#Stukkendeharte S2 Hfst 03 - Rooi Mier
Vandat John en sy vrou Upington toe verhuis het is die huis maar stil met net hom en Rachel hier. Vanoggend is hy weereens alleen aan die kombuistafel waar hy ontbyt eet. Hy laat Rachel slaap omdat hy dink sy het dit nodig na gisteraand se nuus.
Vanoggend na sy vergadering by die werk, gaan hy Gordonia Hospitaal in Upington skakel om te kyk of hy iemand kan kry wat in die argiewe werk. As dit nie anders kan nie sal hy maar in die week nog Upington toe vlieg, dan kan hy sommer by die tak daar inloer.
Hy kry sy baadjie en tas toe hy die brief op die vloer opmerk by die deur. Hy tel dit op. Dit is geadresseer aan hom.
"Liewe Martin. Jammer dat ek jou deur middel van 'n briefie in kennis moet stel dat ek weg is. Daar is iets wat ek dringend moet gaan afhandel. Weet net dat ek uit die stad is.
Rachel."
Martin skakel haar onmiddelik. Sy antwoord.
"En nou Rachel? Wat gaan aan?"
"Môre Martin. Ek gaan vir 'n tydjie weg wees, ek weet nie vir hoe lank nie."
"Is dit oor wat ek gisteraand gesê het? Ek is jammer maar ek het nie gedink dit gaan so 'n reaksie veroorsaak nie."
"Nee man," sy lag, "dit is heeltemaal iets anders. Soos ek sê, sal ek terug wees sodra ek gedoen het wat ek moet."
"Hoekom is dit dan 'n geheim? Jy kan my mos maar gesê het; ek kon jou dalk gehelp het."
" As ek jou gesê het, sou jy my nie laat gaan het nie. Totsiens eers, sien jou binnekort."
Martin is nou erg bekommerd. "Wat kan so dringend wees dat sy dit nie met my wil deel nie?"
Hy gaan met 'n swaar hart kantoor toe.
Max dink aan maniere om sy appélverhoor te vervroeg. Hy weet reeds dat dit goedgekeur gaan word want die geld is klaar oorbetaal.
Nou moet hy nog net iemand vind wat hy kan omkoop om die verhoordatum te vervroeg. Hy verwag dat hy nog in die week sal verneem dat die verlof tot appèl goedgekeur is.
Sodra dit goedgekeur is sal hy kan vasstel wie die regter gaan wees wat die saak gaan hanteer dan kan die wiele begin rol.
Intussen moet hy sy perlemoen besigheid weer aan die gang kry. Dit sal hom kos om nuwe kontakte op te bou. Dit sal nie moeilik wees nie want hy het buitelanders wat toustaan om met hom besigheid te doen.
Met sy hofsaak moes hy vinnig speel en hy het sodoende van sy manne op die grond verloor. Drie sit in die tronk met vet bonusse in wat vir hulle wag die dag as hulle vrygelaat word. Twee het landuit gevlug voordat die polisie op hulle kon toeslaan en een wat met die polisie wou praat sal nooit weer kan praat nie want hy is nie meer nie. Hy het in die verhoorafwagtendes se selle aan die slaap geraak en aanhou slaap.
Paul kan net nie aanbeweeg nie. Vandat hy sy liefde vir Sahara verklaar het, het hy, soos hulle in Engels sê, in die 'friendship zone' beland. Hy is so lief vir die vroumens maar dit lyk of sy nooit weer iemand anders, na Lawrence, sal liefkry nie.
Aan die anderkant het hy Larisa verdryf want hy het haar in die vriendskap sone geplaas. Hy is deesdae alleen. Sy ma en sy suster, Yvonne, is landuit. Met haar nuwe identiteit het die staat haar 'n keuse gegee van 'n werk in een van hul ambassades in die buiteland of om te studeer in die buiteland.
Sy wou nie sonder hul ma gaan nie. Paul kan hulle glad nie kontak nie vir hul veiligheid, so nou is dit net hy en sy werk en sy 'vriendin' Sahara.
Sahara voel die afgelope tyd bietjie moeg. Dit is tyd dat sy net 'n bietjie wegkom maar sy wil nie by mense kuier wat sy ken nie. Sy verkies om weg van die alewige gejaagdheid van die stad te wees; verkieslik klein en plattelands. Die afgelope tyd is dit net werk en dan kuiertjies in Upington. Wanneer laas het sy 'n gedig geskryf? Waar gaan sy die beste inspirasie kry? Sal dit op 'n bolandse dorpie wees met wingerde en berge, of liewer 'n dorpie langs die see? Wat van die oop vlaktes van die Karoo?
Rachel ry stadig met die straat af. Die mense wat hierlangs woon het nie veel nie. Hulle lewe uit die see. Daar staan 'n man by die hek van die adres in haar besit. Is hy die man na wie sy soek? Sy ry stadig verby en groet hom sodat hy nie agterkom dat sy hom eintlik bestudeer nie. Op die oog af lyk hy nie na 'n gevaarlike persoon nie maar die wolwe dra almal deesdae skaapklere.
Selwyn Rooi, is dit jy?
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking