#Stukkendeharte S2 Hfst 63 - Rooi Mier
Die intensiewe sorg is besig vanoggend. Dit lyk na chaos vir die buitestander maar elkeen weet presies wat hulle moet doen.
Beeeeeeeep! Iemand se hart het gaan staan. Na omtrent drie minute staan die dokter terug.
“Ontkoppel maar alles verpleegster; ons het die pasiënt verloor. Nou lê die moeilike taak voor. Ek moet die naasbestaandes inlig.”
“Ek is nou terug julle, eet solank. My foon is in die motor. Julle Oupa en Ouma wil seker al met julle praat.”
Lawrence kry sy foon in die motor. Daar is heelwat oproepe wat hy gemis het. Die battery is egter amper dood.
Hy probeer Sahara bel met die oorblywende krag maar sy antwoord nie. Die skerm gaan dood; sy battery is klaar.
Hy neem die foon na binne.
“Ek het ‘n selfoonlaaier binne gesien. Die kinders wil al seker met hul grootouers praat.”
Nadat hy sy selfoon gekoppel het, gaan sit hy by die kinders en eet.
“Sodra ons klaar geëet het, gaan ons met Oupa en Ouma praat.”
Sahara sien dat haar sel lui maar kan dit nie antwoord nie want sy ry in die verkeer.
“Ai! Het ek alweer vergeet om die ding met ‘blue tooth’ te koppel.”
By die verkeerslig wil sy die selfoon optel maar die verkeerspolisieman in die ander baan glimlag vir haar.
Sy glimlag terug maar besluit om maar liewer nie die noodlot te tart nie.
“Ek hoop Lawrence is by die hospitaal. Dan kan hy saam met my na my pa toe gaan en sommer ook hoor hoe gaan dit met Janice.”
Sy kyk na haar glinsterende verloofring.
“Ek sal nou by jou wees my liefling.”
Dit is ‘n paar dae later. Sahara staan met ‘n swaar gemoed op. “Begrafnisse is nou regtig nie my ding nie. Ek het egter nie ‘n keuse nie.”
Sy sit haar klere reg en gaan stort. Terug in haar kamer staan sy voor die spieël en hou die rok voor haar op.
“Swart! Dit is so ‘n morbiede kleur. Dra ‘n mens nog swart?”
Sy trek dit aan kyk na haar spieëlbeeld. Die verloofring glinster aan haar vinger. Dit is waaraan sy vashou, die belofte van ‘n liefdesviering.
Terwyl sy parkeer by die kerk soek sy na Lawrence se motor. Dit is staan nie te ver van die ingang nie.
By die ingang steek sy vas. Janice staar glimlaggend na haar van daar voor af. Dit is ‘n baie mooi foto van haar op ‘n baie mooi kis.
Sahara se oë is soekend. Sy sien vir Lawrence op die stoele in die eerste ry sit. Lorenzo en Lanice sit alkant van hom, met hul oorlede ma se ouers aan Lanice se kant en Lawrence se ouers aan Lorenzo se kant.
Iemand roep haar naam saggies. Dit is Larisa. Sahara gaan langs haar sit. Hulle het mekaar lanklaas gesien. Larisa werk nou in Windhoek, Namibia.
Paul en Larry sit in die ry agter Larisa. Tussen hulle sit ‘n jong vrou met donkerbrille wat vir haar onbekend is.
Shane kom ook die kerk binne. Hy gaan sit aan die anderkant maar sy oë is ondersoekend op die jong vrou gerig.
Paul sien hom en praat toe fluisterend met die vrou langs hom. Sy probeer ongemerk na Shane te kyk maar kan nie want sy sal moet draai.
Die diens begin. Almal staan om ‘n gesang te sing. Na die gesang sluit die meerderheid hul oë terwyl die pastoor die diens open met ‘n gebed; Shane ook. Dit is ‘n redelike lang gebed. Toe die pastoor uiteindelik ‘Amen’ sê, is Paul, Larry en die jonk vrou weg.
Shane stap onmiddelik uit maar daar is nie ‘n teken van hulle nie.
“My instink laat my in die steek. Miskien is dit tyd dat ek ‘n ander beroep probeer,” praat hy met homself.
“Dit was Yvonne, Paul se suster, daarom het hulle so skielik verdwyn.
Dit bevestig my vermoede dat sy betrokke was met die ontvoering van Max ‘n paar weke terug.
Ek stel nie regtig daarin belang om haar aan die pen te laat ry nie want ek weet dat sy weerwraak wou neem op haar terme.
Ek is eintlik op soek na die persoon wat agter die ontvoering sit.
Wie is hy? Waarom wou hy Max ontvoer of wou hy hom help ontsnap?”
Tot dusver kon hy nie vir Max ondervra nie want hy is steeds kritiek. Die dokter het gesê dat hy moontlik nooit antwoorde by hom sal kry nie want sy toestand bly onveranderd. Met sy laaste inhegtenisname het hy ‘n beroerte aanval gehad en daar is ook gevorderde maagkanker by hom gediagnoseer.
Hy bly egter onder streng bewaking in die hospitaal.
Janice se ouers is baie emosioneel. Hulle het hul dogter baie onverwags aan die dood afgestaan. Daar is ook nog vrae oor hoe sy in haar motor beland en self bestuur het.
Derek moes die dag van haar dood sterk wees en ook nog die aanhoudende vrae van sy vrou probeer ontduik want hy weet dat hy nie bevredigende antwoorde kon verskaf nie.
“Derek, het ons kind ons bedrieg? Kon sy nog die hele tyd loop? Waarom het sy dit vir ons weggesteek?”
Dit was vrae waarmee hy self geworstel het. Nou sal hul heel moontlik nooit die antwoorde kry nie. Selfs Lawrence kon ook nie vir hulle die vrae antwoord nie. Daar was die keer wat dat Lanice gesweer het sy het haar ma sien loop maar Janice het gesê dat sy net gedroom het.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking