#Stukkendeharte S2 Hfst 53 - Rooi Mier
"Waar het jy haar gesien?"
"Net hier in dié parkeerarea. Ek het haar eers nie herken nie want haar hare is rooi en sy het 'n donkerbril opgehad.
Nadat ek uit my motor geklim het, het sy verby gery. Diê keer was haar bril af. Nog het ek haar nie onmiddelik herken nie totdat ek by die gebou wou instap.
Ek het skielik besef wie die verpleegster is maar dit was te laat. Sy het alreeds weggery. Omdat ek haar in die eerste plek nie verwag het nie, het ek nooit regtig gekyk na haar motor nie."
"Jy kan sweer dit was sy?"
"My ma gaan nie daarvan hou dat ek sweer nie maar dit was sy. Dit was Yvonne."
"Jy sê verpleegstersuniform. Dan moet ons begin soek by die hospitale en privaatpraktykke. Sy moet iewers werk as sy uniform dra. Laat dit aan my oor. Jy werk mos nou so ek sal onmiddelik na my afspraak begin. Hopelik kry ek haar gou.
Ek moet nou gaan anders is ek laat vir my afspraak. As ek jou nie so goed leer ken het nie sou ek jou nooit geglo het nie. Sien jou. Kom, klim nou uit man. Ek moet gaan."
Andy sit in sy hotelkamer en gaan deur die dokumente wat Max onderteken het.
"Ek kan sweer dat die dokumente wat Max onderteken het meer was. Iets is nie pluis nie."
Hy besluit om die dokumente een vir een deur te gaan. Dan sien hy dit. Daar is 'n blad van die een dokument wat nie 'n bladsy 1 het nie.
"Is dit per ongeluk? Hoekom voel ek nie te gerus hieroor nie."
Andy pak alles vinnig in sy aktetas en ry na die prokureur se kantoor. Anton Beyers is net besig om sy kantoor te sluit toe hy daar aankom.
"Sluit asseblief weer oop. Ek wil net vinnig uitvind of jy 'n ander rekening het. Ek het besluit om jou 'n bonus te gee maar wil nie dieselfde rekening gebruik nie."
Anton huiwer. Die gedagte van 'n bonus laat hom egter oopsluit. Nadat hulle ingegaan het druk Andy die deur toe en gaan staan teen die deur. Hy haal 'n vuurwapen uit.
Met 'n kalm stem sê hy, "So, jy wil my verkul nê? Ek wil nou al die dokumente sien wat jy deur Max laat onderteken het."
"Wi, wi, wat bedoel jy nou? Ek het mos al die dokumente vir jou gi, gegee."
"Hoekom hakkel jy dan nou skielik? Jy het mos nie 'n spraakprobleem nie. Kom nou! Ek het nie nou tyd vir speletjies nie. As jy nie wil praat nie kan ons 'n ander plan maak. Hy haal iets uit sy sak.
Weet jy wat dié is?"
"Nee maar ek speel nie."
"Dit noem ons 'n knaldemper. As 'n mens hom voor aan die wapen monteer is die knalgeluid sag en niemand kan eintlik hoor dat daar geskiet word nie. Praat! Jy het nog 'n kans."
Andy begin die knaldemper monteer.
"Daar is genoeg vir Sahara om 'n luukse lewe te hê totdat sy oud is. Die bietjie wat ek vat sal haar beslis nie raak nie aangesien sy nie enigiets van Max verwag nie."
"So, nou erken jy eintlik dat jy gesteel het. Gee my jou skootrekenaar en jou aktetas. Jy gaan nêrens totdat ek weet wat jy alles wou steel nie."
"Mi, mi, my vrou wag vir my. Ô, ons vlug vertrek oor twee en 'n halfuur. Ons moet vroeg daar wees vir internationale vlugte."
Anton het nie verwag om so gou uit gevang te word nie en hy bewe. Hy is mos nie bekend met vuurwapens nie. Sy tipe misdaad word met rekenaars en pen en papier gepleeg. Hulle noem dit blouboordjiemisdaad, nogal 'n mondvol in Afrikaans.
"Kanselleer julle vlug. Ek weet julle vertrek hiervandaan Oliver Tambo toe op 'n plaaslikke vlug. Daar is geen internationale vlugte van Pierre Van Ryneveld lughawe af nie."
"Upington lughawe. Die ander naam word al vir jare nie meer gebruik nie.
Weet jy dat dit een van die langste aanloopbane in die wêreld het? Aanloopbaan 17/35. Dit kan die Boeing 747 met gemak hanteer."
Andy grinnik.
"Ons is hier besig met ernstige sake en die man gee my aardrykskunde lesse. Sit en haal al die dokumente uit wat jy vervals het. Maak sommer jou rekenaar ook daar oop. Moenie dat ek uitvind jy het iets weggesteek nie, anders vlug jy sonder 'n sent."
Anton gaan sit gedwee en wys alles. Hy is so senuweeagtig dat hy bang is hy vergeet iets.
Andy neem al die dokumente en die rekenaar.
"Kom klim in my motor. Bel jou vrou en sê dat iets voorgeval het. Julle gaan môreoggend per voertuig Johannesburg toe. Julle sal betyds wees vir julle vlug môreaand.
Moenie enigiets probeer nie. Ons gaan gou vir Max besoek."
Andy kyk na Anton en weet dat hy niks gaan probeer nie. Hy is te veel van 'n papbroek.
"As jy probeer wegkom slaap jy en jou vrou môreaand in die tjoekie en ek is weg."
Hy haal die knaldemper af, plaas dit in sy aktetas en die vuurwapen in sy baadjie se binnesak. Hulle vetyrek na die plek waar Max aangehou word.
Max lê nog steeds vasgemaak op sy bed. Hy probeer sy arms en bene beweeg om lewe in dit te kry.
"Vandag is d-dag. Dit is letterlik lewe of dood. Ek kan vandag sterf, of terug tronk toe gaan of wegkom en weer opvlug wees."
Vanoggend het Yvonne hom kom skoonmaak. Hy wou weet wat nou met hom gaan gebeur noudat hy sy rykdom oorgegee het aan sy dogter.
Sy het gesê hy moet maar wag totdat Andy later kom met finale opdragte.
"Ek wens net ek kon vandag my dogter sien. Wat ook al vandag gaan gebeur, versoening met haar sou enigiets draagbaar kon maak"
Die deur gaan oop. Die dokter stap in. Hy is alleen.
"Middag dok. Ek hoop dit gaan goed met jou. Jy dokter my en ek kan jou bankrekening gesond maak. Ek het net die regte medikasie vir dit. Dit sal kan doen met 'n paar ekstra nulle."
"Het jy dan nie gister al jou geld oorgeteken nie?"
"Jy dink so? Ek is Max Adriaanse. Niemand kry my onder nie. Kan jy jou indink, Max Adriaanse, arm! Ek was gebore om 'n koning te wees.
Onthou jy die storie van Josef in die Bybel? Ek hoop nie jy is ook een van daai wat nie glo in 'n God nie!
In elk geval, niks kon Josef onderkry nie. Hy het ook in die tronk beland maar het uiteindelik weer bo uitgekom. Ek sal ook weer op my troon wees.
So, jy moet nou besluit. Besluit jy reg gaan jy in luukse op 'n eiland iewers in die Stille Oseaan 'n praktyk bedryf. As jy nee sê maak ons jou graf langs Andy Ryneveld sn in die warm moederaarde van Upington. Jy sal elke dag 'n voorsmaak van die hel beleef."
'n Sleutel draai in die voordeur. Dan hoor hulle twee mense gesels in die voorste vertrek.
Andy en Anton stap deur die deur.
"Ah Maxie. Ek sien jy is wakker. Ek hoop jy ken daai een gedig wat ek as standerd 2 kind so baie van gehou het. Daar is mos 'n reël in wat sê dat die muskiet maar verlaas moet sing."
"Ja, ek ken dit, maar sover ek onthou slaan die ou mis en die muskiet kom weg."
"Ai Maxie. Die ewige optimis."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking