Woensdag 14 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 66 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 66 - Rooi Mier


Shane ry uiteindelik by die hoofingang uit en draai in die rigting waarheen Max gery het. Op die stadium is hy nog nie eers seker of dit Max is wat in die voertuig wegvlug nie. Al hoekom hy dink dit is hy is omdat daar geskiet is op Martin en Paul.
Hy wonder hoe dit met hulle gaan. Gelukkig is dit op die hospitaal se parkeerarea so hulle behoort gou hulp te kry. Die voertuig wat hy ry het nie die blou lig van 'n polisievoertuig nie omdat hy dit gehuur het. Dit is vir hom belangrik dat selfs die plaaslike polisie nie weet wie hy is nie. 
Hy het 'n groot fout begaan. Vir hom was die besoek aan die hospitaal niks groots nie. Hy moes net inligting kom kry daarom het hy alleen gekom. Die res van sy span is nog by die Bread en Breakfast. Hy het gesê hulle moet maar bietjie laat slaap want hy wou hê hulle moes probeer inligting opvolg oor waar Max hom kan bevind. Nou is hy met sy broek op sy knieë betrap.
Die hele situasie kon dalk anders verloop het as hy soos gewoonlik op instink gewerk het. As hy eerlik moet wees pla die situasie met sy vrou hom nogal.
Hy kan nie nou vir hulle kontak om te kom nie. Dan moet hy aftrek om dit te doen en dalk die voortvlugtige heeltemaal verloor. Dit is nog vroeg en die paaie is besig. Shane probeer om so vinnig en veilig moontlik tussen die motors deur te vleg. Waar is die voertuig? Hy sien niemand wat probeer wegjaag nie.

By die hospitaal hardloop dokers en verpleegsters uit met noodhulpsakke. Die eerste persoon wat hulle sien is die ouman wat in die pad lê. Na vlugtige ondersoek word bevind hy is dood. 
 'n Ander dokter sien die ouvrou op die neus van 'n voertuig lê. Sy haal asem. Hy beduie aan nooddienste personeel met 'n draagbaar om na hom toe te kom. Daar is nie ooglopende bloeding nie en hy skree dat hulle haar in die teater moet kry maar hulle moet versigtig wees want sy het waarskynlik meer as een breuk opgedoen.
'n Verpleër vind vir Martin. Hy is in die bors geskiet. Dit is naby die hart maar hy lewe nog. Hy  bloei verskriklik baie. Die verpleër probeer dit stop. Hy skree op noodpersoneel om hom onmiddelik in die teater te kry en die bloeding te stop. Daar is nie nou 'n dokter naby nie so hy maak die basiese besluite. 
Terwyl die noodpersoneel met Martin na die hospitaal toe beweeg hardloop hy vooruit om 'n dokter te probeer vind. Martin is in 'n kritieke toestand.

Sahara het vanoggend verneem dat Janice nog in die hospitaal is met die  tweeling. Sy besluit om reguit hospitaal toe te ry. Net nadat sy deur die hoofhek is word dit afgesper.
"Wat gaan hier aan? Die parkeerarea is chaoties. Mense hardloop op en af. Daar is selfs mediese personeel."
Sy parkeer liewer by die verste punt. Soos sy stap na die ingang voel dit of sy in 'n fliek is. 'n Vrou sit in haar motor en huil. Sahara sien dat daar bloed aan haar skouer is. Sy hardloop daarheen om haar te gaan help. In die motor langsaan sit 'n vrou wat lyk of sy bid.
Sahara maak die voertuig van die eerste vrou oop. Dit lyk of sy beseer is in die skouer. 
"Wat het gebeur?"
"Ek is raakgeskiet", antwoord die vrou. 
"Wag gou, ek kry hulp."
Sy hardloop na waar sy noodpersoneel sien. Hulle is besig met iemand maar miskien kan een van hulle die vrou gaan help.
"Wat het regtig hier gebeur? Dit lyk of daar op meer as een persoon geskiet is."
Daar is drie lede. Sy klop op die skouer van die enigste vrou onder hulle.
"Daar is 'n vrou in die motor daar anderkant wat gewond is."
Die vrou draai na haar en Sahara sien verby haar. Dit lyk dan na Paul. Dit kan mos nie wees nie. Hy is mos in die Kaap?
"Sahara, droom ek?"
"Paul? Is dit regtig jy?"
Sy oë val weer toe. 
"Staan weg dame. Hy moet dringend in die teater kom."
Nadat hulle hom op die draagbaar het stoot twee van hulle dit na die ingang van die hospitaal.
Sahara wou saam gaan maar die vrou roep haar.
"Kom wys my waar die gewonde vrou is."
Sahara stap vinnig vooruit. Haar gedagtes is by Paul. Hoekom is hy hier? Hoekom is hy geskiet? Sy struikel maar gelukkig val sy teen 'n stilstaande voertuig. 
"Hier lê iemand. Laat ek gou kyk."
Sahara sien vir die eerste keer die man wat daar lê. Hy lyk dood.
Die vrou kyk gou of daar asemhaling en pols is.
"Hy is dood. Wys my waar die gewonde vrou is dan gaan sê jy asseblief vir die sekuriteit by die ingang om iemand hierheen te stuur. Dankie vir jou hulp."
Nadat Sahara haar gewys het waar die gewonde vrou is haas sy haar na die ingang. Sy is skoon uitasem, lanklaas soveel oefeninge so vroeg in die môre gehad. Haar gedagtes is nog steeds by Paul.

Janice en Lawrence se eerste gedagte was by by die tweeling toe hulle die skote hoor hulle het hulle daarheen gehaas met Larisa kort op hul hakke. Al drie wonder wat daar buite gebeur het.

Die personeel begin praat van Max se broer wat op die parkeerarea geskiet was. Hulle maak die afleiding dat dit Max was. Die storie versprei vinnig van Max wat sy broer by die hospitaal geskiet het en gevlug het. Upington self is skielik in rep en roer. Die storie versprei vinnig. Die banges maak dat hulle binne geboue kom. Wie wil nou 'n prooi van 'n gewetenlose moordenaar word? 
Die nuuskieriges vaar die strate in met die nuus. Die opgewondenheid strek ver en wyd. Binne minute weet mense in Pabalello, Hillside, Die Rand, Vaalkroek en Louisvale van die gebeurtenis. Ouers is oppad skool toe om hul kinders te gaan kry, motors drom saam voor die afgesperde hoofhek van die hospitaal. 
Dit is nou aan die binnekant wat mense  wil wegkom; aan die buitekant mense wat familie in die hospital het en nuuskieriges. Joernaliste probeer deurkom.

Larisa staan in die gang buite die babasaal. Sy mag nie in nie. 'n Trollie met 'n pasiënt word verby gestoot. Paul? Wat soek hy by die hospitaal? Is hy geskiet? Hoe ernstig is dit?
Sy het nog gewag om te hoor van hom aangesien hy in Upington is maar dit is nog vroeg so sy was nie bekommerd nie. Nou is hy op 'n trollie. Die rigting volgens die pyltjies is teaters toe. 
Sy volg instinktief. Skielik besef sy dat Lawrence en Janice haar gaan soek. Sy draai om en loop amper vir Sahara onderstebo.
"Sahara? Is jy ook in Upington?"
"Ek is hier vir werk. Paul is beseer. Ek is opsoek na hom."
"Hulle is oppad teater toe met hom."
Sy beduie die rigting.

Max merk dat daar skielik meer polisie op die pad is. Hy trek af in Schroeder Straat, verlaat die voertuig en stap na Scott straat toe. Hy gaan in by Pep Stores. Hy hoor 'n aankongiging op Radio Riverside dat hy in Upington is.
Hy verlaat onmiddelik die winkel. Buite by 'n stalletjie koop hy 'n wolpet en donkerbrille, trek sy baadjie uit en gooi dit ongesiens neer by die Dawid Kruiper Munisipaliteitsgebou en stap aan.

Shane sien die motor langs die pad staan. Die registrasie het sy kop vasgesteek. Dit ís die motor. Hy trek af. Die bestuurder is nêrens in sig nie. Het Max alweer weggekom? Dit is vir jou 'n gladde kalant. Hy kry uiteindelik kans om sy span te bel. Ten minste weet hy nou hoe Max huidiglik lyk. Hy weet dit dat hy teen dié tyd seker alweer anders lyk. Hy skakel hoofkantoor waar hy versoek dat alle uitgange uit Upington onmiddelik afgesper word.

Polisiepersoneel wat afdiens is kry almal oproepe om onmiddelik aan te meld by die naaste stasie aan hul woonplek sou dit nie hul stasie vanwaar hulle werk nie. Hulle word daarvandaan ontplooi na die verskillinde uitgange van die stad.

Shane en sy span begin  'n lys te maak van die verskillende motorhuur maatskappye en woonplekke waar toeriste tuisgaan.

Daar is nog 'n berig op Radio Riverside. Dit word genoem dat Meneer M nou ook gekoppel word aan moord op twee slagoffers. Een was doodgeskiet, 'n ander doodgery; drie  ander persone is ook nog kritiek in die hospitaal opgeneem en iemand is liggies gewond.

Max kom by die Bed en Breakfast waar hy tuisgegaan het aan op 'n fiets wat hy vir R1 000 oorgekoop het. Hy boek uit, neem sy sak en ry weer weg op die fiets. 
Max fluit 'n opgewekte deuntjie terwyl hy wegry.

***
©Rooi Mier 13.07.2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...