#Stukkendeharte S2 Hfst 42 - Rooi Mier
"Wat gaan van my kinders word? Ek glo nog altyd dat kinders 'n pa en ma nodig het wat bymekaar is."
Lawrence sit diep in gedagte voor die tv. Behalwe vir die flitsende beelde weet hy nie wat hy kyk nie.
"Hoe kry Janice dit reg om sommer net ons huwelik nietig te wil verklaar? Ek het regtig geglo dat ons saam 'n lewe kan bou."
"Lawrence, wat pla? Ek het juis die kanale drie keer verander om te kyk of jy hier is. Jy is beslis op 'n ander planeet.
Hoe kan ek jou help met die probleem wat jy duidelik ondervind?"
Iris kom sit langs hom op die bank.
"Dis niks nie ma."
Hy staan op en stap kamer toe.
Iris voel nou bekommerd. Iets groots is aan die gang.
Bennie kom die leefarea ingestap.
"Waar is Lawrence? Ek moet met hom praat."
"Ek dink hy sukkel met iets groots. Hy is op 'n ander planeet my man."
"Dan beter hy vinnig in sy ruimtetuig klim en terug aarde toe kom. Het hy gedink om te trou is kinderspeletjies?"
"Hoe weet jy dit het met sy huwelik te make?"
"Ek weet net. Waar is hy?"
"Hy het na sy kamer toe gegaan?"
Bennie stap na Lawrence se kamer en klop. Na 'n tweede klop stoot Bennie die deur oop toe Lawrence nie antwoord nie.
Lawrence sit op die rand van die bed maar sy gedagtes is duidelik ver.
"Huweliksprobleme? Julle sal dit nie kan uitwerk as julle nie saam onder een dak bly nie. Laat Janice en die kinders hier kom bly totdat jy iets anders vind. Die gastekamer is groot genoeg vir julle. Janice sal ook maklik kan rondbeweeg met die rystoel. Die tweeling het mos hul plek hier.
Nie dat ek in julle besigheid wil inmeng nie maar julle was nog nie saam na die troue nie. Dit is nie gesond nie."
Lawrence sit en staar net.
"Lyk my hier is groot fout. Wat is dit seun?"
"Janice wil skei!"
"Skei?"
"Nie eintlik skei nie maar ons huwelik nietig laat verklaar."
"Hoe en waarom? 'n Mens verklaar mos nie net sommer 'n huwelik nietig nie. In elk geval, sover my kennis strek kan dit mos nie sommer net gebeur nie.
Julle is albei oud genoeg, julle was by julle volle sinne, of was daar iemand wat 'n geheim gehou het wat 'n groot impak op julle huwelik kan hê?"
"Dit kan gedoen word pa. Ons was nog nie saam nadat ons getroud is nie."
"Nie saam nie?"
"Pa weet. Nie saam nie; uh…. uh, nie, pa weet."
"Nee, ek weet nie wat jy bedoe… Oooh, jy bedoel julle was nog nie sáám nie. Ag man hoekom sukkel ons so. Ons is mos albei grootmense. Julle was nog nie intiem ná die troue nie.
Wil sy jou daaroor los? Dit kan mos maklik reggestel word. Sy moet net onmiddelik intrek of gaan op wittebrood."
Lawrence se ore raak warm. Dit is mos nie iets waaroor mens met jou ouers praat nie.
"Dit is nie die eintlike probleem nie pa. Sy dink ek is nog verlief op Sahara."
"Is jy? Wees eerlik met jouself."
"Nee pa, natuurlik nie."
Hy kyk op die vloer terwyl hy dit sê.
"Kyk my in die oë terwyl jy dit sê. Is jy verlief op Sahara?"
"Nee pa, nee. Ek lieg nou pa. Ja, ek is.
Dit kan mos nie wees nie, sy was dan my suster."
"Ai my kind. Sy is nog steeds my dogter in my hart. Jy was lief vir haar voordat jy verneem het sy is jou suster; wat ons nou weet nie waar is nie.
My probleem is egter dat ek nog nooit ten gunste van egskeidings was nie, veral nie voordat alles probeer was nie."
"En Mammie gaan my natuurlik vertel dat wat God bymekaar gevoeg het kan niemand skei nie."
"Wie gaan nou skei?"
Iris stap die kamer binne.
"Ek kon dit nie langer verdra nie, ek moes kom hoor wat aangaan.
Wie gaan skei?"
"Ek en Janice Mammie."
"Moenie sulke grappe maak nie kind. Dit is nie 'n speelsaak nie."
"Hulle gaan Iris. Janice wil …"
"Nee, nee, nee. Eers trou julle in die geheim, nou wil julle sommer net skei? Begrawe my maar."
Iris is ontsteld en gaan sit op die bed langs Lawrence.
