#Stukkendeharte S2 Hfst 06 - Rooi Mier
Sahara loop langs die see in Saldanha. Dit is haar eerste keer hier en sy hou van die dorp. In haar soeke na rustigheid is dit presies waar sy wil wees. As enige plek weer vir haar aan die skryf kan kry dan moet dit hier wees.
Dit is nou al meer as vier jaar maar sy vind soms dat sy nog steeds aan Lawrence dink op 'n romantiese wyse. Daar was tye wat dit gelyk het of sy dit aanvaar, dan kom daar weer tye waar sy met die tweeling sit en wens dat sy ma was. Hierdie hele saak het haar geestelikheid afgebreek.
Op die ouderdom van 27 het sy haarself vir die eerste keer aan 'n man oorgegee in 'n poging om aan te wil beweeg. Dit het egter nie gewerk nie. Die persoon wat die seerste gekry het is Paul. Sy het hom misbruik om net daarna te sê dat sy hulle nie sien as meer as net vriende nie.
Selwyn is ook op die strand maar hy is vermom. Hy dra 'n hoedjie wat 'n floppie genoem word met 'n paar duur sonbrille. Sy hare is heeltemaal af. Onder sy groot hemp kan mens 'n knop sien as jy mooi kyk. Daar word definitief iets weggesteek.
Die vorige aand was daar iets op die nuus oor Max wie se appélsaak op die hofrol geplaas is. Op daardie oomblik het hy meteens onthou waar hy dié vrou wat sy huis dophou gesien het. Dit is Max se vrou, Rachel.
Wat soek sy hier? Hy weet dat sy teen Max getuig het. Is sy verlede met Max besig om hom in te haal? Het Max haar gestuur? Dit is heel moontlik want hy het al bewys dat diegene wat teen hom is maklik oorreed kan word om aan sy kant te wees.
'n Pragtige jong vrou stap verby hom. Selwyn voel dit sal 'n sonde wees om haar nie agterna te staar nie. Hy is nou al amper tien jaar 'n wewenaar. Sy vrou was doodgeskiet in kruisvuur. Hy was die teiken. Na dit het hy nooit emosioneel by vroue betrokke geraak nie. So dan en wan sal hy 'n aand met iemand spandeer maar niemand sal ooit sy vrou se plek kan volstaan nie.
Terwyl hy die jong vrou met die oë volg sien hy dat sy meteens vassteek en na 'n vrou staar wat so 'n endjie van haar af onder 'n sonsambreel op 'n stoeltjie sit.
"Ag nee man. Moenie vir my sê dié pragstuk is lesbies nie. Hoekom anders staar sy so na 'n ander vrou?"
Sy staar nie net nie maar stap na die vrou toe onder die sambreel.
"Antie Rachel, wat maak jy hier? Is Meneer Adriaanse ook hier?"
Sahara het nog altyd gedink hulle twee hoort saam en dat daar iets tussen hulle is.
"My wêreld Sahara, wat maak jý hier? Is jy met vakansie?"
"Ja antie, ek het besluit om bietjie weg te kom uit die stad. Ek moes net 'n bietjie wegkom."
"Kom later oor na my plek toe dan kan ons aandete geniet."
"Antie kan my die adres stuur asseblief. Wat 'n toeval!"
"Kind belowe my net dat jy nie vir Martin gaan sê dat ek hier is as hy sou bel nie."
"Ek maak so antie; niemand dra kennis dat ek hier is nie. Dié vakansie wou ek heeltemaal wegkom nou is antie hier."
Sy glimlag en stap weg van Rachel af.
Selwyn is in skok. So Max se vrou en dié jong vrou ken mekaar? Dit beteken dat sy dalk nie toevallig verby hom geloop het maar voorgegee het dat sy hom glad nie ken nie.
Daar waar sy nou wegstap van Mevrou Adriaanse af kyk sy in sy rigting.
"Het sy nou gerapporteer van my teenwoordigheid op die strand? Ek het dan gedink my vermomming werk goed."
Selwyn stap na sy motor toe wat op die parkeergebied staan. Hy het genoeg gehad vir die dag.
"Ek het lanklaas vir Sahara gesien. Dit sal goed wees om haar te verras vandag. Pa raas altyd met ons omdat hy voel dat ons meer moeite moet doen as broer en suster."
Lawrence trek op in die parkeerarea waar Sahara werk.
"Dit sal regtig goed wees om my sus te sien. Ek verlang my familie."
Hy maak gereeld video oproepe om met die tweeling te praat maar dit is nie genoeg nie. Sy universiteitsvriende is rowwe mense wat hou van partytjies en dit beteken gewoonlik drank en heel dikwels dwelms ook. Hy het homself belowe dat hy nie daai pad gaan loop nie. Dit maak dat hy soms maar alleen is, veral naweke.
Die ontvangsdame ken hom. Sy sal graag wil hê hy moet haar raaksien maar al wat sy regkry is 'n vriendelike groet.
"Goeie middag Meneer van Wyk."
"Asseblief, nie meneer nie; noem my Lawrenc."
"Ek moet altyd professioneel optree so ek sal maar hou by meneer, behalwe as ons dalk vir 'n koffie uit is."
Lawrence ignoreer haar.
"Is Sahara in?"
"Praat julle dan nie Meneer?"
"Wat bedoel jy?"
"Sy is met verlof vir twee weke."
"O dankie. Ek gaan haar dan maar bel. Totsiens!"
Hy stap uit verwonderd na sy motor.
"Dit is snaaks dat Sahara niks gesê het nie. Hy weet sy is nie in Upington nie want sy ma sou hom vanoggend gesê het. Dan beteken dit dat sy in haar woonstel sit of op die strand oorkant haar woonplek is."
In sy motor bel hy haar.
Sy antwoord nie. Hy ry maar Seepunt toe en hoop om haar in haar woonstel te kry.
"Meneer, Sahara Muller is weg vir twee weke. Jy is mos haar broer né?"
Die opsigter lyk verbaas omdat hy nie weet nie.
"Dankie meneer."
Lawrence is nou bekommerd. "Sahara is 'n baie verantwoordelike mens. Hoekom het sy nie laat weet waarheen sy gaan nie?"
Hy bel sy ma.
"Mammie, het u hulle dalk met Sahara gepraat?"
"Nee boeta. Is daar fout?"
"Sy is glo met verlof vir twee weke. Gewoonlik gaan sy Upington toe as sy met verlof is. Sy antwoord ook nie haar foon nie."
"Boeta, ons het nog nie rede om bekommerd te wees nie. Sy is 'n volwassene. Kom ons wag totdat sy terug bel."
"Maak so Mammie."
Lawrence kan nie help om bekommerd te wees nie. Hy bel nog 'n paar keer maar daar is geen antwoord nie.
Martin wens Rachel wil nou haar foon antwoord. Hy het haar raad nodig oor hoe om die inligting wat hy verkry het te hanteer.
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking