Vrydag 01 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 39 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 39 - Rooi Mier

Vandag moet die hof besluit of Mavis verantwoordelik gehou moet word vir die ontvoering van Lanice. Natuurlik gaan Lawrence en Janice van Wyk ook daar wees. Behalwe die verslag van die sielkundige wil die magistraat ook weet of hulle enige grondige rede het hoekom hulle dink Mavis verhoor moet word.
Dit maak dat veral Steven nogals redelik senuweeagtig is. Wat nou as sy liefde vervolg gaan word as gevolg van nou die aand se gebeure? Hy hoop maar net niemand gaan iets daaroor sê nie.
Mavis is egter kalm soos atyd. Sy glo dat niks met haar gaan gebeur wat God nie wil hê moet gebeur nie.

Die hof verrigtinge verloop redelik vinnig. Voordat die magistraat die inhoud van die verslag bekend maak wou hy eers weet of die ouers enigiets wil sê. 
Albei Lanecia se ouers sê omdat Mavis nie regtig 'n gevaar vir haar was nie en haar eintlik wou beskerm hulle die magistraat se bevinding gaan aanvaar.
Die verslag stel dit duidelik dat sy nie op daardie oomblik toerekenbaar vir haar dade was nie en dat sy eintlik gedryf was deur haar drang om klein dogtertjies te beskerm omdat sy haarself in hulle sien.
Die verslag beveel ook aan dat sy  terapiesessies moet hê vir ten minste ses maande of langer indien die sielkundige dit nodig ag. 
Die magistraat beveel aan dat sy voorlopig nie verhoor gaan word vir 'n tydperk van twaalf maande nie en dat indien daar geen verdere voorvalle in dié tydperk is nie, die hof haar moet kwytskeld.

Steven en Mavis is oorstelp van blydskap. Sy wou net by die huis kom sodat sy die Hemelse Vader kon bedank.
Na hul gebed, praat Mavis troue. 
"Steven, kan ons nie ons troudatum vervroeg nie asseblief. Jenny gaan een van die dae terug Bloemfontein toe. Ek wil haar graag hier hê met my troue."
"As jy nou praat van vervroeg dan praat ons nou van wanneer?"
"Die Vrydag. Dit is maar net 'n week vroeër as wat dit oorspronklik sou wees. Al wat verander moet word is die datum vir die pastoor en die spyseniering."
"Dan beter ons sommer nou die betrokkenes laat weet. Ek sal moet kyk vir 'n strooijonker."
"Amper vergeet ek daarvan Steven. Ek sal sommer vir Jenny of Sahara vra om my strooimeisie te wees."

Die 'sakeman' probeer die polisiemanne wat vir Max oppas se agtergronde naspeur. 
"Dit is maar altyd die beste as 'n mens weet met wie jy te doen kry as jy iemand wil omkoop. Jy kyk na sy onmiddelikke familie, met ander woorde, is hulle gesond, waarvan hou hulle, wat hul toekomtige planne is. Hy kyk na die familie se finansiële omstandighede en hul roetines.
Volgens Max se mediese verslag gaan hy nog 'n tydjie in die hospitaal bly. So ek hoef nie haastig te wees nie.
O ja! Ek sal die verpleegpersoneel ook moet navors. Daar is dalk net 'n verpleegster wat my kan help."
Nadat hy 'n paar e-posse gestuur het, verlaat hy die hotel. Hy gaan vanmiddag 'n bietjie uit na 'n plaas naby Warmsand waar hy teiken skiet gaan doen.
Soos sy gewoonte geword het loop hy eers reg rondom sy Mercedes en kyk of daar dalk aan enigiets gepeuter was.

Sahara dink die afgelope tyd baie aan Max, haar biologiese pa. Sy sukkel eintlik nog om dit te verwerp; net soos om te aanvaar dat Antie Jenny eintlik haar ma is.
"Wat maak 'n mens in my situasie? My pa is nog nie buite gevaar nie. Besoek ek hom? As ek hom besoek, sal hy dink ek aanvaar hom? As ek hom nie besoek nie, is ek 'n monster?"
Sahara het die meeste van die nag hiermee geworstel. Dit is nou al laat oggend en sy weet nog nie wat om te doen nie.
Sy skakel haar radio aan en daar is 'n bespreking oor Max Adriaanse oftewel, die berugte Meneer M. Daar is 'n sielkundige op die paneel en sy probeer ontleed wat in so 'n persoon, met soveel slagoffers, se kop aangaan.
Net daar besluit sy om hom te besoek. Sy skakel Shane om te verneem wat die prosedure is.

Shane is uit die veld geslaan toe hy Sahara se versoek hoor.
"Is jy seker jy is reg om hom te besoek?"
"Ek sal seker nooit reg wees nie Meneer Cupido maar ek moet hom besoek."
"Wat wil jy uit die besoek kry? Jy gaan dit dalk nie kry nie. Die besoek kan jou dalk net meer hartseer bring."
"Ten minste sou ek met hom gepraat het. Wat as hy sterf? Dan loop ek met onbeantwoorde vrae."
"Wel, as sy dogter kan ek jou nie keer nie maar ons moet net seker maak hy is in staat om te gesels. Ek gaan vasstel wat sy toestand is en jou laat weet."

Sahara het skaars afgelui toe Shane se foon weer lui. Martin se naam is op die skerm.
"Goeie môre Martin. Hoe kan ek help? Ek wil juis vir jou kom besoek."
"Ek wil graag vir Max besoek."
"Het ek reg gehoor?"
"Ja, jy hoor reg. Ek wil my broer besoek."
"Jy ook! Wat het julle vanoggend gedrink?"
"Van wie praat jy Speurder? Wie nog wil hom besoek?"
"Sahara het nou net afgelui."
"Asseblief Speurder, jy kan nie my klein niggie aan daai monster bloot stel nie. Keer haar."
"Ongelukkig is dit haar volste reg om hom te wil besoek. Daaraan kan ek niks doen behalwe verseker dat sy fisies veilig is."
"Dan kan ons mos saam gaan."
"Nee ongelukkig nie. Hy is 'n hoë risiko gevangene en mag net een besoeker op 'n slag ontvang. Dan glo en ook nie dat die dokter nog iemand gaan toelaat om hom vandag te sien nie gegewe sy kondisie. Ek sal moet reël vir môre. Jy kan hom dalk eers môre besoek."

Op die plaas kyk die 'sakeman' vergenoegd na die plakkate van Max wat bo-oor die teikens gegom is. Al die skote wat hy geskiet het is kop of hartskote.
"Maxie, jammer my vriend maar jy is dooier as dood."

Sahara het 'n oproep ontvang van Shane af om die tyd wat sy kan besoek te bevestig. Dit sal so 'n halfuur voor sy volgende medikasie wees. 
Haar foon lui weer. Haar baas, wat ook nou haar oom is. Sy antwoord soos iemand wat nie weet wie dit is wat bel nie. Nadat sy uitgevind het wie haar pa is het sy probeer om hom te vermy.
"Sahara Muller goeie middag?"
"Goeie middag Sahara. Dit is jou oom Martin."
"Ja Meneer. Hoe kan ek help?"
"Jy kan help deur eerstens vir my Oom Martin te noem. Daar is nie nou meer 'n rede om my meneer te noem nie."
"U is nog steeds my werkgewer."
"En jou oom. In elk geval, moenie vir Max besoek nie. Jy stel jouself bloot aan sy boosheid behalwe die fisiese gevaar."
"Ongelukkig het ek klaar bezluit meneer. Niemand gaan my stop nie."
"Laat my dan toe om saam met jou te gaan."
"Dit sal nie nodig wees nie meneer. Daar is polisie."
"Dan sal ek maar daar naby wees."

Rencia lê nog in die bed met 'n boek genaamd '#Stukkendeharte' geskryf deur Rooi Mier. Haar gedagtes is egter nie by wat sy lees nie. Sy is te opgewonde oor die komende nagdiens wat sy gaan verrig.

Janice doen 'n bietjie navraag op die internet. Sy ontdek dat skei nie die enigste manier is om uit 'n huwelik te kom nie. Iets het jaar oog gevang. 'n Huwelik kan ook nietig verklaar word as die paartjie nie hul huwelik voltrek het nie; dit beteken hul eerste seksuele verkeer na die troue. 
"Ah. Dit is nou interresant. Ek sal net eers 'n prokureur moet nader om uit te vind wat gebeur as die paartjie voorheen seksueel verkeer het."

Shane stel Sahara voor aan die polisiewag by Max se kamerdeur.
Hulle kyk haar verwonderd op en af. Dit is asof Sahara hul gedagtes kan lees.
"Is sy ook in staat tot die gruweldade van haar pa?"
Shane begelei haar die kamer in.
"Max!"
Hy draai stadig sy kop in die rigting van die stem.
"My dogter. My Sahara, jy het gekom."
#RooiMier 
©Rooi Mier 17.01.2023

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...