#Stukkendeharte S2 Hfst 61 - Rooi Mier
Rencia besef dat dinge lelik kan raak. Protokol of te nie, sy sal moet skiet om verwarring te veroorsaak.
Haar skoot tref Rodney in die hart.
Na nog skietery hoor hulle polisiesirenes.
Janice klim ‘n entjie van Sahara se woning uit haar motor. Lawrence se motor staan daar. Sy stap tot binne haar erf en kyk of sy deur die vensters kan sien.
Daar is kerslig.
“Hmm. So sy beplan ‘n romantiese ete. Kan ‘n vrou so agter ‘n man aan hardloop? Hy het boonop kinders by ‘n ander vrou.
Miskien was ek te haastig om ons huwelik prys te gee.”
Sy stap nader aan die venster maar is versigtig om nie dalk gesien te word nie.
Sahara lyk asemrowend mooi in ‘n swart knielengte rokkie. Lawrence trek sy asem hoorbaar in.
“Sahara, jy slaan my asem weg.”
Hy gee haar ‘n bos blomme. Sy neem die blomme in haar linkerhand en neem sy linkerhand met haar regterhand.
“Kom sit, die aantreklikste man suid van die ewenaar.”
“Net suid? Dan sal ek bietjie noord moet reis sodat ek daai ou kan kry.”
Hy glimlag.
“Wie sê daar is net een?”, kap Sahara glimlaggend terug.
Sy lei hom tot by ‘n tafel en maak hom sit. Lawrence sien dat daar ‘n bottel vonkelwyn wat geen alkohol bevat op die tafel staan en wonder daarvoor. Wat wil sy vier?
Hy dink, “Tipies Sahara. Sy het haar voorgeneem om nooit alkohol in enige vorm te neem nie.”
“En dit?”, vra hy terwyl hy na die bottel wys.
“Dit, my liewe Lawrence, hang van jou af of ons dit gaan drink.”
Daar in ‘n seekos voorgereg op die tafel.
“Sal jy vir ons die tafel seën? Ek is nogal vreeslik honger.”
Sahara is nie regtig so honger nie. Dit voel of daar ‘n senuweebol op haar maag sit. Dalk gaan dit weg as hulle eet.
“Hoe gaan dit met die tweeling?”
Lawrence se gesig helder op. Hy sal dag en nag van Lanice Lauren, sy prinsessie, en Lorenzo Anton, sy bulletjie, praat.
Sahara sien die trots en dink, “Die vrou wat eendag met jou trou beter baie lief wees vir hulle, anders gaan daar probleme wees.”
“Dit was nou heerlik Sahara. Ek het nog laas in die Kaap seekos gehad.”
Janice is nie meer gewoond so lank staan nie. Haar bene voel moeg. Sy druk met haar een hand op die vensterbank.
“Ek sal nie baie langer hier kan staan nie. Miskien moet ek maar gaan.”
Net toe sy wil loop sien sy Sahara neem iets op die stoel langs haar.
“Is dit wat ek dink dit is?”
Sahara beweeg. Janice blaas hoorbaar af.
“Dankie tog Vader. Dit is net ‘n afstandbeheerder. Wil die onnosel nou romantiese musiek aansit? Sy wil seker vir Lawrence verlei. Flerrie! Sy is ook een van daai Christene wat dink sy is better as ander mense maar sy doen dit.”
Die jaloesie vlam in haar op.
Sahara druk die afstandbeheerder en sagte romantiese musiek begin te speel.
“Net wat jy kan verwag van ‘n verleidster. Sy gaan seker nou vir Lawrence vra om te dans.”
Janice se hande trek saam in vuiste. Sy kan haar kwalik beheer want sy wil skree. Sy sien Sahara opstaan en stap na Lawrence toe.
“Ek beter hier wegkom anders word ek ‘n moordenares.”
Janice draai om om weg te loop maar haar bene voel lam. Sy moet vinnig na die vensterbank gryp om te keer dat sy val. Dan hoor sy Sahara se stem. Dit kom van die musieksentrum af.
“Struikelblokke, ja, daar was baie in ons pad. Eers was ek jou Wiskunde onderwyseres. Dit was en is nog steeds taboe vir ‘n onderwyser om met ‘n leerder te wees.
Net toe ek uitsien na jou laaste matriekvraestel, verneem ek Janice is swanger met jou tweeling.
Moenie my verkeerd verstaan nie; ek sien nie die tweeling as ‘n struikelblok nie maar ek wou dat jy eerder ‘n verhouding met hul ma moes hê. Dit is tog better dat ‘n pa en ma bymekaar moet wees.
Na dit het die grootste skok nog ons getref; die broer en suster ding. Weet jy dat ek moes sterwe om my gevoelens vir jou te onderdruk.
Janice word toe geskiet. Janice is toe verlam. Jy trou met haar. Ons vind toe uit dat Max, wie vir Janice se verlamming verantwoordelik is en die tweeling se lewe in gevaar gestel het, eintlik my pa is.
Wel, ons is toe nie broer en suster nie. Die feit dat Max my pa is was toe die nuwe problem. Ek het alle hoop verloor, selfs toe jy en Janice se huwelik nietig verklaar was.”
Buite staan, of liewer hang, Janice. Die storie wat Sahara vertel is fasinerend. Sy het dit nog nooit so gesien nie. Haar bene gee in en sy sak stadig af grond toe. Die opname is klaar. Gedurende hierdie hele storie het sy nie een keer Lawrence se stem gehoor nie.
Lawrence is verstom. Dit klink of dit iemand anders se storie is. Tog het Hy die emosies van Elke deel van die storie ondervind soos hy geluister het.
“Sahara ek …”
Sy staan vinnig nader en sit haar vinger op sy Lippe.
“Ek is nog nie klaar nie.”
Sahara stap om na ‘n brons houer wat agter Lawrence op ‘n kassie staan.
Janice pr0beer opstaan.
“Ek moet in my motor kom. My ouers kan dalk oppad wees teen die tyd. Hulle bly nooit laat uit sedert my verlamming nie.”
Sy kom uiteindelik regop. Haar bene bewe en sy strompel na haar motor. Sy struikel verby Lawrence se motor in die omheining vas. By die uitgang kon sy nie meer nie. Sy gaan sit.
“Ek moet my bene rus gee anders maak ek dit nie tot by my kar nie. Vervlaks!”
Sahara kom staan by Lawrence.
“Draai jou stoel na my toe asb.”
Lawrence is verbaas. Hy weet nog nie wat om te maak van die aand tot dusver nie.
“Wil Sahara doen wat ek dink sy wil? As dit is, hoe gaan ek dit hanteer?”
Hy draai egter sy stoel na haar toe.
“Lawrence, ek kan baie woorde gebruik maar ek gaan tot die punt kom.
Ek is lief vir jou van vir ewig af. Is jy lief vir my? Net ja of nee.”
“Natuurlik is ek Sahara maar ..”
“Hou jou maars vir later.”
Sy bring ‘n houer te voorskyn, maak dit oop en haal ‘n duur, elegante horlosie uit.
“Ek weet nou nie wat ‘n vrou vir ‘n man gee nie. Sal jy met my trou?”
“Maar Sahara …”
“Lawrence, dit kos moed om ‘n man te vra, so net ‘n ja of nee asseblief.”
“Ja Sahara my groot liefde, ek wil.”
Sy slaak ‘n hoorbare sug van verligting. Haar hande bewe van blydskap en opwinding terwyl sy die horlosie uithaal om aan sy pols te sit.
Uiteindelik is die horlosie in plek. Sy trek hom op en soen hom.
Na die soen staan sy uitasem terug en hou sy hande vas.
“Wat wou jy sê? Daar was ‘n ‘maar’.”
Buite sukkel Janice weer regop en kry dit reg om tot by haar motor te strompel. Sy klim in en na ‘n rukkie ry sy weg.
Twee strate verder draai sy weer links. Sy moet eintlik regs gaan maar sy wil eers brandstof ingooi.
Skielik voel sy ‘n steekpyn deur haar rug en bene skiet. Haar motor swenk na regs, mis ‘n aankomende voertuig rakelings maar kry haar motor onder beheer.
“En nou? Ek kan dan nie my bene voel nie.”
Janice raak paniekerig. Sy wil die voertuig stop maar sy kan nie haar voet van die petrolpedaal afhaal nie. Die voertuig is besig om te versnel.
Onwillekerig begin sy te skree, “help, help!”
Die motor snel voort. Sy verloor beheer. Die voertuig swenk skielik weer regs. Daar kom ‘n trok aan. Die se toeter begin hard te blaas.
Daar is ‘n oorverdowende slag.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking