#Stukkendeharte Hoofstuk 65 - Rooi Mier
Voordat Derek die nooddienste bel, bel hy eers Janice se ginekoloog. Sy opdrag was altyd dat hulle moet uitvind waar hy hom bevind voor hulle hospitaal toe gaan sou die babas vroeër hul opwagting wil maak. Hy is aan diens by Gordonia Hospitaal en vra dat Janice daarheen gestuur moet word.
Angela ry saam met Janice in die ambulans. Die res volg in Bennie se motor.
Dit word 'n lang nag. Die ginekoloog sê Lawrence mag maar in die kraamsaal toegelaat word. Iris dop haar oë om. Die kinders is nog nie eers getroud nie; waarheen gaan die wêreld. Die dokter sê haar dat dit nou te laat is vir sedes. Dit moes daar gewees het voor die babas verwek was. Lawrence is egter te senuweeagtig. Hy glo hy gaan omkap daarbinne. Angela mag maar in sy plek gaan.
Die drie mans loop op en af, op en af. Alhoewel dit nie 'n eerste keer vir die ouer mans is nie bly hulle maar senuweewrakke. Derek het selfs flou geword met Janice se geboorte.
Lorenzo Anton word om 01:55 gebore. Dit lyk of nie of Lanice Lauren haastig is nie. Na 'n halfuur het die ginekoloog begin bekommerd raak omdat die meeste tweelinge binne minute van mekaar gebore word.
Hy staan op die punt om haar met 'n keisersnit die wêreld in te bring toe sy besluit dit is nou tyd. Hulle het nie nodig om haar 'n rapsie te gee nie. Sy is mamma se raasbekkie en laat die wêreld kennis neem daarvan. Lorenzo blyk meer die Lawrence tipe te wees, stillerig en bedagsaam. Hy het nie effens gehuil toe hy 'n houtjie op die boud gekry het.
Die dokter kom doen die aankondiging en daar word oor en weer gelukwense gedoen. Hy noem ook dat die kinders 'n paar dae gaan bly vir observasie omdat hulle bietjie vroeër hul opwagting gemaak het. Janice moet dus ook 'n dag of twee bly om naby die babas te bly.
Sahara se sel lui. Wie sal haar nou voor drie in die oggend bel.
"Lawrence? Is daar fout?"
"Jammer Sahara, ek is nou amptelik 'n pa!"
"Wow!! Veelsgeluk Lawrence. Dit beteken ek is nou amptelik oud. Ek is iemand se tannie. Is die babas gesond? Is hulle nie bietjie vroeg nie?"
Sahara kan nie ontken dat daar tog 'n klein bietjie jaloesie is nie. Aan die anderkant is sy opreg bly vir haar broer; dit is nou as dit moontlik is.
"Hulle moet 'n dag of twee bly omdat hulle bietjie vroeg is, verder is hulle en die ma gesond. Jammer Sahara. Dit is voor drie. Ek besef nou eers. Ons praat later vandag weer."
Lawrence besef nie eers dat hy tot later die dag kon gewag het om Sahara te bel nie. Hy voel vreemd dankbaar dat sy in sy vreugde kon deel.
Tuis tel Lawrence die ring op die eetkamer se vloer op. Hy moes dit laat val het. Hy plaas dit in die houer en neem dit saam kamer toe. Dit pla hom nie dat Janice nie kans gehad het om ja te sê nie. Hy het net vinnig sy babas gesien. Sy gedagte is by hulle. Dit is voor vyf toe hy uiteindelik aan die slaap raak.
Dit is 09:00 die oggend. Shane klim uit sy gehuurde voertuig by die hospitaal. Hy hoop hulle gaan nie moeilik wees nie. Omdat hy nie die lasbrief van die plaaslike politiekantoor kan verkry nie, saak is te sensitief. Die hoofkantoor moet dit per e-pos aanstuur.
Twee parkeerplekke verder maak Max seker dat sy vermomming goed lyk. Die spieëltjie wys dat hy homself nie sou herken nie. Hy maak sy motordeur oop en hy en Shane kyk vir 'n oomblik na mekaar. Albei sluit hul deure met afstandbeheer. Shane stap onmiddelik na due ingang. Max probeer ongemerk vasstel of daar enige polisie is maar hy sien niemand. Hy stap stadig na die hoofingang. Hy voel in sy sak of hy kontant in sy sak het om iemand om te koop.
Martin en Rachel trek by parkering in terwyl Paul besig is om parkering te soek. Die oggend vroeg het Paul 'n elektroniese leêr ontvang met foto's van die kliënt, Martin. Dit is die eerste keer dat hy direk met hom gaan deel.
Terwyl hy in die parkering trek sien hy vir Martin en 'n vrou na die hoofingang stap. Die vrou kyk om en hy sien dat dit Yvonne is, Max se vrou. Hy onthou haar van die nuus af. Hy onthou onmiddelik dat Martin mos Max se broer is. So hierdie ondersoek het te doen met Max?
"Meneer Adriaanse!"
Paul roep want hy is bang dat Martin hulle in die gang kan verdwyn. Hulle steek in die ingang vas en kyk vraend om. Paul lig sy hand as teken dat dit hy was wat geroep het. Hy stap sluit die motor en stap vinnig nader.
"Ek is Paul Slingers, privaatspeurder. Die maatskappy het my uit die Kaap gestuur omdat Kimberley nie die saak kan hanteer nie. Hulle hande is vol."
"Aangename kennis Menneer Slingers. Dit is Mevrou Adriaanse.
Is u hier vir die rekords van Max se kind?"
"Dit is presies wat ek hier is om te doen. Ek wil u samewerking vra. Wil u nie asseblief dit oorlaat aan my nie? Dit sal vir my as privaatspeurder makliker wees om toegang tot die rekords te verkry maar dan moet ek alleen wees"
"Nee Meneer Slingers, ek wil daar wees."
Rachel klink driftig.
"Ek het nie verniet so ver gekom net om leë hande om te draai nie."
"Mevrou, ek verstaan. Kom ons praat hieroor. Meneer Adriaanse en u was op TV. Sodra die personeel u herken kan dit opgewondenheid veroorsaak en aandag op u plaas. As ons weer sien is hier verslaggewers wat u storie wil hoor. Dink u ons sal dan die inligting verkry? Max sal dan ook uitvind dat u hier is."
"Hy maak sin Yvonne. Ons moet so gou as moontlik in die motor kom voordat ons herken word. Ons kan liewer daar wag."
Hulle stap vinnig terug motor toe terwyl Paul ingaan.
Janice voel nie meer so seer nie. Sy stap in die gang af na waar die babas gehou word vir observasie. Dit is al haar tweede keer nadat sy wakker geword het. Dit is nog steeds vir haar 'n wonder dat sy lewe kon voortbring.
Sy stap verby 'n man met 'n swart hoed op soos Bheki Cele. Sy loer net na hom en stap aan. Hy kyk ook net vlugtig na haar. Hy herinner haar aan iemand maar sy skud dit onmiddelik af.
Larisa se foon lui.
"Goeie môre Lawrence. Wat is jy so vroeg op die lug? Het alles goed afgeloop? Is jy niu 'n verloofde man."
"Nee man. Ek het wel 'n pa geword. Janice het geboorte geskenk aan ons babas."
"Wow! Geluk die L. Anton sou nou so oogewonde gewees het. Hy sou jou kinders van dag een af wou bederf."
"Ek mis hom juis vandag. Wil jy saam met my hospitaal toe gaan? Janice en die kinders gaan 'n paar dae bly. Ek gaan nou."
"Kom kry my. Ek maak vinnig klaar."
Lawrence moes so vyf minute wag vir Larisa voor hulle vertrek. Hulle kom by die hospitaal aan net toe Martin en Yvonne terug motor toe loop.
"Is dit nie Max se broer en sy vrou wat daar loop noe?"
Lawrence is nie onmiddelik by nie.
"Max?"
"Meneer M man."
"O ja."
Hy kyk in die rigting wat sy wys.
"Ja, dit is hulle. Wat soek hulle dan in Upington? Hulle was mos in die Kaap."
"Hulle skuil seker hier. Meneer M klink gevaarlik."
Hulle stap binne en kry vir Janice in die gang.
Die dame by argiewe wil nie vir Shane help nie. Sy hou vol hy moet eers sy magtigingsbrief wys. Hy is gefrustreerd. By hoofkantoor belowe hulle hy sal binne 10 minute die lasbrief hê. Hy sal maar buite gaan wag.
Max stop by navrae om te verneem waar argiewe is.
"Janice, veelsgeluk my vriendin. My tjommie is nou 'n ma."
"Haai vriendin. Moenie my oud laat voel nie. Ek is juis oppad na hulle toe. Jy mag egter nie daar in nie. Net die pa. Jy kan deur die glas kyk. Ek sal hulle nader bring."
"Jy deel mos die hospitaal met bekendes vriendin."
Meneer M kyk vererg op. Die jongmense moet altyd gehoor word. Hy kyk na Janice, dan na Larisa. Hy wonder of sy dogter ook so luidrugtig is.
"Wie nou?"
"Meneer M se broer en sy vrou is hier buite."
Max verstar.
"Is jy seker? Ek het hulle nie gesien nie."
"Hulle het nou net in 'n motor geklim hier buite."
Paul het dit ook gehoor. Hy het net uit die ruskamer gekom toe Larisa hulle praat. Larisa het hom nie gesien nie. Hy moet buite kom om Martin en Yvonne te waarsku dat hulle herken was. Hy stap uitgang toe. Voor hom stap 'n ouerige man met Bheki Cele se hoed.
Shane het ook besluit dat hy liewer buite gaan wag. Hy kyk kort-kort op sy foon of die e-pos gekom het. Die figuur voor hom lyk bekend. Hy stap bietjie vinniger. Miskien kan hy hom buite sien.
Buite stap die man reguit na 'n motor toe waar 'n man en 'n vrou in sit. Hulle klim uit toe hy aankom.
Shane kan sy oë nie glo nie. Dit is mos Yvonne, Max se vrou daai. Wat soek sy hier? Is dit toevallig? Daar is Martin ook. Hy kon nog nie die man wat vir hom bekend gelyk het se gesig sien nie.
Hy loop met 'n draai. Iets is aan die gang. Sy instinkte was nog nooit verkeerd nie. Dit is Paul Slingers, die privaatspeurder. Die mense speel met vuur. Hulle kan sy ondersoek verongeluk.
Shane voel aan iets gaan gebeur. Hy raak vreeslik gespanne. Sy hand gly in die binne sak van sy baadjie. Sy wapen is daar. Hy lig die veiligheidsknip terwyl die wapen in sy sak bly.
Skielik klap 'n skoot. Toe nog een. Martin val aan die anderkant van die voertuig. Paul val aan die duskant vorentoe teen Yvonne.
Daar heers vir 'n oomblik van stilte. Almal lyk geskok. Shane kry sy stem terug.
"Val plat almal! Val plat!"
Hy duik self tussen twee voertuie in en begin kyk of hy die oorsprong van die skote kan opspoor. Die adrenalien pomp in sy are.
Skielik begin die mense te skree. Van hulle hardloop na die hospitaal toe ander na hul motors toe. Mense begin uit die hospitaal te hardloop.
Shane beweeg vinnig tussen die motors deur na waar die geskiet vandaan gekom het. Die mense veroorsaak chaos en maak dit moeilik vir hom.
Skielik hoor hy 'n voertuig wat met skreeuende bande wegtrek. Die rook draai soos die wiele spin. Die voertuig pyl af op twee oumense wat probeer wegkom uit die chaos.
Daar is 'n stamp geluid. Die ouvrou val op 'n motor wat geparkeer is se neus en die motor hop oor die liggaam van die ouman.
Shane is magteloos. Hy kan nie skiet nie daar is te veel chaos. Hy hardloop na sy motor. Nog drie skote klink op terwyl die voertuig na hoofhek jaag en uit. Dit draai links in die rigting van die middedorp.
Shane sukkel om uit die parkeerarea te kom. Soveel chaos.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking