#Stukkendeharte S2 Hfst 01 - Rooi Mier
Shane Cupido sit in sy woonstel en kyk uit oor die Kaapse hawe. Hy is die afgelope tyd baie eensaam. Dit is net werk toe en huis toe. Daar is niks oor om na uit te sien nie behalwe wanneer hy sy kinders vir die naweek kan hê. Dit is ook nie so gereeld nie want hy moet sommige naweke werk. Dit is nou al twee jaar sedert hy 'n geskeide man geword het. Die ergste van alles is dat hy nog baie lief is vir sy vrou. Sy liefde vir sy werk het hom sy huwelik gekos. Daar is niks vir hom so lekker as om 'n geharde krimineel vas te trek nie. Dít laat sy tone behoorlik omkrul van lekkerte.
Max was die laaste gedugte teenstaander. Hy herleef soms die tango in Meiringspoort en voel nog die adrenalien met die arrestasie van Max in die strate van Upington. As hy eerlik met homself moet wees verlang hy na aksie. Wanneer kry hy sy volgende Max? Hy is moeg vir die kamma dwelmhandelaar base. Vir hulle gaan dit basies oor weelde en dit is juis dit wat maak dat hulle maklik is om te vang. Jy volg net die geld.
Gewoonlik word hulle vinnig gevang met hul informante in die polisiemag. Soms raak hul lêers weg maar hulle word uiteindelik weer gevang. Dié tipe sake laat hom nie voel om te dans nie. Hy het glad met sy vakansie deur Meiringspoort gaan ry net om weer die tango te sien; nee, voel afspeel. Hy het dit in elke sel van sy liggaam gevoel.
Nou sit Max in die tronk vir twee lewenslange vonnisse vir moord plus twintig jaar vir mensehandel. Hy kon egter nie skuldig bevind word aan die moord op sy eie dogter Candice nie. Shane het lank probeer om bewyse te kry maar dit het elke keer op niks uitgeloop. Die persoon wat Candice vermoor het in die tronk, met ander woorde die opdrag uitgevoer het, is ook vermoor.
Hy tel die lêer op wat hyself opgestel het uit koerant berigte oor die Max saak en blaai daardeur. Sy gebed is dat sy seun ook eendag 'n speurder gaan word. Hy wil dan dié lêer as inspirasie aan hom oorhandig.
Sahara kyk by haar kantoorvenster uit oor dieselfde hawe. In die verte is Robben Eiland. Sy verlang vandag na haar pa en haar nuwe ma, Iris. Dié twee mense het diep in haar hart gekruip. Sy noem hulle nou pa en ma Iris. Dan is daar nog die tweeling. Hulle is nou al amper vier.
Lanice weet net hoe om haar tannie om haar pinkie te draai. Sahara se hart smelt sommer as sy met die onskuldige groenbruin oë na haar loer. Dan is daar Lorenzo, bietjie mollig maar glad nie op sy mond geval nie. Hy herinner haar vinnig dat hy nog nie kans gehad het om op haar skoot te sit nie want dit is net altyd Lanice. Binne 'n minuut of twee sal hy weer afklim om met sy karretjies te gaan ry.
Die oupas en oumas bederf hulle egter in die afgrond. As hul mammie of pappie met hulle raas hardloop hulle vinnig na hul grootouers waar hulle wegkom met 'n,
"Jy moet mos nie stout wees nie."
Lawrence kan omtrent slange vang wanneer dit gebeur. Sy eie pa Bennie, sou nooit dat hy wegkom met kattekwaad wat straf verdien nie. Die hoekie van eensaamheid was baie vinnig sy voorland. Soms was daar selfs 'n rapsie op sy boudjies.
Janice Daries werk as datatikster by Martin Adriaanse se maatskappy in Upingtonse tak. Sy kan nie wag vir middagete nie. Larry het gevra of hy iets kan bring om te eet. Sy weet dat dit vrugte en sap is want dit is al wat sy eintlik deur die dag eet na ontbyt. Dit was 'n gewoonte wat sy aangeleer het na die geboorte van die tweeling.
Dit is dus nie die maaltyd wat haar opgewonde maak nie; eerder die geselskap. Sy kan onthou toe sy hom die eerste keer buite 'n winkel gesien het toe sy nog swanger was. Sedertdien was hy konstant in haar gedagtes. Sy het haarself probeer oortuig dat daar niks is nie, dat niemand Lawrence kan vervang nie. Daarom was dit 'n skok vir haar toe sy nee sê toe Lawrence haar vra om te trou. Sy sal nooit die uitdrukking op sy gesig vergeet nie.
