#Stukkendeharte S2 Hfst 46 - Rooi Mier
Mavis lê die helfte van die nag wakker. Sy is opgewonde dog terselfdertyd ook senuweeagtig.
"Wie het nou ooit kon dink dat hierdie dag vir my sou aanbreek?
Sy staan op, sit die lig aan en gaan staan voor die mooiste trourok wat sy al ooit gesien het.
"Mavis, jy gaan 'n baie mooi bruid vir Steven wees. Hy sal sy oë nie van jou af kan haal nie."
Sy gaan staan teen die muur wat haar van Steven skei en streel met haar hand daarteen. Dit val haar toe by dat hy nie vanaand daar slaap nie. Hy slaap by Bennie se huis. Mavis gaan klim weer in die bed en raak met 'n glimlag op haar gesig aan die slaap.
Steven is ook senuweeagtig. Dit is nou nie sy eerste keer nie maar daar is vlinders in sy maag.
"Om te dink dat daar 'n tyd in sy lewe was dat hy Mavis glad nie kon verdra nie. Nou gaan sy my lewensmaat word."
Hy dink onwillekeurig aan Sarie sy oorlede vrou. Sy was 'n lieflike mens ten spyte van wat gebeur het.
"Ek was lief vir jou Sarie maar laat my toe om aan te beweeg. Jy ken vir Mavis. Die vriendelik en goedhartige Mavis wat ons later ontdek het. Jy het altyd gesê daar is iets in Mavis wat nie strook met die bemoeisieke persoon wat almal geken het nie.
Jy moet sag rus Sarie. Ek weet dat jy my jou sening sou gee as jy kon."
Hy hardloop in sy kop deur 'n onsigbare lys van alles wat afgehandel moes word vir die troue. Dit is die honderdste keer. Alles is daar.
Hy raak uiteindelik aan die slaap.
Klop, klop , klop.
"Mavis! Mavis! Kom nou. Jy moet opstaan!"
Jenny maak die deur oop en stap die kamer binne.
"Wil jy laat wees vir jou troue?"
"Uhhh, kan ek nie nog slaap nie?"
"Ons kan nie vir Steven by die kansel laat staan nie. Dan sal ek hom maar vir my moet vat."
Mavis gee 'n lang gaap.
"Waag jy dit net sussa."
Sy klim langsaam uit die bed.
"Kom, ek het vir jou ontbyt reggekry. Jy moet eet want dit gaan 'n lang dag wees."
Nadat hulle klaar geëet het staan Jenny op om haar bad gereed te kry.
"Die mense wat jou hare en grimering doen gaan oor 'n uur hier wees."
Sahara is besig om om 'n geskenk te soek vir die egpaar. Sy weet nie eintlik wat om te koop nie.
Sy sien vir Lawrence verby stap en draai haar rug na hom toe. Te laat. Hy sien haar.
Hy stap die winkel binne.
"Sahara, hoe gaan dit? Jy is skaars."
"Goed. Ek verneem dat dit nie so goed met jou gaan nie."
"O, jy bedoel met my en Janice. Ons is nie meer saam nie."
"Sommer net so?"
"Ons het besef dat ons oorhaastig opgetree het en 'n fout gemaak het."
"Wat nou van die tweeling?"
"Ons sal nie die eerste paartjie wees wat kinders as enkelinge grootmaak nie.
Ek is eintlik verlig want my hart behoort aan iemand anders."
"Regtig! Jammer ek kan nie nou gesels nie want ek soek nog 'n geskenk vir Uncle Steven en Antie Mavis."
Sahara stap vinnig weg asof sy bang is hy sê meer as wat hy moet.
"Dan sien ek jou by die onthaal."
Die troue sal om 14:00 by die kerk waargeneem word deur Pastoor Vass. Hy is alreeds teen 13:00 by die kerk om te kyk of alles gereed is.
"Nou wag ons net op die paartjie."
Die gaste begin reeds teen 13:30 op te daag. Die eerste gaste is Bennie en Iris met Lawrence kort op hul hakke in sy eie motor. Hy sou oorspronklik net na die onthaal toe gaan maar het besef dat Sahara ook by die seremonie gaan wees. Dit is immers haar Antie.
Ander gaste begin op te daag. Dan stap Sahara binne.
"Beeldskoon soos altyd."
Sy gaan sit in die ry voor Lawrence. Hy kry die sagte reuk van haar perfuum en dit betower hom.
"Middag Sahara."
Sy voel 'n tinteling deur haar lyf trek toe sy hoor hoe hy haar naam uitspreek. Dit is amper soos in die dae voordat hulle verneem het hulle is 'broer en suster'.
"Jy groet darem baie vandag."
"Mag ek maar langs jou kom sit?"
"Dit is mos 'n vrye land en die sitplekke is nie bespreek nie."
Lawrence gaan sit langs haar.
Teen 13:45 trek daar 'n deftige voertuig op.
Steven en Martin klim daar uit. Hulle stap die kerk binne en gaan sit op die plekke deur die diaken aangewys.
Dan, teen 13:50 trek daar twee voertuie op maar die insittendes klim nie uit nie. Hulle parkeer in teen deel 'n entjie weg van die kerk af sodat niemand kan sien wie hulle is nie.
Dan trek daar nog 'n deftige motor op. 'n Ouerige man stap na die motor toe. 'n Jongman klim uit die motor. Hy is deftig gekleed. Hy maak die deur agter hom oop.
Jenny klim uit en begin stap na die ingang van die kerk. Martin sien haar, staan op en gaan ontmoet haar. Hy begelei haar na haar aangewese sitplek.
"Jy lyk pragtig Jenny."
"Dankie Martin. Jy lyk self goed."
Buite by die motor maak die jongman die deur oop vir Mavis. Sy lyk soos die droom bruid.
Die ouerige man staan nader.
"Goeie middag Mavis!"
"Oom Dawid? Dit is tog nie jy nie. Wat maak u hier? Hoe het u geweet om my hier te kry?"
"Jou toekomstige man het dit gedoen. Hy het gesê jy wonder gedurig oor hoe dit met my gaan. Wel, hier is ek nou in lewende lywe, gereed om jou die kerk binne te lei en aan hom af te gee."
"Ai Oom. Jy sal my laat huil. Dit is voorwaar 'n voorreg."
Oom Dawid het nie familie in Vanwyksvlei nie. Hy het op 'n stadium by die dood omgedraai. Mavis het hom versorg. Sy het hom gewas, gevoed en ure by hom vertoef totdat hy uit die bed opgestaan het.
Hy haak haar in en hulle stap na die kerk se deur.
Die troumars begin te speel. Almal staan op. Van die dames onder die gaste trek hul asems goedkeurend op toe Mavis en Oom Dawid binnestap.
Angela fluister in Iris se oor.
"Sy lyk pragtig."
Steven stap tot in die middel en ontmoet hulle daar.
"Jy lyk poenankies!"
"Poenankies? Jy slaap vanaand alleen," fluister Mavis vir hom met 'n glimlag.
"Okay, jy lyk asemrowend mooi."
Oom Dawid glimlag.
"Toe nou julle. Trou eers."
"Baie dankie Oom Dawid. Ek sal nou hiervandaan oorneem."
"Dankie Oom."
Mavis gee hom 'n piksoen op die wang.
Die pastoor open met 'n gebed. Daarna lees hy 'n skrif. Hy lees Pediker 4 verse 9 en 10
"Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.
Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te tel."
Hy lewer 'n kort bemoediging. Mavis het daarvoor gevra. Toe hy klaar is gaan hy oor tot die seremonie.
"Geliefdes, ons is vanmiddag hier bymekaar as getuies van die huweliksverbond wat Steven September en Mavis Vass met mekaar gaan sluit. Ek en die suster sal moet gesels. Dit blyk dat ons dalk familie kan wees, maar kom ons gaan aan."
Buite die kerk is daar 'n beroering. Die twee voertuie wat 'n entjie weg geparkeer het se deure gaan oop en die insittendes klim uit.
"Broer Steven, wil jy iets sê?"
"Ja pastoor."
Steven draai na Mavis toe en neem haar hande in syne.
"Mavis, my liefling. Daar was 'n tyd in my lewe toe ek stukkend was. Ek het nie geweet wat van my gaan word nie.
Toe beskik God 'n dag waarop ek die ware Mavis ontmoet het. Dié Mavis het my hartsnare geroer en 'n permanente plekkie in my hart kom inneem. "
Steven plaas sy een hand op sy hart.
"Net hier, hier het jy kom intrek en my lewe omgekeer. Ek moes hierdie huis skoon maak van verdriet en eensaamheid want die liefde het dit verdryf. Vandag wil ek jou net myne maak met jou toestemming."
"Pragtige woorde. Suster Mavis, wil jy iets sê?"
Mavis staan en kyk Steven eers 'n tydjie in die oë.
"Steven, God het toegelaat dat jy my hele wese ken. My diepste pyn, my grootste vrese. Hy het toegelaat dat ons eers 'n pad saam stap sodat jy presies weet waartoe jy jou inlaat.
Jy sien nogtans kans om my as jou vrou te neem. Dit dwing 'n diepe respek in my af omdat jy die man is wat jy is. Die Bybel sê die liefde vergaan nimmermeer. My liefde vir jou het daai ewigheidswaarde. Dit kan nie vergaan nie want dit is gebou op die Rots. Steven, ek wil jou anderhelfte wees."
"Steven September neem jy Mavis Vass as jou wettige vrou om lief te hê en te versorg onder alle omstandighede. Dit is as julle ryk is, as julle arm is, as daar voorspoed is of teenspoed, as Mavis siek is of gesond bly. Belowe jy om haar lief te hê totdat die dood julle skei."
"Ja pastoor."
Die pastoor glimlag.
"Moenie vir my kyk nie, ek is gelukkig getroud. Kyk in Mavis se oë."
Die gaste giggel. Steven glimlag ook.
Hy draai na Mavis.
"Ek belowe Mavis."
"Mavis Vass, neem jy Steven September as jou wettige man om .."
Mavis draai na Steven en onderbreek die pastoor.
"Ja Steven!"
"Jy sal moet geduldig wees toekomstige mevrou. Ek moet die vraag klaarmaak."
Die pastoor lag terwyl hy dit sê.
"Iemand is darem haastig."
Dit ringe word uitgeruil nadat die pastoor dit geseën het. Hy vra hulle om te kniel op die kussings as dit moontlik is en bid vir hulle.
Steven staan op en help Mavis op.
"Draai na die gemeente. Hiermee verklaar ek julle wettiglik as man en vrou met die gesag wat aan my toevertrou is. Soen haar Steven."
Steven trek Mavis nader en gee haar 'n lang, liefdevolle soen.
Iemand maak keel skoon en die res begin te lag.
Die register word geteken en die pastoor oorhandig hul huwelikssertifikaat. Steven gee dit vir Martin om solank te bewaar.
Na 'n paar foto's stap hulle uit. Nog 'n verrassing wag vir Mavis. Van haar en Steven se vriende van Vanwyksvlei staan as 'n erewag toe hulle uitstap. Hulle gooi konfetti.
Daar staan 'n koets met twee wit perde en hulle is versier in rooi en goud.
Mavis trek haar asem in. Sy het graag as klein dogtertjie gedroom sy is 'n prinses in 'n koets wat ry om haar ruiter op sy wit perd tegemoet te ry. Nou ry hy saam met haar. Sy lê met haar kop op Steven se skouer en sluit haar oë vir 'n oomblik.
"Ek dank U Vader omdat ek nooit weer alleen hoef te wees in die donker nie."
Sy sien in haar geestesoog hoe die skaduwees vlug.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking