Slaan oor na hoofinhoud

#Stukkendeharte S1 – Hoofstuk 4

#Stukkendeharte S1– Hoofstuk 4

#RooiMier

Die volgende oggend raak Sahara laat wakker. Teen 10:00 sit sy en eet ontbyt.

“Ek moet bid vir ’n wonderwerk,” fluister sy. “Lawrence moet op een of ander manier die Here vind.”

Sy het skaars klaar geëet toe daar aan die voordeur geklop word. Dit is haar tannie Jenny — met tasse en al.

“En nou, Antie? Ek het nie geweet u is oppad nie.”

“Goeie môre, Sahara. ’n Mens groet eers,” antwoord Jenny terwyl die taxi wegry.

Sy dra een tas in en beduie na die ander. “Ons praat later. Ek is moeg en honger.”

Sahara berei vir haar iets te ete voor. Jenny eet in stilte. Dit is duidelik sy is gespanne. Ná ete gaan lê sy om te rus.

By die skool is die matriekleerders duidelik nie hulself nie. Lawrence is vir die eerste keer in sy lewe babalaas. Ná sy tweede bier was hy reeds dronk — hy het nog nooit tevore alkohol gebruik nie.

Teen 03:00 die oggend het sy pa hom ingewag. “Onverantwoordelik,” was die woord wat in sy kop bly vassteek. Sy pa dring daarop aan dat hy Janice se ouers om verskoning moet gaan vra omdat hy hul dogter so laat — en onder die invloed — huistoe gebring het.

Lawrence kyk in Janice se rigting. Sy lyk ook nie goed nie; haar oë is rooi gehuil. Sy draai weg toe hy nader stap.

“Het jou ouers met jou geraas?” vra hy saggies.

Sy antwoord nie.

Kort daarna kom die onderwyser in. “Ons stuur julle liewer huis toe. Die matriekafskeid moes op ’n Vrydagaand gewees het. Julle mag gaan.”

Gewoonlik sou almal uitstorm, maar vandag is die klas stil en traag.

Daardie middag kom sy pa by die huis aan met ’n bos rooi rose en ’n toegedraaide geskenk. Sy gesig versag toe hy na Iris stap.

“Geluk met ons huweliksherdenking, my sweetness. Dankie vir jou liefde.”

Iris glimlag en knipoog. Lawrence voel ongemaklik oor hul openlike liefde.

“Klim in die kar, Lawrence,” sê Bennie skielik kortaf. “Ons gaan na die Louws.”

In die motor hou hy eers stil langs die pad. “My kind,” sê hy sagter, “ek was ook eendag onverantwoordelik. Dit het nie goeie gevolge gehad nie.”

By die Louws se huis sit Janice in haar kamer met rooi oë. Derek en Angela ontvang hulle beleefd.

“Lawrence het iets om te sê,” sê Bennie.

“Meneer en Mevrou, ek wil net jammer sê dat ek Janice so laat huistoe gebring het. Ek is regtig jammer.”

“Nie laat nie — vroegoggend,” sê Angela.

Derek praat kalm maar ferm. “Ons is teleurgesteld. Julle weet nie wat alles kon gebeur het nie.”

“Ek is ook jammer,” sê Janice sag. “Maar ek is nog kwaad.”

Derek voeg by: “Hy was nie alleen in die saak nie. Ek is net dankbaar julle het veilig tuisgekom.”

Op pad huis toe is Lawrence stil.

Jenny slaap tot laat. Met aandete sê sy: “Ek het gekom omdat ek iets belangriks op die hart het. Ons praat môre.”

Daardie nag slaap Sahara onrustig. Lawrence is weer in haar drome.

Teen 04:00 is sy wakker. Sy bid — soos sy die gewoonte aangeleer het — en wonder wat haar tannie so ver uit Bloemfontein laat kom het. Dit moet oor haar ouers wees. Oor haar biologiese pa.

Haar gedagtes dwaal weer na Lawrence.

“Het ek gevoelens vir hom? Geen man het al ooit my gedagtes só oorheers nie.”

’n Paar strate verder lê Janice ook wakker.

Sy het regtig gedink Lawrence voel iets vir haar. Maar in sy dronkenskap het hy haar ’n paar keer Sahara genoem — selfs in hul mees intieme oomblikke. Toe het sy besef: hy sal nooit oor Sahara kom nie.

“Ek is so lief vir hom,” huil sy saggies.

By die skool sit Lawrence reeds vroeg in die klas. Anton kom ingestap.

“L, ek hoop jy was nie onverskillig nie. Ek hoop jy het beskerming gehad.”

“Hoe weet jy?” vra Lawrence geskok.

“Ek en Larisa het per ongeluk op julle afgekom.”

Lawrence voel skaam. Janice kom in. Larisa gee hom ’n veelbetekenende knipoog. Die klok lui net betyds.

Hy dink aan wat gebeur het. Hy respekteer vroue. Hy kan nie die drank vir alles blameer nie, maar dit het hom oor ’n grens laat stap wat hy nie beplan het nie.

Later daardie oggend klop Sahara aan Jenny se kamerdeur.

“Antie, ek wil inkom.”

“Dis tyd,” sê Jenny. “Ek gaan jou vertel wie jou pa is — en waarom dit gebeur het.”

