#Stukkendeharte Hoofstuk 33 - Rooi Mier
Elton en Jolene is al vroeg by die hospitaal. Hulle kon nie slaap tot heelwat later nie. Dit was goed en op 'n manier ontspannend om bietjie langs die see te kuier maar teen die aand was al die spanning weer terug.
Jolene het haar man so jammer gekry. Hy probeer so hard om haar by te staan dat hy nie uiting kan gee aan sy eie emosies nie. Sy het teen 02:00 na die skynbaar slapende Elton gekyk en prewelend gebid.
"Here, as dit dan so is dat ek nie hierdie kanker sal oorleef nie, dan wil ek U nou bedank vir die wonderlike man wat U aan my toevertrou het. Ek bid dat U elke tree met hom sal stap en dat u die pyn vir hom sal verlig. Maak dit dan vir hom moontlik om iemand te ontmoet wat hom waardig sal wees. Met sy groot ruim hart en vertroue in die goedheid van sy medemens is dit baie moontlik vir hom om die verkeerde vrou te trou, daarom beroep ek my op U o Heer. Ek dank U daarvoor Amen."
"Dit was nou die negatiefste, ongelowigste gebed wat ek al ooit in my lewe gehoor het my liefde. Wat wil ek met 'n ander vrou doen as jy aan my sy gaan wees? My God beantwoord gebede waarin daar geen geloof is nie. Al wat jy nodig het is daai mosterdsaadgeloof."
"Ek het gedink jy slaap my man."
Elton trek haar nader en laat haar kop op sy skouer lê. Sy skouer raak nat van haar trane. Hy kan nie meer voorgee nie. Die damwal breek. Die trane vloei. Twee liggame ruk in rou snikke. Hul hartseer vloei oor in 'n intense huwelikssamesyn wat albei uitgeput laat en binne minute aan die slaap.
Die alarm het hulle om 06:30 terug uit droomland geroep. Jolene is eerste wakker. Sy streel oor Elton se kop.
"Net my man die. Jy is reg Elton, ek is nog nie gereed om jou weg te gee nie. Ek en jy sal oud en grys op die stoep sit."
Sy skud liggies aan hom. "Die Fillistyne is op jou."
Hy was seker al halfpad wakker want hy glimlag sonder om sy oë oop te maak. "Ek sal nie eens kan terug veg nie Delila want jy het my van al my kragte ontneem."
Nou wag hulle vir die dokter.
"Elton, jy het eendag genoem dat jy eendag die stad wil verlaat. Ek is bereid om saam met jou Upington toe te trek. Dit het mos meeste van die geriewe van die stad."
"Regtig my vrou?"
Hy trek haar nader en soen haar so laat die ouer vrou wat daar sit glimlag en vir haar man sê, "So wil ek gesoen wees" en glimlag terwyl sy vir Elton knipoog.
Hy raak skaam en Jolene sê, "Sal jou leer om in die openbaar te kafoefel."
"Mevrou Jolene Daries, die dokter is gereed vir u."
Elton stap saam met haar.
Sally is al wakker van 05:00 af. Sy het 'n besluit geneem. Nie langer as vandag nie. Vandag moet alles tot 'n punt kom.
"Hy sál die gevolge van sy dade dra. Ek was vir te lank 'n slagoffer."
"Goeie môre Meneer en Mevrou Daries. U lyk anders as eergister, so ontspanne."
Elton kyk na hom en glimlag. "Goeie môre dokter. Ons wil en gaan lewe. Na ons afspraak by u begin ons planne maak vir die toekoms. Weet U hoekom? God is in beheer."
Die dokter kyk verwonderd na hulle. Hy kon nog nooit verstaan hoe die sogenaamde Christen groep mense die mediese feite kan verwerp omdat hul glo hul God sal hulle gesond maak nie.
Jolene is vanoggend heel ontspanne; wel, nou nie heeltemaal nie maar beslis baie minder as eergister.
"Ons is gereed dokter."
"Ek het die uitslae van die laaste toetse hier. Dit bevestig die eerste diagnose.
Daar is egter ander nuus ook. Soos ons verduidelik het begin Angiosarcoma soms in die bors maar kan soos met dit meeste ander kankers versprei.
In u geval het dit in die bors begin en die lewer is aangetas."
Die Dariese sit doodstil. Hulle lyk nog steeds kalm.
Die dokter gaan voort. "Die prognose was verkeerd. Ons kan die geaffekteerde bors verwyder, met chemoterapie en bestraling is dit moontlik om die lewer te behandel. As dit nie suksesvol is nie kan 'n gedeelte van die lewer verwyder word. U kan 'n lang gelukkige lewe hê."
"Dankie Here!" Elton se dankbaarheid wys in trane.
"U moet gaan dink en terugkom na my toe met 'n besluit teen Maandag. As julle die bors wil laat verwyder moet dit so spoedig moontlik gebeur. Daarna die res van die behandeling."
Jolene kyk na Elton maar praat met die dokter. "Wat is daar om oor te dink dokter. Wanneer kan ons begin."
Toe hulle daar uitstap sê Jolene. "Mammie en Oom John is seker gespanne. Bel jy vir Oom John en nooi hom vir aandete. Ek sal Mammie nooi."
Elton glimlag. "My oom gaan die aandete in 'n dankseggingsdiens verander. Ek wens sy vrou kon dié nuwe John sien."
"Toe maar my man. My ma sien dit alte goed raak. Ek wonder of sy ooit die goeie nuus gaan hoor of gaan sy net in Oom John se gesig sal kyk."
"Hmmm. So jy sê sy sal kom oor die halsbandjie, nie die hondjie nie."
Jolene slaan hom liggies met die vuis teen die bo-arm. "Wies jou hondjie en jy praat mos van my ma."
Sally is gespanne. Soos gewoonlik is die res van die personeel al weg. Dit is weer net die skoolhoof en sy. Die opsigter maak klaskamers skoon.
Net soos sy verwag het is daar 'n klop aan die deur.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking