Donderdag 15 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 67 (Slot) - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 67  (Slot) - Rooi Mier


Max ry straataf met sy fiets. Hy hou skielik op fluit. Wat gaan hier in Upington aan? Het die mense hom verwag?
Vroeër vandag het hy iemand bekend, behalwe sy broer gesien en geskiet. Op daardie oomblik het hy nie besef wie dit was nie; hy moes net skiet. Nou besef hy dit was Paul Slingers, die meisie wat Candice laat ontvoer het, se broer. Hy maak altyd werk daarvan om sy slagoffers se families te ken. Nadat Candice hom die naam van die slagoffer deurgegee het, het hy sy navorsing gedoen.
Dan is daar ook iets anders wat hom pla. Gistermiddag het hy met sy aankoms by die vulstasie 'n figuur wat bekend lyk gesien. Na oordenking is hy seker dit moet die G karakter wees. Hy het mos vir Candice gewerk.  Is hy nou aan die kant van die vyand?
Skielik kom dit tot hom dat dit hy moet wees wat die polisie ingelig het oor hul roete met Yvonne uit George. Anders hoekom is hy nie iewers in die tronk nie. Dit moet net hy wees wat die verraaier was. Verraaiers moet sterf; en nie 'n maklike dood nie. Hy kan dankbaar wees dat ek vir eers moet laag lê. 
Hoekom het hy deur al die jare nog nie die polisiemag in Upington infiltreer nie? In elke stad het hy beamptes op sy betaalstaat. Hoekom nie hier nie. Hy sal dit moet regstel.
Dit is 'n jammerte dat Martin en Paul Slingers nog lewe. Sy eie broer het hom verraai. Noem jy dit nou bloed? 
Rachel moet ook nie dink ek is klaar met haar nie. 
"Ek het destyds  
 Keetmanshoop toe gevlug met haar om haar te beskerm. Daarna het ek my dood laat verklaar sodat sy kon lewe. Nou die verraad. Ek kan dit nie hanteer nie. Vir haar wil ek eers in die oë kyk."

Rachel sit in die wagkamer. 
"Hoekom het ek Martin betrek? As hy moet sterf gaan dit my skuld wees. Max is 'n gewetenlose vark om sy eie broer te wil vermoor.
Hoe was ek so lank getroud met hom en het dit nie besef nie? Hulle sê mos die naaste mense  aan 'n persoon is die laaste om te weet."
Sy wag ook om te hoor van Paul.  

Sahara en Larisa was albei gevra om buite te wag aangesien die hospitaal huidiglik in chaos is. Sahara het gevra dat Larisa by haar in haar motor moet sit terwyl hulle wag vir nuus op Paul. 
Sahara is nie bewus van Larisa se gevoelens teenoor hom nie en daarom is sy ook nie bewus daarvan dat daar jaloesie is nie.
"Sahara, het jy en Paul saamgekom?"
"Nee. Ek was so verbaas om hom vanoggend in die parkeerarea gewond aan te tref. Die Meneer M is 'n wrede vent."
"Ek het jou ook nie hier verwag nie. Het jy gekom vir die verlowing?"
"Watter verlowing?"
"Lawrence en Janice sou gisteraand verloof geraak het."
"O, dit is nuus. Ek het saam met my werkgewer gekom, Martin Adriaanse. Hy en Max se vrou wou inligting bekom hier by die hospitaal oor wie sy dogter is. Ek moes vandag hier by ons tak 'n kontrak  nagaan . Nou verneem ek hy lê ook gewond in die hospitaal."
"Nee sies, wie wil nou Max se dogter wees? Ons sal dan seker by Paul moet hoor hoekom hy hier is. Is daar iets tussen julle?"
Sahara is bietjie uit die veld geslaan oor die vraag. Sy besef dat Larisa seker jaloers is.
"Nee, nee, nee Larisa. Ek het net gaan koffie drink met hom. Jy mag maar vir hom gaan. Ons gaan dalk weer koffie drink maar ek sien hom nie meer as 'n vriend nie."
Sy glimlag.
'n Verpleegster kom aangestap. Die dokter het gevra dat ek julle moet inlig want hy het nog 'n operasie om uit te voer. Paul is buite gevaar. Die koeēl is verwyder en die operasie was 'n sukses. Ons is nie eintlik veronderstel om julle in te lig nie maar aangesien daar niemand wat familie is hier is nie, het die dokter gesê dit is reg so.

Larry is bekommerd oor sy ma en sy eie veiligheid. Wat maak Meneer M in Upington? So dit was hy gister by die vulstasie. Hy besef hoe na aan sy dood hy was. As Meneer M hom herken het..

Lawrence en Janice is nou meer ontspanne. Dinge is besig om na normaal terug te keer. Die hoofhek is weer oop en mense beweeg nou in en uit. Daar is welliswaar seker meer mense hier as gewoonlik, mense wat kom kyk het of hul familielede oraait is maar almal is kalmer.
Hulle gaan buite sit. Lawrence dink daaraan dat hy op die punt was om verloof te raak aan Janice. Nou moet dit maar wag tot die twee uit die hospitaal is.
Hulle sien Sahara en Larisa en stap na hulle toe.

Max fluit weer terwyl hy rustig voort ry. 
Hy onthou die eerste keer dat hy aan misdaad bekend gestel was. Hy het begin deur dagga te verkoop aan studente. Almal het geweet as hulle bietjie boom (wat die studente destyds dagga genoem het) wil klim moet hulle Max opsoek. 
Hy het gou geleer om bietjie ekstra te maak. As jy nie kontant gehad het nie dan het jy 50% meer betaal op skuld. Dit was die sorgvrye dae van sy jeug. Hy was nooit bekommerd dat hy gevang sou word nie en hy was ook nooit gevang nie.
Van dagga af het dit harde dwelms geraak. Hy het omtrent elke dwelm onder die son probeer verkoop. Dit is interessant dat hy gestop het om dwelms te gebruik toe hy besluit om dwelms sy lewe te maak.
Hy het gevorder van 'n smous na 'n dwelmbaas. Dieselfde tyd het hy ook van iemand wat net straf uitdeel as sy werkers oortree het tot iemand wat die doodstraf opgelê het. Soms het hy dit sommer self voltrek. Dit het hom laat voel dat niemand hom kan aanraak nie. 
Dit het wel verander toe sy seun doodgemaak was. In Keetmanshoop het hy egter 'n besluit gemaak hy gaan sy seun se dood wreek. Dit was toe dat hy sy eie dood beplan het.
Op 'n dag het 'n Willem Slingers hom aan diamante voorgestel. Dit was nie lank nie toe het hy Willem verbygesteek. Een dag moes hy wat Willem is ontdek dat hy nou aan Max moes rapporteer. Willem was te versigtig. Nou is die arme drommel dood. Hy het ook nooit eers sy geld geniet nie.
Hy het 'n afkeer in Willem ontwikkel toe hy verneem dat hy sy klein niggie verkrag het. Max het nooit tot daai vlak gedaal volgens hom nie. Hy sal liewer doodmaak as verkrag Verkragters is laer as skangmis maar as jy iemand se lewe neem is jy bo-aan die leer.
Hy het eendag gehoor hoe belonend dit was in mensehandel. Dit is toe hy die veld betree het. Hy is eintlik 'n multimiljoenêr maar hy voel hy moet nog meer hê.
Hy swaai uit vir 'n motor wat geparkeer staan. Hy fluit nou die deuntjie van die lied, 'Don't worry, be happy.' 
Upington is 'n mooi plek. Miskien moet  hy teen sononder 'n ietsie gaan drink op die arkie terwyl die polisie die poorte uit die stad bewaak. Max bars uit van die lag. Daar is niks so snaaks vir hom as onbeholpe polisielede wat hom probeer vastrek nie.
Max trap rustig voort. Hy onthou nou dat hy in Upington is om sy dogter te vind. Hy sal egter nie gou weer by die hospitaal kan draai nie. Sodra hy haar gevind het wil hy 'n bietjie wegkom uit die land. Miskien sal sy saamgaan. Dan kan hy haar touwys maak.

Shane skakel sy voertuig aan. Meneer M is darem op sy gemak né. Hy het so rustig en al fluitende verby hom gery. 
Hy skakel 'n nommer.
"Hy is oppad manne. Gee nog so 'n paar sekondes dan kom julle om die hoek.

Max kry skielik 'n gevoel dat iets nie pluis is nie. Hy loer oor sy skouer en besef dat die voertuig wat geparkeer was nou beweeg maar dit is juis die feit dat dit so stadig beweeg wat hom waarsku.
Hy stop skielik. Gooi die fiets neer en hardloop by 'n erf in. Die voordeur van die huis staan oop en hy hardloop in.

Shane besef dat Max nou weet van hulle. Hy versnel en stop voor die huis. Die res van die manne kom om die hoek. Hulle het saam met Shane drie voertuie.
Shane besef dat Max 'n gladde kalant is. Hy stuur dus een voertuig om na die volgende straat toe in geval die kalant weer anderkant wil uit. Shane storm die huis binne. Die mense se lewens kan in gevaar wees.
"Asseblief meneer, asseblief. Moet my nie doodmaak nie. Ek sal alles doen wat u sê."
Shane hoor die benoude gepleit maar dit is nie in die voorportaal nie. Nou moet hy versigtig wees want hy wil nie die dood van iemand veroorsaak nie.
"Max! Jy kan my vat. Los haar skree hy."
Die smekery gaan egter aan. Shane sien deur die venster hoe die ander manne agterom die huis hardloop.
Hy gaan versigtig om 'n hoekie. Die vrou wat so smeek staan met haar rug na hom. Max moet seker om die draai staan in 'n kamer. Die vrou hoor Shane en draai om.
"Meneer, hy het gesê ek moet so skree anders kom maak hy my dood. Hy het gesê ek moet u aandag aftrek."
"Nou waar is hy nou?"
Shane vererg hom vir die vrou wat so sy aandag aftrek.
"Hy is oor die muur hier agter."
Shane skree die manne hulle moet versigtig wees. Max is oor na die huis agter. Hy hoop die manne in die agterste straat is gereed. Kommunikasie is moeilik sonder radio's.
Die manne aan sy kant spring een vir een oor. Skielik begin die hond aan daai kant hard te blaf en dreig om een van sy beamptes aan te val volgens sy houding.
Shane besef iets is nie pluis nie. Hoekom het die hond nie geblaf toe Max daar oor is nie. Hy kyk terug en sien 'n gewapende Max gereed om op hom te skiet. Adrenalien neem oor en hy duik eenkant toe. Sy kop stamp skrams teen 'n wasgoed paal. Die eerste skoot is teen die muur agter hom. 'n Tweede skoot weerklink van die gegalvaniseerde paal af.

Skielik begin Max te hardloop voor uit die huis straat toe. Die stil breë strate van Die Rant raak nog stiller. Aan die oorkant word 'n gordyn toegepluk en by 'n ander huis klap 'n traliehek toe. Max hardloop wapen in die hand reguit op 'n voertuig wat aankom af.

Shane skud die pyn van die kopstamp af en hy hardloop om die huis. Hy sien hoe 'n vrou uit 'n motor forseer word. Sy is in die pad. Hy kan nie skiet nie. Hy vang iets blink uit die voertuig en duik weer instinktief. 
Die voertuig trek weg met spoed. Shane skiet na die voertuig toe maar dit vesnel steeds. Hy hardloop en spring in sy eie voertuig. Dit voel soos 'n ewigheid voor hy wegtrek. Max is al om die draai. 
"Nie alweer nie."
Shane skree terwyl hy agterna jaag. Hy is gefrusteerd. Om die draai sien hy die voertuig ver voor hom jaag. Hy versnel. Skielik swenk die voertuig wat hy agterna sit skerp en in 'n paal vas.
Shane gaan stop naby maar hy weet Max kan hom dalk skiet. Daar is egter geen beweging van sy kant af nie. Shane nader versigtig. Max lê met sy kop op die stuurwiel. Shane nader nog steeds versigtig.
Skielik lig Max sy kop op. Die vuurwapen blink in sy hand gerig op Shane.
"Ek het jou," sê hy en lag.
Hy druk die sneller twee keer. Shane was heeltemaal onkant gevang. 'n Vrouestem skree uit 'n huis.
Die wapen maak net klik, klik. Daar is nie meer ammunisie in nie. Shane sug van verligting. Hy stap nader.
"Hande in die lug."
Max lag nog steeds terwyl hy die wapen laat val en sy hande oplig. 
"Jy kan bly wees die sitplek druk my vas."
Shane sien bloed aan sy skouer. Hy moes Max raakgeskiet het toe hy weggery het met die voertuig.
"Max Adriaanse alias Meneer M, ek neem jou in hegtenis vir .."
Max raak bewusteloos.

Die musiek in Shane se kop stop. Hy besef skielik dat hy 'n eensame lewe lei. Nou wil sy vrou ook nog vir hom verlaat. Dan gaan hy heeltemaal alleen wees.
"Here, U het weereens U grote genade aan my bewys. Al wat ek van U vra is dat U wil sal geskiet."

Ja, die lewe wil gelewe wees. Niks is maklik nie. Soms kruis iets onverwags en buitengewoons ons pad en ons geloof word getoets waar mosterdsaadgeloof net te min blyk te wees. Miskien help twee mosterdsaadgelowe en daarvoor het jy 'n tweede persoon nodig.  Is ons braaf genoeg om die kruisdoodoorwinning ons eie te maak terwyl die boodskapdraers die onvermydelike einde voorhou in die vorm reuse, nee, reusagtige reuse? Hoe gaan jy stroomop waar die versnellingstroom jou dra na die waterval se neerstorting in diep poele daaronder.
Dit is waar ons besef dat net 'n Hoër hand die leeu se bek toe kan hou daar in die kuil. 

Ag Here, wat is die mens dat U aan hom dink?
©Rooi Mier 13.07.2022

Baie dankie my vriende. Ons het saam gelag, saam kwaad geword vir Willem en Max, saam met Sally seergekry. Ons het geheime ontbloot maar meestal was ons harte stukkend geruk deur die lewe.
Daar lê egter nog lewensdramas voor. Nou kan ons saam uitkyk vir Series 2.
Wie is Max se dogter?
♥️♥️♥️♥️♥️♥️♥️♥️♥️♥️♥️♥️

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...