Woensdag 26 Julie 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 09 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 09 - Rooi Mier


"Larry, wil jy nie later 'n draai kom maak nie, asseblief."
Larry luister na die whatsapp boodskap en sy hart bokspring. Hy was seker dat Janice nooit weer van haar sal laat hoor nie. Sy sal tog nie vir hom 'n boodskap stuur om net te sê dit is oor nie.
"Gewone tyd, gewone plek of vanaand?"
"Kanselleer dit eerder Larry, ek is nie reg vanaand nie."
Larry se hart sak tot in sy skoene. So sy wil my sê dit is klaar tussen ons maar nou het sy nie die moed nie. 
"Ek sal haar die moeite spaar."
Hy begin om vir haar 'n boodskap op te neem toe hy sien sy is besig om een te skryf.
"So, dit is makliker vir haar om dit te skryf as om dit te sê. Laat ek maar wag dan sal ek net antwoord."
Die boodskap kom deur en hy lees dit.
"Die rede hoekom ek sê jy kan nie vanaand kom nie is omdat jy nie vanaand 'n valentynspresent sal hê nie. Sien jou môreaand en kry tog asseblief iewers 'n motor."
Larry is so opgewonde hy tik net dankie en begin dadelik te google. Hopelik is daar nog plek by daai restaurant wat spesiale valentynsetes aanbied. Hy onthou dan dat hy nooit sy oorspronklike bespreking gekanselleer het nie.
Nou moet hy nog net 'n motor huur. Daar is gelukkig nog een Mercedes beskikbaar vir Valentynsdag. Hy kan dit eers 14:00  op Valentynsdag kry. Dit pas hom. Hy is nie een vir uithang nie maar terwille van Janice sal hy darem iets ordentliks moet gaan koop om aan te trek.

Max maak hom gereed om na sy verhoor te vertrek by die Kaapstadse Hooggeregshof. Vandag is die dag. Dit is die eerste keer in 'n lang tyd dat hy skoenlappers in die maag voel. Hy is werklik opgewonde.

Rachel is uitgeput. Sy het 'n besige naweek gehad. Sy is geestelik en liggaamlik uitgeput. Sy het eindelik gisteraand, dit is nou Sondagaand, vir Martin vertel wat sy in Saldanha kom doen het. 
Hy wou natuurlik met alle mag onmiddelik deurkom maar sy het hom gestop. Sy wil net vir so twee dae rus.
Sy skakel vir Shane. Hy het gister vir Selwyn Rooi kom haal hier in Saldanha. Vandag gaan Selwyn, as die hof dit gaan toelaat, 'n erkentenis by die polisiestasie gaan indien dat hy, Max en Willem destyds saam betrokke was by diamandsmokkelary en  ook 'n klag indien teen Max van moord op iemand wat hulle destyds wou dwarsboom. Max het persoonlik die sneller getrek asook vir hom, Selwyn met die dood gedreig as hy enigsins in die vorige verhoor sou getuig. As hulle hul kaarte regspeel kan Max sommer onmiddelik weer gearresteer word na die hofsaak. 

Shane hoop regtig dat alles goed gaan afloop. Hulle gaan juis die klag lê by 'n polisiestasie naby die hof sodat die polisie onmiddelik kan reageer nadat die klag gelê is. Max se hoop moet sommer onmiddelik gesmoor word indien hy enige hoop sou hê dat sy appél sou slaag. 

Selwyn is senuweeagtig. 
"Wat gebeur as iets skeefloop? Ek is nie meer so seker dat dié plan van Shane gaan werk nie. As dit skeefloop is hy nog meer in die spervuur.
Wat is die alternatief? 'n Lewe van heeltyd oor jou skouer kyk? Al sou ek nie help om dié plan deur te voer nie sal ek tog nooit vry wees solank Max lewe nie.
Miskien moet ek Max laat doodmaak?"
Hy besluit egter onmiddelik daarteen. Dit is hoekom hy destyds hom moes uitkoop uit die diamandsindikaat. Moord is nie in sy dna nie. Miskien sal hy eendag dalk uit selfverdediging iemand moet doodmaak maar hy hoop dat dit nooit nodig sal wees nie.

"Goeie môre Antie Jenny. Hoe gaan dit? Ek sien jy soek my."
"Goeie môre Sahara. Ek is gesond. Waar in die wêreld bevind jy jou? Ek het nou net hier in Upington aangekom."
"Wat maak jy daar? As jy my vooraf gewaarsku het sou ek jou kon vertel dat ek nie daar is nie."
"Wel, ek is nou hier. Daar is iets wat ek dringend hier moet kom doen. Mag ek maar by jou huis tuisgaan?"
"Wat makeer jy Antie? Jy weet mos jy kan enige tyd daar kom bly. Kry die sleutels by Antie Sandra langsaan."
"Jy het my nog nie geantwoord nie, waar is jy?"
Ek sal Antie sê slegs as jy niemand sê waar ek is nie."
"Ek belowe."
"Dit was darem vinnig. Onthou vir niemand nie asseblief, nie eers my pa nie. Ek is in Saldanha. Antie, ek het inspirasie nodig."
"Geniet dit dan maar en raak geïnspireerd. Totsiens."

Max klim agter in die trok waarin gevangenis wat hof toe moet gaan gewoonlik ry. Sy hande is geboei en daar is 'n ketting aan sy bene. Hy lyk baie vrolik vir iemand wat nog in die hof moet verskyn.

"So jy lê 'n klag van diamandsmokkelary en moord teen Max Adriaanse, dié Max ook bekend as Meneer M? 
Weet jy hoe gevaarlik die man is?"
"Niemand ken hom beter as ek nie Sersant en ja, ek lê die klagtes teen hom."
"Het jy mooi dié saak oordink Meneer Rooi? Is u seker? Jy is besig om jouself in die voet te skiet."
"Sersant, doen jy net jou werk. Die meneer is besig om 'n klag te lê en jy is veronderstel om die klag af te neem. 
Meneer Rooi, ek is Stanton Fillis, jou prokureur. Jammer dat ek bietjie laat is. Ek verstaan jy was reeds ingelig oor wat jy moet sê?"
"Ja Meneer Fillis, die speurder het my alles gesê wat van u af kom."
"Sersant, ek is dan hier om Meneer Rooi te verteenwoordig. My kliënt sal nie hier by 'n toonbank waar die publiek is en alles hoor sy verklaring aflê nie. Kry vir ons 'n kantoor of kamer."

Max glimlag. 
"Julle is darem bang vir my bewaardertjie. Jy sit hier vasgevang met my agter in 'n voertuig en ek kan sien hoe senuweeagtig jy is. 
Dan is julle eskortvoertuie darem baie; dink julle vier is genoeg?"
Hy grinnik. 
"Moenie bekommerd wees nie, ek sal soet wees vir so lank ek kan. My vryheid lê en wag vir my."
Max knipoog vir die bewaarder wat senuweeagtig rond kyk asof hy iets verwag. 
Die bewaarder gee 'n kopknik terwyl hulle onder deur 'n brug ry.
Skielik bars die hel los. Daar is 'n harde slag en skreeuende bande, gevolg deur wat klink soos 'n botsing.
©Rooi Mier 17.01.2023

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...