Hulle was die dag op die Arkie en sy het die gevoel gehad dat dit die dag was waarop hy weer sou vra om te trou. Die eerste keer het sy mos in kraam gegaan. Die tweeling was so drie maande oud toe hy vir 'n naweek kom kuier het uit die Kaap.
Daardie middag het Janice se ouers by Lawrence se ouers gaan kuier. Hulle het eintlik voorgestel dat Lawrence en Janice bietjie tyd moes neem vir hulself en die tweeling by hulle agterlaat.
Dit was 'n heerlike middag en Janice was opgewonde want sy het vermoed dat die groot vraag sou kom en sy was maar te gretig om ja te kan sê. Die beste tyd op die Arkie het aangebreek, sonsondergang en sy het geweet dat die tyd aangebreek het. Lawrence het uiteindelik dié romantiese oomblik aangegryp en haar na die westekant van die Arkie geneem om die beste sonsondergang te beleef.
Lawrence het op sy knieë gegaan voor haar in sy sak gekrap en die ring uitgehaal.
"Janice, moeder van my kinders en liefde van my hart, wil jy nie met my trou nie?"
Sy onthou hoe haar hart wild geklop het want sy kon uiteindelik Mevrou Van Wyk word. Janice kan onthou hoe sy rondgekyk het wie almal sien want sy wou die hele wêreld as getuie hê. Die man aan die oorkant het omgedraai toe hy Lawrence hoor vra.
Janice het skielik verstar.
"Janice, ek weet jy is uit die veld geslaan maar ek wag op jou antwoord. Trou met my."
Almal het stil geword en was in afwagting. Iemand het begin sê,
"Trou met hom. Trou met hom."
Dit raak 'n dreunsang.
"Trou met hom, trou met hom, trou met hom."
Lawrence het die ring uitgehaal en haar linkerhand geneem.
Haar oë was nog steeds vasgenael op die man aan die oorkant wat haar nou stip aangekyk het.
"Nee Lawrence."
'n Stilte het skielik neergesak.
"Nee, ek kan nie met jou trou nie."
Daar het 'n stilte geheers wat ongemaklik geword het.
"Wat bedoel jy Janice?"
"Ek kan nie met jou trou nie Lawrence; ek is nie lief vir jou nie."
Lawrence het verslae opgestaan en in die rigting gekyk waar sy gestaar het. Hy het die ring geneem en oor die man se kop gegooi in die water.
Dit het maande gevat voor Lawrence weer direk met haar gepraat het. Hy sou gewoonlik haar ma bel om te hoor hoe dit gaan met die tweeling en of hulle iets nodig het. Dan sou sy die twee op video wys totdat sy een dag besluit het om nie meer sy video oproepe te neem nie. Lawrence was verplig om Janice te bel.
Dit is 19:00 en Shane skuif voor die TV in om die aandnuus te kyk. Hy het die middag bietjie gaan stap teen Leeukop. Die natuur maak hom gewoonlik rustig. As hy in die natuur is vergeet hy van misdadigers. Nou is hy egter uitgeput.
Hy het 'n pizza bestel en vinnig gestort toe hy tuiskom. Nou gaan hy voor die TV eet.
"Goeie naand. Hier is die nuus om sewe.
Eskom het vandag aangekondig dat fase 6 beurtkrag vanaf 20:00 vanaand ingestel gaan word. Elf eenhede het vandag onklaar geraak en dit gaan Eskom 'n paar dae neem om herstelwerk te voltooi. Fase 6 beurtkrag beteken dat gebiede tot vier ure op 'n slag sonder krag kan wees en tot twaalf ure per dag.
Eskom vra dat die gebruikers geduldig moet wees. Hulle werk 24 uur per dag aan herstelwerk."
Shane staan op om sy gordyne toe te trek maar vries in 'n gebukkende stand.
"Die moordenaar en dwelmbaas, Max Adriaanse alias Meneer M, het vanoggend 'n aansoek om appél ingedien. Hy voer aan dat sy verhoor nie regverdig was nie en ook dat hulle nie sy mediese toestand in ag geneem het met sy vonnisoplegging nie.
Hy maak gebruik van die beste regshulp in die land en glo dat sy appél gaan slaag."
Shane sak stadig terug op die rusbank.
"Wat probeer die man nou doen? Hy weet tog dat sy appél nooit gaan slaag nie."
Max sit in sy sel en kyk na die nuus. Sy enkel sel is toegerus met 'n ketel, koffiebeker, mikrogolfoond en dan sy plasma TV. Hy is heel gerieflik en die meeste bewaarders dans op die deuntjie wat hy speel.
Max glimlag met genoegdoening.
"Rachel, Martin, G en Shane, slaap met een oog oop terwyl julle kan. Ek is oppad."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking