin of te wel G, geniet die dorpie waarheen hy onder polisiebewaking is. Sy voorkoms moes hy verander. Hy sny nou al sy hare af, dra altyd 'n pet en gaan nooit alleen uit nie. Hy wens net dat hy vir Yvonne kan sien. Hy het hopeloos lief geraak vir die meisiekind. Hy wonder egter of sy vir hom sal kans sien. Hy was dan deel van die mense wat haar haar vryheid wou ontneem.
***
1 Kor 13:7 *Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
8 Die liefde vergaan nimmermeer; ..
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking