#Stukkendeharte S2 Hfst 65 - Rooi Mier
“Ek is op die punt om ‘n vergadering by te woon Antie Angela. Ek skakel u later terug.”
‘n Uur later is Sahara terug van haar vergadering af.
“Email asseblief onmiddelik na die notule geteken is’n afskrif na Meneer Adriaanse toe. Hy sal dit dalk wil bestudeer voor sy volgende vergadering met die Duitsers.”
“Ek sal so maak Juffrou Muller. Onthou u moet nog ‘n oproep maak aan ‘n Antie Angela.”
“Baie dankie dat jy my herinner het. Ek het so baie dinge op die brein.”
Sy maak haar kantoor agter haar toe en skakel Angela se nommer.
Rencia voel moeg.
“Vanaand moet ek vroeg in die bed kom. Ek slaap sleg die afgelope tyd.”
Rencia kry die afgelope tyd gereeld nagmerries. Dit het eintlik begin na Max se inhegtenisname.
“Dit is snaaks dat dit nie gebeur het die tyd toe ek “verpleegster” moes wees vir Max nie.”
Hulle het haar egter weggehaal om Shane te ondersteun met ‘n ondersoek.
Shane het haar gisteraand gevra hoekom sy deesdae so afsydig is en sy het ‘n hoofpyn voorgegooi. Hy het egter genoem dat sy in haar slaap gemompel het. Net nadat Max aangekeer was het sy by Shane ingetrek. Hulle huur ‘n plek totdat Max gereed is vir sy verhoor. Die verhoor gaan in Blue Downs Landdroshof geskied. Shane moet dan terug Kaap toe.
“Wat gaan word van ons verhouding? Ek het nie my hierin begewe vir langafstand nie. Ek is lief vir Shane maar sal ek my werk kan opgee vir hom?
Wat as die verhouding om een of ander rede stop?”
Sy stap na ‘n kafee toe daar naby om melk te gaan koop. Oppad terug stap sy verby ‘n hawelose met wie sy dikwels gesels.
“Pieter, ek is jammer. Ek het kos daar by die huis wat ek vir jou wil bring. Gaan jy oor ‘n halfuur nog hier wees?”
Pieter begin lag.
“Het Eskom jou weer beetgekry juffrou?”
Sy glimlag.
“Nee, nog nie man maar ons gaan weer vier ure af wees. So ek wil dit liewer gee terwyl dit nog vars is. Môre sal dit nog eetbaar wees maar nie meer vars nie.”
“Jy, Juffrou, is ‘n engel wat God spesiaal vir my op hierdie aarde geplaas het.”
“Ag kom nou Pieter. Ek wens ek was so ‘n goeie mens. As jy maar weet watter gedagtes ek soms koester. Daar is iemand wie ek met ‘n passie haat.”
“Juffrou, haat is soms soos gal. Dit smaak aaklig.
Kom ek vertel jou ‘n storie. Daar was eendag ‘n man wat uit was op wraak.
Hy, sy vrou en dogtertjie was op ‘n dag uit na ‘n winkelsentrum. Skielik was daar begin skiet. Die mense het deurmekaar begin hardloop en hul dogtertjie het in die gewoel verdwyn. Hy en sy vrou was ook later geskei in hulle naarstiglikke soeke na hul dogtertjie. Hulle het agtergekom dat daar ‘n kontant in transito rooftog besig was om plaas te vind. Die polisie het opgedaag en ‘n skietery het losgebars.
Uiteindelik het hy op hulle afgekom. Sy vrou op haar knieë en hul dogtertjie wat sy styf vasgedruk het. Daar was bloed. Sy het aanhoudend hul kind se naam geroep terwyl sy histeries huil.
Hy het vorentoe gestorm en toe sy hom sien het sy geskree dat dit haar skuld is. Hul kind was geskiet en sy was dood.
Ja, ons dogtertjie was dood.”
Dit raak moeilik vir Pieter om verder te praat. Emosies oorval hom en Rencia stap nader en sit haar hand op sy skouer. Sy praat nie ‘n woord nie om hom kans te gee om tot verhaal te kom.
Hy gaan voort toe hy gereed is.
“Een van die rowers het my dogter doodgeskiet. Later het ek egter uitgevind dat alhoewel ‘n rower haar geskiet het was dit asgevolg van my vrou; of so het dit voorgekom.
Sy het gesien dat die rower op ‘n polisieman wou skiet maar hy was nie bewus van die rower nie. Sy het vorentoe gestorm en hom uit die pad gestamp. Op daardie oomblik het hul dogtertjie haargesien en huilend op haar afgestorm. Die rower het hul dogtertjie geskiet.
Ek kon my vrou nie vergewe alhoewel sy nie direk daarvoor verantwoordelik was nie. Ons huwelik het skade gelei en een middag het ek haar dood kom kry. Sy het ‘n oordosis pynpille geneem. Daar was ‘n briefie waarin sy verduidelik het dat sy dit eenvoudig net nie meer kon hanteer nie; sy beskuldigings en haar eie skuldgevoelens.
Ek het my werk verloor want die skuldgevoelens het my nou oogevreet. Daarna was dit net afdraand. Nou sit ek hier en bedel.”
Rencia kry hom jammer. Sy dink,”’n mens ken nooit iemand anders se storie nie. Jou storie is altyd belangriker.”
Sy sê hardop, “Was dit nie sy wat onlangs postimus ‘n medalje ontvang het vir haar heldedaad nie?”
“Ja, dit was sy.”
“As jy my storie geken het Pieter sal jy besef dat myne anders is. Ek kan nie anders as om te haat nie. As ek nie haat nie kan ek nie wraak neem nie.”
“Regtig? Ek neem aan jy het ook geliefdes verloor. Na jou wraak, gaan hulle terugkom? Dink daaraan.
Moenie self wraak neem nie, juffrou, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Lees Romeine 12:19.”
“Ek moet nou gaan Pieter. Sien jou net nou met die kos.”
Sy stap aan.
“Ai Pieter. As God dan so vergewendsgesind is soos julle sê, gaan Hy mos nooit vir Max behoorlik straf vir wat hy aan my gedoen het nie.”
Daardie aand rol sy rond en dit is asof Max vir haar grynslag. Sy hoor polisiesirenes en daarna ‘n ambulans.
Lawrence is vroeg wakker. Hy is opgewonde.
“Sahara gaan lekker verras wees as ek en die tweeling daar opdaag. Sy het net gisteraand gesê hoe sy hulle verlang.
Ek en die tweeling gaan van die reis Kaap toe ‘n toer maak. Ons gaan oral stop en die dorpe verken waardeur ons ry.
Dit is ‘n lang rit as jy alleen bestuurder is en dan nog twee kinders as passasiers te hê.
Die twee oumas kompeteer met die eetgoed so ons het nie probleme daar nie. Ons moet net stadig met die vloeistowwe want die dorpe is ver van mekaar af.”
Shane maak vir Rencia wakker met ‘n beker koffie. Hy het gelos dat sy maar verslaap. Nou sal sy nooit betyds kan wees vir werk nie. Hy is op die punt om te vertrek.
“Jy moet baie moeg wees liefling. Wanneer gaan jy praat met my oor jou nagmerries. Ons moet ons bekommernisse met mekaar deel. Vat die dag af dan praat ons vanaand.”
Rencia wil opbeur maar sy is te moeg. Sy lê maar weer.
“Jammer vir nog slegte nuus 6maar hulle het gisteraand jou vriend, Pieter, vermoor.”
“Ag nee man! Wanneer gaan dit ophou? Die man het niemand nie, wie gaan hom begrawe?
Ek sal maar reëlings tref dat hy begrawe word sodra die liggaam deur forensies vrygestel gaan word. Hulle moet net nie met my sukkel omdat ek nie familie is nie. Ek gaan hom begrawe! Dit sal seker net ek en die mense wat die graf moet toegooi wees. Miskien moet ek ‘n pastoor kry. Dalk sal my pastoor dit doen.”
Rencia raak vinnig weer aan die slaap.
‘n Skoot klap. Rex gee net een tjank toe is hy stil. Die sewejarige dogtertjie sien hoe haar geliefde Rex neerval. Hy beweeg nie. Waar sy agter op die erf speel, kan sy nie die voorhek sien nie.
“Mammie, Mammie!”
Sy storm by die agterdeur in. Haar pop val by die deur tussen die kombuis en die eetkamer.
“Mammie, waar is jy? Rex is siek! Kom gou!”
Daar is iemand by die deur. ‘n Harde klop.
“Maak oop Denise! Maak nou oop! Ek weet jy is daar binne.”
“Gaan kruip weg Rencia.”
Denise praat sag maar dringend. Rencia ken daai stemtoon. Dit is die een wat sy nie durf ongehoorsaam aan is nie, tog huiwer sy.
“Nou! Rencia nou!”
Rencia skrik wakker met ‘n hart wat verskriklik vinnig klop.
“Ag, kan die verlede my tog nie net aflos nie!”