#Stukkendeharte Hoofstuk 64 - Rooi Mier
Larry het altyd gehou van stap. Terwyl hy vir Candice gewerk het as G het hy sommer vir maande aaneen nie gestap nie. Nou maak hy gebruik van sy vryheid van Candice maar gevangene van Meneer M. Die man is nie eers naby nie en tog moet hy wegkruip onder 'n valse naam en voorkoms.
Die polisieman wat in privaatklere hom vergesel is glad nie so geneë nie. Hy wil baie rus daarom stap hulle nou by 'n vulstasie aan om 'n koeldrank te kry. Larry dink by homself dat die offisier nooit as te nimmer 'n misdadiger wat hardloop sal kan aankeer sonder sy vuurwapen nie.
Hy kom by die vulstasie se winkel uit en kyk in die oë van 'n man van so middel tot hoë vyftigs. Die man kom bekend voor maar Larry skud dit af. Hy het beslis nog nooit die persoon gesien nie.
Die polisieman se aandag is by die lekker koue blikkie koeldrank.
Max betaal vir sy brandstof. Daar stap twee persone verby sy motor en hy merk dat die een na hom kyk. Hy het al foto's van G gesien, soos met almal wat vir hom werk in sy mensehandel netwerk. Larry lyk egter anders daarom gee Max hom nie 'n tweede kyk nie. Hy mag in elk geval nie na mense staar nie om nie aandag op homself te trek nie.
Daar is wel iets bekends aan die manier waarop die jongman stap. Onder normale omstandighede sou sy nuuskierigheid die oorhand gekry het want hy hou nie van onsekerheid nie.
Die vulstasie is naby 'n hospitaal. Hy lees 'Dr Harry Surtie Hospitaal.' Volgens wat hy onthou was sy dogter by Gordonia Hospitaal gebore. Hy stel gou sy gps. Sy eerste prioriteit is om sy dogter te vind. Iewers by die hospitaal sal hy iemand vind wat vir hom inligting sal verskaf vir 'n paar Rand.
Halfpad daarheen besef hy dat dit te laat is. Dit is al jare terug, dus sal daai inligting in die argiewe wees. Die personeel wat toegang tot argiewe het werk gewoonlik nie skofte nie. Dit is nou al 16:45 so hy gaan nie nou inligting kan bekom nie.
Janice en haar ouers is oppad na die Van Wyk's woning. Sy geniet altyd Antie Iris se geselskap maar haar oortollige besorgdheid irriteer haar deesdae; as sy eerlik moet wees irriteer alles haar deesdae. Dit is haar ongemaklikheid reken sy. Hoekom noú juis 'n ete wil hê gaan haar verstand te bowe. As Lawrence hier was sou sy beslis nie omgegee het nie.
Bennie maak die deur oop en hy en Iris verwelkom hulle.
" Goeie naand Derek, Angela en Janice. Kom geniet die aand saam met ons."
Bennie klink opgewek.
Iris gee Angela en Janice drukkies. Sy het Angela het goeie vriendinne geword.
Dit lyk of hulle baie moeite gedoen het. Daar is tekens van feestelikheid.
Bennie het op universiteit al besluit dat hy nie weer aan alkohol of dwelms gaan raak na wat tussen hom en Maria, Sahara se ma gebeur. Hy vra vir Derek om verskoning omdat hy vergeet het om wyn te koop. Hy noem nie dat Iris nie alkohol van enige soort in haar huis toelaat nie. Die naaste wat jy aan wyn kom in dié huis is druiwesap.
Jy gaan haar nie beïndruk deur te sê dat die mense in die Bybel wyn gedrink het nie. Sy sal daardie selfde Bybel vat en vir jou wys dat die Bybel soms na druiwesap verwys het as wyn.
Martin, Sahara en Rachel sit aan tafel by Sahara se woning. Rachel het vinnig breyani aanmekaar geslaan met 'n groen slaai.
"Môreoggend die eerste ding moet ons by Gordonia Hospitaal uitkom. Dit sal seker die beste plek wees om te begin.
Daarna moet ek vinnig by ons tak gaan inloer. Ek het 'n afspraak daar so teen 12:00. Sahara, ek wil hê jy moet dan by my aansluit.
Rachel, jy gaan seker saam met my né."
"Dit is reg so Martin. Ek wil met elke stap by wees. Die onskuldige meisiekind gaan die skok van haar lewe kry as sy moet uitvind Max Adriaanse is haar pa. Sy sal beslis my nodig hê."
"Ai skoonie, jou hart is te groot. Haar ma sal daai rol wil speel."
Rachel lag net.
"Moenie my probeer verander nie."
"Meneer, ek sal daar wees. Ek gaan môreoggend eers by my pa 'n draai maak."
"Haai my kind. Ek vergeet jy is van Upington. Natuurlik. Jy kan maar die dag af kry en met jou familie spandeer."
"Nee meneer. Ek is hier om te werk. U gee my hopeloos te veel af. Ek gaan nie meer tyd afvat as wat nodig is nie."
"Goed dan. Daar is 'n paar kontrakte wat aandag nodig het. Eintlik net een. Ek weet nie hoekom ek nie daaraan gedink het toe jy onlangs hier was nie."
Paul maak hom klaar vir 'n heelnag rit op die bus. Hy kon nie plek kry op 'n vlug voor môre nie. Hy wil vroeg in Upington wees want hy moet by Gordonia Hospitaal uitkom. Dit sal die beginpunt van sy soektog wees. Hy moet net vroeg môreoggend die kantoor in Kaapstad skakel om die datum te kry.
Hy laat sy sitplek so ver moontlik agtertoe sak om homself gemaklik te maak. Hy maak maar sy sosiale media oop om homself besig te hou. Sahara antwoord nie haar foon nie. Alhoewel daar nog niks tussen hulle is nie wou hy haar maar net laat weet hy is nie in Kaapstad nie.
Bennie se sel lui. Sahara se naam is op die skerm. Hy stap uit om te antwoord.
"Goeie naand my kind. Hoe gaan dit met jou."
"Goed pa. Ek bel net om te sê ek maak môreoggend 'n draai. Dit sal so teen 10:00 wees."
"Is jy dan in Upington?"
"Vroeër hier aangekom pa. U sal natuurlik by die werk wees maar ek sal graag vir Antie Iris en Lawrence wil groet."
"Ek sal sorg dat ek teen 10:00 tuis sal wees dan kan ek weer gaan werk. Jy moes laat weet het jy is hier. Ons het 'n spesiale ete met die Louw familie. Dit is Janice hulle."
"Reg so. Sien pa môre."
Hy stap terug binnetoe net toe Iris sê hulle moet gaan aansit.
Daar is 'n ekstra plekkie gedek. Hulle verwag seker nog iemand. Daar speel sagte romantiese musiek.
Die musiek raak sagter.
"Ons het vanaand 'n baie spesiale versoek vir 'n baie spesiale dame."
Janice dink die stem klink darem baie bekend. Kan dit wees? Dit is seker maar iemand wat klink soos hy.
"Die versoekie gaan uit vir 'n sekere Janice Louw."
Janice sit skielik regop. Dit is Lawrence se stem. Hy is seker op die telefoon met Radio Riverside.
Haar ouers kyk ook verwonderd rond.
"Janice Louw, jy gaan binnekort ons tweeling op die aarde bring. Ons eie Lorenzo Anton en Lanice Lauren van Wyk.
Hierdie twee kinders verdien om hul twee ouers bymekaar te hê. Ons hoort saam Janice."
Die stem raak stil. Janice wonder of Lawrence per ongeluk afgesny is, maar die radio is dan ook nou stil. Sy sien dat almal agter haar kyk.
"Janice Louw, sal jy met my trou?"
Sy probeer omdraai maar hy is alreeds langs haar op sy knieë. Hy hou die mooiste ring in sy hand.
Sy probeer opstaan maar hy druk haar terug en vat haar linkerhand.
"Hu, hu, eina."
Janice laat sak haar kop vooroor. Sy ruk haar hand uit Lawrence sn en plaas dit op haar maag.
"Oeeh! Dis seer. Baie seer!"
Iris en Angela vlieg gelyktydig op en probeer haar te hulp te snel. Angela merk die water by haar voete op. Lawrence staan vinnig en verbouereerd op.
"Ons moet 'n ambulans kry! Die babas is oppad."
***
Spreuke 17:6 *Kindskinders is 'n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader 'n eer.
Deut 4:40 En jy moet sy insettinge en sy gebooie hou wat ek jou vandag beveel, *dat dit met jou en jou kinders ná jou goed mag gaan, en dat jy die dae mag verleng in die land wat die Here jou God jou vir altyd sal gee.
©Rooi Mier 13.07.2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking