#Stukkendeharte Hoofstuk 24 - Rooi Mier
"Vandag is die dag. My man verdien om die waarheid te weet. Vandag gaan ek huistoe."
Jolene is koorsagtig haastig om te pak.
"Elton, ek kom my skat. Jy verdien nie dié onsekerheid nie. Met Die Here en jou aan my kant kan geen storm my, ons oorweldig nie.
Vergewe my my man. Ek het amper toegegee aan die preek van min of geen hoop; 'n preek dat my einde in sig is."
Sy belewe weer daardie oomblik toe die predikers in hul wit jasse die einde aankondig met strakke gesigte en geen tekens van emosies nie. Vir hulle was dit 'n saak van mediese geskiedenisboeke of was dit dalk graad 1 somme waar 1 +1 = 2?
"Mevrou Daries, u het kanker. Ons noem dit Angiosarcoma.
Daardie oomblik het die woord kanker verby haar gevlieg maar die vreemde woord Angiosarcoma het bly vassteek.
"Wat vir 'n ding is dit dokters? Praat tog net Afrikaans."
"Dit is 'n rare kanker wat in jou endoteel selle kan begin. Dit is die selle wat jou bloedvate en of limfvate omring. In jou geval blyk dit dat die kanker begin het in die bors maar versprei het na ander gedeeltes van die liggaam."
"Prognose dokters", sy weet darem dat prognose iets te doen het met jou kanse op herstel of oorlewing. Sy is nog kalm want vir haar klink dit of hulle praat van iemand anders.
"Dit is ver gevorder mevrou. U het 6 maande, maksimum 'n jaar."
Dit het haar eers regtig getref toe sy daar uitstap. Hulle wou so spoedig moontlik verdere toetse doen maar was seker van die diagnose.
Tuis het Jolene na 'n foto van haar en Elton sit en kyk kort na hul troue. Hulle was regtig gelukkig maar sy kon net nie haar enkeldae vriende en gewoontes afskud nie; trouens hulle albei totdat Elton wonderbaarlik tot inkeer gekom het.
"Hoeveel jare het ek vermors met vriende en drank? Hoeveel keer was ontrouheid 'n bitter beker wat Elton maar gesluk het?
Na sy bekering kon sy werklik sien dat die Here vir haar die beste gegee het, geduldig, liefdevol en verdraagsaam. Sy wou dit nie raaksien nie want dit het haar skuldig laat voel. As sy skuldig voel het dit beteken sy moes verander. Sy was nie gereed nie.
Nou het die vyand gedreig om hom wat al soveel gely het nog verdere lyding toe te dien.
Sonder om hom in te lig het sy Amstelhof toe gevlug. Nou het sy klaar gevlug.
"Ek wil en sal lewe vir Elton. Ja, mense sê as jy iets doen moet jy dit vir jouself doen, maar ek wil dit doen vir my dierbare man."
Sahara kyk na haar sel voor sy opstaan. Alweer Lawrence wat gebel het. Vandag gaan ek hom terug bel. Nadat sy aangetrek het sien sy dat daar nog baie tyd is. Daar en dan besluit sy om hom te bel.
Lawrence is in die trein oppad kampus toe. Sy pa kon hom nie wegneem nie want hulle moet 08:00 by die lughawe wees. Met die oggend verkeer sal dit onmoontlik wees om eers vir hom af te laai. Gelukkig het die motorhuurmaatskappy 'n tak by die lughawe.
Die trein is vol soos gewoonlik en daar is heelwat lawaai. Hy hoor dus nie sy sel lui nie.
Sahara probeer nog twee keer. Die voertuig wat haar moet wegneem is reeds daar so sy vertrek.
"Hy bel my dag en nag nou antwoord hy nie"
Dit is al 08:45 toe L op Unibell stasie aankom. Hy kyk op sy sel en hy skree hardop van opgewondenheid. Ander studente kyk na hom en glimlag. Een druk sy wysvinger teen sy kop as aanduiding dat daar iets fout is met L.
Lawrence sien dit maar waai net vir hom. My liefde het gebel so dink maar wat julle wil. Sy eerste klas is eers 09:45. Hy het tyd. Van sy medestudente wat hom leer ken het groet nog. Hy beduie net na sy horlosie en stap vinnig aan.
By sy geliefkoosde bank. Hy noem die bank 'Anton en L', gaan sit hy. Nou of nooit.
Hy skakel die nommer. Teen die derde lui antwoord sy.
"Goeie môre Lawrence."
"Sahara? Sahara." Sy keel trek toe. Die oomblik is oorweldigend.
"Hoe voel jy oor dit Lawrence?"
"Oor wat?" Hy is so opgewonde hy wag nie vir 'n antwoord nie.
"Sahara ek moet jou so gou as moontlik sien. Nog vandag?"
"Onmoontlik, ek is in Gqeberha of sal ek sê PE."
"Wanneer kom jy terug Sahara. Ek kan nie langer nie."
"Ek land Saterdagoggend. Hier is nog 'n werksfunksie vanaand. So môre is ek terug.
Ek weet waaroor gaan dit. Jou pa wil my oor dieselfde ding sien. Bel my môremiddag. Totsiens."
Sahara het hard probeer om nie emosioneel te voel nie. Dit is immers net my broer, bloedbroer. Hy is net so goed in Wiskunde. Dit is in die bloed."
Lawrence weet nie hoe hy deur die dag gaan kom nie.
"Wat het sy bedoel met my pa wil haar oor dieselfde ding sien? Ek kan mos my eie praatwerk doen. Wat moet sy van my dink? As hy wil praat dan moet hy dit met Iris doen. Dit is mos sy liefde. Sahara is myne."
Hy sit en dagdroom nou. Hy, Sahara, hul seun en dogter en sy seun by Janice sit in die park en eet roomys.
"O hel. Ek moet nog vir Sahara inlig oor die kind by Janice."
Ag wat. Daai is anderdag se probleme. Vandag skyn die son helder en die lug is blou. Hy hoor selfs 'n mossie of twee bokant hom. Môre se reënwolke sal ons môre hanteer. Vandag wil hy net gelukkig wees. Dan voel hy dit, nat voëlmis op sy hand. Hy vee dit met toiletpapier wat hy in sy sak dra. Niks gaan hom onderkry nie.
Jolene staan voor haar deur. Sy het 'n huurmotor uit Bellville geneem. Dit voel of sy jare weg was. Die gras is effens lank en dit lyk onnet op die erf.
"My man was duidelik nie homself die afgelope tyd nie."
Sy sit 'n rukkie voordat sy haar sak gaan wegsit. Nadat sy gestort en verklee het gaan sy deur die koskaste.
"Ai Elton. Ek wil jou verras as jy tuiskom maar hier is dan net 'n blikkie vis en brood en eiers. Nou ja, ek moet maar inkopies gaan doen."
Sy bel sommer die man wat soms hul gras sny as Elton te besig is.
Martin land op Kaapstad Internasionaal. Waar begin hy? Dit gaan nie maklik wees om die inligting vir Rachel te bekom nie. Miskien sal hy maar 'n privaatspeurder moet kry.
"Goeie middag Martin, is jou kop nog in Namibia?"
"Middag my vriend. Daar is 'n paar dinge wat my pla. Vat my reguit kantoor toe eers."
Op kantoor google hy en vind Adams and Slingers Private Eye. Hy skakel hulle.
Elton is nie lus vir die huis nie besluit om net 'n draai te ry.
"Wat maak ek by 'n leë huis? Elke aand is ek vol verwagting dat sy tuis gaan wees maar verniet."
Hy ry sommer net doelloos. Na 'n rukkie stop hy vir vis en chips en eet dit sommer in die motor. Dit is al oor agt die aand toe hy huistoe ry. Môre het hulle kerkdiens aan so hy sal maar gaan slaap., maar eers wil hy by sy skoonma om gaan om te hoor of hulle oraait is. Dit lyk tog of Jolene se afwesigheid hulle nader aanmekaar gebring het.
Dit is amper 21:00 toe hy tuiskom. Hy sluit die deur oop en skakel die lig aan. Daar lê sy, vas aan die slaap.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking