#Stukkendeharte S1– Hoofstuk 4
#RooiMier
Die volgende oggend raak Sahara laat wakker. Teen 10:00 sit sy en eet ontbyt.
“Ek moet bid vir ’n wonderwerk,” fluister sy. “Lawrence moet op een of ander manier die Here vind.”
Sy het skaars klaar geëet toe daar aan die voordeur geklop word. Dit is haar tannie Jenny — met tasse en al.
“En nou, Antie? Ek het nie geweet u is oppad nie.”
“Goeie môre, Sahara. ’n Mens groet eers,” antwoord Jenny terwyl die taxi wegry.
Sy dra een tas in en beduie na die ander. “Ons praat later. Ek is moeg en honger.”
Sahara berei vir haar iets te ete voor. Jenny eet in stilte. Dit is duidelik sy is gespanne. Ná ete gaan lê sy om te rus.
By die skool is die matriekleerders duidelik nie hulself nie. Lawrence is vir die eerste keer in sy lewe babalaas. Ná sy tweede bier was hy reeds dronk — hy het nog nooit tevore alkohol gebruik nie.
Teen 03:00 die oggend het sy pa hom ingewag. “Onverantwoordelik,” was die woord wat in sy kop bly vassteek. Sy pa dring daarop aan dat hy Janice se ouers om verskoning moet gaan vra omdat hy hul dogter so laat — en onder die invloed — huistoe gebring het.
Lawrence kyk in Janice se rigting. Sy lyk ook nie goed nie; haar oë is rooi gehuil. Sy draai weg toe hy nader stap.
“Het jou ouers met jou geraas?” vra hy saggies.
Sy antwoord nie.
Kort daarna kom die onderwyser in. “Ons stuur julle liewer huis toe. Die matriekafskeid moes op ’n Vrydagaand gewees het. Julle mag gaan.”
Gewoonlik sou almal uitstorm, maar vandag is die klas stil en traag.
Daardie middag kom sy pa by die huis aan met ’n bos rooi rose en ’n toegedraaide geskenk. Sy gesig versag toe hy na Iris stap.
“Geluk met ons huweliksherdenking, my sweetness. Dankie vir jou liefde.”
Iris glimlag en knipoog. Lawrence voel ongemaklik oor hul openlike liefde.
“Klim in die kar, Lawrence,” sê Bennie skielik kortaf. “Ons gaan na die Louws.”
In die motor hou hy eers stil langs die pad. “My kind,” sê hy sagter, “ek was ook eendag onverantwoordelik. Dit het nie goeie gevolge gehad nie.”
By die Louws se huis sit Janice in haar kamer met rooi oë. Derek en Angela ontvang hulle beleefd.
“Lawrence het iets om te sê,” sê Bennie.
“Meneer en Mevrou, ek wil net jammer sê dat ek Janice so laat huistoe gebring het. Ek is regtig jammer.”
“Nie laat nie — vroegoggend,” sê Angela.
Derek praat kalm maar ferm. “Ons is teleurgesteld. Julle weet nie wat alles kon gebeur het nie.”
“Ek is ook jammer,” sê Janice sag. “Maar ek is nog kwaad.”
Derek voeg by: “Hy was nie alleen in die saak nie. Ek is net dankbaar julle het veilig tuisgekom.”
Op pad huis toe is Lawrence stil.
Jenny slaap tot laat. Met aandete sê sy: “Ek het gekom omdat ek iets belangriks op die hart het. Ons praat môre.”
Daardie nag slaap Sahara onrustig. Lawrence is weer in haar drome.
Teen 04:00 is sy wakker. Sy bid — soos sy die gewoonte aangeleer het — en wonder wat haar tannie so ver uit Bloemfontein laat kom het. Dit moet oor haar ouers wees. Oor haar biologiese pa.
Haar gedagtes dwaal weer na Lawrence.
“Het ek gevoelens vir hom? Geen man het al ooit my gedagtes só oorheers nie.”
’n Paar strate verder lê Janice ook wakker.
Sy het regtig gedink Lawrence voel iets vir haar. Maar in sy dronkenskap het hy haar ’n paar keer Sahara genoem — selfs in hul mees intieme oomblikke. Toe het sy besef: hy sal nooit oor Sahara kom nie.
“Ek is so lief vir hom,” huil sy saggies.
By die skool sit Lawrence reeds vroeg in die klas. Anton kom ingestap.
“L, ek hoop jy was nie onverskillig nie. Ek hoop jy het beskerming gehad.”
“Hoe weet jy?” vra Lawrence geskok.
“Ek en Larisa het per ongeluk op julle afgekom.”
Lawrence voel skaam. Janice kom in. Larisa gee hom ’n veelbetekenende knipoog. Die klok lui net betyds.
Hy dink aan wat gebeur het. Hy respekteer vroue. Hy kan nie die drank vir alles blameer nie, maar dit het hom oor ’n grens laat stap wat hy nie beplan het nie.
Later daardie oggend klop Sahara aan Jenny se kamerdeur.
“Antie, ek wil inkom.”
“Dis tyd,” sê Jenny. “Ek gaan jou vertel wie jou pa is — en waarom dit gebeur het.”
Sy begin vertel van hul universiteitsdae. Van ’n partytjie. Van drank — en jongmanne wat buite dwelms gebruik het. Van aggressie. Van ’n geveg wat uitgebreek het. Van chaos.
“Ek kon jou ma nie kry nie,” sê Jenny sag. “Die volgende dag was sy stil. Ek het gedink dit is net oor die drinkery.”
Jenny onderbreek die gesprek en gaan badkamer toe. Sahara staan verdwaas in die kombuis. Haar ma het altyd gesê sy het nooit alkohol gebruik nie.
Skielik onthou sy haar afspraak by die bank om geld te belê. Ná die afspraak ry sy verby die skool. Dit is tweede pouse. Sy parkeer oorkant die rugbyveld.
Daar sit Lawrence saam met Anton en Larisa.
Hy lyk stil.
Sy glimlag toe sy in haar gedagtes weer hoor:
“Goeie môre, Juffrou Van Wyk — ag, Muller.”
“Ek is verlief op hom,” erken sy in haar hart. “Maar sal hy ooit ’n ouer vrou wil hê? En wat van ons verskillende gelowe?”
Sy hoor haar pa se stem in haar gedagtes:
“My kind, kies eendag ’n man wat jou geloof deel.”
Die sirene lui. Lawrence en sy vriende stap terug klas toe.
Sahara bly nog ’n oomblik sit — tussen hoop en onsekerheid.
© Rooi Mier – 13.07.2022
Opmerkings
Plaas 'n opmerking