Maandag 05 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 58 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 58 - Rooi Mier


Janice vryf oor haar maag. Die twee is woelwaters. Hulle skop haar klaar. Die ginekoloog het gesê hulle is besig om te draai. Dit is nie meer lank nie. Gelukkig maak Lawrence die week klaar met eksamens. 
"Ek het dan nog nie eers vir hom laat weet wat die name is wat ek vir ons seuntjie gekies het nie. 
Die name wat hy vir die meisie gekies het is perfek. Ek hou baie daarvan, Lanice Lauren van Wyk."
Sy haal haar sel uit en stuur hom 'n whatsapp boodskap.
"L, wat dink jy van Lorenzo Anton as jou seuntjie se name? Ek het maar net gedink ons moet jou vriend vereer en watter beter manier is daar nie.
Hy sal dan vir altyd 'n plekkie in ons gesin hê."
Nadat sy die boodskap gestuur het en dit weer lees besef sy dat sy "ons gesin" gesê het asof sy aanvaar hulle gaan trou. 
"Ek hoop nie hy neem aanstoot nie, ek het dit nie so bedoel nie, maar dit sal nie sleg wees nie."
 Sy sien haarself met haar man en kinders op die parkie. Sy het nooit kon dink dat sy op neëntien sou uitsien om getroud te wees nie maar dan weet neëntienjariges nie wanneer hulle hul sielsgenote gevind het nie.

Lawrence stap by die eksamenlokaal uit. Ek kyk sy whatsapp boodskappe. Oor twee dae gaan hy en Larisa by Sahara kuier. Dan lê daar nog een vraestel voor, voor sy semester eindig.
Hy sien uit na die vakansie want volgens skatting word sy tweeling vroeg in sy vakansie gebore. Larisa maak twee dae later klaar met eksamen so hy dink nie hy gaan vir haar wag nie.
Daar is 'n boodskap van Janice. Hy hou van die name en van die feit dat sy Anton wil vereer. Al wat hy wou hê is dat Anton vereer word. As hy die bulletjie se naam moes kies sou 'Anton' beslis deel van die naam wees.
Hy lees weer die boodskap en die keer vang sy oog die 'ons gesin.'  Dit is nie vreemd vir hom nie want hy sien ook soms die vier van hulle saam. Is dit nie dalk tyd vir hom om 'n definitiewe besluit te neem oor sy toekoms.

Sarie is besig in die kombuis. Sy neurie 'n deuntjie. Soveel hartseer en nou soveel vreugde. Nie dat die hartseer weg is nie, dit is meer draagbaar. 
Sy maak 'n kos wat op die platteland as 'n Sondagmiddag bord kos bekend staan. Daar is skaap, hoender, aartappelslaai, geelrys met rosyne, patat en 'n mengelslaai. In die oond is haar malvapoeding met vla op die stoof.
Die lug voel juis koud saans. Hopelik kom hy vanaand terug bed toe. As hy nie kom nie sal sy maar geduldig wees. Sy mis hom verskriklik baie.

Paul het afgevat vir die middag. Hy is in See Punt. Miskien sien hy vir Sahara. Hy het haar selnommer maar hoe verduidelik hy waarom hy bel?
Hy kan dalk nog wegkom met 'toevallig raakgeloop.' Daar sit sy toe ook op haar bank. Hy noem dit haar bank want dit is waar hy haar eintlik regtig ontmoet het. Hy stap 'n wye draai en kom rustig aangedrentel van die anderkant af. 
Teleurstelling. Dit is nie sy nie. 

Sahara lê min of meer op dieselfde plek waar sy vir die eerste keer haar pa gesien het. Dit is nog vreemd. Sy het aanvaar dat dit so is. Waarom nog tyd mors op 'n dna toets?
Sy vind dit egter nog steeds moeilik om Lawrence as haar broer te sien. Sy is self verward oor die hele ding. Sy aanvaar hom as haar broer maar haar hart sien hom nog nie so nie. Haar grootste toets is dié naweek.
Na 'n paar minute besluit sy om terug te keer na haar woonstel. Sy stap die trappe op van die strand af tot op die padvlak. Daar staan Paul reg voor haar.
Hy kyk na links en sien haar. Sy hart mis 'n slag. Pragtige vrou. 
"Hi Sahara. Goed om jou te sien. Wat 'n toeval."
"En ek is onder 'n kalkoen uitgebroei nê. Goeie dag Paul."
"Uitgevang. Ek het nie geweet hoe om jou te nader nie."
"Jy kan mos maar net gebel het. Hoekom soek jy my?"
"Jy dwing my nou om reguit te wees. Ek wou jou baie graag weer sien."
"Jy sien my nou en??"
"Ek wou jou net vra om 'n koffie saam met my te gaan drink."
"Haai ek het nogal net gister vir my koffie gaan koop. So ek het koffie."
Sahara is dik van die lag maar sy probeer dit wegsteek.
"Ek koop nou nie juis enige goedkoop koffie nie. So hoekom sal ek dan nou met jou wil gaan koffie drink?"
Sy draai weg sodat hy nie haar gesig moet sien nie. Sy moet hom terugkry vir wat hy die dag gedoen het met Lawrence, alhoewel dit op die einde ten goede uitgewerk het; wel niemand kon Lawrence se ongeluk voorsien nie.
"Dan is ek jammer dat ek jou gepla het Sahara."
Hy begin wegstap.
Sahara bars uit van die lag. 
Paul draai verward om. Lag sy regtig vir my? Hy het haar nie gesien as iemand wat so lelik met ander mense kan wees nie.
"Bel my dan kan ons tydens middagete 'n dag in volgende week 'n koffie gaan geniet. Ek is dan terug by die werk.
Jammer maar ek moes jou terugkry. Jy lyk nou nog verstom. Totsiens."
Sy stap weg.
Paul voel die verligting deur hom spoel. Dan begin hy lag. Dat die vroumens hom so kon vang. 

Max sit sy valse grys baard aan met sy grys pruik. Vat sy kierie, sluit die huis en stap om 'n taxi op die hoofpad te gaan kry. Dit is tyd om te beweeg. Hy stap verby 'n vangwa, hy kyk die polisieman in die oë en waai vir hom.

***
©Rooi Mier 13.07.2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...