#Stukkendeharte Hoofstuk 38 - Rooi Mier
Wanneer jy uit die Palmlaning wil kom moet jy voorkant draai en terugry op die anderkant. Sahara kom terug aan die anderkant. Regoor Janice hulle se motor kyk sy of sy vir Lawrence sien. Hulle oë maak kontak vir 'n oomblik.
Sy dwing haarself om die kyk te breek. "Wanneer dan Sahara? Wanneer gaan jou hart aanvaar hy is nie beskikbaar vir 'n romantiese verhouding nie."
Sy wens dat haar ma en Bennie se paaie liewer nooit gekruis het nie.
"Maar as hulle paaie nooit gekruis het nie het ek nie bestaan nie."
Sy slaan gefrusteerd met haar hande op die stuurwiel. Sy skrik toe die voertuig skielik links beweeg maar sy kry dit onder beheer.
Voordat sy terugry Kaap toe wil is daar sekere goed wat sy nog by Bennie wil uitvind, byvoorbeeld hoe hy uitgevind het wie sy is.
Lawrence kyk haar voertuig agterna. Dit voel of sy hart van hom af wegry. Hy skrik toe haar voertuig skielik swenk en wou net uit die voertuig waarin hy sit spring toe hy sien die voertuig is weer onder beheer. Sy hart is in daai motor tog sit dit nou in sy keel.
Kadoef, kadoef. Dankie Vader sy is veilig. Hy vertroos homself deur te dink 'n broer mag bekommerd wees oor sy suster.
"Sy is darem 'n mooi vrou. Suster Lawrence, suster! Sy is 'n mooi suster!"
Hy voel skielik 'n jaloesie dat sy met daai Paul vent is. Terselfdertyd hoop hy dat Paul haar gelukkig sal maak. Die stryd tussen 'n moontlike aanstaande en 'n suster is hewig.
"Ek sal moet vrede maak. Hoe skakel mens gevoelens af? Draai jy dit toe soos 'n kraan? Die probleem is 'n kraan kan weer oopgedraai word. Soms drup dit selfs."
Lawrence probeer sy emosies onder beheer bring, maar hy weet hy moet sommer nou weer daarmee deel. Dit is tyd Janice en Larisa in te lig oor die nuwe verwikkelinge. Hulle is oppad motor toe.
Voordat hulle inklim vra hy of Larisa saam met hom op die gras regoor die agterdeur kan sit en Janice op die agtersitplek met haar bene buite.
Hy vertel hulle van alles wat gebeur het. Larisa plaas haar hand op sy skouers toe die emosies weer deurkom. Janice voel hartseer vir hom maar teselfdertyd begin daar hoop opvlam in haar hart.
"Uiteindelik het ek 'n regverdige kans."
'n Whatsapp boodskap kom deur. Dit is Sahara.
"Lawrence, stuur asb vir my jou pa se nommer. Ek moet met jou ouers praat."
Hy stuur die nommer terwyl hy dink, "Jou pa ook. Ons pa."
Bennie se foon lui.
"Bennie van Wyk."
"Goeie middag Meneer. Dit is Sahara. Ek wil baie graag môre met u ontmoet. Is dit moontlik?"
"Ons gaan môreoggend kerk toe Sahara. Kan ons dit die namiddag maak?"
"Ek gaan ook kerk toe so dit sal my pas Meneer."
"Ons sal sommer tot by jou kom. Reg so?"
"Reg so Meneer. Bring asseblief vir Lawrence saam."
"Dan sien ons jou Sahara. Stuur asseblief jou adres. Ons sal die tyd bevestig."
Sarie is nou stil. Soos dit in die platteland gaan is mense in en uit om hul meegevoel te kom betoon. Sommige mense bring eetgoed saam.
Steven blyk nou nugter te wees nadat iemand hom 'n sterk beker swart koffie ingejaag het. Hy sit maar daar op 'n rusbank. Willem slaap nog.
Een van die meegevoelbetuigers het die brief uit Sarie se hand geneem en dit op die koffietafel neergesit.
Dit lyk of Vanwyksvlei na die drama vroeër na normaal teruggekeer het. Die jongmense loop op en af soos dit normaalweg op 'n Saterdagnamiddag gaan. Hier 'n dronkie, daar 'n geskellery. Alhoewel Sally se "moord" in omtrent elke gesprek is gaan die lewe aan.
Dit is net in die September woning waar daar dood is.
Yvonne en Candice was die Vrydagaand weer saam uit Cloetesville toe. Net Candice het vroegoggend die Saterdag teruggekeer.
Dit is nou amper Saterdagaand. Candice was intussen weer weg "sjebeen" toe en het weer alleen teruggekeer.
Niemand het egter gesien dat sy al Yvonne se klere uit haar kamer verwyder het nie. Die enigste persoon wat dalk sou opmerk is nie daar nie. Larisa.
Yvonne het die oggendbygekom asof uit 'n diep slaap. Sy was nakend en sy het twee of drie mans hoor praat.
Toe sy begin beweeg het sy 'n steek aan haar arm gevoel.
Die laaste woorde wat sy hoor is, "Wees versigtig met haar. Geen merke op haar liggaam. Candice gaan nie gelukkig wees nie."
Sy sink weer weg in 'n bedwelmde slaap.
In Vanwyksvlei is Steven alreeds in die bed. Sarie voel uitgeput. Sy het ongelukkig die tipe man wat net konsentreer op sy eie seer. Dit maak dat hulle selfs in verdriet nie mekaar ondersteun nie.
Sy gaan bed toe.
Die brief lê op die koffietafel.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking