#Stukkendeharte S2 Hfst 02 - Rooi Mier
"Ek en jy moet praat."
"Waaroor?"
"Die ding wat tussen ons is."
"Wat is tussen ons?"
"Daar was nog altyd iets tussen ons. Dit kom nou al aan vir jare. Ons was nou al getroud met ander mense. Ek was selfs baie lief vir my vrou maar ek kon jou nooit vergeet nie. Destyds was jy ook erg verlief op my voordat hy tussenin gekom het en jy hom gekies het.
Ek is nie kwaad vir die keuse wat jy gemaak het nie want ek het geglo dat jy jou hart gevolg het. Daar was maar net altyd die hoop dat ek nog daar iewers in jou agterkop lê."
"Jy moet onthou, ek is nog steeds 'n getroude vrou."
"Wat verhoed jou om te skei? Julle was vir jare nie saam nie en dit lyk nie of julle ooit weer gaan saam wees nie.
Ek het besef dat jy nog altyd 'n plekkie in my hart gehad het. Hierdie plekkie het nou plek gemaak vir liefde.
Ja, ek is lief vir jou al het ek die afgelope tyd hard daarteen gestry. Laat ek die TV afsit sodat ons behoorlik kan praat."
Hy staan op om die afstandbeheerder te kry.
"Wat baat dit as die ding altyd daar ver lê. Ek moet nog steeds stap om dit in die hande te kry."
"Dit is mos jou skuld. Jy sal altyd die ding een plek neersit en dan op 'n ander plek gaan sit."
Sy glimlag en bekyk hom van agter af.
"As ek eerlik moet wees hou ek meer van die man as wat ek veronderstel is," dink sy.
Terwyl hy besig is om die afstandbeheerder op te tel begin die aandnuus.
"Goeie naand. Hier volg die hooftrekke.
Max Adriaanse doen aansoek om appél, nog slegte nuus van Eskom af en die regering waarsku teen 'n nuwe variant van Covid 19."
"Wat? Het die man geen skaamte nie? Hoekom probeer hy nog appelleer? Die bewyse teen hom was tog oorweldigend."
Sy wys vir hom om stil te bly deur haar vinger op haar lippe te plaas.
Martin en Rachel sit verslae en luister na die nuus. Dit is asof iemand 'n emmer koue water oor hulle gegooi het. Die liefdesverklaring van Martin is vergete. Rachel staan stadig op en stap sonder 'n woord na haar kamer toe.
Martin sak neer op die naaste rusbank. Wat hou hierdie nuus vir hulle in? Dit was al klaar so 'n moeilike tyd terwyl Max se verhoor aan was. Hy weet sy broer vergewe nie maklik nie.
Hy het gedurende die verhoor reeds verskillende 'ongelukke' gehad. Die voorwiel van sy motor het een keer afgekom en hy het amper voor 'n vragmotor beland. Dan was daar ook onder andere die keer dat iemand langs hom gewond was.
Niemand kon vasstel wie die skoot afgevuur het nie en of dit bedoel was vir die gewonde nie.
Martin het egter nog altyd geglo dat dit vir hom bedoel was maar hy wou nooit dat Rachel daarvan moes uitvind nie want hy wou haar nie ontstel nie. Hy het nie die vermoede met Speurder Shane gedeel nie.
Rachel sit op die rusbank in haar kamer.
"Sal ek dan nooit ontslae raak van Max nie? Hoekom kan hy nie net verdwyn van die aardbol af nie? Ek berou die dag dat ek hom bo Martin gekies het."
Nadat die staat hom nog steeds lewendig verklaar het sodat hy verhoor kon word, het een of ander slimjan by Binnelandse Sake sommer ook haar huwelikstatus van weduwee na getroud verander. Wel, hulle moes dit seker doen maar sy voel net hulle moes haar geken het in die saak.
Nou is sy nog wettiglik getroud met 'n moordenaar en dwelmbaas. Sy is seker dat hy ook skuldig is aan perlemoen- en dwelmsmokkelary. Daar was egter nie genoegsame bewyse nie.
"O hel. Hier sit ek en bekommer my oor myself. Wat van sy dogter? Ons het nooit verder gegaan met dié ondersoek nadat Max vasgetrek was nie. Dit is nou alweer 'n paar jaar later en sy en Martin het nog niks verder daaromtrent gedoen nie."
Sy staan vinnig op en haas haar na Martin toe. Dit is nou 'n dringende saak wat binne die volgende paar dae afgehandel moet word. Dit kan nie nou meer langer wag nie.
Sy bespreek die saak in detail met Martin . Die moontlikheid dat Max alreeds weet wie dit is, bestaan ook. Hopelik is sy nog nie in sy mag nie. Hulle sal moet vinnig speel want daar is by altwee van hulle geen twyfel dat Max wel appél tot verlof gaan kry nie.
Dit klink egter vir hulle onmoontlik dat hy skotvry kan kom; miskien 'n verminderde vonnis.
Martin lê in sy bed later en wonder oor iets. Dit het vir hom geklink of Rachel nie meer aktief betrokke wil wees by die opsporing van Max se dogter nie. Hy neem haar egter nie kwalik nie. Die kind is eintlik 'n herinnering aan Max se ontrouheid.
Lawrence lê in sy bed en kyk die nuus. Sy gedagtes is egter nie daar nie. Hy is deesdae eensaam. Vir hom gaan dit net oor sy kinders en sy studies. Hy het oorweeg om sy studies op te gee maar beide sy en Janice se ouers wil niks daarvan weet nie. Nou is hy dankbaar dat hy deurgedruk het. Hy is nou al in sy vyfde jaar van studies. Nog net twee jaar om te gaan dan is hy 'n dokter.
Hy het van UWK na Stellenbosch oorgeskakel in sy tweede jaar toe hy finaal besluit het om dokter te word. Hy woon nog steeds in Eersterivier maar ry met sy motor wat sy pa hom gekoop het nadat die tweeling gebore was.
Sy gedagtes is vanaand by Janice. Hy het geen romantiese gevoelens teenoor haar meer nie. As hy eerlik met homself moet wees het hy haar nog nooit regtig liefgehad nie. Dit was die idee om met sy kinders se ma te wees. Hy wonder egter hoe dit sy kinders op die lang duur gaan beïnvloed. Ter wille van sy bulletjie en sy prinsessie sou hy dié opoffering wou maak deur getroud met Janice te wees.
Nadat Janice egter nie sy trouaanbod aanvaar het nie, het Sahara hom oortuig dat dit eintlik beter is vir die kinders as om groot te raak met ouers wat hulle gedink het is lief vir mekaar en dan skei die ouers.
Hy kan egter nie ophou wonder wie die Larry vent is nie. As Janice ernstig met die man is (op die oomblik lyk dit so want hulle gaan al drie jaar uit), dan gaan die man ook in sy kinders se lewe wees. Dit sal net vir hom goed wees om meer uit te vind oor hom. Hy weet dit gaan klink of hy jaloers is maar hy moet weet sy kinders gaan veilig wees.
Shane slaap onrustig. Hy sien aanhoudend Max se gesig. Max glimlag soos hy so baie keer gedoen het tydens die verhoor. Die verskil is net dat hy in die visie sien dat Max sy wysvinger teen sy keel plaas, asof hy iemand se keel afsny.
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking