Dinsdag 06 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 59 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 59 - Rooi Mier


Larisa is opgewonde. Sy gaan 'n bietjie wegkom uit die koshuis. Om dag na dag neus in die boeke te sit is glad nie lekker. Sy het nou wel nie veel van 'n sosiale lewe nadat Anton gesterf het nie maar sy kon darem soms met Yvonne gesels. Nou is dit haar ook nie meer beskore nie. 
Sy pak vir haar 'n naweektas. Miskien moet sy maar net een boek saam neem om dalk net Sondagoggend deur haar werk te lees. Sy is egter reeds goed voor berei. Daar is einlik niks meer wat sy nog moet leer nie. Dit was die afgelope tyd net boeke en nogmaals boeke. Universiteit is beslis nie skool nie.
Sy glimlag. As haar ma moet hoor dat sy gedurende eksamens tyd het vir naweek uit het sy die horries gekry. Sy is egter nie hier nie en dit is nie nodig vir haar om hiervan te hoor nie.
Sy bestel 'n uber om haar tot by Lawrence in Eersterivier te neem. Daarvandaan gaan hulle verder uber Seepunt toe. Hulle sou oorspronklik die Saterdagoggend gegaan het maar Sahara het gevra hoekom hulle nie Vrydagaand al kan oorslaap nie. Dan kan Lawrence vir hulle braai op die balkon. Dit belowe om 'n lekker naweek te word. 
Dit raak 'n heerlike aand in Seepunt. Sahara wou bier bestel vir Lawrence maar hy wou niks daarvan weet nie.  Sy is dankbaar daarvoor want die naaste wat sy al aan alkohol gekom het is druiwesap.
Larisa het een keer op skool dronk geraak maar het besluit dat dit nie vir haar is nie. Drie jongmense met geen alkohol by 'n braai? Dit is raar maar waar.
Sahara het twee slaapkamers. Lawrence eindig op op die rusbank. Hy lê wawyd wakker. Die kere wat hy na aan Sahara gekom het, het hy besef dat daar nog baie water in die see moet loop.
Miskien sal dit die beste wees as hy maar so spoedig moontlik met Janice trou. Mens kan mos aanleer om iemand lief te kry of hoe? Dit is ook immers die ma van sy kinders. Hulle is goeie vriende en hy weet dat hulle gelukkig kan wees.
Larisa raak aan die slaap met Paul in haar gedagtes. Wat 'n aantreklike man. Lank en lenig soos sy dit sal kies uit 'n katalogus. 
Sahara dink ook aan Paul. Moet sy maar kyk waarheen hulle oppad is? Miskien kan daar iets van kom of sal hy net 'n tweede prys wees? Sy besluit om hom te bel die volgende oggend. 

Paul se sel lui. Hy wonder wie dan nou so lastig is op 'n Saterdagoggend. Hy laat dit lui vir 'n rukkie. Dit stop. Hy kyk wie dit was. Dit was Sahara.
Skielik skrik hy helder wakker.
"Sahara!" 
Hoekom soek sy hom? Hoekom het hy nie vroeër opgetel nie. Is sy in die moeilikheid. Hy bel haar.
"Sahara goeie môre."
"Goeie môre Sahara. Paul hier. Jy soek my."
"Ek het? Nee, ek het jou nie gebel nie. Laat ek gou kyk. Jammer, ek sien ek het. Dit is per ongeluk. Ek het my sel oopgemaak om my boodskappe te lees. Ek moes met die neersit per ongeluk jou geskakel het. Nou voel ek baie verleë. Wat moet jy nou van my dink?"
"Nee, niks."
"O jy dink niks van my nie?"
"Nee Sahara. Dit is nie wat ek bedoel nie."
Sy begin lag aan die anderkant. Hy glimlag. Die vrou vang my elke keer. Hy het haar nooit opgesom vir iemand vol grappies nie.
"Noudat jy my gebel het, wat van Maandag?"
"Wat van Maandag! O, jy bedoel die koffie."
"Ja Paul."
Sy lag weer. 
"Reg so Sahara. Maandag is reg met my."
Paul is sommer op en wakker. Kan dit nie nou al Maandagoggend gewees het nie? Wat koop 'n mens vir 'n date wat nie 'n date is nie? Help.

Gavin het vandag gehoor hy gaan na 'n plek van veiligheid ver uit die Kaap geskuif word. Hy en sy ma gaan daar herenig word. Alhoewel hy al met Yvonne gepraat het weet hy ook nie waar sy haar bevind nie. Hy is kwaad vir homself dat hy ooit betrokke geraak het by die mensehandel sindikaat. Nou het hy nie meer 'n lewe van homself nie. Alles draai nou rondom Meneer M.

Shane is bekommerd. Hoekom probeer Max nie uit die land vlug soos die meeste misdaadbase sou probeer nie? Hulle weet te min van hom om te weet wat hy volgende gaan probeer doen. Op die grensposse, die lughawens en hawens word daar uitgekyk vir hom. Hy is juis nou besig om al die video- en fotomateriaal op sosiale media van die dag in Reiger Park te bestudeer. Miskien is daar iewers 'n leidraad. Die munisipaliteit vat ook hul tyd met die verslag oor aan wie al die huise in die straat behoort. Miskien is daar iewers 'n leidraad. 

Mavis sit alleen in haar huisie. Sy het geen kind of kraai wat haar plekkie met haar deel nie. Hoe dikwels is sy bang om hierheen terug te keer. Sy is nie bang omdat sy glo enigiets fisies gaan met haar gebeur nie. Dit is eerder die eensaamheid wat haar bekruip en dan oorweldig. Sy weet sy staan bekend as die grootste skinderbek suid van due ewenaar.
Die mense wat haar so noem weet nie dat dit haar ontvlugting is nie. Mense sê haar sleg en val haar aan. As daar net een persoon kan wees wat haar wil leer ken vir wie sy eintlik is.
Weet hulle hoe voel dit om aand vir aand alleen te sit en wens dat jy deel van 'n gesin kan wees. Sy maak kos vir een. Niemand nooi haar oor vir 'n ete nie. Sy kyk TV alleen. Niemand om saam met haar te lag nie. As daar 'n tranetrekker op TV is huil sy alleen. 
Dit is nie dat sy nie eensaamheid ken nie. Dit is van kleins af deel van haar lewe. Sy onthou hoe sy dikwels alleen in die huis gesit het as kind. Elke geluid haar laat opkrul het van die vrees. Elke skaduwee het 'n monster geword.
Op 'n dag het sy per ongeluk by die skool uitgevind dat wanneer sy nuus het, sy die middelpunt van enige gesprek  kon word. 
Sy het egter ook geleer dat na die tyd sy nog meer soos 'n uitgeworpene voel. Die meisie wat eenkant op die skoolgrond sit en wag soos 'n hondjie vir 'n been.
As sy tog net haar kinderdae kon oordoen. Dit sou seker ook nie moontlik wees met dieselfde ouers nie.
Sy sit en kyk verlangend by haar venster uit. By die huis langsaan word daar oudergewoonte gestry oor watter kanaal.
Aan die anderkant word daar gelag. Hulle het altyd iets snaaks om mekaar te vertel. Oorkant is Steven en Sarie se deur nog oop. Hulle was vandag so gelukkig. 
Wanneer sal sy dan eendag gelukkig kan wees? Al is dit net vir 'n dag; wel, selfs 'n uur sal doen.
Sy trek haar gordyne toe, sit haar ligte af en klim in haar bed. Die boom buite maak skadu's op haar muur. Monsters wat haar wil gryp. Hoekom beleef sy dit dan vanaand so erg?
Sy lê klein opgekrul op haar bed. Mammie wanneer kom julle huistoe? Ek is bang.

*****
Ons almal het stories, van trane en spyt. 
Ons almal het verhale van liefde en verwyt. 
Niemand is perfek nie en nie almal is mooi nie, 
maar onthou, die lekkerste appels is nie altyd rooi nie. 
Wees jouself, laat jou lig vir die wêreld skyn en weet dat God jou lief het!!!!
Gedig deur Jacobet en Gert
©Rooi Mier 13.07.2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...