#Stukkendeharte S2 Hfst 05 - Rooi Mier
Max is opgewonde. Hy het vandag gehoor dat sy aansoek om appél so spoedig moontlik op die hofrol geplaas gaan word. Dit beteken hy kan nou al sy planne in werking begin stel. Hy sal al sy kontakte moet begin kry want as alles goedafloop is hy binnekort weer op vrye voet. Sy regsverteenwoordiger is egter baie pessimisties. Hy glo nie Max se appêl gaan slaag nie maar Max steur hom glad nie daaraan nie. Hy was nog altyd iemand wat gewaag het en gewen het; behalwe vir die keer dat Shane hom gearresteer het. Daarvoor moet hy boet.Hy haal sy onwettige selfoon uit. Die bewaarder draai sy rug asof hy nie gesien het nie en stap weg.
Nadat hy klaar almal gekontak het wat hy moes, bestel hy vir hom en sy handlangers in die sel en vir die bewaarders aan diens in maksimum pizza en Coke vir middagete.
Hy is in 'n goeie bui.
Daardie middag stap Mavis alleen af begrafplaas toe. Sy gaan eers staan by twee grafte wat langs mekaar is met die pragtigste grafstene. Soos met plattelandse tradisie tel sy twee klippies op en plaas een op elke graf.
"Sally my kind. Die meeste mense het my geken as Mavis die skinderbek maar jy het my altyd met soveel respek behandel. Ek weet dat jy my sou aanvaar het as jou pa se nuwe liefde.
Sarie, ons was al die jare vriendinne. Ek was eers kwaad vir jou omdat jy met soveel seer rondgeloop het maar dit nie met my gedeel het nie. Ja, ek weet, selfs as vriendin kon jy nie vertrou dat ek 'n wag voor my mond sou hê nie."
Sy glimlag effens.
"Wel ek sou myself ook nie vertrou het nie. Dit was egter net 'n fasade my vriendin, om my eie seer diep te probeer wegbêre in 'n kluis van ontkenning. Ek is egter nie meer kwaad vir jou nie want ek het dieselfde gedoen.
Ek sal vir Steven mooi oppas Sarie. Jy hoef jou nie verder oor hom te kwel nie."
Mavis bars skielik uit van die lag.
"Jy het altyd gesê mense wat met die dooies praat is koekoes. Laat my toe om vandag koekoes te wees."
Sy stap verder aan tot by 'n ou graf wat onversorgd is.
"Vir jou het ek nie veel te sê nie ma, behalwe dat ek opgehou het om jou te haat. Vandat ek dit gedoen het is die bitterheid weg en ek voel ook meer gesond.
Ek wens net jy het vir my gesê aan wie het jy my sustertjie as baba afgesmeer? Nou lê jy daar, net stemlose beendere. Jou eindelose beledigings en afkrakery het met jou tong weggevrot.
Jy het jou houvas op my verloor want ek haat jou nie eers meer nie."
Sy tel 'n klippie op en plaas dit op die graf. Sonder omkyk stap sy weg.
Sy voel soos daai ligte warrelwindjie wat dansend oor die begrafplaas draai en stof na die hemel op neem.
Stof tot stof.
Shane is teleurgesteld dat Max se appélsaak so vinnig op die hofrol geplaas is. Hy vermoed daar is omkopery betrokke maar dit gaan moeilik wees om te bewys. Hy kan egter nie sien hoe Max se appél gaan slaag nie. Wat voer die man in die mou?
Hy kyk op sy horlosie en dink dat hy sal moet wikkel. Hy verlang sy kinders en omdat dit 'n weeksdag is moes hy toestemming by die ma kry om hulle te sien sodra hul tuiswerk afgehandel is. Hulle kan burgers gaan eet vir aandete en die ma het nie 'n probleem daarmee nie. Stellenbosch is ver uit die stad so as hy nou ry behoort hulle klaar te wees as hy daar opdaag.
Martin het nuus ontvang en hy weet nie hoe hy dit moet hanteer nie. Sy reaksie een van ongeloof. Dit kan mos glad nie wees nie. Daar moet 'n fout wees; 'n baie groot fout.
Max het sekerlik iets te doen met wat in dié dokument staan.
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking