#Stukkendeharte Hoofstuk 36 - Rooi Mier
"Mammie, Pa, julle lyk ernstig. Wat het die arme ekke, Lawrence van Wyk die uwe, nou weer gedoen? Ek het nie melk uit die bottel gedrink nie; ook nie die yskas oopgelos nie."
Lawrence is lus vir grappies.
"Kom sit Lawrence. Ek het iets om met jou te deel."
"Julle lyk ernstig. Is een van julle siek? Is Mammie swanger?"
"Nee Lawrence, moenie laf wees nie, luister na wat jou pa te sê het."
"Gaan julle skei? Net nie dit nie."
"Sal jy nou luister kind. Ek sal verduidelik as jy my net kans gee."
Dit is 'n warme dag. Die deur staan oop.
"My seun, ek wil jou iets vertel maar jy moet belowe om kalm te bly."
"As pa so begin kan ek mos nie kalm bly nie. Hier is iets groots aan die kom né."
"Luister jy net eers. Jy weet hoe ek jou waarsku om versigtig te wees met drank en dwelms."
"Ja pa, ek het mos nou geleer met Janice. U kan mos nou nie hammer op die verlede nie."
"Ek sal dit nooit genoeg kan benadruk nie. Die rede daarvoor is dat ek as jongman ook daardie fout gemaak het. Jy kan gelukkig verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Ek het nie."
"Wat het pa dan gedoen?"
Iris, wat langs haar man sit, wys hom met vinger op die lip om stil te bly.
Sy pa begin hom te vertel van die partytjie wat hulle as studente een aand gehad het by die hostel.
Hy vertel van sy eerste keer wat hy dagga geneem het omdat hy nie uit wou wees nie. Hy het ook meer drank gedrink as wat mens nodig het om sosiaal te wees.
"Daardie aand het daar 'n bakleiery uitgebreek omdat een persoon altyd almal wou beheer.
Ek was beseer gedurende die bakleiery. Om die waarheid te sê kan ek nie onthou of ek deel gehad het aan die bakleiery of ek net per ongeluk beseer was nie.
Almal het begin uithardloop en ek is omgestamp. 'n Meisie het my opgehelp of ten minste probeer want ek kan onthou ons is slingerend daar weg.
Ons het in my kamer beland. Ek weet nou nog nie hoe nie en ek weet ook meisies mag daai tyd nie in manskamers gekom het nie.
Die oggend het ons wakker geword op my bed. Daar was 'n verband om my kop maar baie slordig. Ek aanvaar ons moes intiem gewees het want ons klere het daar gelê.
Die slegste van alles is dat ek nie eers onthou nie."
"Moet pa my nou dit vertel het. Kinders wil nie van hul ouers se seksuele bedrywighede weet nie. Jgghhh."
"Komaan, jy is mos groot. Nie te min, ek het 'n paar weke later die meisie by 'n dokter raakgeloop. Sy was swanger maar wou niks van my weet nie. Dit was die laaste keer dat ek haar gesien het."
"So pa weet nie of daar 'n kind is nie. So ek het dalk 'n ouer suster of broer daar buite?"
By Rosedale polisiestasie in Upington probeer hulle nog om motiewe vir die moord op Mnr Solomons en Juffrou September se selfdood te kry.
"Sers May, het ons al haar naasbestaandes opgespoor? Dit is nou al 'n dag en ons het hulle nog nie laat weet nie."
"Ons het vasgestel dat haar ouers in Vanwyksvlei woonagtig is. Die kantoor daar sal hulle opspoor en die nuus oordra Kaptein."
In Vanwyksvlei sit Sarie September met 'n kennisgewing in haar hand dat daar 'n brief by die poskantoor is wat sy moes gaan afhaal omdat daar nie 'n posseël op was nie.
Sy het haar man 'n boodskap gestuur om sy Identiteitsdokument te gebruik om dit af te haal.
"Ek hoop maar net hy het nog geld by hom gehad en was nie te dronk nie. Hy glo dat mens Saterdae moét drink en sommer baie."
Dit was half een. Sy sou dit nie maak tot by die poskantoor voor een uur nie. Nou is dit al amper 17:00. Dit is ook snaaks dat Sally nog niks laat weet het nie. Sy bel gewoonlik of Vrydagaande of Saterdagoggend.
Verlede week toe sy gebel het, was Willem reeds hier uit Carnavon om vir 'n paar dae te kom kuier. Hoekom hy so lank moet bly weet Sarie nie. Vanwyksvlei is mos nie so ver van Carnavon af nie.
Hulle twee suip seker weer iewers. Sy kyk in Kokerboomstraat op of hulle nie aankom nie.
Sy hoop maar Steven het die brief afgehaal. Dit lyk my dit is nou hulle wat daar waggelend aankom. Sarie dink aan wat Sally altyd gesê het van Willem.
"Nee dit kan nie wees nie. Willem is eintlik 'n goeie mens. Hy het juis in daai jare ons finansieël ondersteun. Hy het selfs klere gekoop vir Sally.
Al wat snaaks was is dat hy altyd aangedring het daarop dat Sally van die klere dra wat hy gekoop het as hy kom kuier.
Sy moes ook altyd saam met hom winkels toe gaan maar dit was nie snaaks nie want dit was dan dat hy vir haar klere gekoop het, kruideniersware vir die huis ensovoorts."
"Alweer gesuip Steven. Kan jy dan nie net een naweek nugter bly nie."
"Wie's dronk? Ekke? Nog nooit my bokkie. Ek moez an vir Willem ly. Hy willie erken ma hyz gesuip. Waar iz dai brief nou?
O ja, Sjee dai brief Willem."
"Nee iz mosi julle briefie. Die brief iz vamy sweetheart af. Hie staa ha naam agterop. Sally September."
Sarie gryp die brief uit Willem se hand. Sy woorde ontstel haar.
Die polisie stop voor die huis in Vanwyksvlei.
In Upington is Lawrence geskok. So daar loop iewers 'n broer of suster van hom rond en sy ouers weet nie.
"So voel pa nie sleg nie? Ek dring daarop aan dan pa die vrou moet opspoor. Pa wil altyd hê ek moet die regte ding doen maar dit is duidelik nie van toepassing op Pa self nie."
Lawrence spring op en wil uitstorm maar Iris gaan staan voor hom.
"Sit."
"Ek was nog nie klaar nie. Onthou jy dat jy kwaad was vir my omdat jy gehoor het ek soek na 'n geliefde van my?
Jy het nog verkeerd verstaan en gedink ek het liefde gesê. Wel, Paul, die privaatspeurder, het die vrou opgespoor. Sy is ongelukkig 'n klompie maande gelede oorlede. Sy het 'n dogter."
"So ek het 'n suster. Het pa vasgestel waar sy is?"
"Ja, ek het. Sy is in die Kaap."
"En haar naam?"
Daar is beweging by die deur. Lawrence kyk.
Hy dink sy kop is deurmekaar. Daar staan sy.
"Dit kan 'n skok vir jou wees my seun. Haar naam is Sahara, Sahara Muller."
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking