#Stukkendeharte S2 Hfst 59 - Rooi Mier
“Max is hierdie keer vas.”
Hy kyk Max stip in die oë.
Langes haal skielik ‘n vuurwapen uit en rig dit op Max.
“Ek dink nie ons moet nog verder tyd mors met hom nie. Dit is tyd dat hy die aarde moet verlaat.”
Spiertier is verbaas oor die nuwe verwikkeling.
“Ons opdrag was om hom mooi veilig te hou, nie te beseer nie; definitief nie om hom dood te maak nie.”
Shane is verbaas oor wat aan die gebeur is. Hy kan nie hoor wat gesê word nie maar die gespierde ou lyk ook verbaas. Dit lyk of die lange sake in eie hande wil neem.
“Rencia, ons sal nou moet optreë,” fluister hy.
Langes stap met die vuurwapen gerig op Meneer M tot waar ‘Spiertier’ staan by die deur.
Hy swaai skielik om en druk die vuurwapen teen Spiertier se kop.
“Jammer maat, Max betaal baie beter as wat Andy aanbied.
Gedra jou en jy gaan lewe.”
Daar kom ‘n breë glimlag oor Max se gesig.
“Geld wat stom is .. Skiet Hom. Hy gaan net in die pad wees.”
Langes huiwer. Hy draai die vuurwapen om en slaan Spiertier oor die kop.
Hy vang Spiertier en lê hom neer.
“Dit is mos nou nie nodig om hom te skiet nie. Hy is mos nou bewusteloos.”
Hy gee Spiertier so ‘n ligte sloppie om te wys hy is uit. Skielik voel hy ‘n vuurwapen teen sy ribbes druk.
“Stadig nou Meneer! Jy Wil mos nou nie ‘n koeël in jou ribbes hê nie. Waarheen wil jy met ons vriend Max gaan?”
Shane se stem klink hier by Langes se oor.
Rencia kom stadig aangestap. Haar vuurwapen is op Max gerig.
“So hier is ons weer Max. Jy het seker gewonder waar ek heen verdwyn het na ons tydjie by die hospitaal? Onthou jy?
Ek wou jou beter leer ken. Nou, uiteindelik kan jy boet vir jou sondes.”
Sy stap tot by hom en begin te fluister.
“Onthou jy my regtig nie meer nie Max? Moet ek jou geheue verfris? Ek haat jou met ‘n passie. Tronkstraf is te genadig vir jou.”
Shane se stem ruk haar tot die werklikheid.
“Ek gaan dié een tot daar bring Rencia. Terwyl jy die vuurwapen hou gaan ek seker maak dat hulle albei ongewapen is.
Plaas solank vir Max in boeie. Die een is klaar geboei.”
Janice loop op en af in haar kamer.
“Alhoewel ek geskei is van Lawrence, gaan ek nie toelaat dat hy en Sahara trou nie. Sy het my lewe verwoes.
As Lawrence nie verlief op haar was nie, sou ons nou gelukkig getroud gewees het. Ek gun hom nie vir iemand anders nie.”
Janice kyk by haar venster uit oor die tuin. Skielik onthou sy die blomme wat Larry laas vir haar gekoop het.
“Waar bevind Larry hom? Hy is skaars.”
Sy hoor voetstappe in die gang en haas haar na die rystoel en gaan sit. Sy trek ‘n kombersie oor haar bene.
Daar is ‘n klop aan haar deur.
“Kom binne Mammie.”
Die deur gaan oop.
“Hoe weet jy dat dit ek was?”
“Asof ek nie Mammie se voetstappe ken nie.”
“Ek kom net hoor of jy iets kort. Die kinders het klaar gebad.”
“Nee, ek is reg so. Met Mammie hier wat soos ‘n hen kloek, kan ek onmoontlik iets kort kom.”
“Ja toe nou, dit is my voorreg. Ek en jou pa gaan op ‘n sonsondergang ekskursie op die Arkie. Jy sal mos regkom.”
“Ja Mammie, gaan maar. Geniet dit en los die vryery vir ons jongmense.”
“Ek en jou pa mag wettiglik vry. Totsiens!”
Janice wag net om te hoor hoe haar pa die voordeur sluit voordat sy opstaan uit die rystoel.
“Die kinders slaap, so dit sal veilig wees om in die huis rond te beweeg. Miskien kan ek gou uitglip en gaan kyk of daai flerrie, Sahara tuis is. Ek moet haar bewegings dop hou.
Vanaand moet ek dit nog maar self doen maar ek sal iemand moet kry om dit te doen. Ek kan egter nie ‘n privaatspeurder bekostig nie.
Wag, dalk sal Larry dit vir my kan doen; hy is immers lief vir my.”
Sy gaan kry haar motorsleutels.
“Sersant, hoe ver is julle?”, Shane klink ongeduldig want dit is al 20 minute wat hulle wag. Hy weet dat mens nooit gerus kan wees al rig jy ook ‘n vuurwapen op Max en al is hy ook swak siek nie. Dit is al skemer.
Paul, wat alles van agter ‘n bos beskou het, het besluit om maar terug te keer na Larry toe. Dit lyk darem of alles in orde kan wees. Hy wil nie eintlik daar wees as die polisie kom nie.
Net toe hy by Larry aankom, kom daar twee voertuie aan en hulle draai in na waar die aksie was. Albei voertuie het ten minste vier persone in.
“Ek wonder darem Larry, dit is nie die polisie nie.”
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023