#Stukkendeharte S2 Hfst 64 - Rooi Mier
Twee maande later.
Lawrence en die tweeling staan by Janice se graf.
“Prinsessie, wat sal jy altyd onthou van Mammie?”
“Mammie het altyd gesê dat ek eendag ‘n sterk vrou gaan wees. Daarom gaan ek nie nou weer huil nie maar Pappie, ek mis haar baie. Ek wens dat sy nou hier was.”
“Ja, Mammie was reg my Prinses. Jy gaan ‘n sterk vrou wees. Eintlik is jy alreeds sterk maar Pappie wil dit vir jou sê, sterk mense huil ook. Om te huil beteken nie jy is swak nie. Wanneer jy hartseer is en jy verlang Mammie baie mag jy maar huil my mooiste.”
Lanice se trane was reeds vlak en skielik begin dit te vloei.
“Pappie”, vra Lorenzo met ‘n stem wat na aan huil klink, “mag mansmense ook huil?”
“Eerste ding my Bulletjie. Jy is nog my seun, jy gaan eendag ‘n man wees. Kinders mag huil.”
Lawrence klink ook of sy trane nie ver weg is nie.
“Tweedens, al is jy sewentig of tagtig en ‘n man, mag jy nog steeds huil. Mense wat hul gevielens wegsteek raak siek my kind. Man of vrou, huil as jy moet.”
Al drie van hulle huil nou. Lawrence druk die tweeling styf teen hom vas.
“Ag Here, hoekom moes hulle hul ma op so ‘n jong ouderdom verloor? Hulle het haar nog so nodig.”
Hy haal sy sakdoek uit en vee sy Prinsessie se gesig af.
“Pappie het ook gehuil.”
“Ja, ons almal het gehuil. Hoe voel jy nou?”
“Beter.”
Sy stap om hom en gee haar boetie ‘n stywe drukkie.
Lawrence slaan sy arms om albei.
“Pappie is baie lief vir julle.”
Hy buk af en gee elk ‘n soen op die voorkop.
“Kom ons maak Mammie se graf weer mooi. Gaan kry die blomme in die motor.”
Hulle het nie gesien dat daar ‘n motor by die begraafplaas se hek ingery het nie.
“Derek, daar is Lawrence en die kinders. Dit lyk of hulle huil.”
Derek antwoord met ‘n skor stem, “Ja hulle doen. Hy verbaas my elke dag; so jonk en alreeds so ‘n goeie pa.”
“Trek hier af onder die boom. Kom ons gun hulle tyd met mekaar.”
Derek trek maar alte gewillig af. Hy wil nie hê die kinders moet hom so sien nie. Die afgelope tyd het hy geleer om voor sy vrou te huil maar hy sal dit nog nie voor sy kleinkinders kan doen nie en veral nie voor Lawrence nie.
Hy is nie net hartseer oor sy dogter nie maar Angela het slegte nuus by die dokter gekry. Dit is die rede hoekom hulle direk hierheen gery het.
“Angela, ek is jou jammer my vrou. Hoe sal ons sonder jou kan klaarkom?
Kom ons gaan kry ‘n ander opinie.”
“Nee, my man. Ek weet dat die dokter die waarheid gepraat het. Kom ons maak die beste van die tyd wat ons nog het. Kom ons leef voluit. Ek wil nie van dokter tot dokter hardloop nie. Daar is nog so baie om te doen.”
Sy leun oor na haar man toe, trek hom nader en soen hom lank en innig op sy mond en nat wange.
“As die tweeling nie so naby was nie het ek jou sommer net hier aangerand.”
“Moenie jou stuitig hou nie vroumens,” hy probeer glimlag, “gaan kry ‘n kamer, jy gaan dat ek my ordentlikheid vergeet.”
“Ek wens jy wil,” sê sy glimlaggend.
Sy sit terug.
“Derek my man. Daar is iets wat ek met jou wil bespreek. Ek het ‘n plan en ek hoop jy gaan saamstem.”
Terwyl sy dit sê kyk sy na Lawrence en die kinders. Sy begin haar plan aan Derek verkoop. Dit is nie maklik nie maar hy stem later in.
“Noudat jy ingestem het; kom ons gaan sit gou ons blomme op die graf want ons het nog werk om te doen.”
“Hier kom Oupa en Ouma.”
Lanice vergeet sy moes die bottel water in die motor gaan haal het en staan en wag opgewonde vir ‘Oupa en Ouma’ om te parkeer.
Lorenzo staan en kyk haar en skud sy kop.
“Vroumense! Ek gaan nie eendag trou nie.”
Hy stap na die motor toe om die water te gaan haal.
Lawrence glimlag onderlangs.
“Ja Bulletjie, hulle is nie maklik om mee oor die weg te kom nie.”
“Het Oupa gehuil?”
“Nee mannetjie, hoekom sal jou Oupa huil?”
“Ag Oupa, ek kan mos sien Oupa het gehuil. Pappie sê ons mans mag ook huil. Ek het tog vir Oupa sien huil in die tuin deur my venster gister.”
Derek onthou hoe hy op Janice se gunstelinge plekkie in die tuin gesit het en die trane sommer net gekom het.
“Ag mannetjie, dit was maar net uets in ny oog.”
“Oupa, jy mag nie lieg nie. Jy hét gehuil.”
Derek kyk eers na Angela wat instemmend knik.
“Ag ja mannetjie, ek het bietjie gehuil. Kom ons maak die graf mooi.”
Angela glimlag.
“My man kan darem vinnig ‘n gesprek draai.”
“Oom Derek, ek wou nog iets met oom-hulle bespreek. Kan ek later ‘n draai by oom-hulle kom maak?
“Is dit in verband met jou plan om die tweeling vir ‘n week weg te neem Kaap toe?”
“Ag jammer oom. Ek het hulle gevra om eers stil te bly daaroor totdat ek met oom-hulle gepraat het.”
“Toe maar. Ek en Angela dink dat dit ‘n goeie ding is. Solank hulle nie te ver agter raak met hul skoolwerk nie.
Het jy ‘n plan in plek daarvoor?”
“Ek was van plan om sodra ek met u-hulle daaroor gepraat het, met hul onderwyser te gaan beraadslag.”
“Dan is dit reg so. Die jaar het nou net begin, so die werk sal hulle kan inhaal.”
Sahara sit en staar na haar verloofring. Dan staan sy op en gaan kyk deur haar kantoorvenster oor die stad. Sy is nou al ‘n maand terug by die hoofkantoor in Kaapstad.
Upington is haar plek maar sy het dié uitsig gemis. Die see, die eiland en die berg aan die anderkant. Vandag verlang sy egter na Lawrence en sy wens hy was hier maar verstaan dat hy die tweeling deur die proses moet help. Sy studies doen hy aanlyn so dit is nie ‘n probleem nie. Hy was ook een van die gelukkiges wat suksesvol was met sy bitcoinbeleggings so hy is alreeds finansieël sterk.
“Hoelank is lank genoeg voor sy kan begin praat oor ‘n troudatum? Sy tweeling het pas hul moeder verloor. Sal dit onbehoorlik van my wees om oor die toekoms met hom te begin praat?
Daar is nog so baie om oor te praat. Gaan ons in Upington of Kaapstad woon? As dit in Upington is gaan ons in my huis woon of ander een koop? Wil hy nog kinders hê?”
Dan wonder sy ook nog bekommerd oor haar verhouding met Derek en Angela. Op die oog af lyk dit of daar nie probleme gaan wees nie maar sal hulle haar aanvaar as die moederfiguur in hul kleinkinders se lewe?
Dan is daar haar pa. Hy bly baie siek maar is stabiel. Die dokter het aanbeveel dat sy haar lewe lei.
Haar telefoon lui. Die verantwoordelikheid om die besigheid te bestuur rus nou tydelik op haar skouers. Martin is op die oomblik in Europa op besigheid. Sy maak reg vir ‘n vergadering na die oproep.
Daar is ‘n klop aan die deur. Dit is Martin se persoonlike assistent. Sy stap saam met hom.
Haar selfoon lui. Dit is Angela, Janice se ma. Sy stuur vinnig ‘n stemboodskap.
“Ek is op die punt om ‘n vergadering by te woon Antie Angela. Ek skakel u later terug.”
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking