Maandag 22 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 46 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 46 - Rooi Mier

Daar is 'n klop aan die deur by Steven en Sarie se woning. Dit is vroeg warm dus staan die deur oop. Steven sien 'n gedeelte van 'n polisieuniform van waar hy sit. Hy gaan maak die traliehek oop en nooi die Sersant binne.
"Ek het net gekom om te sê dat Willem September aangekla gaan word van verkragting op jou dogter. As polisieman klink dit vir my dat dit 'n baie moeilike saak gaan wees om te bewys omdat dit jare gelede gebeur het en die feit dat die slagoffer oorlede is. Op die oomblik is die enigste bewyse die brief wat sy geskryf het en dan jou vrou."
"Hoe bedoel u my vrou?"
"Volgens die brief het u dogter haar vertel daarvan. Wat dit moeilik gaan maak is die feit dat sy nie jul dogter geglo het nie. Ons aanklaer is van die beste maar as Meneer Willem September 'n baie goeie prokureur kry is daar 'n moontlikheid dat hy vry gaan kom."
Steven se blik is vasgenael op die deur waar Mavis se gesig verskyn het; maar dit lyk asof hy haar nie raaksien nie. Sarie het geweet en nie my dogter geglo nie?
Hy onthou nou dat hulle nooit die brief klaar gelees het nie. Nadat hy Willem aangeval het was alles deurmekaar.
"So het u die brief?"
"Ja Meneer September. Dit maak nou deel uit van die bewyse."
"En u sê dat my vrou volgens die brief kennis gedra het van die verkragting?"
Hy stap deur toe en druk Mavis uit en klap die deur in haar gesig toe.
"Ek is jammer Meneer maar ek het nie geweet dat sy u nie ingelig het nie.
Daar is egter ander nuus. U broer Willem was betrokke by diamante smokkelary. Die polisie soek al jare na hom. Hy het dit goed weggesteek omdat hy altyd 'n lae profiel handhaaf het. Die bewyse is genoeg om hom vir baie kank weg te sit.
Ek het u net kom inlig. Sterkte met die begrafnis later die week."
"Totsiens Sersant. Baie dankie."
Steven maak die deur oop en Mavis val teen hom vas.
"Vervlaks man. Ek wou net klop toe jy oopmaak."
Steven sê niks. Hy druk haar net regop en weer by die deur uit. Die sersant kan nie help om te lag nie.
Steven stap saam tot by die polisievoertuig. Nadat die sersant gery het staan hy by die hek en kyk die straat af.
"Sy het geweet."
"Wat het sy geweet?"
Mavis se stem klink agter hom op. Hoe raak mens ontslae van die vrou? Verergd draai hy om en stap die huis in. 
" So my vrou het nie net met Willem geslaap nie maar ook geweet hy het my dogter verkrag. Watter soort siek mens doen dit? Slaap met jou dogter se verkragter? Sy moet nou huistoe kom. Daar is baie om te verduidelik."

Paul kyk na die koördinate van die laaste plek waar Yvonne se sel aan was. Dit is by 'n sjebeen in Cloetesville in Stellenbosch. Hy gryp onmiddelik sy sleutels en ry. Dit is nogals ver daarheen.
Met die verkeer neem dit hom amper 'n uur om in Stellenbosch te kom. Hy skakel sy gps aan om die die straat in Cloetesville te kry. Die plek is toe. Daar is slotte aan die hekke. Die enigste persoon wat hy sien is 'n hawelose buite.
Paul vra hom of hy gesien het wie laaste daar weg is. Hy vertel van die vriendelike man wat hom soms kos aangebied het. Die is weg met 'n bakkie. Hy gee die beskrywing van die bakkie.
Paul vra of daar nog iets is wat hy onthou. Hy vertel van die net so vriendelike, slim meisiekind wat vroeër daar was. Sy is slim want sy is by die universiteit. Hulle noem haar glo Candy. 
Daar is duisende bakkies soos daai. Paul se enigste uitweg is die meisie op universiteit. Hy onthou skielik 'n Candice by die universiteit. Kan dit die Candy wees?
Hy ry daarheen. As sy klas het sal hy maar net moet wag. Daar is nie 'n ander manier nie. Daar is nie antwoord by haar kamer nie. Hy sal maar in sy motor bly wag. Paul verwonder hom aan hoe maklik mens deesdae kan in en uit by koshuise sonder dat iemand jou stop.
Sy foon lui. Dit is die kantoor. Sy ma soek dringend na hom want hy antwoord nie sy foon nie. Hy bel haar en belowe om haar later ten volle in te lig.
Hy sien 'n voertuig optrek. Lawrence klim daar uit. By die ander deur klim die meisie uit wat hy die ander dag hier kom oplaai het. Lawrence haal 'n tas uit en toe hy met die tas om die motor kom kyk hy direk in Paul se gesig.
Lawrence weet vir 'n oomblik nie waar hy dié gesig gesien het nie. Dan kom dit terug. Wat soek hý hier.
Paul besluit dat nou net so goed soos enige ander tyd is. Hy klim uit en stap na Lawrence toe.
"Hi. Ek is Paul."
"Ek weet."
"Ek wil net om verskoning vra vir wat die ander dag in SeePunt gebeur het. Ek wou maar net.."
"Moenie jouself bekommer nie," val Lawrence hom in die rede, "Sahara het my klaar verduidelik. Sy is in elk geval nou vry. Ons het uitgevind ons is broer en suster. Sy is my pa se oudste dogter."
Paul is vir 'n ses geslaan.
"Regtig?"
"Ja regtig. Ek is nie meer kwaad vir jou nie. Jy het my eintlik gered van myself af. 
So jy het vir my pa gewerk?"
"Ja, ek moes Sahara vir hom opspoor."
Intussen het Larisa nader gestaan. 
"Meneer, ek probeer vasstel waar ek jou gesien het. Jy lyk so bekend."
"Ek weet regtig nie juffrou."
"Yvonne! Ja Yvonne se album. Ons het nog gelag omdat sy nog 'n outydse album hou."
"So jy ken vir Yvonne?"
"Ja, ek doen."
"Dan kan jy my miskien help. Ek kry nie vir Yvonne nie. Ek is haar broer."
"Wat bedoel jy jy kry haar nie?"
"Het jy haar gedurende die afgelope naweek gesien? Ek soek haar nou al 'n paar dae."
"Jammer. Ons kom nou net uit Upington uit. Ek en Yvonne is vriendinne. My naam is Larisa."
"Ken jy miskien 'n Candice? Ek het haar die ander dag ontmoet."
"Ja ek ken haar. Sy en Yvonne is ook vriendinne?"
"So jy en Candice is nie vriendinne nie? Mag ek vra hoekom?"
"Wel, sy laat my ongemaklik voel. Ek wens Yvonne wil nie vriende met haar wees nie."
Paul vertel haar van Yvonne wat as vermis aangegee is en dat hy eintlik opsoek na Candice is.
"Haar motor is nie hier waar dit gewoontlik staan nie. As sy klas gehad het sou dit hier gestaan het."
Sy wys na die parkeerplek waar Candice se motor gewoonlik staan.
Paul vra haar uit oor watter tipe motor dit is, die kleur en die registrasienommer. 
Larisa ken nie die registrasienommer nie behalwe dat dit 'n Gauteng nommer is.
"As ek nou net haar ID nommer gehad het kon ek dalk die registrasienommer probeer kry het. Ek moet gaan want tyd kan die verskil tussen lewe en dood wees. 
Voor ek gaan, ken jy iemand met die naam van G? Ek soek hom ook."
"Ek het hom gesien. Hy het ons drankies bedien toe ek een aand saam was."
Sy gee 'n beskrywing van G en vra dat Paul haar moet bel sodra hy iets uitvind. Hulle ruil nommers uit en Paul vertrek.
Lawrence wat die heeltyd geluister het stap nader.
"Dit was nou intens. Jy het my nooit vertel van Yvonne nie."

Sarie kom uiteindelik by die huis aan. Intussen het Mavis se storie al die rondte gedoen. Willem wat met diamante gesmokkel het en Sarie wat hom gehelp het.Dit is hoekom Sarie nie tuis is nie. Sy is by die polisiekantoor. Die mense is dus verbaas toe sy in Kokerboom Straat af kom loop.
Steven het haar sien aankom en in gestap. Raai wie het haar ook sien aankom? Mavis kom soos 'n warrelwind by haar hek uit. Sy kom gelyk met Sarie by haar hek.
Sarie gee haar een kyk wat nie baie vriendelik is nie. Die storie het haar ore ook bereik.
"Skinderbek."
"Wat bedoel jy Sarie? Wat het jy en Willem met die diamante gedoen? So jy speel net arm nê?"
"Mavis, hou jou mond asseblief."
Sy gaan voor Mavis by hek in en maak dit agter haar toe.
"Bly buite!"
"Hoeeee! Sommige mense is skaam vir die geraam maar hulle doen dit darem. Skynheilige koei, diamantsmokkelaar.
Is mos nie my skuld dat jy uitgevang was nie. Vanaand is jy seker in die hoofnuus."
Steven sit en kook daar binne. 
"Goeie middag my man."
"Sarie sê my. Het Sally jou vertel van haar verkragting as kind."
"Ja Steven maar ek het haar nie geglo daai tyd nie."
"Dankie Sarie. Sodra my kind begrawe is skei ons paadjies. Was ek al die tyd met so 'n hartelose mens getroud? Ek verafsku nie jou nie maar myself. Ek kàn dit noe glo van myself nie."
"Maar Steven .."
"Bly stil vroumens. Dit is net ter wille van my kind se waardigheid dat ek jou gaan toelaat om haar begrafnis by te woon.
Jy kan maar die huis vat. Jy gaan my nie weer sien na dit nie. Al my goed is in die ander kamer.
Jy het saam met Willem ons familie verwoes. Hy gaan dalk daarvoor boet maar pasop dat God jou nie in die hande kry. Dalk vergewe Hy jou; moet dit net nie van my verwag nie."
"Asseblief Steven."
Hy stap weg in die tweede slaapkamer en maak die deur agter hom toe.

Teen die aand was daar nog geen leidraad oor waar Yvonne, Candice of G hulle bevind nie. Paul weet dat tyd nou 'n belangrike faktor is. Hy is baie bekommerd oor sy suster. Alle aanduidings is dat hulle nie meer in die Kaap is nie.

Die hawelose voor die sjebeen is toe glad nie so haweloos nie. By sy huis gaan hy in 'n "kantoortjie" en skryf in 'n boek en sluit dit weer weg in sy kluis. Hy neem sy foon en skakel 'n nommer.
"Ek het inligting ontvang dat hulle, in plaas van Beaufort Wes, hulle vanaand op 'n plaas naby George gaan oornag. Die roete is verander. Dit gaan moeiliker wees om hulle nou dop te hou want enige voertuig wat daar naby kom sal nou suspisieus wees. Gelukkig het ons nou iemand aan die binnekant. Ons praat weer."
Die "hawelose" van Cloetesville hoop dat Paul Slingers nie hul ondersoek in die wiele gaan ry nie. Hy het intussen uitgevind dat dié Paul 'n privaatspeurder is. Alhoewel hulle weet waar Yvonne haar bevind kan hulle haar nie nou red nie. Die hele operasie kan deur die mat val. 
Hulle weet nog nie waar Meneer M hom bevind nie. Meer mense as  net die polisie soek hom.

**
Psalm 118:8 Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou.
9 Dit is beter om by die Here te skuil as om op *edeles te vertrou.
©Rooi Mier 13.07.2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...