#Stukkendeharte Hoofstuk 44 - Rooi Mier
Dit is Maandagoggend. Lawrence en Larisa se vlug is eers namiddag. Hy lê wakker en skielik tref dit hom dat Janice die oggend weer 'n afspraak by die dokter het.
Haar pa gaan haar neem. Hoekom neem hy haar nie? Dit is sy enigste kans om saam te wees terwyl sy swanger.
Hy bel haar en sy stem onmiddelik in. Nou is hy opgewonde en staan sommer op om klaar te maak. Kwart oor agt trek hy by haar huis op.
Janice kom onmiddelik uit. Sy is net so indien nie meer opgewonde nie. Enige tyd met Lawrence is kosbaar. Hierdie doktersafspraak nog meer so. Dit is 'n kans vir hom om saam na die baba se hartklop te luister. Hulle het ook nooit gepraat oor die naam van die kind nie.
"Lawrence, ek dink ons moet op 'n naam vir die baba besluit. Ons het nog nooit daaroor gepraat nie."
"Dit is waar Janice, ek het heeltemaal vergeet dat die kind 'n naam moet kry. Laat ons net eers klaarmaak by die ginekoloog."
"Mnr Daries, kom."
Die polisieman sluit die sel oop en neem Steven na 'n kamer toe.
Hy het die vorige aand wakker geword met 'n paramedikus wat oor hom buk.
"Dit blyk sy bloeddruk te wees Sersant. Die dokter sal hom ondersoek en moontlik eers sy bloeddruk af wil kry voordat hy toestemming gaan gee dat jy hom mag wegneem.
Die ander pasiënt sal langer moet bly. Hy het 'n kopwond opgedoen toe hy teen die muur geval het. Dan is daar nog sy neus en mond wat ook nie te goed lyk nie."
Na 'n aand in die selle met 'n voorlopige klag van aanranding teen hom sit Steven nou in 'n kamer met 'n polisieamptenaar wat sy verklaring neem.
Nadat hy sy verklaring afgelê het sê die beampte,
"As hy dit met my dogter gedoen het sou ek homself ook goed opge.."
Die deur gaan oop en die beampte voltooi sy sin met iets wat nie pas by wat hy besig was om te sê nie.
" … opgesluit bly nie. Jy kan gaan maar ons sal in kontak bly. My innigste meegevoel met u dogter se afsterwe.
Ons het reeds u vrou se verklaring geneem. Die brief wat sy vir ons gegee het moet ons ongelukkig hou.
Julle gaan seker Carnavon toe."
"Baie dankie konstabel."
Steven stap uit.
Paul is vroeg oppad Stellenbosch toe. Hy is ook nou al redelik bekommerd. Sy ma het nou al 'n paar keer gebel en dreig om in 'n taxi Kaap toe te kom. Yvonne sal hom nie maklik bel behalwe as sy geld soek nie maar sy ignoreer gewoonlik nie hul ma se oproepe vir so lank nie. Gewoonlik bel sy terug of stuur 'n boodskap.
Baie van die studente wat vroeg klas het is al oppad toe hy daar aankom. Hy gaan klop aan Yvonne se kamer deur. Die deur gaan oop. Dit is Yvonne se kamermaat.
"Jy is mos Yvonne se broer nê. Ek het jou aan die begin van die jaar ontmoet."
"Ja, ek is Paul. Jy is nou weer hmmm Candice nê."
"Goeie geheue Paul. Ek het nogals gewonder hoekom Yvonne so skielik en in die geheim hier weg is."
"Wat bedoel jy sy is weg?"
"Ek was Donderdagmiddag uit winkels toe. Met my terugkeer was al haar besittings weg. Sy het nie eers 'n boodskap gelos nie. Ek voel nogals sleg omdat ek gedink het ons kom goed oor die weg. Jy kan self kyk."
Sy maak die deur oop en wys hom die area wat Yvonne sn was. Daar is net 'n kaal bed en 'n kas. Sy gaan maak die kas oop sodat hy kon sien dit is leeg.
"Ek moet nou gaan want ek het klas."
Paul sit in sy motor en probeer weer vir Yvonne bel. Niks. Dit is vreemd dat haar sel vir dae heeltemal af is. Hy hoef nie huistoe te bel nie want hy het nog vanoggend met sy ma gepraat. Dit is toe sy gedreig het om Kaap toe te kom.
Al wat hy nou kan doen is om vas te stel waar sy was toe haar selfoon die laaste keer gewerk het. Hy sal maar sy kontakte moet gebruik. Nou sal hy maar amptelik eers as vermis gaan aanmeld.
Wat hy die meeste vrees is om sy ma te laat weet Yvonne is vermis.
G se foon lui. Dit is Candice.
"Môre G. Yvonne se broer was vanoggend hier. Hy dink nou sy het net opgepak en weggegaan. Die lok begin tik. Ek hoop Meneer M gaan my spoedig kontak. Sodra hy dit gedoen het gaan ek jou skakel. Na dit sal ek jou 'n ander foon en nommer bring en daai een wegneem."
"Dit is ook tyd om haar na 'n nuwe plek te verskuif totdat sy oppad moet wees."
G het die gesprek opgeneem en stuur dit nou na sy geheime nommer. Hy gaan homself beskerm. Iets is anders dié keer. Hy verstaan ook nie hoekom hy so 'n gevoel van deernis teenoor Yvonne het nie.
Dit is so 'n lieflike oggend. Wanneer laas was hy uit in die natuur? Hy hou van oop velde, die see en berge maar hy gaan nie meer uit nie; regstelling, hy kan nie meer uitgaan nie want hy moet 24 uur 'n dag beskikbaar wees. Hy moes sy vriende agterlaat.
Nooit in sy wildste drome het hy kon dink dat hy so 'n eensame, liefdelose lewe sou lei nie. As dit nie vir sy ma was nie het hy sommer net verdwyn maar hy vrees vir haar lewe.
Hy moet eers sorg dat sy veilig is. Hoe? Hy voel om vanoggend 'n ordentlike ontbyt vir Yvonne te maak. Candice het klas so sy sal seker eers namiddag opdaag. Hy moet ook die bakkie voorberei vir die verskuiwing van Yvonne later.
Lawrence word toegelaat, na baie gepleit, om saam met Janice in te gaan vir die ondersoek.
Die dokter kyk hom aan met 'n streng gesig.
"Jongman, ek hoop jy gaan die regte ding doen en vir jou kind sorg. Deesdae het die kinders mos nie meer vaders nie. Nadat hulle sperm geskenk het verdwyn hulle mos soos mis voor die son."
Lawrence voel ongemaklik.
"Ek gaan vir my kind sorg dokter."
Die dokter hou sy hand op.
"Hou net so vas. Hoor julle dit ook?"
"Wat dokter?"
"Wat se werk doen jy jongman?"
"Ek is 'n student by Universiteit van Stellenbosch dokter."
"O hel. Nou hoe gaan jy vir twee kinders sorg?"
"Ons gaan mos nie nog kinders hê nie dokter."
"Te laat, daar is klaar twee. Julle verwag 'n tweeling. Kom ons kyk gou."
Lawrence en Janice kyk verskrik na mekaar.
"Dit kan nie wees nie dokter. Daar was laas keer net een."
Janice se stem verraai dat die nuus onverwags is.
Die dokter verduidelik dat die een baba agter die ander moes gelê het en dat met die geboorte wat nader kom moes beweeg. Hy wys vir hulle op die monitor. Dit vat vir Lawrence 'n oomblik om die twee vorms te sien.
Wil julle die geslagte weet?
Sonder om eers met mekaar te praat sê albei gelyk, "Ja dokter."
"Nou laat ons sien. Die een wat nou voor en bietjie regs lê is 'n bulletjie.
Kom ons kyk of ons die een agter kan sien. Dit lyk my sy is jul prinsessie."
Lawrence is tegelyk gevul met blydskap en bekommernis. Het hulle genoeg voorsiening gemaak vir twee kinders? Janice voel net blydskap.
"Ek is nou jammer vir die skok julle maar dit gebeur soms dat ons eers later optel dat daar twee babas is."
Lawrence gaan solank uit terwyl Janice haar klere regtrek. Hy loop op en af in die gang. Hoe nou met sy studies? Hy moet voorsiening maak vir sy kinders.
Janice kom uit. Hy gryp haar vas en soen haar lank op die lippe. Sy is skoon uit asem.
"Baie dankie vir die tweeling Janice. My hart bars oop van vreugde."
***
Spreuke 14:26 In die vrees van die Here lê 'n sterk sekerheid, ook vir die kinders van 'n sodanige sal daar 'n toevlug wees.
Spreuke 20:7 Wie in sy regskapenheid wandel as 'n regverdige — *gelukkig is sy kinders ná hom.
©Rooi Mier 13.07.2022