Vrydag 22 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 57 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 57 - Rooi Mier


Ek sal jou nog kry Meneer M! Dit is al jare dat ek op jou spoor is maar die wraak gaan soet wees. Stroopsoet!”

Shane het gesien hoe Rencia die gebou binnegaan.

“Sy gaan seker na my kantoor toe. Ek kan haar egter nie volg nie want ek moet my oë op Paul en Larry hou. Dit lyk juis of hulle onrustig raak. Die wagtery raak seker nou te lank. Ek sal maar nog so ‘n paar minute wag, as niks gebeur nie gaan ek hulle sommer tromp op loop konfronteer.”

Na so ‘n minuut of twee sien hy die ambulans wat agter gestaan het verby hom ry. 

“Die persoon is seker oraait want die ambulans jaag nie.”

‘n Verpleegster kom voor by die gebou uitgehardloop en klim in haar privaatmotor. Sy trek vinnig uit en ry verby hom.

“Yvonne? Ek kan sweer dit is Yvonne.”

Paul en Larry staan en kyk na iets in die vertoonvenster van ‘n winkel. Hulle hoor ‘n motordeur toe klap. 

Larry draai om en kyk na waar die persoon is maar sien niemand.

Iemand se motorenjin word aangeskakel, dan sien hy Yvonne sê motor se truligte gaan aan. Die motor stoot vinnig terug.

“Paul, sy kom weg.”

“Wie kom weg? Wat sê jy?”

“Yvonne!”

Larry begin hardloop na sy motor.

“Kom jy? Yvonne gaan wegkom!”

Paul sien hoe Yvonne wegtrek en hy hardloop agter Larry aan.

Rencia hardloop na die voorkant van die gebou net om te sien hoe Yvonne vinnig by die parkeerarea uitry.

“Ek hoop ek gaan betyds wees om haar te kan volg.”

Oppad na haar motor toe sien sy Paul en Larry in ‘n voertuig spring.

Sy bereik haar motor toe hulle uittrek. Dit voel of dit ‘n ewigheid vat om die voertuig aan te skakel. Uiteindelik kan sy uittrek. Sy ry amper in ‘n ander voertuig vas wat ook besig is om uit te ry en trap hard op haar remme.

Dit voel of die ander voertuig eeue vat om verby te beweeg.

Shane verwens die feit dat sy voertuig aan die ander kant van die gebou staan. Hy hardloop so vinnig moontlik om daar uit te kom. 

“Gaan ek nou betyds wees om Yvonne te volg? Dit blyk of sy betrokke is met die verdwyning van Max. As ek haar kry kan ek hom kry.”

In sy motor haal hy sy blou lig uit en sit dit op die dak. Hy skakel dit egter nog nie aan nie want dit sal aandag trek.

Hy trek vinnig weg. 

“Daar ry Yvonne! Hopelik sien sy nie dat iemand haar volg nie. Ry vinniger Larry!”

‘n Verkeerslig voorkant verander na oranje. Yvonne versnel om oor te jaag. Die lig verander na rooi maar sy ry aan. ‘n Verkeerskamera flits.

Larry trap hard remme. Hy gaan nie betyds wees voor die voertuig aan die linker- en regterkant van die verkeerslig begin beweeg nie.

Paul slaan hard met sy vuiste op die paneelbord en los ‘n kragwoord.

“Jy moes nie stop nie man.”

“En ‘n ongeluk veroorsaak het? Dalk kan ons haar nog kry.”

Larry trek sy skouers gelate op.

Agter hulle kom ‘n voertuig met skreeuende remme tot stilstand.

“Ag nee! Vervlaks! Ek moes al lankal my bloulig gaan afhaal het by die polisiestasie. Dit kom nou van uitstel.”

Rencia het so amper in Larry vasgery. Dit sou nou ‘n gemors afgegee het. Sy is naby genoeg om sy verskrikte oë in die truspieël te sien. 

“Gelukkig ken hulle my nie.”

Yvonne se voertuig snel voort.

‘n Entjie voor haar is ‘n ambulans.

“Ag nee man. Nou is ek verplig om my bloulig aan te skakel”

Die bloulig begin flits en die voertuig voor hom begin so ver moontlik links te skuif sodat Shane kan verby kom. Hy kan darem verby alhoewel teen ‘n slakkepas. Gelukkig raak die verkeerslig groen. Hy sien Rencia se voertuig voor. Met die verbygaan wys hy sy moet agter hom probeer inval. Hy ry stadiger sodat sy tyd het om haar neus agter hom in te druk. 

Die persoon wat persoon wat agter hom wou volg druk hard op sy toeter toe sy voor hom indruk.

“Dit is mos Shane wat hier verby ons ry. Is hy agter Yvonne aan?”

Paul beduie na Shane se voertuig wat verbykom. 

Larry kan egter nie onmiddelik volg nie want die voertuig wat amper in hom vasgery het is knap agter Shane. Gelukkig kan hy ook begin beweeg omdat dit groen is.

By die verkeerslig oorkant Gordonia Hospitaal draai die ambulans links in die rigting van die lughawe. Yvonne se voertuig volg. 

“Nou is ek seker sy volg daai ambulans. Max is moet in daai ambulans wees.”

Shane skakel die bloulig af om nie verder aandag te trek nie. Hy verminder sy spoed omdat die verkeer hierlangs nie so druk is nie. 

“Yvonne moenie agterkom ek volg haar nie.

Andy is besig om die kantore wat hy gehuur het op te ruim. Hy pak alles op, wat nie veel is nie, wat aan hom persoonlik behoort.

Iemand gaan later die hospitaalbed en ander medies toebehore wat hy aangeskaf het kom verwyder.

Hy sit donkerbrille op en ‘n pet op sy kop, neem ‘n tas en sy aktetas en plaas dit voor die deur om te sluit. 

Nog hy nog Shane weet dat daar maar een kantoor tussen hulle was.

“Nou gaan ek in my motor wag vir ‘n liggingspen.”

“Nee, so kan dit nie aangaan nie. Ek wil nou weet waar ek staan want my lewe moet aangaan. Die afgelope tyd het Max, Jenny, Janice en selfs Lawrence my lewe oorheers.

Dit is tyd dat ek beheer neem.”

Sahara skakel Lawrence se nommer.

“Kan jy vanaand by my kom eet?”

#RooiMier

©Rooi Mier 17.01.2023

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...