Maandag 15 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 32 - Rooi Mier

#Stukkendeharte  Hoofstuk 32 - Rooi Mier
Yvonne en Candice kom teen 03:00 die oggend verby Larisa se kamer. 
"Larisa jou kloosterkoek, jy het uitgemis. Wanneer gaan jy lewe."
Yvonne is luidrugtig en beslis nie haarself nie. Daarteenoor klink Candice kalm en in beheer. 
"Yvonne, jy maak almal wakker. Kom jy moet gaan slaap."
Larisa hoor dit want sy is deur daai diep slaap fase en het wakker geword toe die motordeur klap op die parkering.
"Yvonne, ek hoop nie jy gaan dit berou nie. Ek kry jou baie jammer girl."
Sy dink juis al hoe meer die koeldrank wat sy gedrink het by die sjebeen gedokter was.
"Ek wens net ek kan tot haar deurdring voor dit te laat is."
Yvonne val op haar bed neer in haar kamer en is amper onmiddelik weg. Ja, as die val maar net op haar bed was, was dit seker okay. Dit is egter ook 'n boddemlose diep donker put. Sy val en sy val en val. Het u al daardie droom gehad? Haar nagmerrie is besig om bewaarheid te word. 
Hoe kan sy gered word as sy nie om hulp skree nie? Nog erger as sy nie eers weet sy is oor die afgrond nie. 
Beaufort Wes, jou dogter moet gered word. 'n Karookind het die onbekende betree. Haar groener gras was geverf. Baie gou sal die laag begin afskilfer.
Jolene en Elton wag in spanning vir 'n oproep van die dokter af. Hulle was gister by die dokter waar daar weer toetse gedoen was om die oorspronklike diagnose te bevestig al dan nie. Oom John het gisteraand spesiaal kom kuier om God se guns te vra.
Jolene het liederik na hom gekyk terwyl hy besig was met sy gebed. Die verlede het deur haar gedagtes geflits.
Hoe kon Oom John haar so onvoorwaardelik vergewe? Sy onthou die dag toe hy die eerste keer aan hulle deur kom klop het. Die woorde wat sy hom toegesnou het.
“Bly Paulus Daries hier?”
“Wat soek jy”, vra die vrou ongeduldig. “Die vark is al twee jaar vrek, jy sal maar soos al die ander sy skuld moet afskryf.”
“Ek is sy broer, John. Sy tweelingbroer.”
“Kom slegtigheid nou in pare? Ek sal jou nie inlaat nie”
“Nou wie is jy dame?”
“Dit is nie jou besigheid nie maar ek is sy skoondogter. Wag maar daar buite tot my man kom.”
Hoe bly was sy agterna dat hy nie weggeloop het nie. Die Here het toegelaat dat hy nie 'n ander plek het om heen te gaan.
Sy was woedend toe Elton later opdaag en hom inlaat.
“Jolene, hoekom het jy nie my oom laat binne kom nie?”
“Vir wat, Ek ken nie die man nie en vir al wat ek weet is hy ook ‘n verkragter soos jou vark van ‘n pa.” Sy draai na John toe, “Jou broer was ‘n verkragter maar die blêrrie man wil mos niks weet nie, hy en sy God vergewe mos verkragters.”
En later.
“is daai man nog steeds hier?” Dit was meer ‘n geskree as ‘n vraag. “Ek het jou gesê ek slaap nie onder dieselfde dak as ‘n verkragter se vark broer nie. Ek gaan by my ma intrek!”
Hoe skaam was sy oor haar optrede toe sy later ontdek dit was nie Elton se pa wat haar verkrag het nie.
Dan kyk sy na haar man. Hy het al die rede in die wêreld gehad om haar te verlaat maar hier is hy nog steeds aan haar sy.
Elton het spesiaal afgevat om dié dag met sy vrou te wees. Hy wil daar wees vir haar wat ook al die nuus. 
Die telefoon lui. "Elton Daries goeie dag!"
"Goeie môre. Is dit moontlik om met Mevrou Jolene Daries te praat? Dit is onkologie by die hospitaal."
"Hang aan asseblief. Jolene, dit is die hospitaal."
Hy probeer om kalm te wees vir haar maar kry dit nie heeltemaal reg nie.
Jolene probeer kalm te wees deur 'n diep asemhalingstegniek toe te pas. Is dit ooit moontlik as die nuus wat jy gaan ontvang lewe of dood beteken.
Sy dink, "Here ek het verklaar dat ek my sal berus by wat ek ook al ontvang. Vergewe my asseblief want ek dink ek het gelieg."
"Jolene Daries?"
Mevrou Daries, u uitslae is gereed. Ek sal vir u 'n afspraak maak by dokter."
"Ons kan nou by hom wees, gee ons net ten minste 'n uur."
"Ongelukkig nie mevrou. Dokter is heeldag besig met operasies. Hy kan u môreoggend om 08:00 sien."
"Juffrou, ek sal nie so lank kan wag nie. Kan u nie maar vir my sê nie. Asseblief tog."
"Nee ek mag nie mevrou. Net u dokter mag. U moet ook onthou ek is administratief, nie medies nie. Ek mag dalk iets verkeerd interpreteer. Sien u môreoggend by onkologie."
Jolene is so teleurgesteld. "Ons kan die dokter eers môre sien my man."
Elton neem haar woordeloos in sy arms en hou haar vas. As hy nie meer die spanning kan hanteer nie, hoe kan sy?
"Kom ons gaan loop op die strand my vrou. Ons moet uit kom."
Larisa probeer vir Yvonne in die hande kry. "As ek nie probeer nie gaan ek skuldig voel."
Yvonne is nêrens te sien nie. Sy loop vir Candice raak.
"Het jy vir Yvonne gesien."
Candice kyk haar aan. "Ek moet my voorkop gaan afwas."
"Wat bedoel jy, jou voorkop makeer niks. Yvonne?"
"Kyk weer, hier staan geskrywe kinderoppasser."
"Moenie sarkasties wees nie. Ek is maar net bekommerd."
"Hoekom? Ons was saam uit. Ek is nog oraait."
"Laat ek my nie vererg nie." Larisa stap weg. 
Candice kyk haar agterna. "As Mnr M nie gevra het ons moet laag lê die volgende paar dae nie was jy al oppad." Sy praat met haarself.
Paul Slingers se sel lui.
"Wat wil Mammie nou weer hê. Ek het tog nie geld nie," dink hy.
"Goeie middag Mammie."
"En vir wat groet jy my asof ek lastig is?"
"Ai Mammie. Is daar 'n probleem?"
"Jy is my probleem. As julle mos in die stad is dink julle niks van die mense wat julle gelerentheid gegee het nie.
Jou suster is nog besig om te leer maar sy is al klaar wipgat."
"Wat bedoel Mammie nou?" Hy het regtig gedink sy wil geld hê, of soek my suster geld?"
"Sy antwoord nie haar foon nie. Gaan kyk asseblief hoe gaan dit met haar. Moet nou nie weer wag tot jou jy agterkleinkinders het nie."
"Ek het dan nog nie eers 'n kind nie my ma."
"Nou mos juis. Ek is mos nie die ma nie. Ek moet maar wag tot jy besluit."
"Ek sal kyk om môre te gaan my ma. Sê groete vir die ou man."
"Ou man se.. As ek my sonde nie ontsien nie is jy 'n vreksel."
Hy glimlag net. Ek was mos nou nie lus om grootmense op te pas nie. Stellenbosch is mos ook nie langs Elsies nie.
Ai Yvonne.
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 31 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 31 - Rooi Mier
Sahara sit op geliefkoosde bank in Seepunt.  Lawrence antwoord nog steeds nie haar oproepe. Noudat sy weet dat hulle broer en suster is dink sy daaraan hoe graag sy as kind graag 'n broer of suster wou hê. Nou het sy 'n broer maar sy wens hy was liewer nie.
Mnr Adriaanse het haar gedwing om af te vat. Hy het gesê as hy haar by die werk sien gaan hy haar persoonlik huistoe neem.
Nou sit sy maar hier en verkyk haar aan die Kapenaars. Sy kon nog nooit gewoond raak aan Afrikaaps (Afrikaans soos Kapenaars dit besig) nie. Sy sit en luister na twee haweloses wat in 'n argument betrokke is oor watter kant toe hulle moet beweeg om 'n beter kans te hê om iets te ete te kry. Sy herken een van hulle. Hy gaan eet soms  by Elton se voedingskema onder die brug.
"Jhy wil altyd reg wies blerrie harekop."
Sahara het nou al geleer dit is eintlik hardekop en het niks met hare te doen nie.
"Jhy begin alwee né. Jhy met jhou vet bleskop soes 'n geskraapte skaapkop."
"Bly stil man. Jhy maak 'n man net lus vi kerrieafval."
Sahara kan nie help om te glimlag nie. Hoe kan jy swaarmoedig bly? As Lawrence nie met haar wil praat nie moet sy maar net wag. Sy pa, ons pa sal hom moet een of ander tyd die waarheid vertel. Skielik tref dit haar. Weet die man ooit dat sy sy kind is? Sy het maar net aanvaar. Hy weet dalk hy het nog 'n kind maar hy weet nie waar hy of sy haar bevind nie.
Die harekop en die bieskop stap stad se kant toe.
Martin dink aan sy besoek aan sy broer se weduwee in Keetmanshoop. Hy sal die wiele so spoedig moontlik aan die rol moet kry. Rachel het gesê dat die ding haar pla en dat sy die saak so spoedig moontlik afgehandel wil hê.
Sy wil ook weet of dit veilig vir haar eie familie gaan wees om haar te kom kuier. Sy sal hulle ook graag wil besoek in die Noord Kaap in Kenhard, maar sy weet nie of dit veilig sal wees na al die jare nie.
Hulle dink seker maar sy lewe nie meer nie. Max se familie ken hulle nie eintlik nie so dit sal onwaarskynlik wees dat haar familie by hulle gehoor het dat sy nou al 'n paar jaar in Keetmanshoop is. Hulle dink seker nog Johannesburg het haar ingesluk.
Haar ma het Max een keer ontmoet en haar onmiddelik laat weet sy hou nie van hom nie. Volgens haar was hy net te "glad en glibberig soos 'n barber vis uit 'n modderpoel." Toe Rachel hom nie wil opgee nie het haar ma gesê  sy kies 'n harde lewe en dat die man na gevaar ruik. Haar ma was nog altyd te reguit en dié woorde het haar seergemaak; "Ek gaan nie dat jy die res van die familie in gevaar stel nie, so as jy nie van hom kan afsien nie is ek klaar met jou soos kotsels in 'n toiletpot."
Sy het eers op sy sterfbed die verkleurmannetjie in Max raakgesien.
Martin kyk of hy die privaatspeurder op die lyn kan kry. Hy wil 'n afspraak maak en hulle persoonlik in hulle kantore gaan sien. Sy broer was 'n regte wolf in skaapklere. Dit is sensitief so hy sal ook eers meer wil weet oor die agtergrond van die die privaatspeurdersfirma voordat hy sy saak met hulle deel.
Lawrence is oppad Stellenbosch toe. Hy is regtig bekommerd oor sy vriendin. Hoe het dit gebeur dat hulle so ver uitmekaar gedryf het? Net die anderdag het sy nog probeer om hom te wys dat sy nie net 'n vriendin wil wees nie voordat sy besef het haar hart is eintlik by Anton.
Hulle het grootgeword maar maak dit nou hul kinderdag beloftes tot niet? Wat het geword van vriende wees vir ewig?
Larisa is opreg bly om hom te sien. Sy omhels hom. Dit het vir haar gevoel sy het alles verloor. As daar een persoon is wat naasteby sal weet hoe sy voel dan is dit hy. Sy gaan sit by hom in die motor. Emosies oorweldig haar. Hy probeer nie die móre sal die son weers skyn storie nie. Hy is net daar en laat haar toe om te huil. 
Toe sy klaar gehuil het is sy verleë. Sy t-hemp se skouer is behoorlik nat. Hy merk droog op, "Dit is nou wat jy snot en trane noem."
Sy slaan hom liggies op sy kop. "Jy kan maar ophou." Op 'n ernstiger noot gaan sy voort. "Ek het so alleen, so verlore gevoel. Dankie L."
Sy kyk op in sy gesig. "En hoekom is jou ogies rooi?"
Hy glimlag net. "Vertel my hoekom het jy nie my oproepe beantwoord nie."
Sy vertel hom hoe sy gevoel het en ook van haar ervaring die ander aand. 
Hy vertel haar van sy ondervinding met Sahara.
"L, kom ons gaan eet 'n burger. Ek voel nou nogals honger."
Dit raak 'n heerlike middag en vriendskapsbande word verstewig.
Toe hy haar aflaai maak hy haar belowe om hom onmiddelik te bel as sy weer so voel.
Yvonne kom daar aan. "Ek gaan weer vanaand uit saam met Candice. Gaan jy saam? Sy het gevra dat jy moet."
"Dankie maar nee dankie Yvonne. Wil jy nie maar wegkom van daai ene af nie. Iets is nie lekker nie."
"Nee, ek wil nie soos jy word en elke dag net hier sit nie. Die lewe is daar buite."
Nadat hulle weg is stap Larisa na die kafeteria toe om die gratis streeksnuusblad te kry. In haar kamer lees sy van 'n meisie wat vermis word. Sy was die laaste keer gesien by die sjebeen waar hulle die anderaand was. Dit was ook dieselfde aand. Larisa kan nie onthou dat sy die meisie gesien het nie. Hulle vermoed nie vuilspel nie behalwe dat sy die laaste week of so vreemd opgetree het volgens haar ouers.
Lawrence voel ook sommer beter vanaand. Hy is wel 'n bietjie moeg. Hy kry dit mooi reg om sy gedagtes in 'n ander rigting te stuur sodra Sahara in sy kop kom klim, wat gereeld is.
Sy ma is besig met 'n video gesprek met sy pa.
"Julle is oud, los die vryery vir ons jongmense. Hi pa. Hy loer oor sy ma se skouer. Oeeh! Trek tog net vir jou ordentlik aan as jy met my ma wil praat. Sy is 'n ordentlike meisie. Waar is jou hemp."
"Iris laat daai klong loop. Sy agterent is nog nie te oud vir 'n ordentlike pak slae nie."
Iris slaan Lawrence op sy sitvlak. "Loop hier uit. Ek vry met my man."
Terwyl hy uitstap hoor hy sy pa vra of Paul haar lughawe toe gaan neem Vrydag. 
"Paul? Moenie daai naam voor my noem nie." Hy dink natuurlik nie dat dit dieselfde Paul kan wees nie.
Larisa is bekommerd oor Yvonne. Sy besef natuurlik dat daar absoluut niks is wat sy daaraan kan doen nie. Yvonne is oud genoeg om na haarself om te sien. Sy bly egter bekommerd.
"Ja sy is oud genoeg maar is sy volwasse genoeg? Dit blyk nie so nie."
Iets omtrent daai aand pla haar. Candice is duidelik meer as net 'n besoeker daar. Haar hele houding getuig daarvan. Dan het sy ook iets gesê waaroor Larisa wonder.
"Kom ons noem vir nou maar eers net die plekkie 'n sjebeen, afhangende hoe die aand verloop." 
Wat het sy daarmee bedoel? As dit dan nie 'n sjebeen is nie, wat is dit dan? Hulle het haar Candy genoem. Die geheimsinnige 'G' het 'n soort van onderdanige houding teenoor haar. Sy het saam met die polisie in die kantoor verdwyn. 
Iets is nie pluis nie!
Sally is baie swaarmoedig. Sy was nie werk toe nie. Hoe gaan sy die man wat haar verkrag het in die oë kyk? "Moet ek polisie toe gaan? Sal hulle my glo? Mense sê dat jy onmiddelik moet gaan en nie was nie. Dit was nou al gistermiddag. Mnr Solomons is 'n gerespekteerde man in die gemeenskap. Ek is net 'n sekretaresse wat minis dra volgens hom. Soek alle vroue wat minis dra om verkrag te word? Wou ek verkrag word?"
Sy woorde weergalm deur haar kop. 
"Juffrou September? Hoekom glo die mense nooit as 'n meisie wat kort minis dra gaan kla dat hulle aangeval was nie?"
Dan hoor sy haar oom se stem.
"Jy is 'n klein slet wat vra vir die aandag van mans. Laat ek jou aandag gee klein hoerjaer."
Woorde, woorde, woorde. Dit sny baie diep en kan jou siening van jouself verander. Dit kan jou laer as slangmis laat voel. Soos die skuim van die aarde wat nie 'n plekkie in die son verdien nie. 
Daar kom egter 'n dag wanneer jou woorde teen jouself gaan draai.
Spreuke 18:7 verklaar."Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe 'n strik vir sy lewe."
©Rooi Mier 13.07.2022

Donderdag 11 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 30 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 30 - Rooi Mier
Candice gaan eerste in. Sy is heel op haar gemak in die omgewing. 
"Larisa, jy het mos nog nie gelewe nie né. Vanaand gaan jy so bietjie begin lewe. Kom ons noem vir nou maar eers net die plekkie 'n sjebeen, afhangende hoe die aand verloop."
"Yvonne, ek hou nie van die plek nie. Kan ons nie maar hostel toe gaan nie." Larisa voel angstig.
"Hi Candy, ek hoop jy is reg vir vanaand. Ons gaan lekker party vanaand."
"Hi G, kom gou hier." Candice wink vir G (soos in die Engelse letter) om haar te volg weg van Larisa en Yvonne af.
"Wat sê jy Candy, gaan die ding ruk vanaand?"
"Nee G, ons moet dit stadig vat. My vriende is bietjie preuts, veral Larisa. Ons moet dit stadig vat veral met haar. Yvonne gaan nie 'n probleem wees nie. Sy sal enigiets doen om my guns te behou.
So ek gaan nou vir my en Yvonne elkeen 'n bier bestel en vir Larisa 'n koekdrank. Wees net versigtig dat julle net so 'n klein bietjie skop in daai koeldrank gooi. Sy moet nie iets proe nie."
"Ek maak so  Candy girl."
"Ek sal probeer om Larisa net so twee koeldranke te laat drink. Die tweede kan so bietjie meer skop kry."
"Ons maak so Candy. Wanneer gaan jy weer Gauteng toe."
"Ek sal moet bly tot die semester klaar maak. Vergeet jy dan ek studeer kastig. Laat ek nou na my kastige vriendinne toe gaan. Waar is die musiek vanaand. Die plek is dood daar sonder."
Die plek is vol vir 'n Maandagaand maar dit lyk of die plek waar Larisa hulle sit bespreek was vir hulle. 
'n Stem sê op die luidsprekers, "Ons gaan bietjie musiek speel maar probeer om nie te raas nie. Julle weet mos daai Pastoor hier in die straat gaan weer die polisie laat kom."
Die atmosfeer verander amper oombliklik toe die musiek begin speel. Daar is nie veel sprake van lirieke nie, wie worry dan nou van woorde, solank hulle die ritme voel.
Candice knik in die rigting van G. Hy bring onmiddelik die drankies.
Sy kyk na die mense wat nou gejaagd voorkom. "Die klomp swape besef nie hulle word beheer deur musiek nie. Die ritme wat hulle aan hul liggame voel laat hulle meer geld spandeer. Dit is iets wat sy lankal geleer het."
"Larisa, hier is jou koeldrank. Kyk 'n bietjie om jou. Voel jy nie sleg dat jy die enigste hier binne is wat koeldrank drink nie?"
"Nee, Candice, ek hoef nie in te wees om ander mense gelukkig te maak nie. As ek die koeldrank klaar gedrink het gaan ek maar vir my 'n uber bestel."
"Moenie bekommerd wees nie Larisatjie. Ek en Yvonne gaan net twee biertjies drink dan kan ons maar ry."
"Nee Candice, julle kan maar bly. Na dié koeldrank is ek weg."
"Yvonne, die meisiekind gaan ons aand bederf."
"Julle gaan my nie skuldig laat voel nie. Ek wou in die eerste plek nie saamgekom het nie."
Twee polisiemanne in uniform stap in. Candice sien hulle en loop agter hulle aan na wat vir Larisa lyk na 'n kantoor toe. Na 'n rukkie kom hulle uit en gaan weer uit. Candice kom na 'n minuut of so uit en sluit weer by hulle aan. Sy sê nie 'n woord oor wat so pas gebeur het nie. Larisa merk dat sy nog nie eintlik aan haar bier gedrink het nie.
Sy voel nie op haar gemak in die plek nie en wil so gou as moontlik wegkom. Sy drink vinnig aan haar koeldrank en hoop die ander twee gaan dieselfde doen. Dit lyk egter nie of dit gaan gebeur nie.
"Candice, ek gaan nou maar my uber bestel."
"Wag net gou. As ek terugkom kan ons maar ry. Drink maar my bier ook Yvonne."
Sy stap weer na die kamer wat wil voorkom is of dit 'n kantoor kan wees. Die G karakter volg haar die keer. Yvonne wat haar bier klaargemaak het, drink die helfte van Candice sn in een slag.
Intussen raak die kelners al besiger en die mense meer luidrugtig. Party begin dans.
Na omtrent vyf minute kom Candice weer uit. Larisa voel nie so lekker nie. Sy skryf dit toe aan die spanning wat sy ondervind. 
Larisa staan onmiddelik toe sy Candice sien op en gaan roep vir Yvonne wat net nadat Candice weg was gaan dans het met twee mans. Dit was duidelik dat sy hulle nie ken.
Die een vat Larisa aan die arm.
"Wil jy nie bietjie daai sexy liggaam skud nie."
"Los haar af." Dit is Candice.
"n Man wil mos maar net bietjie lyf skud Candy."
Hy los Larisa se arm.
"Kom Yvonne, jou vriendin kap ons aand kort."
Op pad  koshuis toe is dit maar stil in die motor. Candice lyk glad nie gelukkig nie. Larisa voel iets is nie reg nie. Sy voel net anders maar kan nie haar vinger daarop plaas nie. Dit voel net of sy meer energie het.
Candice is 'n bietjie knorrig. Toe sy uitklim hoor Larisa sy vra vir Yvonne hoekom sy vir haar saamgebring het. Daar is so baie ander meisies.
Daardie aand kon Larisa nie aan die slaap raak voor eers 02:00 vm nie.
Lawrence het tot omtrent 22:00 probeer om Larisa te bel maar sy het glad nie geantwoord nie. Hy voel nou regtig bekommerd en baie skuldig.
Die oggend probeer hy weer maar tevergeefs. Hy stuur toe maar 'n whatsapp boodskap. 
"Larisa, kontak my asb."
Larisa raak eers teen 10:00 wakker. Sy voel nou meer teneergedruk as gister. Aan die tyd sien sy dat sy al twee klasse gemis het. Dit pla haar egter nie want sy is nie van plan om enige klasse vandag by te woon nie. 
"Ek bly net hier in my bed vandag."
Dit voel vir haar dat daar iets is waarna haar liggaam soek. Sy onthou die energie wat sy die vorige aand gehad het.
Candice bel vir G.
"Gisteraand was nie 'n goeie aand vir ons nie. Ons kon nie die meisie druk sonder dat sy agterdogtig raak nie.
"Dan gaan ons maar 'n ander meisie moet vind so spoedig moontlik Candice. Jy is eintlik die een wat moet bekommerd wees. Jy is mos direk onder Meneer M. Weet jy wat sy regte naam is?"
"Moenie kanse vat nie G. Jy weet mos ek kan jou nie sê nie. Is die aflewering wat gereed was gisteraand gemaak?"
"Natuurlik, Candy. Hoe ken jy my?"
"Dan praat ons later weer sodra ek bevestiging gekry het van Meneer M."
G sit sy selfoon in sy sak. Hy voel die afgelope tyd nie meer lus vir om voort te gaan nie.
"Hoe gaan ek myself bevry?" Hy weet dat dit baie moeilik gaan wees. Dit blyk dat hy altyd 'n skaduwee het. Hy voel net nooit op sy gemak in die publiek nie. 
"Ek berou die dag dat ek Candice ontmoet het. Kan ek nie maar die tyd terugdraai nie. As ek weer kon kies, dan sou ek die eenvoudige lewe sonder geld wat  gehad het enige tyd kies bo die stewige bankrekening maar altyd oor die skouer loer lewe.
Gelukkig is een van die polisiemanne op hul betalingslys ook 'n goeie vriend. As dit begin lyk of die res van die polisie iets weet sal hy nog voor Candice weet."
G het ook 'n vrees vir die geheimsinnige Meneer M.
Sally wil net haar kantoor sluit toe Mnr Solomons, die skoolhoof in haar deur verskyn.
"Juffrou September, net 'n oomblik. Ek wil net daai verslag hê wat die departement nou per e-pos gestuur het."
"Ek het niks gesien nie Meneer want ek het nou net die rekenaar afgeskakel."
"Dit moet daar wees Juffrou. Kyk net gou. Jammer vir dit."
Waaroor gaan dit meneer? Sy gaan sit weer agter haar lessenaar en skakel die rekenaar aan. Solomons sluit die deur en stap na haar lessenaar toe. 
Sally staan vinnig op van haar lessenaar af op.
"Meneer Solomons, ek moet ongelukkig nou gaan. Dit is laat en u kan die verslag mos op u skootrekenaar kry."
Hy is by haar. Hy haal skielik iets uit sy sak en druk dit voor haar neus.
Sally raak wakker. Hoekom lê ek op my lessenaar? Haar klere voel ook nie reg nie. Mnr Solomons verskyn skielik in die deur.
"Is jy wakker? Jy het darem lekker geslaap."
Sy onthou nou hy het van die deur na haar gestap, 'n wit lappie uit sy sak gehaal. Verder is daar niks. Sy het altyd ongemaklik rondom hom gevoel nou is daar 'n vrees.
"Het hy my .. Nee, dit kan nie wees nie."
Sy weet tog dat iets gebeur het.  Haar klere voel nie reg nie. Sy deins terug van hom af toe hy nader kom.
"Jy is reg Juffrou September, ek kan maar die e-pos tuis lees. Kom ek neem jou huistoe. Die opsigter is besig by die agterste klasse. Hy gaan nou die gebou kom sluit."
"Sally is nou heeltemaal vreesbevange maar sy kan nie vir hom sê sy wil nie met hom ry nie. Sy volg hom maar haar hele liggaam bewe."
"Juffrou September? Hoekom glo die mense nooit as 'n meisie wat kort minis dra gaan kla dat hulle aangeval was nie?"
Sy antwoord nie en sy weet instinktief wat hy eintlik vir haar sê.
Sy klim uit sy motor en stap na haar woonplek toe. Haar ouers het Van Wyksvlei toe getrek ses maande gelede. Sy woon alleen. Sy sluit haar deur oop en weer toe agter haar. Sy stap reguit na haar kamer. Val op die bed neer en begin te huil.
Nie alweer nie. Niemand het haar geglo toe sy veertien was nie hoekom sal hulle nou? Haar oom het haar 'n slet genoem wat met opset sy aandag wou trek. Sy kan tot nou toe nog nie onthou dat sy onbehoorlik teenoor hom opgetree het nie.
Hy was die een wat haar altyd vasgedruk het as hy haar gegroet het. Vir haar was dit normaal. 
Sy raak aan die slaap.
Teen die aand is Lawrence regtig bekommerd oor Larisa. Sy het nog steeds nie op sy boodskap reageer nie.
"Mammie, ek gaan mos eers volgende week klasse bywoon. Is dit reg as ek môremiddag eers by my kampus omgaan om my kamermaat te kry? Ek wil klere gaan kry. Dan moet ek by Larisa in Stellenbosch uitkom. Ek is baie bekommerd oor haar. Sy reageer nie op my biodskappe nie."
"Sal jy kan ry? Ek kan iemand kry om te bestuur."
"Ek sal regkom Mammie."
"Dan is dit oraait my kind. Ek wonder self hoe dit met haar gaan."
'n Ouerpaar stap teleurgesteld by die polisiekantoor in Cloetesville uit. Hulle is so bekommerd. Waar kan hulle nog soek? Hulle het nou al almal gedek aan wie hulle kon dink wat hulle dalk kan inligting gee. Daar was wel gesê dat sy gisteraand by 'n sjebeen in Cloetesville gesien was. Nou is hul dogter skoonveld. Die polisie sê dit is eers môreoggend 24 uur dan kan hulle help. Hulle het eers vanoggend ontdek dat sy nooit in haar bed geslaap het nie.
©Rooi Mier 13.07.2022
Alhoewel  die skool, Carlton -Van Heerden Sekondêr in werklikheid bestaan wil ek dit benadruk dat die storie  fiktief is en geensins gebaseer is op enige personeellid daar nie.

#Stukkendeharte Hoofstuk 29 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 29 - Rooi Mier
Dit is Maandagoggend. Bennie van Wyk se foon lui. Iris kan net sy kant van die gesprek hoor.
"Goeie môre."
"Nee ek is oppad Kaap toe."
"Wat se krisis?"
"Dit klink ernstig. Dan sal ek maar my planne moet kanselleer."
"Nee, hy is nie ernstig beseer nie. My vrou kan maar alleen Kaap toe gaan. Sien julle oor 'n uur."
"Iris! Iris!"
"Wat skree jy so Bennie, ek is dan reg hier by jou."
"Jy sal alleen moet Kaap toe gaan. Daar is 'n groot krisis op kantoor. Ek sal nie kan wegkom nie."
"Ai Bennie. Jy weet ek hou nie daarvan om alleen te reis nie. As dit nie was vir ons seun nie het ek ook gebly."
"My vrou, jy is die beste."
"Ja toe. Jy loop op dun ys meneer. Daar is net een ding. Ons sou die saak rondom die kinders hanteer het. Ek kan dit nie alleen doen nie. Sahara het nodig om dié belangrike nuus van jou af te hoor. Dit beteken dit word weereens uitgestel."
Hulle weet nie dat Sahara dit self uitgewerk het nie.
"Iris, jy weet my familie is my prioriteit maar dié is een van daai krisisse wat ek nie kan afsmeer nie."
"Ek verstaan my bul maar moenie dink jy gaan skotvry daarvan afkom nie. Jy skuld my groot nê."
"Ek sal met Paul reël om jou te ontmoet en jou te vergesel hospitaal toe. Daarna gaan hy jou neem om 'n motor af te haal vir die paar dae. Koop vir Lawrence ' tydelike simkaart. Sodra hy ontslaan word kan hy sy eie nommer weer terugkry.
Kom ek neem jou lughawe toe. Ek kan kantoor toe daarvandaan."
Janice is bekommerd. Iris het haar gisteraand gebel om haar in te lig van Lawrence se ongeluk maar dat hy nie ernstige beserings opgedoen het nie. Dit is alles goed en wel maar sy sou self met hom wou praat.
Vandag het sy juis weer 'n ondersoek by die ginekoloog. Dit is natuurlik nie nodig nie maar tussen die Van Wyk's en haar ouers sal hulle haar elke dag laat ondersoek as hulle kon.
"Ek moet ook vir Lawrence kry om by Larisa uit te kom. Sy het gisteraand gesê sy is eensaam. Hoekom maak hy nie tyd vir haar nie?"
Paul wag vir Iris op Kaapstad Internasionaal in.  
"Goeie môre mevrou. Hoe was die vlug?"
"Goeie môre Paul. Dit is mos maar 'n kort vlug."
"Meneer van Wyk het gevra dat ek u direk hospitaal toe moet neem."
"Reg so. Ek sal in elk geval niks kan doen as ek nie eers by Lawrence uitgekom het nie."
Oppad daarheen dink Paul miskien sal Iris iets laat val oor hoekom Mnr van Wyk inligting oor Sahara aangevra het.
"Ek hoop Mnr van Wyk kon darem die inligting goed gebruik wat ek vir hom moes kry."
"Paul, dit klink of jy wil uitvis? Sou jy dit gevra het as Bennie by was? Hoekom dink mans vandag nog ons vroue is morone?"
"Jammer mevrou, dit was nie my bedoeling nie."
"Ons albei weet jy lieg nou. Jy is volgens Bennie 'n goeie kontak en privaatspeurder. Na my mening doen 'n privaatspeurder wat hy moet binne die raamwerk van die wet en vra nie vrae nie.
Jammer Paul. Ek is gespanne. Vergewe my. Onder normale omstandighede sou ek nie so opgetree het nie."
Paul glimlag sinies. 
"As die ekonomie beter was het ek julle nou in julle peetjie gestuur", dink hy. 
Hardop sê hy egter, "Nee ek verstaan mevrou."
Lawrence is oppad na die x-strale kamer. Die verpleegsters wat hom neem is nie dieselfde as die twee wat gister na hom omgesien het nie. Dit is seker hul afdag. Hulle gesels oor vriende en hoe belangrik dit is om altyd daar te wees veral na trauma.
Hy het net gisteraand besef dat hy lanklaas met Larisa gepraat het. Om die waarheid te sê, hy het omtrent nooit aan haar gedink nie. Dit was net Sahara. Noudat hy Sahara afgeskryf het besef hy hie selfsugtig hy was. 
Die naweek gaan hy tyd maak vir haar. Watter soort vriend is hy dan? Hy was wel ongemaklik die tyd wat sy gedink het sy was verlief op hom.
"Ek hoop my ouers bring 'n sel vir my."
Die x-strale wys dat sy ribbes net geknees is en dat daar geen inwendige beserings is nie. 
Terwyl hulle hom na sy kamer terugneem hoor hy sy ma se stem in die wagkamer. 
"Aangesien jy dan nie wil saam ingaan nie wil jy nie solank 'n simkaart gaan koop nie."
"Ek maak so mevrou. "
Die stem klink bekend vir Lawrence en hy wonder waar hy dit gehoor het maar net 'n oimblik. Hy gaan sy ouers sien en alhoewel hy hulle net 'n paar dae gelede gesien het is dit nogals vertroostend om te weet hulle is hier.
Hy glimlag. "Ek sal nooit aan hulle erken dat ek, 'n groot man, na my ouers verlang omdat ek in 'n hospitaal lê nie."
Hy hoor sy ma se stem nou hier in die saal. Hy is alleen in 'n kamer in die saal. 
"Suster, dink jy ek het al die pad uit Upington gekom sodat jy vir my kan sê ek moet wag vir besoektyd? As dit jou kind was sou jy wou wag?"
"Ek verstaan mevrou, maar u moet ten minste wag totdat die dokter klaar is met hom."
Die man wat daar staan en na x-strale kyk sê, "Dit is nou ek en u mag maar saam met my stap."
"Baie dankie dokter, is my seun okay?"
"Mevrou, ek beantwoord daai vraag sommer vir julle alby. Kom."
"Lawrence my kind is jy okay?"
Sy storm om hom te wil omhels maar hy hou sy hand op om haar re stop.
"Versigtig Mammie. My ribbes is nogals seer. Waar's my pa?"
"Hy kon nie kom nie. Dokter, is daar fout met die ribbes?"
"Nee mevrou. Dit is net die kneusplekke wat seer is. Niks is gebreek of selfs gekraak nie. Jou seun kan later ontslaan word."
"Dankie tog dokter. Dankie Here, U is so goed vir ons.
Kan hy nou saam met my gaan?"
"Nee mevrou. Ek wil nog 'n finale ondersoek doen. Dan is daar administrasie en pyn medikasie wat by die apteek gekry moet word. Maandae is daar gewoonlik baie pasiente wat by 'n staatshospitaal ontslaan word. Selfs pasiënte wat eintlik by privaathospitale moes wees beland hier.
Dit kan tot drie ure neem om alles af te handel. So hoe gouer u hier uitgaan hoe gouer kan ons begin."
"Dankie dokter. Lawrence dan sien ek jou later. Jy kan dan seker maar wag vir die sel ook omdat jy ontslaan gaan word. Ek het dit hier."
"Sien mammie dan later."
Paul neem haar eers na die maatskappy toe waar sy die motor moet huur. Daarna vergesel hy haar na die gehuurde woonstel wat in Seepunt is omdat omdat dit naby die hospitaal is.
Hy is baie verlig toe sy sê sy sal reg kom verder. As Lawrence hom nou sien kan dit dalk uitkom dat hy Sondag by Sahara was. 
Die middag is Lawrence besig om sy nuwe sel gereed te kry. Sy ma het sommer by 'n winkel van sy netwerk gestop waar hy 'n sim kon kry met sy ou nommer. Gelukkig was die sel wat Paul gekoop het maar net R 5.oo. Glad nie 'n groot verlies nie.
Hy bel eers vir Janice. Sy bevestig dat alles nog goed verloop met die swangerskap.
"Lawrence, wil jy nie asseblief vir Larisa bel nie? Sy klink nie goed nie."
"Dit was my plan Janice. Ek wil kyk om haar die naweek uit te neem."
Gelukkig is tegnologie van so aard dat hy sy hele kontak lys terug het nadat hy ingeteken het met sy e-pos Adres.
Larisa antwoord egter nie. Hy sal maar later weer probeer.
Larisa is nie haarself nie. Sy voel nie om soggens op te staan nie. Gedurende klas kan sy glad nie konsentreer nie. Die dae voel ongelooflik lank. Sy vermy selfs haar vriende hier op kampus.
"Larisa, jy gaan vanaand saam met ons uit."
"Nee Yvonne. Ek is nie lus vir uitgaan nie. Dit is in elk geval Maandag."
"Ek vat nie nee vir 'n antwoord nie. Jy bly in die kamer sit en jy gaan deesdae nêrens."
"Nou waarheen gaan julle?"
"Nie julle nie, ons. Ons gaan nie ver nie. Sommer hier in Cloetesville."
"Solank dit nie lank gaan neem nie. Ek is nie lus vir mense nie."
"Kom jy net. Dit is tyd om aan te beweeg. Anton is nie meer. Buitendien, Richard et 'n ogie op jou."
"Nee! Dit is nig nie eers 'n paar weke nie. Niemand gaan Anton vervang nie."
"Maar jy kan ook nie so eensaam sit nie. Vergeet van Richard. Ek, jy en Candice gaan met my motor. Sy kom nou."
Larisa kry haar gereed maar is baie inwillig. Sy hoor altyd die ander inwonende studente praat van Cloetesville. Miskien sal sy beter voel.
Hulle ry. Dit is maar 'n bedrywige plek selfs op 'n Maandagaand. Hulle stop by 'n huis waar daar baie mense in en uit beweeg.
Larisa wil nie vra nie maar sy hou nie van die plek nie.
"Ons gaan nie lank bly nie né Candice", sê Yvonne. 
"Moet nou nie 'n nat broek wees nie Yvonne. Larisa kort 'n lekker tyd."
"Nee Candice. Ek hou nie van die plek nie."
"Dan gaan ons darem seker net een biertjie geniet. Julle is nie lekker chommies nie."
Candice is van Johannesburg, so dié gewoel skrik haar nie af nie en dit lyk of sy gereeld hierheen kom. 
Yvonne, van Beaufort Wes, is weer iemand wat wil in wees. Sy kan maklik oortuig word kom in die stroom te spring en maar te kyk waar jy uitspoel. Alhoewel sy weet dat die stroom uiteindelik gaan neerstort oor 'n waterval en dat in die val jy geen beheer het oor hoe en waar jy val nie.
"Wat is die plek." Larisa is reeds spyt dat sy saamgekom het. As Anton moes weet waar sy nou sit. Hy het altyd gesê geniet jou sodat jy jouself môre in die oë kan kyk. Sy is nie so seker dat mens jouself in die volgende in die oë kan kyk as jy hier ingaan nie.
Die kreature wat hier in en uit beweeg lyk obskuur. Definitief nie mense wat jy in jou kring behoort toe te laat nie.
Larisa wil nie uitklim nie maar besef dat sy ook nie alleen hier buite in die kar wil sit nie.
"As ek maar net in my kamer gebly het."
Min het sy geweet dat haar besluite dié aand 'n groot invloed op haar toekoms gaan hê. Vlug Larisa, terwyl jy nog kan.
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 28 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 28 - Rooi Mier

Sahara het nog nie afgekoel nie. Verdomde man. Indien Lawrence nooit weer vir haar wil sien nie sal dit sy skuld wees.
"Ek sal hom seker maar moet bel om te verduidelik. Hy moet nou nie hardkoppig wees en nie wil antwoord nie. Ek sal nooit die seer in sy oë kan vergeet nie."
Sahara skakel sy nommer. Gelukkig het sy dit gestoor toe hy gebel het. 
Hy antwoord nie. "Ek sal maar later weer probeer."
John en Martin is oppad huistoe.
"Dit was nou 'n lieflike middag nê. Net jammer om van Jolene te hoor. Ek kry Elton so jammer."
"Ja John. Dit moet nie lekker wees nie. Ek weet nie hoe dit moet wees nie. Ten minste het ons nie vooraf geweet ons vroue gaan sterf nie."
"Martin ons sal hom maar net moet ondersteun. Nou hoekom is ons so swartgallig? God het mos die laaste sê of hoe?"
"Ja jy het my mos geleer om nooit tou op te gooi nie. Weet jy ek sal nooit ons tyd saam onder die brug vir enigiets wil verruil nie."
"Dit was moeilik Martin maar daar het ek menslikheid geleer."
"Ek sien jy is gereed om aan te beweeg John my vriend." Martin gee 'n stout laggie.
"Wat bedoel jy?"
"Een woord, Linda!"
John glimlag skaam. "Dink jy nie dit is te vroeg nie my vriend."
"Nee man John. Hoe kan dit te vroeg wees? Ons was vir drie jaar onder die brug en dit is nou nog twee jaar later. God het jou vergewe, jy het jouself vergewe."
"Lekker gesê né maar jý beweeg nie aan nie."
"Hoe weet jy. Miskien is daar iemand." Martin glimlag weer.
John kyk hom aan. "Hier dink ek ons weet alles van mekaar af en nou moet ek hoor jy vry skelm."
"Hokaai my vriend. Darem nog nie daar nie."
"Gepraat van geheime, ek het jou nog nie vertel van my broer nie. Dit was skokkend wat ek alles van hom gehoor het. Dan is daar nog iets wat ek moet ondersoek ook. Jou gebede sal waardeer word."
"Ons is amper tuis. Jy kan my oor 'n koppie koffie vertel."
Bennie van Wyk skakel Paul se nommer.
"Paul?"
"Goeie middag Meneer van Wyk."
"Weet die man nie dit is Sondagaand nie. Dit is my afdag. As ek nie die geld nodig gehad het nie sou ek nie nou geantwoord het nie.
Sy verdomde seun het ook nou nog veroorsaak dat Sahara kwaad is vir my. Hoekom gaan mors hy nie met sy petiers nie. Blerrie nat agter die ore voorbarige snotkop," dink Paul.
"My seun was vanmiddag in 'n ongeluk. Hy is opgeneem in Somerset Hospitaal."
"Jammer om te hoor Meneer. Hoe gaan dit met hom?"
"Niks ernstigs nie Paul. Hulle gaan net môre x-strale neem om seker te maak daar is nie gebreekte ribbes nie.
Ek het gebel om te vra of jy nie môre vir hom 'n selfoon kan gaan koop nie. Syne het weggeraak op die ongelukstoneel. Ek is môre in die Kaap dan sal ek dit by jou kry."
"Maak so meneer."
"Sien jou dan môre Paul."
Paul wonder wat die verband tussen hom en Sahara is en hoekom wil sy seun 'n verhouding met Sahara Muller hê.
Ten minste sal Sahara hom nie vanaand kan bel nie en sy weet seker ook nie dat hy in 'n ongeluk was nie.
"Hoekom is Lawrence deesdae so stil? Hy het my nog nie een keer die naweek gebel nie en dit is nou al Sondagmiddag. Ek verlang so baie na hom."
Janice het nog nie opgegee op Lawrence nie. Sy is lankal nie meer kwaad oor daardie aand nie. Die feit dat hy nie meer elke dag bel nie beteken nie hy is minder bekommerd oor hulle nie. Hy is seker maar net besig.  Larisa sê ook dat hy skaars is. 
Sy sien flitse van hulle met die bulletjie en 'n dogtertjie. So opgewonde sy is oor die geboorte van hul bulletjie is so banger raak sy oor die naderende onbekende dag. 
Lawrence raak wakker. Die pynstillers het hom uitgeskop. Alles lyk bietjie vreemd tot dat besef hy lê in 'n hospitaal.
"Het die Here my lewe vir 'n derde keer gered? Ek sal seker nooit weet nie maar as dit U is wil ek net baie dankie sê."
"Sahara, Sahara. Dit was altyd lekker om daai naam te noem. Nou voel ek net diep seer. Niemand het my nog ooit so teleurgestel soos sy nie. As daai Paul karakter nie opgedaag het nie sou ek soos die grootste dwaas voorgekom het. Hoekom het sy nie net vir my op die telefoon gesê sy sien die middag iemand nie. Dalk was dit haar plan om my te wys ek is nog 'n seuntjie teen haar.
Ek is finaal klaar met haar. Paul moet haar maar gelukkig maak."
Hy begin doelbewus sy gedagtes in 'n ander rigting te stuur. 
"Ek het vir Janice en my bulletjie gruwelik afgeskeep die laaste tyd. Laat ek haar sommer nou bel."
Dit val hom by dat hy sy sel verloor het.
"Verpleegster, kan ek miskien jou sel leen om my foon en sim te blok?"
"Met plesier en my naam is Aida. Ek bring dit later, enigiets vir jou."
Lawrence maak of hy nie die laaste deel gehoor het nie. Noudat hy so daaraan dink sal Janice nogal nie 'n onaardige bruid wees nie. Hy klap homself teen die kop. Hy probeer baie hard om die beeld by die naam te kry maar die beeld bly Sahara.
Skielik verlang hy vir Anton. Hy sou nou vir hom gesê het.
"L, sien mos nou Sahara het aanbeweeg. Janice is mos ook 'n baie mooi girl en die ma van jou seun."
Larisa en hulle twee kom nou dertien jaar saam aan. Hulle is, of liewer was, van hul eerste skooldag al saam. In die dertien jaar het hulle die beste van vriende geword. 
"Ek mis vir Anton."
Wilmien le Fleur is besig om Anton se kaste uit te pak. Sy moes haar geestelik voorberei. Hy het nog sy hele lewe voor hom gehad.
"My seuntjie, jy het my hopeloos te gou verlaat."
Sy onthou nog sy eerste dag van skool. Hy het hom so braaf gehou. 
"Mammie en Pappie, ek is mos al 'n groot seun nê. Ek gaan nie soos die ander kinders huil nie."
Hy het baie braaf voorgekom maar sy het geweet dat hy eintlik vreesbevange was. Sy kon voel hoe sy klein handjie hare styf vashou waar hy hand aan hand met haar en James geloop het. Hy was so trots om sy Franciscus Primêr skooldrag aan te trek daardie oggend. Dit was vir haar so moeilik om daardie dag sy hand te los om sy eerste treë te gee in die vreemde uitdagende wêreld wat hy betree het.
"Mammie moet my nie soen voor die ander kinders nie. Hulle gaan dink ek is 'n baba. Ek is mos groot nê Pappie."
Sy vind 'n fotoalbum. Daar pryk hy in sy eerste skooluniform. Daardie middag kon hul ouers hulle vir die laaste in die klas gaan haal. Sy was so hartseer want hy het al aanbeweeg.
"Ek kom nou Mammie. Hier is my nuwe vriende, Lawrence en Larisa. Ons het besluit om vir ewig vriende te wees. Sien julle môre my maatjies."
James weet sy vrou is besig om Anton se goed op te pak. Hy weet sy wil alleen wees met haar herinneringe. So hier sit hy alleen en haar pakkery het hom ook nou laat dink.
Hy sien hoe Anton kraai van die plesier toe hy sy eerste trap op sy driewiel neem. Hy moes net keer want Anton  het hom verbeel hy is op 'n regte fiets en wou net straat toe. 
Net nou die dag nog het hy sy leerlingbestuurslisensie gekry. 
"Ek het hom sy eerste les gegee. My senuwees was gedaan."
James huil nie maklik nie maar hy is alleen. Niemand sal sy trane sien nie. 
"Hoekom Here? Miskien moes ons hom nie Kaap toe laat gaan het nie."
Larisa sit in haar kamer en staar na Anton se foto op haar kassie. Sy voel deesdae so eensaam. Gedagtes uit die verlede is al wat haar besig hou.
Sy hoor hom. Haar eie Anton le Fleur, "Ek het jou lief my hartedief".
"Larisa, jy is my eerste liefde. Larisa, jy is my laaste liefde. Ja, ek is nog jonk en die lewe lê voor my, maar ek ken hierdie hart van my. Elke klop spel 'n letter van jou naam uit. My asemteue fluister onhoorbaar jou naam, Larisa.
Ek sien jou in elke blomtuin. Die wind dra die fluistering van jou stem wanneer ek ver van jou af is. Jy weet ek is nie die diepgelowige nie maar ek sien hoe God jou vorm, sel vir sel met my in gedagte."
"Ek weet jy is nog nie reg nie. Hoe sal ek jou kan versorg? Dit wil ek jou egter belowe, hierdie was maar hoofstuk 1 van my liefdesverklaring. Met jou gaan ek 'n oneindige verhaal skryf."
Hul oneindige verhaal het so vroeg geëindig. Hy is vir ewig weg. Larisa se trane begin weer te vloei. Daar is geen geluid nie, net trane wat van nêrens af begin vloei.
"Anton, hoekom moes jy my verlaat? Dink jy nie ook dit was hopeloos te vroeg nie?
Ek is so eensaam my lief, so, so baie eensaam."
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...