Maandag 29 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 52 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 52 - Rooi Mier

Almal is vroeg op in die Adriaanse woning. John is op sy knieë voor sy bed. Hy vra dat God met hulle gaan wees en gee dat hulle wyse besluite sal neem.  
Hy vra dat reg en geregtigheid sal geskied maar ook dat Max God sal vind. Vir hom is die belangrikste dat mense vrede in God vind.

Martin bid ook. Sy gebed gaan meer daaroor dat God Rachel sal veilig hou deur hierdie hele proses. Dat wat ook al gebeur sy berusting dal vind.

Rachel sit op haar bed. Sy het verskeie kere deur die nag wakker geword en gedink en gedink en gedink; sy sit en dink nou weer, daar is geen duidelikheid. Sy kan maar net hoop sy sal eendag 'n antwoord kry.

John is oppad om sy "familie", soos hy hulle noem, dit is nou die haweloses onder die brug, se kospakkies gereed te gaan kry. Hy gaan vanoggend vir Elton help.

Martin en Rachel is oppad na hul naaste polisiestasie. Hulle vra dat die persoon wat die ondersoek lei oor die saak teen Meneer M, hulle moet kontak. Martin maak dit duidelik dat hy met niemand anders sal praat nie.
Die konstabel wil dat Martin die inligting vir hom moet gee sodat hy dit kan deurgee. Hy het natuurlik sy eie agenda; hy kan dan maak asof hyself hierdie persone opgespoor het en sodoende 'n bietjie eer verwerf.
Martin wil egter niks hoor nie. Hy sê net dit is te sensitief.
Na verskeie oproepe beland hy by die hoofkantoor. Die persoon wat met hom praat verseker hom dat hy sal sorg dat die regte persoon Martin kontak.
Natuurlik het niemand uit die gewone geledere geweet wie dié ondersoek lei nie.
Martin besluit dat hy maar deur die Minister se kantoor moet werk. Hy neem Rachel saam na sy kantoor.
Daar skakel hy die woordvoerder van die minister. Dit het oortuiging gekos om die woordvoerder so ver te kry om 'n belofte te maak dat hulle na hom sal terugkom.

Willem  het sy besluit gemaak. Daar is net een manier waarop Steven uitbetaling gaan kry. Hy moet vandag voorlopig in die hof verskyn waar hy moet pleit en borgaansoek.
Hulle gaan hom nou enige tyd kom haal en na die hof toe ry. Dit sal in sy tuisdorp, Carnavon wees. Hulle sal hom in elk geval oorplaas na die selle daar.
Vandag is die dag. Hy gaan vandag opmaak vir al die seer wat hy veroorsaak het. Sy rykdom het aan hom armoede besorg. Net vanoggend het hy in die Bybel gelees, "wat baat dit jy win die hele wêreld maar jou siel ly skade." 
Willem het sy siel verloor. Hy was 'n groot verloorder.
By die hof aangekom, word hy en twee ander wat uit die selle in Vanwyksvlei kom begelei deur vier gewapende wagte. Hulle drie is saamgeketting maar het tog genoegsame beweegruimte.
Willem struikel skielik. Een van die wagte probeer verhoed dat hy val. Hy gryp na die wag se wapen. Met sy hande op die wag se wapen pluk 'n ander wag sy wapen uit en skiet hom in die bors.
Willem voel die slag en sterf amper oombliklik. Dit lyk amper of daar 'n glimlag op sy gesig is. Hy het nie homself doodgemaak nie; hy is doodgeskiet. 

Steven ontvang 'n oproep terwyl hy by die oop graf van sy dogter staan. Sy broer het probeer ontsnap en is doodgeskiet.
Hy weet nie hoe hy daaroor moet voel nie. Dit is deels as gevolg van Willem dat hy en Sarie nou hier staan. Hulle staan aan teenoorgestelde kante van 'n graf en rou.
In die kerk het die pastoor gepreek oor vergifnis. Hy het genoem hoeveel keer God ons vergewe. Hy het vertel dat Hy Sy Seun geoffer het om vir ons te sterwe. Steven is egter nog nie oortuig nie. Hy voel hy het Willem nog nie genoeg gehaat nie. 
Nou het die einste Willem hom ontneem van die kans om te haat. Hoe haat jy iemand wat nie lewe nie? Moet hy nou vir Sarie haat?
Hy kan nie want hy is lief vir haar, tog is hy nog nie gereed om haar te vergewe nie. 

Waar Meneer M in Johannesburg sit in 'n nie so gegoede gedeelte van die buurt, Reigerpark wonder hy hoe hulle gehoor het Meneer M sit agter die mensehandel. Daar is iemand binne die organisasie wat uitgepraat het. Niemand weet nou wel wie Meneer M is nie maar hy moet nou vure doodslaan.
Hy bedoel regtig doodslaan. Daar is drie of vier mense wat hy verdink, Twee van hulle was wagte op die plaas buite George. Dan is daar G. Hy het nie juis veel ooghare vir G nie net omdat hy ook net 'n voorletter gebruik. Weet G regtig genoeg? 
Dan is daar sy eie dogter, Candice. Hy glo nie sy sou enigiets aan die polisie gesê het nie maar soos die Engelsman sê, " Better safe than sorry."
Hy moet onmiddelik opdragte gee dat hulle gevind en stil gemaak word.
Hy verlang skielik na Rachel. Hy het haar jare laas gesien maar hy kon nie aan haar raak nie. Hy was mos veronderstel om dood te wees. Hy kon haar net op 'n afstand dophou waar sy 'n naweek in 'n luukse hotel 'gewen' het. Natuurlik was hy agter dit. Sy was nog die enigste vrou vir wie hy werklik lief was.
Hy gebruik 'n goedkoop selfoon wat hy net een keer gaan gebruik. Hy gee opdrag dat die vier, Candice, G en die twee wagte afgemaai moet word.

G word uit die hospitaal ontslaan. Hy word egter onmiddelik in 'n voertuig gelaai waar hy na 'n geheime bestemming weggevat word. Hy is onder polisiebeskerming.
Shane het hom reeds ingelig dat sy ma en Yvonne ook op 'n veilige plek is.

Shane ontvang 'n boodskap dat 'n sekere Martin Adriaanse hom dringend wou spreek. Hy het glo meer inligting oor Meneer M. Hy het so pas in Kaapstad aangekom. Hy skakel Martin en reël om hom onmiddelik te gaan sien in sy kantoor. 
Hy verkies om alleen te gaan al is daar die moontlikheid dat dit 'n lokval kan wees. Hy vra sy sekretaresse om vinnig meer inligting oor Adriaanse te bekom. Suksesvolle sakeman, in sy kringe word hy as eerbaar beskryf.  Hy het sy familie in 'n ongeluk verloor, geheueverlies gehad en vir 'n lang tyd as hawelose onder die halwe brug gewoon. Hy klink skoon maar mens weet nooit.
Shane kom betyds vir sy afspraak. Hy het net Martin verwag omdat dit so sensitief is maar daar is nog 'n dame by. Martin stel haar as Rachel Adriaanse voor.
"U besef die is 'n sensitiewe ondersoek?", sê, vra hy Martin.
"Ja natuurlik, hoe noem ek u?"
"Sommer net Shane asseblief."
"Nou Shane, ons het inligting wat ons dink belangrik is oor die ondersoek. Weet  jy al wie Meneer M is?"
Shane is bietjie uit die veld geslaan. Natuurlik kon hulle nog niks regtig vind oor Meneer M nie maar is dit nie dalk 'n manier waarop Martin wil uitvind hoeveel hulle wel weet nie?
"As jy meer inligting het gee dit dan vir my asseblief."
"Sy regte naam is Max Adriaanse. Hy is my broer. Rachel is sy vrou."
Shane sit doodstil. Max Adriaanse? Dit klink bekend.
"Hoe weet ek julle vertel die waarheid?"
"Luister net eers Shane. Hy is volgens Binnelandse Sake dood verklaar 'n paar jaar terug. Hy en sy vrou het in Keetmanshoop gewoon.
Sy kon nie verstaan hoekom hulle daar moes gaan woon nie. Hy het wel een dag oopgemaak teenoor haar en haar vertel van sy ondergrondse bedrywighede. Dit het op sy 'sterfbed' gebeur.
Daar het sy hom begrawe maar die begrafnisondernemer het gesê dat sy kis nie oopgemaak moes word nie weens gesondheidsredes.
Gisteraand het die foto wat u het van hom ons laat besef dat hy lewe. Dit is hoekom ons hier is vandag."
"Sjoe! Dit was nou behulpsaam. Het u enige foto's van hom saamgebring?"
 Rachel oorhandig foto's en sy doodsertifikaat. Gelukkig het sy altyd 'n afskrif in haar handsak gedra. Sy weet nou nog nie hoekom nie.
Shane ontvang 'n oproep. Dit moet belangrik wees want dit is sy werksnommer wat ook nie almal ken nie.
Hy vra of hy 'n plek met privaatheid kon kry want die oproep is belangrik. Martin en Rachel los hom alleen. Hulle gaan kry water en besluit op 'n Coke vir Shane uit die kombuis.
Shane sit daar toe hulle inkom.
"Die meisie wat ons gevange geneem het in Beaufort Wes, Candice Williams, is vermoor in haar sel.
Daar was ook 'n ongeluk waar 'n man dood is. Hy word verbind met 'n plaas buite George waar Meneer M, of liewer Max Adriaanse geskuil het.
Ja wat. Jou lewe is nikswerd as jy betrokke raak met dié tipe sindikate."

***
Spreuke 4:14 *Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie.
15 Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby;
16 *want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot 'n val bring nie.
17 Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid.
©Rooi Mier 13.07.2022

Sondag 28 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 51 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 51 - Rooi Mier


"Rachel, wat ek by jou wou weet, het jy nie die kis oopgemaak by sy begrafnis nie?"
"Nee, die begrafnisondernemer het my aangeraai om dit nie te doen nie.
So hy leef die heeltyd. Die vuilgoed. Hoe kon hy verklaar dat hy my liefhet en dit aan my doen? Het ek nie al genoeg gely nie?"
"Wat nou Rachel? Dit is jou man."
"En dit is jou broer Martin. Die logiese ding is om by die polisie uit te kom en 'n verklaring af te lê. Ek kan dit egter nie nou hanteer nie. Kan ons dit nie maar môre doen nie? Dit gaan tog nie 'n verskil maak of ons dit nou of môre doen nie."
John wat die hele tyd geluister het stem saam dat hulle môreoggend moet gaan en eers behoorlik moet rus.

Sarie en baie hartseer vanaand. Sally se oorskot het vandag in Vanwyksvlei aangekom. Met haar aankoms by die lykshuis het sy Steven daar gekry. Hy het haar nie sien inkom nie. Die liggaam was uit die laai gehaal en het op 'n tafel gelê waar die ondernemers hul laaste voorbereidings moes doen vir die begrafnis. 
Sarie het vroeër die week 'n rokkie gaan koop waarin die liggaam begrawe moes word. Sommige mense dink miskien dat dit geld mors is maar dit is 'n tradisie wat nog lank gaan bly. 
Steven sit met sy hand op haar koue voorkop.
"My dogter, ek is so lief vir jou. Vergewe my dat ek nie daar was in jou grootste nood nie. Ek was so vasgevang in my eie dinge dat ek nie eers geweet het jy het seer nie. Die mense die naaste aan jou het jou gefaal my kind.
Ek wil jou egter vertroos met die wete dat wanneer ek vir jou sê ek weet wat jy deurgemaak het, dan bedoel ek dit."
Steven se trane vloei nou.
"My kind, dieselfde ding het met my gebeur. Ek was net twaalf. Hy was agtien. Ek was liggamlik seer my kind, maar weet jy wat die seerste was?
Dit was toe my pa my uitlag toe ek hom vertel. Hy het my vertel ek het 'n wilde verbeelding. Mans doen nie dit met anders mans nie, en as dit dan waar is, hoekom het ek nie geveg nie? Is ek dan 'n sissie?
My kind, my lewe was nooit weer dieselfde nie. Daar was 'n stadium in my lewe dat ek werklik geglo het ek het dit verdien omdat ek 'n swakkeling was; 'n blerrie sissie wat nie vir homself kon opstaan nie. "
Sarie is geskok waar sy staan en luister. 
Steven vryf deur Sally se hare.
"Ek het 'n eensame kind en jongman geword. Soos ek ouer geword het, het die oortreder mag oor my verkry. Ek was totaal en al in sy mag. Wanneer hy naby my gekom het, het ek 'n verlammende vrees ontwikkel. Dit was asof ek heeltemaal afgeskakel het.
Hoe ouer ek geword het hoe moeiliker was dit om iets te doen. Die samelewing het my geleer dat mans wat verkrag word liewer in stilte moet ly. Hulle moes dit nie waag om eers dié moontlikheid te noem nie. Ek het begin drink om die seer weg te neem.
Dit was eers net naweke toe het dit in die week ook al hoe meer gebeur. As ek egter nugter geword het, het die seer teruggekom.
Eendag het ek jou ma ontmoet. Ek het opreg lief geword vir haar. Dit het my aangespoor om die drank te los my liefling kind. Ons het nie 'n lang verhouding gehad voor ons getrou het nie.
Jy was binne 'n jaar na die troue gebore. Jy was die mooiste baba ooit. Te hel met almal wat sê babas is nie mooi nie. Jy was beslis my kind.
Ons drie was gelukkig. Willem het in ons lewens gekom. Hy het my oortuig dat een drankie nie 'n probleem gaan wees nie my kind. Dit was die grootste leuen ooit. Na net een drankie wou ek weer en weer drink.
Dit was toe dat ek besef het ek was 'n alkoholis. Ek kon net nie weer wegkom van drank af nie. Willem het die geld voorsien en ek het gedrink.
Min het ek geweet dat my drankgebruik my vrou  in 'n posisie sou plaas waar sy met haar liggaam ons voortbestaan moes verseker. Daarvoor kan en het ek haar ten volle vergewe. Dit was immers ek wat haar daartoe gedryf het my kind. 
Wat ek haar egter nie kan vergewe is die feit dat sy jou nie geglo het toe jy vertel het Willem het jou verkrag nie. Ek moet ook deel van die blaam dra my kind. Nogtans, dit was onvergeefbaar. Sy en Willem moet uit my lewe uit. Ek het nie meer 'n vrou en 'n broer nie. 
Die Bybel leer my ek moet vergewe. Hoe? Sê my hoe asseblief."
Steven het vooroor geleen en haar op die voorkop gesoen. Sy mond het koud gevoel, so asof sy hom nie kon vergewe nie. Dit het meer trane laat vloei. Hy het skielik bewus geword van Sarie se teenwoordigheid, sy trane met sy hand afgevee en sonder 'n woord verby haar geloop. 
Dit het Sarie baie seergemaak; meer nog as die woorde dat hy haar nie gaan vergewe nie.
Nou lê sy alleen op hul bed en huil. Sy hoor hom werskaf in die kombuis. 
"Hoekom het hy my nooit vertel van wat hy deurgemaak het nie? As ek maar net geweet het met watter seer hy rondloop. As ek maar net geweet het hoekom hy so gedrink het.
Ek het hom nooit gevra hoekom hy so drink nie. Dit was net beskuldigings van suiplap en dronkgat. Ek het hom gereeld vertel van sy slegtigheid."
Sy huil haarself aan die slaap.

Willem lê in sy enkel sel en oordink sy lewe. Was dit alles die moeite werd?
Wat beteken al die geld in sy bankrekening as hy dit nooit kon geniet nie? Niemand moes weet hy het miljoene in die bank nie want hy moes altyd lewe soos die mense rondom hom. Net genoeg om nie uit te staan nie. 
Met sy eerste onwettige diamantetransaksie het hy in sy kop al die luukshede gesien wat hy sou aanskaf. Sy drome was egter vinnig vernietig toe 'n medelid van die sindikaat hom waarsku teen buitensporige spandering. So sy Switserse bankrekening het maar net bly groei en groei.
Nou beteken dit nog minder want hy het nie toegang tot dit nie. Hy het eintlik sy tyd en sy lewe gemors. 
Dan is daar Sally. Hoe spyt is hy nie nou omdat hy dit aan haar gedoen het nie. Hy onthou die haat wat sy in haar oë gehaat het elke keer as hy naby haar gekom het die afgelope jare. Dit het hom so sleg laat voel. Hy het dan altyd meer geld spandeer op Steven en Sarie se huis. Môre is haar begrafnis.
Sy huis in Carnavon is verwaarloos want hy is weinig daar. Hy kan die eensaamheid nie verdra nie. 
Willem was op 'n stadium getroud. Hy was egter so baie weg van die huis af dat toe hy een keer terugkeer na maande se afwesigheid was sy weg. Daar was nie kinders nie. Hy kon agterkom aan die stof in die huis dat sy al lankal weg is.
Hy het onthou dat sy gedreig het om hom te verlaat indien sy sou vasstel dat hy besig is met misdadige aktiwiteite. Daar was nie 'n nota wat vol stof was. Daar was net op geskryf,
"Ek het jou gewaarsku."
Hy het haar nooit weer gesien nie. 
Sarie! Hy het lief geraak vir haar maar dit was sy broer se vrou. Die enigste manier wat hy geken het was om haar af te dreig sodat hy naby haar kon kom. 
Van haar kant af was dit egter 'n koue, emosielose afvêre. Hoe het hy nie gehoop dat sy net eenkeer reageer nie. Sy het egter altyd net daar gelê; sonder uitdrukking of die wys van emosies. Hy sou tevrede gewees het as sy dalk ook net woede of haat getoon het maar daar was niks. Hy het haar probeer uitlok, probeer verneder maar dit het nie gehelp nie.
Al wat hy daaruit kon kry was liggaamlike bevrediging wat hom eintlik soos 'n dier laat voel het.
Nou lê hy hier. Niks, maar niks wat hom laat voel hy het iets bereik nie. Hy sien op die TV nuus van 'n Meneer M wat gesoek word. As hy maar weet dat hy eendag so ellendig sal voel, sal hy homself nou al oorgee. Misdaad betaal nie.
Willem sal sekerlik meeste van wat hy besit verloor want die staat gaan daarop beslag lê. Al wat oorbly is sy lewenspolisse. Hy het Steven die begunsdigde gemaak maar hy weet dit sal nie uitbetaal as hy selfdood dien nie. Daar bly net een uitweg oor.
Hy sal maar 'n plan moet beraam.

Rachel kan nie slaap nie. Net toe sy dink dit gaan veilig wees om uiteindelik terug Suid Afrika toe te trek, is Max terug op die toneel. Hy moet gestop word. Gelukkig het sy foto's van hom saamgebring om aan sy familie te oorhandig. Sy wou niks van hom hou nie maar kon dit nie opskeer nie. Nou kan sy dit aan die polisie oorhandig sodat hulle dit op die nuus kan wys.

Steven voel ligter vanaand. Vir die eerste keer kon hy sy geheim deel met iemand wat sou verstaan. Sy eie dogter.
Daar is tog waarheid daarin dat 'n mens jou seer met iemand moet deel. 
"Goeie nag my liefling kind; my Sally."

**
Mattheüs 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en *julle sal rus vind vir julle siele;
30 want *my juk is sag en my las is lig.
©Rooi Mier 13.07.2022

Vrydag 26 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 50 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 50 - Rooi Mier

Shane is besig om die Minister van Polisie, Meneer Bheki Cele in te lig rondom die vordering oor die spesiale eenheid se huidige operasie. 
Hy, die minister en die minister se woordvoerder is besig op 'n video oproep sodat 'n persverklaring uitgereik kan word.
Daarna haas Shane hom na die hospitaal. Hy het woord ontvang dat Gavin na hom gevra het. Hy weet natuurlik nie dat sy ma na 'n plek van veiligheid geneem was nie. Gavin self moet ook na 'n plek van veiligheid geskuif word. 
Op die dag dat Gavin vir Yvonne verskuif het, het Shane gesien en om die sjebeen geglip en per ongeluk afgekom op Gavin wat besig was om Yvonne te voed. Dit het hom getref met hoeveel teerheid G opgetree het. Hy kon sien dat dit nie gewone omgee was nie, maar liefde. 
Dit het hom laat besef dat hy reg was oor G. Dit het altyd voorgekom of nie daai brutaliteit besit om by mensehandel betrokke te wees nie. Gavin het gepraat van verskuif en dat Yvonne nie bang moet wees nie.
Shane het toe gesorg dat hy by sy eie voertuig uitkom sodat hy op 'n afstand kon volg. Dit was moeilik want hy kon sien dat Gavin wou seker maak hy word nie gevolg nie.
Iemand moes Gavin gebel het want hy het afgetrek om te praat. Dit het Shane die geleentheid gebied om naby te kom. Die oomblik toe G die foon dooddruk toe druk Shane sy vuurwapen teen sy kop. 
Hy het G beveel om na die ander sitplek oor te klim en self agter die stuurwiel ingeklim. Shane het toe vertel dat hy opgemerk het dat Gavin gevoelens vir Yvonne het en dat hy weet hy het vir Yvonne.
Shane het natuurlik nog sy hawelose vermomming gedra so Gavin se vermoedens dat daar meer aan die hawelose was as wat hy wou voorgee.
Nadat hulle ooreengekom het om saam te werk het Shane hom 'n klein, plat selfoon gegee wat aan die binnekant van sy brief kon vasknip. Gavin moes dit net gebruik as hy alleen is en ook net om Shane te kontak.
Dit is wat die uitvoering van die operasie moontlik gemaak het. Dit en die feit dat G staatsgetuie gaan wees sal maak dat Gavin dalk straf gaan vryspring, indien nie behoort hy nie 'n lang vonnis uit te dien nie.

Paul is by hul huis. Hy en sy ma het vir Yvonne besoek en hulle is tevrede dat sy nie ernstig beseer was nie. Die patroon was uit haar been verwyder. Sy het natuurlik baie maer geword maar dit is niks. Sy lewe. 
Yvonne het natuurlik uitgevra oor Gavin. Paul was natuurlik onsteld maar Yvonne het hom verseker dat dit asgevolg van hom was dat sy nog lewe. Hul ma het toe gesê dat sy dankbaar was teenoor hom. Om dié rede het Paul toe afgekoel.
Nou sit en eet hy 'n tuisgemaakte bord kos by sy ma se huis. Daai groenboontjie bredie, met lekker stukkies skaapvleis in, is eintlik oorstaan kos van die vorige aand. Vra maar vir die wat weet, heerlik.
Hy onthou skielik van Larisa. Na hy klaar geëet het probeer hy haar bel. Geen antwoord. Hy stuur haar toe 'n boodskap. Sy is nogals nie sleg op die oog nie dink hy. 
Hy wonder hoe dit met Sahara gaan. Dit is nou weke dat hy haar nie gesien het nie. Nou dat hy uitgevind het Lawrence is haar broer het hy meer hoop. Sodra hy terug is in die Kaap gaan hy haar opsoek as 'n vriend. Vanaand gaan hy onder sy ma se dak slaap. Hy is moeg want die vorige nag was vermoeiend.

Martin is by Kaapstad Internasionaal. Sy skoonsuster het nou net geland uit Namibia. Hy het haar aangeraai om bietjie te kom kuier. Daar is ook 'n paar dinge wat hy met haar wil bespreek. Dit is dringend. Hy wil persoonlik met haar praat aangaande die ondersoek wat hy namens haar laat doen het.
Daar kom sy nou net deur. Hoe moet hy hierdie nuus aan haar oordra? Dit gaan nie maklik wees nie. Hy self is nog in skok.
John het ook vanoggend teruggekom van Kanoneiland naby Upington af. Dit is waar hy gewoon het toe sy huis afgebrand het met sy vrou en kinders daarin. Na dit het hy Kaapstad toe gekom waar hy en Martin mekaar as hawelose ontmoet en vriende geword het.
Hy is eintlik bly dat hy en Rachel nie vanaand alleen gaan wees nie. Hy is nog nie gereed om die nuus oor te dra nie. John het juis vir Elton, Jolene en haar ma, Linda, oorgenooi vir aandete. 

Waar Meneer M in Oos Londen in 'n restaurant sit en eet, voel hy heel gerus. Hoekom sal hy nie? Hulle kon hom vir jare nie uitvang nie, hoekom sal hulle nou? Hy onthou hoe hy die eerste keer van Candice uitgevind het. 
Omdat hy gedurig rondgetrek het en op daardie stadium in Kaapstad gewoon het, moes hy vir 'n aand in Johannesburg oorslaap. Hy wou nie alleen wees nie en het besluit om Candice se ma te kry om die nag met hom te spandeer. Op daardie stadium het hy nog gedink Candice was Williams se dogter.
Die man het by een van sy wettige maatskappye gewerk en dit was dus maklik om hom uit die stad te kry vir een aand. Hy moes dringend Bloemfontein toe.
Daardie aand het Candice se ma per ongeluk, of was dit, laat glip dat haar man sy stiefdogter soos sy eie grootmaak. Terwyl hy na 'n foto van Candice gekyk het kon hy iets daarin sien wat  hom laat wonder het.
Daardie oggend het hy haar tandeborsel saamgeneem en 'n dna vaderskaptoets laat doen. Van daardie tyd af het hy 'n oog op sy dogter gehou en kon sien dat sy 'n persoon was wat altyd in beheer wil wees en 'n voorsmaak vir duur items gehad het. Die res is geskiedenis. 
Nou moet hy besluit tussen haar en sy besigheid. Die bietjie wat sy weet is te veel. Dit kan sy onwettige besigheid permanent laat sink. Hy is nog nie bereid om nou al tou op te gooi nie. Hy kies sy besigheid.
Vir nou moet hy net eers uit die land kom.

By Martin se woning het John aangebied om self aandete voor te berei. Hy het gesê hy wil iets uniek aan die Noord Kaap voorberei. In die stede is dit meestal die ouer mense wat die dis ken maar dan het daai ouer mense op die platteland grootgeword. Hy noem dit Domolings (dumplings) en vleis. Jy kook die vleis met jou speserye en kruie of net sout en peper, gewoonlik skaap in 'n groot pot met baie water. Wanneer die vleis redelik tot klaar gaar is dan maak jy redelik groterige balle van vooraf gekniede deeg en plaas dit bo-op die vleis en maak toe en laat verder kook. Hy is seker die Kapenaars sal daarvan hou. 
Dit is 'n baie gesellige aand. Hulle het vreeslik baie van dié eenvoudige maaltyd gehou.  Rachel, John se skoonsuster het gesê dit bring herinneringe van haar kinderdae terug. Sy self het dit nog laas gemaak voordat sy Namibia toe verhuis het. 
Jolene het nagereg gebring. Terwyl hulle die nagereg eet staan John op en vra stilte. Hy stap tot by Linda en trek haar op aan die hand.
"Linda, jy ken my geskiedenis. Daar is niks oor my verlede wat ek vir jou weggesteek het nie."
Almal is skielik doodstil. 
"Jy weet dat ek eens op 'n tyd 'n dronklap was wat nie omgegee het vir sy familie nie totdat ek hulle almal verloor het nie. Jy weet van die John wat onder die brug gebly het. 
Dan weet jy dat ek nie net 'n nuwe bladjie omgeslaan het nie. Ek het sommer die ou boek weggegooi. Dit kon net gebeur deur Christus se bloed.
Hy het my 'n nuwe mens kom maak. Na dit het Hy iemand in my lewe kom plaas sonder wie ek nie die lewe verder wil aandurf nie. Hy het vir iemand gegee wat ek as 'n vrou, vriend en metgesel in my lewe wil hê.
Linda, die ou knieë kan nie meer so lekker buig nie. "
Hy stop 'n oomblik, haal 'n ring uit sy sak.
"Linda, sal jy daardie persoon in my lewe wees? Sal jy met my trou?"
"Met jou trou? Wat dink jy van my John."
Almal is dadelik gespanne. John voel of hy in die aarde kan wegsink.
"Ek wil eintlik nee sê omdat jy so lank gevat het om my te vra. Natuurlik wil ek met jou trou, op een voorwaarde."
"Wat is die voorwaarde Linda? Ek sal enigiets doen."
"Ek wil nie langer as 'n maand wag nie."
"Mammie, dit is hopeloos te vinnig. Daar is nog reëlings wat getref moet word."
"Ek is oud Jolene. Al wat ek verlang is om net te trou en 'n ete."
"Gee nou vir my kans toe! Ja, ek aanvaar jou voorwaarde."
Almal spring op en begin vir die aanstaandes geluk te wens. "Oom John, dit sal vir my 'n eer wees om u as my pa te hê", fluister Jolene in John se oor. 
Hy kry sommer trane in sy oë.
Nadat Elton, Jolene en Linda vertrek het, dink Martin hy sal seker nou vir Rachel moet inlig. 
Terwyl Rachel en John afdek, skakel Martin gou die TV aan om net die hoofnuus te vang. John wil gou koffie maak.
"Hier is die hoofnuus vir vanaand. Daar het vanoggend in die vroeë oggengure groot drama afgespeel in Meiringspoort net buite Beaufort Wes. Die spesiale mag het 'n poging tot mensehandel gefnuik toe hulle 'n jong student gered het uit die hande van 'n groep mensehandelaars. 
Volgens die woordvoerder van die minister het die baasbrein agter dié misdaadsindikaat 'n sekere Meneer M is. Daar is nie veel inligting oor hom nie want hy werk altyd agter die skerms. Meer inligting rondom die gebeure sal later vrygestel word."
Martin kyk verskrik na Rachel wat saam met John uit die kombuis kom.
"Wat gaan nou aan Martin? Hoekom lyk jy so verskrik?", vra John.
"Kom sit julle. Rachel, ek het nuus vir jou. Die nuusberig wat nou op was, praat van Meneer M as die baasbrein agter dié bendebedreiwighede. My privaatspeurderspan het uitgevind wie Meneer M is. Dit is Max Adriaanse. Jou oorlede man.
Max lewe nog"

***
Genésis 2:18 Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas.
©Rooi Mier 13.07.2022

Donderdag 25 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 49 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 49 - Rooi Mier

Shane voel uitasem. Hy is besig om baie bloed te verloor. Hy is egter nie bereid om die dansbaan te verlaat nie. Die orkes speel nog.
Die vlugtende bestuurder besef egter nie dat hy hom vashardloop nie. Skielik sien hy twee voertuie wat die pad afsper voor hom. Een van die manne gewaar hom.
"Pasop, iemand kom aangehardloop." 
In die helder maanlig sien hulle die aankomende hardlopende persoon. 
Hulle sien dat hy 'n vuurwapen in sy hand het maar hulle kan nie skiet nie want agter hom kom Shane aangehardloop. Die persoon probeer om om te draai maar hardloop in Shane vas. Hy probeer skiet maar daar is blykbaar geen ammunisie in nie. Sy systap help nie veel nie. Shane pootjie hom. Hy val dat sy wapen eenkant toe spat. 
Shane se makkers is by. Twee gryp hom vas. Shane glimlag. Die tango kan 'n mens nogals moeg maak. 
"Jy bloei. Laat ek kyk na die wond."
"Julle moet aan die anderkant van die poort kom. Daar was 'n skietery."
Hulle hardloop na hul voertuie. Spring in een en jaag verby Shane. Net een persoon bly agter om hom te help.
"Gaan haal gou jou voertuig. Ek vermoed Richard is geskiet."
Hulle kom by die hooftoneel aan. Richard moes beweeg het want hy lê nou aan die anderkant van die voertuig. 
Shane hulle sien baie bloed. Hy lê doodstil. Richard is nie meer met hulle nie.
Shane hardloop na die bakkie toe waar G lê. In die proses val hy amper want hy voel swak. 
G lewe maar hy haal swaar asem. Hy kan egter nie praat nie. In die bakkie is die ander wag. Bloed stroom uit sy slaap. Hy is of bewusteloos of dood.
Shane sak inmekaar. Sy makker hardloop nader, tel hom op en dra hom na sy voertuig. Nadat hy Shane se hemp afgeruk het sien hy dat dit 'n vleeswond is. Dit was 'n wond in die linkerskouer. Hy moet net die bloeding stop. 
G lyk vir hom meer krities. Hy besluit om hom eerste te help. Hulle is ver van Beaufort Wes af. Hy bel die nooddienste en vra dat hulle Meiringspoort se kant toe moet kom. Hy gaan vir G en Shane solank in die motor laai en die nooddienste teggemoet ry.
Hy stuur 'n boodskap om sy intensies bekend te maak aan sy makkers. Volgens hom is die wag klaar dood daarom het hy hom nie gelaai nie. Sy klere is vol bloed toe hy daar weg ry.
Een van die ander lede kom op die toneel aan. Hy stap na die dubbelkajuitbakkie toe. Die wag sterf op die oomblik toe hy daar aankom. Hy voel maar daar is geen pols nie. 
Dit was 'n lang nag. Hy is moeg en gaan sit teen die bakkie en wag vir die res.
Aan die anderkant van die tonnel is twee lyke. Wat Shane hulle nie geweet het nie was daar 'n voertuig so twee kilometer agter G hulle. Hulle was daar vir ondersteuning. Die oomblik toe hulle sien dat die ingang tot die poort geblokkeer was het hulle besef wat gaan aan en begin skiet. In die skietery was twee doodgeskiet en een gewond.
Hulle het egter ook een van Shane se manne gewond. Gelukkig is dit net 'n vleeswond. 
Almal, behalwe die junior wat die lyke moet  oppas, is nou oppad na die hooftoneel toe.

Op die plaas buite George is almal ontbied. Al die wagte is binne die huis. Die interkom gesels alweer met hulle.
"Pak julle goed onmiddelik en kom vinnig weg. Neem die twee bakkies. In George sal julle ander voertuie kry. Verdwyn net. Julle geld sal in julle bankrekeninge betaal word. Nou onmiddelik."
Terwyl hulle nog verwonderd na mekaar kyk hoor hulle 'n harde slag. 'n Bakkie, wat blykbaar die motorhuis se deur van binne af afgestamp het is vinnig besig om weg te jaag.

Op die dansvloer is dit stil. Die lid wat teen die bakkie sit hoor vaagweg iemand wat om hulp skree. Dit klink na 'n vroue stem. Hy staan vinnig op en soek rond. Skielik tref dit hom. Die operasie was om iemand te red.
Hy begin naarstigtelik te soek. Waar kom die stem vandaan? Hy klim in die bakkie. Dit klink of dit van agter die agtersitplek af kom. 

G kom by. Hy is egter nog steeds kritiek.
"Yvonne, Yvonne. Waar is Yvonne."
Die voertuig stop met skreeuende bande. Hulle het in die opwinding vergeet van Yvonne. 
"G waar is Yvonne? Hoor jy my. Waar is Yvonne." 
"In die bak agter."
Hy raak weer weg.
Na 'n oproep kon Yvonne opgespoor word. Sy is in 'n toestand. Dit skoot wat per ongeluk in die bakkie afgegaan het toe die wag die vuurwaoen laat val het, het haar in die been getref.
Die belangrikste is dat sy gaan lewe.

"Paul goeie môre."
Hy sit al die hele nag in sy voertuig en wag vir nuus.  Yvonne was toe nie saam met Candice nie. Miskien word sy iewers aangehou en nou sit Candice in die tronk. As sy nie praat nie hoe sal ons Yvonne vind?
As ek maar net die boemelaar se nommer gehad het. Hy werk natuurlik vir die polisie maar ek ken nie sy naam en van nie.
"Goeie môre Paul. Dit is Shane hier."
"Shane wie? Ek ken nie 'n Shane nie."
"Shane die boemelaar van Cloetesville."
Paul sit vinnig regop.
"Het jy nuus?"
"Kom Beaufort Wes Hospitaal toe. Yvonne is hier."
"Wat het gebeur?"
Hy druk die foon af nog voordat Shane kon antwoord en ry. Dit sal nie 'n goeie tyd wees om sy ma te laat weet dat Yvonne gevind is en in die hospitaal is voordat hy weet hoekom sy daar is en hoe ernstig sy is nie.
By die hospitaal doen hy navraag. Hulle verwys hom na ongevalle toe omdat Yvonne nog nie toegelaat was nie. Hy haas hom na ongevalle. Hier is heelwat pasiënte. Dit is waar almal wat inkom geplaas word totdat hulle toegelaat of ontslaan word as dit nie ernstig is nie. 
Iemand kom na hom toe aangestap. Die persoon se linker arm is in 'n slinger. Hy lyk bekend maar Paul kan hom nie plaas nie.
"Paul Slingers, nê. Ek is Shane Cupido, die boemelaar."
"Jy lyk nogals anders. Waar is Yvonne?"
"Sy is daar anderkant. Ek is besig om te reël dat sy onmiddelik in 'n enkelkamer geplaas word en ook beskerming vir haar. Sy was in 'n skietery in die been gewond maar dit blyk nie ernstig te wees nie.
Op die oomblik is sy onder verdowing. Sodra sy oorgeplaas is, kan jy en jou ma haar kom besoek. Geen ander familie gaan toegelaat word totdat ek so sê nie. Jy verstaan dit?"
"Aangesien ek haar nie nou mag sien nie, gaan ek my ma gou gaan inlig. Sy weet nie ek is in Beaufort Wes nie want ek wou haar nie sê voordat Yvonne veilig is nie. Is jy oraait? Wat makeer die arm?"
"Ek was in die skouer gewond. Dit gaan my egter nie keer om agter die grootkop of -koppe te gaan nie. Sodra Yvonne se beskerming uitgesorteer is, is ek oppad."
"Dan sien ek jou later Shane. Baie, baie dankie dat jy my suster gered het. As dit nie vir jou was nie het ek niemand gehad om mee te baklei nie. So lief ek vir haar is, wil ek haar soms vermoor?"
Shane glimlag. Dit is mos amper elke gesin se storie. Hy stap na 'n afskorting toe.

G lê met aarvoedingsbuise en bloedsakkies. Hy het nogals heelwat bloed verloor. Shane onthou dat sy eerste woorde toe hy bykom nadat hy geskiet was, was, "Waar is Yvonne? Is sy veilig?"
Die mannetjie is duidelik verlief. Hy moet ook beveilig word; nog meer as Yvonne. Sodra die skurke uitvind dat hy staatsgetuie is, sal sy lewe nie 'n sent werd wees nie. Hy wens die beskerming kan nou kom. Daar wag 'n besige dag vir hom maar hy moet ten minste 'n uur gaan rus. 
Voor dit moet hy egter 'n woordvoerder inlig en 'n mediaverklaring vrystel voordat die nuus versprei. Al die verpleegpersoneel bespiegel alreeds. Dit kos net een facebook inskrywing of whatsapp boodskap dan weet die wêreld.
Na dit moet hy nog G of Gavin se ma ook beveilig. Hy het beslis 'n dag voor hom. Die son het reeds opgekom.

In George op 'n plaas ry ñ ' hele klompie polisievoertuie by 'n plaashek in. By die plaashuis spring die manne uit en omsingel die huis. Hulle is tot die tande toe bewapen. Die deure van die huis staan oop. 
'n Paar lede storm in. Daar is egter niemand in die huis nie. Die persoon in bevel vra dat die lede verder versigtig moet wees om nie bewyse te verwoes nie. Die forensiese deskundiges gaan later daar wees.

Waar Meneer M in 'n gehuurde Mercedes ry kyk hy in die spieël of sy vermomming werk. Sy gedagtes is by Candice en hoe hy haar gaan red. Dit is egter sake vir later.  
Nou is hy die belangrikste. Sonder hom is daar nie 'n organisasie nie. Hy het 'n sagte plekkie vir haar maar as sy liewers moet sterf, sal hy nie huiwer om die bevel te gee nie.
Ja, sy weet dit nie maar haar eie pappa sal haar moet laat doodmaak.

***
Jeremiah 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
©Rooi Mier 13.07.2022

Woensdag 24 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 48 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 48 - Rooi Mier

Shane trek van die pad af. Draai die radio harder, klim uit en begin die 'twist' te doen. Die woorde 'like we did last summer' laat hom onthou hoe lewendig hy gevoel het die laaste keer toe hy en sy makers 'n sindikaat vasgetrek het. Hy het nog nooit dwelms gebruik nie maar hy dink hy weet hoe voel dit om hoog te wees. Daar is vir hom geen lekkerder gevoel as om iemand te red en om 'n booswig vas te trek nie.
Die laaste klanke van die lied sterf weg. Die omroeper sê, "Laat nag? Nee, dit is vroegoggend, kom ons dans die dag in. Wie wil saam met my dans."
Shane glimlag en sê, "Ekke maar ek het 'n ander jol. Kan jy tango meneer die Omroeper? Ek is gereed. Nou wag ek net vir my dansmaat."

G hulle nader Meiringspoort. Hy voel 'n beklemming op sy bors. Hy voel aan sy sy waar die wapen is wat hulle vir hom gegee het op die plaas.
Die gesiglose stem het gesê, "Skiet om dood te skiet. Sorg dat julle nie in die hande van die polisie val nie. Julle behoort veilig te wees want volgens my informante in die mag weet niemand van julle nie."
Die wapens is gelaai. Gelukkig is die bestuurder van die voertuig en die ander wag rustig. Hulle dink aan die rit as maar nog net 'n opdrag wat sonder insident afgehandel gaan word. 
Hulle ry verby twee voertuie wat in die teenoorgestelde rigting kyk. Dit lyk of hulle vir koffie gestop het want daar staan bekers en 'n koffiebottel op die dak van een van die voertuie. 
Omtrent 'n kilometer agter kom 'n voertuig aan. Dit pla egter nie die bestuurder en die ander wag nie. Dié voertuig het op 'n stadium verby hulle gery. 'n Rukkie later het hulle egter weer verby gegaan toe een van die passasiers sigbaar van die pad af sy behoefte verlig het.
Hulle ry die poort in. Die dansmaat kom deur die deur. Die tango het begin.

Shane kry 'n boodskap.
"Het jy jou danskoene aan?"
Die 'ongeluk' wat opgestel was lyk oortuigend. Iemand lê 'bebloed' langs 'n voertuig wat skuins oor die pad staan. 'n Ander voertuig staan half van die pad af. Vir iemand wat van G hulle se kant af kom sal dit lyk of die voertuig in 'n rots vasgery het. 
Alkante van die poort is rotse. Daar is geen uitkomkans vir die dansmaat nie. Sy is deur die deur. 
Die voertuig wat G hulle gevolg het is skielik baie nader. Hulle kan dit egter nie sien nie want die poort het baie draaie. Een van die twee ander voertuie het intussen skuins oor die pad getrek terwyl die ander omgedraai het en ook volg. Aan die teenoorgestelde kant word die pad ook afgesper. 
G is hoogsgespanne, sy gedagtes ooral.
"Is my ma veilig? Het hulle hul deel gedoen en haar na veiligheid geneem? Gaan hier 'n geskietery wees? Sal Yvonne veilig wees?" 
Hy los 'n vinnige skietgebed.
"Here, help ons asseblief. Moet nie dink dat ek U nou wil nader omdat ek in die nood is nie. