#Stukkendeharte S2 Hfst 04 - Rooi Mier
Die Somerlug is vroeg-vroeg warm. Hier vanaf die koppie agter die dorp strek die vlaktes ver en wyd tot daar doer waar die aarde een word met die hemelblou. O Heer my God, hoe groot is U.
Steven kyk af op die dorp. Hoe het Vanwyksvlei nie verander sedert sy kinderdae nie. Die dorp is nog nie so groot nie maar die moderne wêreld het dit beslis kom vind. Teerstrate en satelietskottels is het hul opwagting gemaak en daarmee saam 'n weg gebaan vir die dwelms wat die jeug so vernietig.
Skielik onthou hy hom sit teen hierdie koppie as 'n jongman. Sy Sallytjie is daar ver onder by die huis waar hy haar gevra het om te staan sodra hy op die koppie is. Hul huisie was een van die naastes aan die kop. Sy lyk klein daar waar sy staan en vir hom waai. Hy waai terug en blaas soentjies. Hoe soet is hierdie herinneringe. Ja, herinneringe wat hy kom besoedel het my sy alkoholmisbruik.
Hy laat sy oë nader kom tot halfpad teen die berg uit. 'n Glimlag speel om sy mondhoeke. Daar waar sy sit is die verste wat sy al teen die koppie uitgeklim het.
Die lewe wil gelewe wees. Wie het nou kon dink dat hy hierdie vrou, wat hy eens nie kon verdra nie, so lief sou kom kry. Die liefde is beslis gebore uit die liefde wat hy vir sy Skepper gevind het.
"Mavis, Mavis," roep hy.
Hy is nie seker of sy hom gehoor het nie maar sy draai en kyk op teen die kop. Sy maak 'n soentjie op haar hand en blaas dit vir hom.
Na Sally se dood het Covid deur die land getrek en sy geliefde vrou, Sarie, se tyd was hier; heeltemaal te vroeg en baie skielik. Sy het geen simptome gewys totdat sy skielik nie kon asemhaal nie. Binne minute was sy weg. Dit is alweer vier jaar.
Hy begin stadig af te beweeg in die rigting waar Mavis vir hom sit en wag op 'n klip.
Mavis kyk liefderik op teen die kop vanwaar Steven haar nader.
"Hier kom my reddingsboei wat God vir my uitgestuur het. Vandag weet ek dat God se tydsberekening sekuur is."
Drie en 'n halfjaar gelede het sy haar heeltemaal onttrek uit die samelewing. Sy kon net nie meer sin maak van haar bestaansreg as mens nie. Haar lewe was 'n klomp onbeantwoorde vrae.
"Wie is ek? Hoekom is ek so ongelukkig? As daar 'n God is, hoekom toelaat Hy die monsters in my lewe?"
Sy het tot 'n slotsom gekom dat God 'n mite is. Iemand wat iets hê om aan vas te hou het hierdie God in sy gedagtes gevorm. Sy geloof was so sterk dat God vir Hom 'n werklikheid geword het.
Mavis het 'n besluit om dit alles te beëindig maar elke keer wanneer sy dink sy is gereed het iets haar gedwing om eers die Bybel te lees.
Stadig maar seker het die mite weer God vir haar geword. Dit was asof die woorde in die Bybel 'n lewe van hul eie gekry het. Elke keer was daar 'n ander skrifgedeelte wat na haar uitgeroep het.
Dan op 'n dag het hy daar gestaan in die deur, Steven. Sy onthou die gesprek woord vir woord.
"Mavis? Is jy okay?"
Sy het die ou Mavis gaan uitgrawe as verdediging.
"Noudat jy jou vrou doodgemaak het wil jy weet of ek okay is? My beste vriendin is nie meer as gevolg van jou. Hoekom is die polisie so treurig. Jy hoort agter tralies maniak."
Steven het kalm gebly nadat sy hom by die deur uit gestoot het en dit in sy gesig toegeslaan het.
Hy het saggies aan die deur geklop en toe sy nie oopmaak nie het hy deur die deur gepraat.
"Die lewe is nie tussen jou vier mure nie Mavis. Dit is daar buite waar mense swaarkry. Mavis was altyd iemand wat tydig en ontydig gepraat het maar agter daai voorgee is daar 'n omgee Mavis.
Onthou jy vir Tannie Bettie? Daai Mavis was daar toe haar kinders haar verlaat het en stad toe gevlug. Jy het by haar gekuier sodat sy nooit te eensaam gevoel het nie.
Mavis was daar toe sy op haar sterfbed lê en Mavis het haar hand vasgehou toe sy haar laaste asem uitblaas.
Dan is daar Oom Petrus wat longkanker gehad. Tannie Elsie wat jy versorg het alhoewel almal van haar gevlug het omdat hulle vermoed het sy het Covid.
Moet ek aangaan? Kom uit daai huis en kom lewe."
Dit het stil geword voor die deur. Teen die tyd dat sy oopgemaak het, het Steven al aan die oorkant by sy deur ingestap.
Sy kyk op na haar Godgegewe toekomstige man wat haar aan die hand optrek.
"Kom ons gaan pak Mavis. Upington wag vir ons."
Sy glimlag en fluister onhoorbaar,
"Ja Here, U het ons stukkende harte kom heel maak."
Hardop sê sy, "Uiteindelik gaan ek die hulp kry wat ek so broodnodig het. Ek kan nie langer so in vrees lewe nie. Elke skaduwee kan nie vir ewig 'n monster wees nie. God se Woord verklaar dat Hy my nie 'n gees van vreesagtigheid gegee het nie maar ek sukkel nog steeds om Hom op Sy woord te vat. Danksy jou gaan ek hulp kry. Ek is so lief vir jou."
Selwyn Rooi, 'n man van so 45 jaar oud, fiks en lank, draf op die seesand, stop en doen 'n paar oefeninge. Om een of ander rede kry hy nie die vrou wat gistermiddag by sy huis verby gery het en hom gegroet het uit sy kop nie. Die vrou het hy slegs vir sekondes gesien maar sy het bekend gelyk.
Sy is definitief nie deel van sy verlede nie maar waar het hy haar dan gesien? Iets vertel hom dat dit nie toeval was nie.
Naby sy huis, in sy straat sien hy die motor wat gister verby gery het staan. Hy begin stap want hy wil 'n behoorlike kyk.
Soos hy van agteraf die motor nader kan hy sien dat die vrou deur 'n verkyker kyk in die rigting van sy huis.
Hy verbeel hom nie, sy kyk regtig na sy huis. Hy stop. Hoekom hou sy sy huis dop? Iets is nie pluis nie.
Selwyn besluit om maar liewer terug te beweeg tot by die winkel so 'n 100 meter weg. Hy het net daar aangekom toe sien hy die motor trek stadig weg. Dit ry stadig verby sy huis maar vesnel dan.
Nou is hy definitief onrustig. Wat wil die vroumens met hom hê?
Rachel het die man wat 'n paar meter agter die motor gaan vassteek het in haar truspieël gesien. Sy het sy gesig lank genoeg gesien om te weet dat dit dieselfde man is wat gister in die hek van die huis voor skuins voor haar gestaan het.
Sy is nie seker of die man opgemerk het dat sy die huis dophou met 'n verkyker nie want hy het nie omgekyk nadat hy omgedraai en winkel toe gestap het nie. Miskien wou hy net iets gaan koop.
Sy ry stadig vorentoe. Is daar nog mense in daai huis? Sy het vir meer as 'n uur gestaan en daar was nie eers 'n beweging van die gordyne nie. Dit is redelik warm en die gordyne is wel oopgetrek maar die vensters is toe. In dié hitte sou iemand darem seker die vensters oopgemaak het.
Sy ry in die rigting van die see. In die parkeerarea begin sy soek na 'n Selwyn Rooi op sosiale media. Sy besef dat sy eintlik veronderstel was om dit te doen voor sy halsoorkop weg is van Martin af. Die inligting in haar besit is al oud en daarby het sy nie eers 'n foto van hom nie.
Tuis sit Selwyn Rooi en bepeins dit wat so pas gebeur het. Wie kan die vrou wees? Hoekom dink hy haar teenwoordigheid voorspel noodwendig gevaar?
Hy gaan kombuis toe. In die hoekie langs die stoof lig hy 'n teël op van sy hout vloer. Hy steek sy hand in die gat en haal 'n rewolwer uit.
Hy gaan sit in sy kamer, haal dit uitmekaar en maak dit skoon.
©Rooi Mier 17.01.2023