Sy begin vertel van hul universiteitsdae. Van ’n partytjie. Van drank — en jongmanne wat buite dwelms gebruik het. Van aggressie. Van ’n geveg wat uitgebreek het. Van chaos.

“Ek kon jou ma nie kry nie,” sê Jenny sag. “Die volgende dag was sy stil. Ek het gedink dit is net oor die drinkery.”

Jenny onderbreek die gesprek en gaan badkamer toe. Sahara staan verdwaas in die kombuis. Haar ma het altyd gesê sy het nooit alkohol gebruik nie.

Skielik onthou sy haar afspraak by die bank om geld te belê. Ná die afspraak ry sy verby die skool. Dit is tweede pouse. Sy parkeer oorkant die rugbyveld.

Daar sit Lawrence saam met Anton en Larisa.

Hy lyk stil.

Sy glimlag toe sy in haar gedagtes weer hoor:
“Goeie môre, Juffrou Van Wyk — ag, Muller.”

“Ek is verlief op hom,” erken sy in haar hart. “Maar sal hy ooit ’n ouer vrou wil hê? En wat van ons verskillende gelowe?”

Sy hoor haar pa se stem in haar gedagtes:
“My kind, kies eendag ’n man wat jou geloof deel.”

Die sirene lui. Lawrence en sy vriende stap terug klas toe.

Sahara bly nog ’n oomblik sit — tussen hoop en onsekerheid.

© Rooi Mier – 13.07.2022

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die Verlore Seun Hoofstuk 1

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 1 (Gebaseer op die gelyknamige Bybelse gelykenis) Hierdie verhaal dra ek op aan een van ons Mier-familie, Nicolene Engelbrecht. Sy is vir my ’n baken van hoop en innerlike krag. (Ek kan nie meer sê nie, want ek respekteer haar privaatheid.) Om hierdie storie te kon skryf, het ek name aan die karakters gegee. Alhoewel dit ’n verhaal is, sal daar Skrifgedeeltes aangehaal word om die agtergrond in lyn met die Bybel te hou. Josáfat is keelvol vir die harde werk. “Hoekom moet ek soos ’n arbeider leef terwyl my pa ryk is? Dis mos onnodig. Ek wil die lewe gaan beleef. Die stories wat die verkoopsmanne altyd vertel, klink vreeslik interessant. Dit klink vir my asof die mense dáár buite regtig leef. Hier moet ek maar op ’n hopie sit. Die bediendes se meisiekinders is so pragtig, maar ek is nie eens veronderstel om aan hulle te raak nie. As ek dit wel doen, moet ek hulle dreig met verkoop aan buitelanders, en dat hulle nooit weer hul families sa...

Voorwoord van Die Verlore Seun

🌿 Voorwoord – Die Verlore Seun Skrywer: Rooi Mier Daar is verhale wat jy lees — en dan is daar verhale wat jou lees. Die Verlore Seun is so ’n verhaal. Dit is nie net ’n hervertelling van ’n bekende Bybelse gelykenis nie. Dit is ’n menslike reis deur skuld, trots, verwerping, verlange, genade en herstel. Dis die verhaal van ’n seun wat wegstap… maar ook die verhaal van ’n pa wat bly wag. Van ’n ma wat bly bid. Van ’n broer wat seer dra. En van ’n huis wat leeg bly totdat liefde weer inkom. Hier ontmoet jy Josáfat — koppig, seker van homself, vas oortuig dat vryheid buite die vaderhuis lê. Jy stap saam met hom deur keuses, gevolge, verliese en die lang, stil pad terug. Jy leer ook vir Absalom ken — ’n pa wie se arms wyer is as sy wonde, en Leah — ’n ma wie se gebede harder praat as haar trane. Maar hierdie verhaal gaan nie net oor húlle nie. Dit gaan oor óns. Oor elke mens wat al verkeerd gekies het. Oor elkeen wat al gedink het: “Ek het te ver gegaan. Daar is geen pad terug n...

Die Verlore Seun Hoofstuk 2

Die Verlore Seun – Rooi Mier Hoofstuk 2 Daardie aand gaan Absalom bekommerd bed toe. Die kind van hom is ’n ware willewragtig. Hy weet Josáfat gaan nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie. Ons het hom nie so grootgemaak nie, dink hy. Hy dink die lewe is maanskyn en rose, maar hy gaan hom vasloop. “Leah, ons het ’n probleem.” “Wat is dit, my man? Was daar weer moeilikheid onder die slawe? Ons behandel hulle beter as die meeste boere in die kontrei, maar daar bly maar probleme. Dit is net daai opstoker, Saul, wat altyd moeilikheid maak.” “Nee, vrou. Dit is Josáfat.” “Ai, die kind. Wat het hy nou weer aangevang? Moet ons hom nie maar na sy oom toe stuur nie?” “Ons kan nie ons probleem op iemand anders afsmeer nie. Ons moet dit self hanteer.” “Wat is sy probleem dié keer?” “Hy wil weggaan. Hy wil die plaas verlaat om die wêreld te leer ken.” “Na een van die stede toe? Nog ’n Sodom of Gomorra? Die mense leef daar asof daar nie ’n God is nie.” “Nou wat gaan jy maak, my man?”...