Woensdag 31 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 54 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 54 - Rooi Mier


"Goeie middag. Hier volg die nuusflitse.
In 'n nuwe verwikkeling rondom die mensehandelaar en dwelmbaas, Max Adriaanse alias Meneer M, CCTV beeld van 'n restaurant in Oos Londen hoe hy rustig sit en eet 'n dag nadat hy verdwyn uit van die plaas buite George. Die publiek word gevra om op die uitkyk te wees maar die polisie waarsku weereens dat hy nie genader moet word nie want hy is uiters gevaarlik.

Shane is briesend. Wie het die inligting laat uitlek dat Max in 'n restaurant was? As dit enige iemand in die mag is gaan daardie persoon aan die pen ry. As dit direk van die media af kom gaan hulle weer wegkom met die vryheid van die media storie. In Suid Afrika het almal mos vryheid om te maak net soos hulle lekkerkry.

Paul kan vandag nie sy gedagtes weg van Sahara af kry nie. Hy sal moet 'n plan beraam om met haar te praat. Hy het nie 'n goeie indruk op haar gemaak nie.
Die enigste manier sal wees om haar direk te kontak en reguit te vra of hy haar iewers kan ontmoet in die publiek. Dit behoort haar gerus te stel dat sy nie alleen met hom gaan wees nie. Of sy hom gaan ontmoet is die eintlike vraag.
Hy haal sy foon uit.
"Skakel Sahara!"
Die oproep gaan deur maar die haar foon lui net. Hy wonder of sy sy nommer op haar foon gestoor het en nou nie wil antwoord nie.
"Ai. Hoekom moet die lewe so ingewikkeld wees."

Sahara is nog af die week. Sy is besig om 'n gedig te skryf. 
"Die mense kan so verkeerde tye bel."
Sy loer na die skerm en sien dat dit 'n ongelyste nommer is. Sy besluit om dit te ignoreer. Vandag kry sy weer swaar. Lawrence is al die hele dag op haar gedagtes. Die enigste raad is om maar te skryf.

Larisa stap uit die eksamenlokaal. Sy is tevrede. Dit was so moeilik om te konsentreer terwyl sy studeer het dat sy gedink het sy gaan vandag vou. 
Haar gedagtes was gedurigdeur by Yvonne wat nou nie vry kan wees nie net omdat sy in die eerste plek nie wou luister nie. 
Dan weer is haar gedagtes by Candice. So jammer dat so 'n jong lewe daarmee heen is. Sy dink soms sy is wreed maar die gedagte kom elke keer op dat sy beter af is as wat sy sou bly lewe het en dalk nog baie ander mense se lewens in gevaar sou stel. Sy dink nie dat dit Candice se verdiende loon is nie; net dat sy beter daaraan toe is.
Wat Larisa egter die meeste pla is die hoeveelheid kere sy aan Paul dink. Sy ken die man skaars. Gisteraand het sy eintlik 'n grap daarvan gemaak. Sy het met hom gepraat.
"Paul, wat soek jy in my kop? Klim uit!"
Daarna het sy lekker sit en lag vir haarself. Dit sou seker nie 'n probleem gewees het as sy nie so skuldig gevoel het agterna nie. Na dit voel dit altyd Anton staan daar en glimlag vir haar.
Alles het egter goed afgeloop met die eksamen.

Lawrence sit met die name waaruit  hy sy prinsessie se naam moet kies. Hy het drie name waarvan hy een moet kies. Miskien moet hy maar twee kies. Drie is weer te veel. Hy sal maar al drie aan Janice stuur en sê wat sy keuse is. Sy kan dan die besluit maak of sy drie wil hê. Volgens hul ooreenkoms moet die dogtertjie se name van hom af kom.
Hy stuur die whatsapp boodskap deur.
" Die name wat ek vir prinsessie het is Lanice Lauren van Wyk.
Ek het 'n derde naam maar jy kan besluit of sy 'n derde naam moet hê. 
Die derde naam is Janique. Laat weet  maar asseblief.

Meneer M het nie die oorspronklike berig gesien waar Rachel en Martin sy identiteit bekend maak nie. Hy het egter op 'n program waar sake van die dag bespreek word op die brokkie nuus afgekom.
Die pyn wat hy aan sy familie en veral sy vrou, veroorsaak het met sy kastige dood en begrafnis is 'n groot besprekingspunt. Die paneel wil weet hoe 'n mens jou vrou soveel pyn kan versorg. Hy het 'n dokter of dokters omgekoop om hom met 'n terminale siekte te diagnoseer, hom dood te verklaar en die begrafnis. Dit is 'n teken van hoeveel mag hy ook gehad het.
'n Ander besprekingspunt was die feit dat hy sy dogter betrek het. Almal op die paneel wonder of die moord op Candice op sy bevel was. Die mense wat inbel sê dat hy die harteloosste mens is wat hulle ken.
"Ken? Julle ken my van geen kant af nie. As julle dink ek is klaar, dan moet julle weer dink. Pas maar julle dogters en seuns mooi op skynheilige koeie. Sodra die stof gaan lê het is ek terug.
Ja jy auntie wat so sê die Here gaan hom in die hande kry. Voor Hy dit doen gaan ek eers jou kind verkoop. 
Jy moedertjie wat swanger is; jou kind gaan my dwelms koop. 
Pa, jy wat sê hoe jy my gaan skiet as ek aan jou kind raak, jou kind gaan vir my werk om kinders te ontvoer.
O jy het ook iets te sê Kommisaris van die polisie. Jou polisiemanne en vroue ontvang hul betaling van my af. Veel meer as wat jy hulle kan betaal. Lei hulle maar goed op om vir my te werk.
En jy wat jou tande sit en slyp om my gebiede oor te vat met jou bietjie dwelms. As ek jy was het ek nou al begin hardloop. Meneer M gaan nie dood nie. Hy rus maar net 'n bietjie."
Iemand sê dat hy die skuim van die aarde is en van die aarde af weggevee moet word.
Max bars uit in 'n harde onbeheerde lag. 
"Hoor hoe lekker laat jy my nou lag."

***
Psalm 74:22 Staan op, o God, verdedig u saak; dink aan die smaad wat U die hele dag aangedoen word deur 'n dwaas.
23 Vergeet nie die geroep van u teëstanders nie — die rumoer van u opstandige vyande, wat altyddeur opgaan!
©Rooi Mier 13.07.2022

Dinsdag 30 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 53 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 53 - Rooi Mier


"Daar is nuwe verwikkelinge rondom die ondersoek van die geheimsinnige Meneer M. In 'n skokkende ontwikkeling nuwe getuies het aan die lig gekom dat Meneer M eintlik Max Adriaanse is. Hy was voorheen bekend in misdaadkringe as een van die grootste dwelmbase.
Max Adriaanse het destyds verdwyn en later is vasgestel dat hy Namibia toe verhuis het en glo daar gesterf het. 
Sy broer en sy vrou het toevallig twee dae gelede na 'n nuusberig ontdek dat Meneer M eintlik die 'afgestorwe' Max is. Hulle was beide baie geskok en het die volgende dag dié ontdekking met die polisie gedeel.
In die ontvouing van gebeure was Candice Williams, wat verlede week gearresteer was as lid van Meneer M se bende, dood gevind is in haar sel. Dit wil voorkom dat sy vermoor was.
Daar is nog 'n verdere skokkende onthulling. Candice Williams was die biologiese dogter van Max Adriaanse. 
Nog 'n voortvlugtige lid van die bende is op dieselfde dag in 'n motorongeluk dood.
Hier is foto's van Max Adriaanse. Die polisie vra dat die publiek asseblief nie hom sal nader indien hulle hom iewers waarneem nie maar eerder die polisie sal kontak."

Larisa sit geskok en luister na die nuus. Sy het nooit regtig vattigheid aan Candice gehad nie maar sy sou haar beslis nie dood wou gehad het nie.
Sy was bly om te verneem van Yvonne se redding. Sy sal graag op haar vriendskap met Yvonne wou voortbou.
Sy sien uit na die komende naweek. Sahara  het haar en Lawrence genooi om Saterdagaand by haar te kom oorslaap. Sy het dit nodig want die eksamens het begin en sy het 'n breek nodig. Die naweek in Lawrence se teenwoordigheid sal natuurlik weer sterk herinneringe na vore bring. Larisa het egter geleer om daarmee saam te lewe. Daar vloei nog gereeld trane en sy hoor nog soms sy liefdesverklaring, maar dit los haar nie meer met hopeloosheid agter nie. Sy is van plan om Sondagoggend vroeg weer terug te kom. Sy skryf die Maandag.

Martin en Rachel het ook so pas die oggend nuus gekyk. Dit skok hulle om uit te vind dat Max 'n dogter het wat betrokke was by sy misdadigheid. 
"My broer was 'n vark. Hoe betrek jy jou eie kind by jou misdade? Net iemand harteloos doen dit."
"Wat my die meeste pla is dat sy vermoor is en op dieselfde dag is daar nog een van sy bendelede dood in 'n ongeluk. Daar steek iets meer in Martin." 
"Ek is glad nie verbaas nie. Niks omtrent my broer skok my meer nie. Dit is net so jammer dat my klein niggie dood is voordat ek haar ontmoet het.
Een van die dinge wat jy my gevra het om te ondersoek was die moontlikheid van 'n dogter. Wel, dit is nou bevestig. Jou man het nog 'n kind gehad."

Lawrence lê nog in sy bed. Hy skryf nie vandag nie. Hy dink daaraan om later te begin studeer. Vir nou wil hy net ontspan. 
Hy kan egter nie heeltemaal ontspan nie. Binne 'n paar weke gaan sy tweeling gebore word. Hy moet nog met 'n naam opkom vir sy prinsessie. Janice gaan die naam van die bulletjie gee.
Op die oomblik sit hy met drie name. Hy moet nog op 'n finale naam besluit. Die dokter het juis gesê dat tweelinge onvoorspelbaar is. Soms maak hulle vroeër hul opwagting. Hy is dankbaar dat hulle die geslagte van die kinders weet. 
Daar sou beslis nie tyd gewees het vir 'n geslagsonthulling partytjie nie. Hy stuur vir Janice drie name waaruit hy gaan kies. Dit is nou sy kortlys.

Janice is ongemaklik groot. Sy moet nog 'n laaste draai by die babawinkels maak voor die twee gebore gaan word. Sy wil liewer tuis wees as die pyne begin. So opgewonde sy is, so wens sy die dag kan nou aanbreek. 
Sal sy die pyn kan hanteer? Biljoene vroue het al voor haar. Hoekom sal sy nie ook kan nie. Dit help egter nie. Mense sê altyd dit is die seerste pyn wat 'n mens kan ondervind.
Sy moet ook nog 'n naam vir haar ongebore seuntjie kry. Sy wens Lawrence se eksamens was al verby. Sy het hom hier nodig. Hy het nou die dag van hul toekoms gepraat.
Vir haar klink dit hy sien hulle saam. Sy wonder soms of hy oor Sahara is. Dit is maklik om te sê hy moet net, maar is hy werklik? Sy wil nie 'n gedwonge keuse wees nie.
Hy moet haar kies omdat hy lief is vir haar en nie omdat hy nie sy suster kan trou nie. Sy is nogal jammer vir hulle maar weet dat haar kanse omtrent zero sou wees as hulle nie 'n verband gehad het nie.
Dit het op 'n tyd onkeerbaar gelyk. Nou is Sahara haar babas se auntie. Die noodlot is soms 'n grapjas. Dit plaas jou in die onmoontlikste posisies.

Shane en sy span gaan van vandag af baie leidrade moet opvolg. Dit gaan altyd so wanneer iemand gesoek word en dit word bekend in die media. Die probleem is dat hulle nie 'n enkele leidraad of sogenaamde leidraad kan afmaak as niks nie. Dit is dalk net daai een wat jou op die spoor van die voortvlugtige plaas.
Die sosiale media is aan die brand met dié storie. Hulle het selfs vir Meneer M gister by die Augrabiese Watervalle gesien. 

Gavin of te wel G, geniet die dorpie waarheen hy onder polisiebewaking is. Sy voorkoms moes hy verander. Hy sny nou al sy hare af, dra altyd 'n pet en gaan nooit alleen uit nie. Hy wens net dat hy vir Yvonne kan sien. Hy het hopeloos lief geraak vir die meisiekind. Hy wonder egter of sy vir hom sal kans sien. Hy was dan deel van die mense wat haar haar vryheid wou ontneem. 

***
1 Kor 13:7 *Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
8 Die liefde vergaan nimmermeer;  ..
©Rooi Mier 13.07.2022

Maandag 29 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 52 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 52 - Rooi Mier

Almal is vroeg op in die Adriaanse woning. John is op sy knieë voor sy bed. Hy vra dat God met hulle gaan wees en gee dat hulle wyse besluite sal neem.  
Hy vra dat reg en geregtigheid sal geskied maar ook dat Max God sal vind. Vir hom is die belangrikste dat mense vrede in God vind.

Martin bid ook. Sy gebed gaan meer daaroor dat God Rachel sal veilig hou deur hierdie hele proses. Dat wat ook al gebeur sy berusting dal vind.

Rachel sit op haar bed. Sy het verskeie kere deur die nag wakker geword en gedink en gedink en gedink; sy sit en dink nou weer, daar is geen duidelikheid. Sy kan maar net hoop sy sal eendag 'n antwoord kry.

John is oppad om sy "familie", soos hy hulle noem, dit is nou die haweloses onder die brug, se kospakkies gereed te gaan kry. Hy gaan vanoggend vir Elton help.

Martin en Rachel is oppad na hul naaste polisiestasie. Hulle vra dat die persoon wat die ondersoek lei oor die saak teen Meneer M, hulle moet kontak. Martin maak dit duidelik dat hy met niemand anders sal praat nie.
Die konstabel wil dat Martin die inligting vir hom moet gee sodat hy dit kan deurgee. Hy het natuurlik sy eie agenda; hy kan dan maak asof hyself hierdie persone opgespoor het en sodoende 'n bietjie eer verwerf.
Martin wil egter niks hoor nie. Hy sê net dit is te sensitief.
Na verskeie oproepe beland hy by die hoofkantoor. Die persoon wat met hom praat verseker hom dat hy sal sorg dat die regte persoon Martin kontak.
Natuurlik het niemand uit die gewone geledere geweet wie dié ondersoek lei nie.
Martin besluit dat hy maar deur die Minister se kantoor moet werk. Hy neem Rachel saam na sy kantoor.
Daar skakel hy die woordvoerder van die minister. Dit het oortuiging gekos om die woordvoerder so ver te kry om 'n belofte te maak dat hulle na hom sal terugkom.

Willem  het sy besluit gemaak. Daar is net een manier waarop Steven uitbetaling gaan kry. Hy moet vandag voorlopig in die hof verskyn waar hy moet pleit en borgaansoek.
Hulle gaan hom nou enige tyd kom haal en na die hof toe ry. Dit sal in sy tuisdorp, Carnavon wees. Hulle sal hom in elk geval oorplaas na die selle daar.
Vandag is die dag. Hy gaan vandag opmaak vir al die seer wat hy veroorsaak het. Sy rykdom het aan hom armoede besorg. Net vanoggend het hy in die Bybel gelees, "wat baat dit jy win die hele wêreld maar jou siel ly skade." 
Willem het sy siel verloor. Hy was 'n groot verloorder.
By die hof aangekom, word hy en twee ander wat uit die selle in Vanwyksvlei kom begelei deur vier gewapende wagte. Hulle drie is saamgeketting maar het tog genoegsame beweegruimte.
Willem struikel skielik. Een van die wagte probeer verhoed dat hy val. Hy gryp na die wag se wapen. Met sy hande op die wag se wapen pluk 'n ander wag sy wapen uit en skiet hom in die bors.
Willem voel die slag en sterf amper oombliklik. Dit lyk amper of daar 'n glimlag op sy gesig is. Hy het nie homself doodgemaak nie; hy is doodgeskiet. 

Steven ontvang 'n oproep terwyl hy by die oop graf van sy dogter staan. Sy broer het probeer ontsnap en is doodgeskiet.
Hy weet nie hoe hy daaroor moet voel nie. Dit is deels as gevolg van Willem dat hy en Sarie nou hier staan. Hulle staan aan teenoorgestelde kante van 'n graf en rou.
In die kerk het die pastoor gepreek oor vergifnis. Hy het genoem hoeveel keer God ons vergewe. Hy het vertel dat Hy Sy Seun geoffer het om vir ons te sterwe. Steven is egter nog nie oortuig nie. Hy voel hy het Willem nog nie genoeg gehaat nie. 
Nou het die einste Willem hom ontneem van die kans om te haat. Hoe haat jy iemand wat nie lewe nie? Moet hy nou vir Sarie haat?
Hy kan nie want hy is lief vir haar, tog is hy nog nie gereed om haar te vergewe nie. 

Waar Meneer M in Johannesburg sit in 'n nie so gegoede gedeelte van die buurt, Reigerpark wonder hy hoe hulle gehoor het Meneer M sit agter die mensehandel. Daar is iemand binne die organisasie wat uitgepraat het. Niemand weet nou wel wie Meneer M is nie maar hy moet nou vure doodslaan.
Hy bedoel regtig doodslaan. Daar is drie of vier mense wat hy verdink, Twee van hulle was wagte op die plaas buite George. Dan is daar G. Hy het nie juis veel ooghare vir G nie net omdat hy ook net 'n voorletter gebruik. Weet G regtig genoeg? 
Dan is daar sy eie dogter, Candice. Hy glo nie sy sou enigiets aan die polisie gesê het nie maar soos die Engelsman sê, " Better safe than sorry."
Hy moet onmiddelik opdragte gee dat hulle gevind en stil gemaak word.
Hy verlang skielik na Rachel. Hy het haar jare laas gesien maar hy kon nie aan haar raak nie. Hy was mos veronderstel om dood te wees. Hy kon haar net op 'n afstand dophou waar sy 'n naweek in 'n luukse hotel 'gewen' het. Natuurlik was hy agter dit. Sy was nog die enigste vrou vir wie hy werklik lief was.
Hy gebruik 'n goedkoop selfoon wat hy net een keer gaan gebruik. Hy gee opdrag dat die vier, Candice, G en die twee wagte afgemaai moet word.

G word uit die hospitaal ontslaan. Hy word egter onmiddelik in 'n voertuig gelaai waar hy na 'n geheime bestemming weggevat word. Hy is onder polisiebeskerming.
Shane het hom reeds ingelig dat sy ma en Yvonne ook op 'n veilige plek is.

Shane ontvang 'n boodskap dat 'n sekere Martin Adriaanse hom dringend wou spreek. Hy het glo meer inligting oor Meneer M. Hy het so pas in Kaapstad aangekom. Hy skakel Martin en reël om hom onmiddelik te gaan sien in sy kantoor. 
Hy verkies om alleen te gaan al is daar die moontlikheid dat dit 'n lokval kan wees. Hy vra sy sekretaresse om vinnig meer inligting oor Adriaanse te bekom. Suksesvolle sakeman, in sy kringe word hy as eerbaar beskryf.  Hy het sy familie in 'n ongeluk verloor, geheueverlies gehad en vir 'n lang tyd as hawelose onder die halwe brug gewoon. Hy klink skoon maar mens weet nooit.
Shane kom betyds vir sy afspraak. Hy het net Martin verwag omdat dit so sensitief is maar daar is nog 'n dame by. Martin stel haar as Rachel Adriaanse voor.
"U besef die is 'n sensitiewe ondersoek?", sê, vra hy Martin.
"Ja natuurlik, hoe noem ek u?"
"Sommer net Shane asseblief."
"Nou Shane, ons het inligting wat ons dink belangrik is oor die ondersoek. Weet  jy al wie Meneer M is?"
Shane is bietjie uit die veld geslaan. Natuurlik kon hulle nog niks regtig vind oor Meneer M nie maar is dit nie dalk 'n manier waarop Martin wil uitvind hoeveel hulle wel weet nie?
"As jy meer inligting het gee dit dan vir my asseblief."
"Sy regte naam is Max Adriaanse. Hy is my broer. Rachel is sy vrou."
Shane sit doodstil. Max Adriaanse? Dit klink bekend.
"Hoe weet ek julle vertel die waarheid?"
"Luister net eers Shane. Hy is volgens Binnelandse Sake dood verklaar 'n paar jaar terug. Hy en sy vrou het in Keetmanshoop gewoon.
Sy kon nie verstaan hoekom hulle daar moes gaan woon nie. Hy het wel een dag oopgemaak teenoor haar en haar vertel van sy ondergrondse bedrywighede. Dit het op sy 'sterfbed' gebeur.
Daar het sy hom begrawe maar die begrafnisondernemer het gesê dat sy kis nie oopgemaak moes word nie weens gesondheidsredes.
Gisteraand het die foto wat u het van hom ons laat besef dat hy lewe. Dit is hoekom ons hier is vandag."
"Sjoe! Dit was nou behulpsaam. Het u enige foto's van hom saamgebring?"
 Rachel oorhandig foto's en sy doodsertifikaat. Gelukkig het sy altyd 'n afskrif in haar handsak gedra. Sy weet nou nog nie hoekom nie.
Shane ontvang 'n oproep. Dit moet belangrik wees want dit is sy werksnommer wat ook nie almal ken nie.
Hy vra of hy 'n plek met privaatheid kon kry want die oproep is belangrik. Martin en Rachel los hom alleen. Hulle gaan kry water en besluit op 'n Coke vir Shane uit die kombuis.
Shane sit daar toe hulle inkom.
"Die meisie wat ons gevange geneem het in Beaufort Wes, Candice Williams, is vermoor in haar sel.
Daar was ook 'n ongeluk waar 'n man dood is. Hy word verbind met 'n plaas buite George waar Meneer M, of liewer Max Adriaanse geskuil het.
Ja wat. Jou lewe is nikswerd as jy betrokke raak met dié tipe sindikate."

***
Spreuke 4:14 *Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie.
15 Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby;
16 *want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot 'n val bring nie.
17 Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid.
©Rooi Mier 13.07.2022

Sondag 28 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 51 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 51 - Rooi Mier


"Rachel, wat ek by jou wou weet, het jy nie die kis oopgemaak by sy begrafnis nie?"
"Nee, die begrafnisondernemer het my aangeraai om dit nie te doen nie.
So hy leef die heeltyd. Die vuilgoed. Hoe kon hy verklaar dat hy my liefhet en dit aan my doen? Het ek nie al genoeg gely nie?"
"Wat nou Rachel? Dit is jou man."
"En dit is jou broer Martin. Die logiese ding is om by die polisie uit te kom en 'n verklaring af te lê. Ek kan dit egter nie nou hanteer nie. Kan ons dit nie maar môre doen nie? Dit gaan tog nie 'n verskil maak of ons dit nou of môre doen nie."
John wat die hele tyd geluister het stem saam dat hulle môreoggend moet gaan en eers behoorlik moet rus.

Sarie en baie hartseer vanaand. Sally se oorskot het vandag in Vanwyksvlei aangekom. Met haar aankoms by die lykshuis het sy Steven daar gekry. Hy het haar nie sien inkom nie. Die liggaam was uit die laai gehaal en het op 'n tafel gelê waar die ondernemers hul laaste voorbereidings moes doen vir die begrafnis. 
Sarie het vroeër die week 'n rokkie gaan koop waarin die liggaam begrawe moes word. Sommige mense dink miskien dat dit geld mors is maar dit is 'n tradisie wat nog lank gaan bly. 
Steven sit met sy hand op haar koue voorkop.
"My dogter, ek is so lief vir jou. Vergewe my dat ek nie daar was in jou grootste nood nie. Ek was so vasgevang in my eie dinge dat ek nie eers geweet het jy het seer nie. Die mense die naaste aan jou het jou gefaal my kind.
Ek wil jou egter vertroos met die wete dat wanneer ek vir jou sê ek weet wat jy deurgemaak het, dan bedoel ek dit."
Steven se trane vloei nou.
"My kind, dieselfde ding het met my gebeur. Ek was net twaalf. Hy was agtien. Ek was liggamlik seer my kind, maar weet jy wat die seerste was?
Dit was toe my pa my uitlag toe ek hom vertel. Hy het my vertel ek het 'n wilde verbeelding. Mans doen nie dit met anders mans nie, en as dit dan waar is, hoekom het ek nie geveg nie? Is ek dan 'n sissie?
My kind, my lewe was nooit weer dieselfde nie. Daar was 'n stadium in my lewe dat ek werklik geglo het ek het dit verdien omdat ek 'n swakkeling was; 'n blerrie sissie wat nie vir homself kon opstaan nie. "
Sarie is geskok waar sy staan en luister. 
Steven vryf deur Sally se hare.
"Ek het 'n eensame kind en jongman geword. Soos ek ouer geword het, het die oortreder mag oor my verkry. Ek was totaal en al in sy mag. Wanneer hy naby my gekom het, het ek 'n verlammende vrees ontwikkel. Dit was asof ek heeltemaal afgeskakel het.
Hoe ouer ek geword het hoe moeiliker was dit om iets te doen. Die samelewing het my geleer dat mans wat verkrag word liewer in stilte moet ly. Hulle moes dit nie waag om eers dié moontlikheid te noem nie. Ek het begin drink om die seer weg te neem.
Dit was eers net naweke toe het dit in die week ook al hoe meer gebeur. As ek egter nugter geword het, het die seer teruggekom.
Eendag het ek jou ma ontmoet. Ek het opreg lief geword vir haar. Dit het my aangespoor om die drank te los my liefling kind. Ons het nie 'n lang verhouding gehad voor ons getrou het nie.
Jy was binne 'n jaar na die troue gebore. Jy was die mooiste baba ooit. Te hel met almal wat sê babas is nie mooi nie. Jy was beslis my kind.
Ons drie was gelukkig. Willem het in ons lewens gekom. Hy het my oortuig dat een drankie nie 'n probleem gaan wees nie my kind. Dit was die grootste leuen ooit. Na net een drankie wou ek weer en weer drink.
Dit was toe dat ek besef het ek was 'n alkoholis. Ek kon net nie weer wegkom van drank af nie. Willem het die geld voorsien en ek het gedrink.
Min het ek geweet dat my drankgebruik my vrou  in 'n posisie sou plaas waar sy met haar liggaam ons voortbestaan moes verseker. Daarvoor kan en het ek haar ten volle vergewe. Dit was immers ek wat haar daartoe gedryf het my kind. 
Wat ek haar egter nie kan vergewe is die feit dat sy jou nie geglo het toe jy vertel het Willem het jou verkrag nie. Ek moet ook deel van die blaam dra my kind. Nogtans, dit was onvergeefbaar. Sy en Willem moet uit my lewe uit. Ek het nie meer 'n vrou en 'n broer nie. 
Die Bybel leer my ek moet vergewe. Hoe? Sê my hoe asseblief."
Steven het vooroor geleen en haar op die voorkop gesoen. Sy mond het koud gevoel, so asof sy hom nie kon vergewe nie. Dit het meer trane laat vloei. Hy het skielik bewus geword van Sarie se teenwoordigheid, sy trane met sy hand afgevee en sonder 'n woord verby haar geloop. 
Dit het Sarie baie seergemaak; meer nog as die woorde dat hy haar nie gaan vergewe nie.
Nou lê sy alleen op hul bed en huil. Sy hoor hom werskaf in die kombuis. 
"Hoekom het hy my nooit vertel van wat hy deurgemaak het nie? As ek maar net geweet het met watter seer hy rondloop. As ek maar net geweet het hoekom hy so gedrink het.
Ek het hom nooit gevra hoekom hy so drink nie. Dit was net beskuldigings van suiplap en dronkgat. Ek het hom gereeld vertel van sy slegtigheid."
Sy huil haarself aan die slaap.

Willem lê in sy enkel sel en oordink sy lewe. Was dit alles die moeite werd?
Wat beteken al die geld in sy bankrekening as hy dit nooit kon geniet nie? Niemand moes weet hy het miljoene in die bank nie want hy moes altyd lewe soos die mense rondom hom. Net genoeg om nie uit te staan nie. 
Met sy eerste onwettige diamantetransaksie het hy in sy kop al die luukshede gesien wat hy sou aanskaf. Sy drome was egter vinnig vernietig toe 'n medelid van die sindikaat hom waarsku teen buitensporige spandering. So sy Switserse bankrekening het maar net bly groei en groei.
Nou beteken dit nog minder want hy het nie toegang tot dit nie. Hy het eintlik sy tyd en sy lewe gemors. 
Dan is daar Sally. Hoe spyt is hy nie nou omdat hy dit aan haar gedoen het nie. Hy onthou die haat wat sy in haar oë gehaat het elke keer as hy naby haar gekom het die afgelope jare. Dit het hom so sleg laat voel. Hy het dan altyd meer geld spandeer op Steven en Sarie se huis. Môre is haar begrafnis.
Sy huis in Carnavon is verwaarloos want hy is weinig daar. Hy kan die eensaamheid nie verdra nie. 
Willem was op 'n stadium getroud. Hy was egter so baie weg van die huis af dat toe hy een keer terugkeer na maande se afwesigheid was sy weg. Daar was nie kinders nie. Hy kon agterkom aan die stof in die huis dat sy al lankal weg is.
Hy het onthou dat sy gedreig het om hom te verlaat indien sy sou vasstel dat hy besig is met misdadige aktiwiteite. Daar was nie 'n nota wat vol stof was. Daar was net op geskryf,
"Ek het jou gewaarsku."
Hy het haar nooit weer gesien nie. 
Sarie! Hy het lief geraak vir haar maar dit was sy broer se vrou. Die enigste manier wat hy geken het was om haar af te dreig sodat hy naby haar kon kom. 
Van haar kant af was dit egter 'n koue, emosielose afvêre. Hoe het hy nie gehoop dat sy net eenkeer reageer nie. Sy het egter altyd net daar gelê; sonder uitdrukking of die wys van emosies. Hy sou tevrede gewees het as sy dalk ook net woede of haat getoon het maar daar was niks. Hy het haar probeer uitlok, probeer verneder maar dit het nie gehelp nie.
Al wat hy daaruit kon kry was liggaamlike bevrediging wat hom eintlik soos 'n dier laat voel het.
Nou lê hy hier. Niks, maar niks wat hom laat voel hy het iets bereik nie. Hy sien op die TV nuus van 'n Meneer M wat gesoek word. As hy maar weet dat hy eendag so ellendig sal voel, sal hy homself nou al oorgee. Misdaad betaal nie.
Willem sal sekerlik meeste van wat hy besit verloor want die staat gaan daarop beslag lê. Al wat oorbly is sy lewenspolisse. Hy het Steven die begunsdigde gemaak maar hy weet dit sal nie uitbetaal as hy selfdood dien nie. Daar bly net een uitweg oor.
Hy sal maar 'n plan moet beraam.

Rachel kan nie slaap nie. Net toe sy dink dit gaan veilig wees om uiteindelik terug Suid Afrika toe te trek, is Max terug op die toneel. Hy moet gestop word. Gelukkig het sy foto's van hom saamgebring om aan sy familie te oorhandig. Sy wou niks van hom hou nie maar kon dit nie opskeer nie. Nou kan sy dit aan die polisie oorhandig sodat hulle dit op die nuus kan wys.

Steven voel ligter vanaand. Vir die eerste keer kon hy sy geheim deel met iemand wat sou verstaan. Sy eie dogter.
Daar is tog waarheid daarin dat 'n mens jou seer met iemand moet deel. 
"Goeie nag my liefling kind; my Sally."

**
Mattheüs 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en *julle sal rus vind vir julle siele;
30 want *my juk is sag en my las is lig.
©Rooi Mier 13.07.2022

Vrydag 26 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 50 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 50 - Rooi Mier

Shane is besig om die Minister van Polisie, Meneer Bheki Cele in te lig rondom die vordering oor die spesiale eenheid se huidige operasie. 
Hy, die minister en die minister se woordvoerder is besig op 'n video oproep sodat 'n persverklaring uitgereik kan word.
Daarna haas Shane hom na die hospitaal. Hy het woord ontvang dat Gavin na hom gevra het. Hy weet natuurlik nie dat sy ma na 'n plek van veiligheid geneem was nie. Gavin self moet ook na 'n plek van veiligheid geskuif word. 
Op die dag dat Gavin vir Yvonne verskuif het, het Shane gesien en om die sjebeen geglip en per ongeluk afgekom op Gavin wat besig was om Yvonne te voed. Dit het hom getref met hoeveel teerheid G opgetree het. Hy kon sien dat dit nie gewone omgee was nie, maar liefde. 
Dit het hom laat besef dat hy reg was oor G. Dit het altyd voorgekom of nie daai brutaliteit besit om by mensehandel betrokke te wees nie. Gavin het gepraat van verskuif en dat Yvonne nie bang moet wees nie.
Shane het toe gesorg dat hy by sy eie voertuig uitkom sodat hy op 'n afstand kon volg. Dit was moeilik want hy kon sien dat Gavin wou seker maak hy word nie gevolg nie.
Iemand moes Gavin gebel het want hy het afgetrek om te praat. Dit het Shane die geleentheid gebied om naby te kom. Die oomblik toe G die foon dooddruk toe druk Shane sy vuurwapen teen sy kop. 
Hy het G beveel om na die ander sitplek oor te klim en self agter die stuurwiel ingeklim. Shane het toe vertel dat hy opgemerk het dat Gavin gevoelens vir Yvonne het en dat hy weet hy het vir Yvonne.
Shane het natuurlik nog sy hawelose vermomming gedra so Gavin se vermoedens dat daar meer aan die hawelose was as wat hy wou voorgee.
Nadat hulle ooreengekom het om saam te werk het Shane hom 'n klein, plat selfoon gegee wat aan die binnekant van sy brief kon vasknip. Gavin moes dit net gebruik as hy alleen is en ook net om Shane te kontak.
Dit is wat die uitvoering van die operasie moontlik gemaak het. Dit en die feit dat G staatsgetuie gaan wees sal maak dat Gavin dalk straf gaan vryspring, indien nie behoort hy nie 'n lang vonnis uit te dien nie.

Paul is by hul huis. Hy en sy ma het vir Yvonne besoek en hulle is tevrede dat sy nie ernstig beseer was nie. Die patroon was uit haar been verwyder. Sy het natuurlik baie maer geword maar dit is niks. Sy lewe. 
Yvonne het natuurlik uitgevra oor Gavin. Paul was natuurlik onsteld maar Yvonne het hom verseker dat dit asgevolg van hom was dat sy nog lewe. Hul ma het toe gesê dat sy dankbaar was teenoor hom. Om dié rede het Paul toe afgekoel.
Nou sit en eet hy 'n tuisgemaakte bord kos by sy ma se huis. Daai groenboontjie bredie, met lekker stukkies skaapvleis in, is eintlik oorstaan kos van die vorige aand. Vra maar vir die wat weet, heerlik.
Hy onthou skielik van Larisa. Na hy klaar geëet het probeer hy haar bel. Geen antwoord. Hy stuur haar toe 'n boodskap. Sy is nogals nie sleg op die oog nie dink hy. 
Hy wonder hoe dit met Sahara gaan. Dit is nou weke dat hy haar nie gesien het nie. Nou dat hy uitgevind het Lawrence is haar broer het hy meer hoop. Sodra hy terug is in die Kaap gaan hy haar opsoek as 'n vriend. Vanaand gaan hy onder sy ma se dak slaap. Hy is moeg want die vorige nag was vermoeiend.

Martin is by Kaapstad Internasionaal. Sy skoonsuster het nou net geland uit Namibia. Hy het haar aangeraai om bietjie te kom kuier. Daar is ook 'n paar dinge wat hy met haar wil bespreek. Dit is dringend. Hy wil persoonlik met haar praat aangaande die ondersoek wat hy namens haar laat doen het.
Daar kom sy nou net deur. Hoe moet hy hierdie nuus aan haar oordra? Dit gaan nie maklik wees nie. Hy self is nog in skok.
John het ook vanoggend teruggekom van Kanoneiland naby Upington af. Dit is waar hy gewoon het toe sy huis afgebrand het met sy vrou en kinders daarin. Na dit het hy Kaapstad toe gekom waar hy en Martin mekaar as hawelose ontmoet en vriende geword het.
Hy is eintlik bly dat hy en Rachel nie vanaand alleen gaan wees nie. Hy is nog nie gereed om die nuus oor te dra nie. John het juis vir Elton, Jolene en haar ma, Linda, oorgenooi vir aandete. 

Waar Meneer M in Oos Londen in 'n restaurant sit en eet, voel hy heel gerus. Hoekom sal hy nie? Hulle kon hom vir jare nie uitvang nie, hoekom sal hulle nou? Hy onthou hoe hy die eerste keer van Candice uitgevind het. 
Omdat hy gedurig rondgetrek het en op daardie stadium in Kaapstad gewoon het, moes hy vir 'n aand in Johannesburg oorslaap. Hy wou nie alleen wees nie en het besluit om Candice se ma te kry om die nag met hom te spandeer. Op daardie stadium het hy nog gedink Candice was Williams se dogter.
Die man het by een van sy wettige maatskappye gewerk en dit was dus maklik om hom uit die stad te kry vir een aand. Hy moes dringend Bloemfontein toe.
Daardie aand het Candice se ma per ongeluk, of was dit, laat glip dat haar man sy stiefdogter soos sy eie grootmaak. Terwyl hy na 'n foto van Candice gekyk het kon hy iets daarin sien wat  hom laat wonder het.
Daardie oggend het hy haar tandeborsel saamgeneem en 'n dna vaderskaptoets laat doen. Van daardie tyd af het hy 'n oog op sy dogter gehou en kon sien dat sy 'n persoon was wat altyd in beheer wil wees en 'n voorsmaak vir duur items gehad het. Die res is geskiedenis. 
Nou moet hy besluit tussen haar en sy besigheid. Die bietjie wat sy weet is te veel. Dit kan sy onwettige besigheid permanent laat sink. Hy is nog nie bereid om nou al tou op te gooi nie. Hy kies sy besigheid.
Vir nou moet hy net eers uit die land kom.

By Martin se woning het John aangebied om self aandete voor te berei. Hy het gesê hy wil iets uniek aan die Noord Kaap voorberei. In die stede is dit meestal die ouer mense wat die dis ken maar dan het daai ouer mense op die platteland grootgeword. Hy noem dit Domolings (dumplings) en vleis. Jy kook die vleis met jou speserye en kruie of net sout en peper, gewoonlik skaap in 'n groot pot met baie water. Wanneer die vleis redelik tot klaar gaar is dan maak jy redelik groterige balle van vooraf gekniede deeg en plaas dit bo-op die vleis en maak toe en laat verder kook. Hy is seker die Kapenaars sal daarvan hou. 
Dit is 'n baie gesellige aand. Hulle het vreeslik baie van dié eenvoudige maaltyd gehou.  Rachel, John se skoonsuster het gesê dit bring herinneringe van haar kinderdae terug. Sy self het dit nog laas gemaak voordat sy Namibia toe verhuis het. 
Jolene het nagereg gebring. Terwyl hulle die nagereg eet staan John op en vra stilte. Hy stap tot by Linda en trek haar op aan die hand.
"Linda, jy ken my geskiedenis. Daar is niks oor my verlede wat ek vir jou weggesteek het nie."
Almal is skielik doodstil. 
"Jy weet dat ek eens op 'n tyd 'n dronklap was wat nie omgegee het vir sy familie nie totdat ek hulle almal verloor het nie. Jy weet van die John wat onder die brug gebly het. 
Dan weet jy dat ek nie net 'n nuwe bladjie omgeslaan het nie. Ek het sommer die ou boek weggegooi. Dit kon net gebeur deur Christus se bloed.
Hy het my 'n nuwe mens kom maak. Na dit het Hy iemand in my lewe kom plaas sonder wie ek nie die lewe verder wil aandurf nie. Hy het vir iemand gegee wat ek as 'n vrou, vriend en metgesel in my lewe wil hê.
Linda, die ou knieë kan nie meer so lekker buig nie. "
Hy stop 'n oomblik, haal 'n ring uit sy sak.
"Linda, sal jy daardie persoon in my lewe wees? Sal jy met my trou?"
"Met jou trou? Wat dink jy van my John."
Almal is dadelik gespanne. John voel of hy in die aarde kan wegsink.
"Ek wil eintlik nee sê omdat jy so lank gevat het om my te vra. Natuurlik wil ek met jou trou, op een voorwaarde."
"Wat is die voorwaarde Linda? Ek sal enigiets doen."
"Ek wil nie langer as 'n maand wag nie."
"Mammie, dit is hopeloos te vinnig. Daar is nog reëlings wat getref moet word."
"Ek is oud Jolene. Al wat ek verlang is om net te trou en 'n ete."
"Gee nou vir my kans toe! Ja, ek aanvaar jou voorwaarde."
Almal spring op en begin vir die aanstaandes geluk te wens. "Oom John, dit sal vir my 'n eer wees om u as my pa te hê", fluister Jolene in John se oor. 
Hy kry sommer trane in sy oë.
Nadat Elton, Jolene en Linda vertrek het, dink Martin hy sal seker nou vir Rachel moet inlig. 
Terwyl Rachel en John afdek, skakel Martin gou die TV aan om net die hoofnuus te vang. John wil gou koffie maak.
"Hier is die hoofnuus vir vanaand. Daar het vanoggend in die vroeë oggengure groot drama afgespeel in Meiringspoort net buite Beaufort Wes. Die spesiale mag het 'n poging tot mensehandel gefnuik toe hulle 'n jong student gered het uit die hande van 'n groep mensehandelaars. 
Volgens die woordvoerder van die minister het die baasbrein agter dié misdaadsindikaat 'n sekere Meneer M is. Daar is nie veel inligting oor hom nie want hy werk altyd agter die skerms. Meer inligting rondom die gebeure sal later vrygestel word."
Martin kyk verskrik na Rachel wat saam met John uit die kombuis kom.
"Wat gaan nou aan Martin? Hoekom lyk jy so verskrik?", vra John.
"Kom sit julle. Rachel, ek het nuus vir jou. Die nuusberig wat nou op was, praat van Meneer M as die baasbrein agter dié bendebedreiwighede. My privaatspeurderspan het uitgevind wie Meneer M is. Dit is Max Adriaanse. Jou oorlede man.
Max lewe nog"

***
Genésis 2:18 Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas.
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...