"Julle gaan God se Woord verontagsaam."
"Ek weet wat Mammie wil sê. Die vraag is, het God ons werklik bymekaar gevoeg? Het ons nie getrou sonder om God te raadpleeg nie? Sou Hy sy seën op ons huwelik geplaas het Mammie?"
"Moenie jou slim hou nie mannetjie!"
"Ek doen nie Mammie, ek dink maar net hardop."
Iris sit 'n rukkie doodstil. Niemand praat nie.
"Wat is die rede?"
"Ek is nog lief vir Sahara mammie, ek was nog altyd."
Iris staan op en stap uit. By die deur draai sy om.
"Onthou net, mense gaan sê dit is omdat sy in 'n rolstoel is."
Sy stap verder.
"Ek maak vordering met die ouman. Binnekort gaan hy uit my hand uit eet."
Rencia stap uit die hospitaal op pad na haar motor.
"Ek wonder hoekom dié man altyd hier rond hang. Soms is hy binne die hospitaal, altyd in die omgewing van Max se kamer maar nooit naby genoeg om aandag te trek nie.
Wat is sy saak? Ek sal moet uitvind want ek is seker sy teenwoordigheid het met Max te doen."
Die man klim in sy Mercedes en ry weg. Hy het 'n tevrede uitdrukking op sy gesig.
Rencia staan en kyk hom agterna terwyl hy wegry voordat sy na haar motor stap.
Derek is glad in 'n goeie bui nie.
"Wie dink die kinders is hulle? Eers trou hulle sonder ons medewete dan wil hulle uit die bloute skei?
Hulle het mos geen respek vir my en Angela nie. As Bennie en Iris dink dis reg so is dit hulle saak. Ek duld nie dié sotheid nie.
Janice dink sy kan met enigiets wegkom net omdat sy verlam is?
Dink weer my kind. Ek gaan dit stop."
Jenny is in haar noppies.
"Wat 'n voorreg is dit nie om vir my suster as getuie te staan met haar troue. Nie te lank gelede nie het ek gedink dat ek haar nooit weer gaan sien nie."
Sy spring onmiddelik in haar motor om by Mavis uit te kom.
"Ons moet dadelik gaan inkopies doen. Ons het nie juis tyd nie. My suster gaan nie 'n vaal bruidjie by 'n hof wees nie. Daar moet eenvoudig net iewers 'n pastoor wees wat haar op kort kennisgewing gaan trou."
Steven weet nie wie om te vra om vir hom te staan as getuie nie.
"Al moet ek ook 'n wild vreemdeling kry, sal ek oormôre trou."
Hy onthou skielik vir Martin. Miskien kan ek hom nader. Hulle het nogal lekker gesels by die Van Wyk's woning.
"Meneer Adriaanse, goeie dag."
"Steven? Ek dog dan ons is nuwe vriende. Wat is dit met die meneer?"
"Jammer man. Ek is senuweeagtig en ek weet nie of mens vir jou nuwe vriend so iets kan vra nie."
"En dit is?"
"Jy weet ek is nuut in Upington. Daar was nog nie juis tyd om vriende te maak nie."
"Kom nou tot die punt man. Wil jy nou jou nuwe vriend ook verloor."
Martin vind dit amusant dat Steven so senuweeagtig kan wees.
"Ek soek na 'n strooijonker. Mavis en ek gaan oormôre trou."
"Hopelik is my dagboek oop. Laat ek kyk."
Steven is bekommerd. As Martin nie kan nie wie dan?
"Steven, ongelukkig sal jy maar tevrede moet wees met my. Ja, ek sal."
"Phewww! Jy moenie my hart laat staan voor ek trou nie."
Martin lag hardop.
"Nee man. Jy moet dan nog wittebrood hou. Gepraat daarvan. Wat is julle plan?"
"Ons het nie juis groot planne nie. Mavis wil graag Van Wyksvlei se mense sien dan kom ons terug."
"Ek kom jou later sien. Stuur vir my jou adres."
Derek spring uit die motor by die hof.
"Ek hoop ek is nog betyds. Daai kinders moet gestop word."
Hy begin net om die trappe te klim toe sien hy Lawrence stoot Janice se rolstoel aan die anderkant af. Hy draai om en gaan wag onder.
"Ek hoop julle het tot julle sinne gekom!"
"Ja, ons het pappa. Dit was 'n groot fout om te trou. Ons is beter vriende en het tot dusver goed na ons kinders gekyk. Pappa sal dit maar moet aanvaar, ons huwelik is nietig verklaar."
Die polisieoffisier wat buite Max se kamer sit hoor die aanhoudende, vervelige 'peep' geluid waar hy sit en koffie drink. Hy is net besig om die beker neer te sit toe die geluid skielik verander.
'Peeeeeeeeeeeeeeeeeep!'
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking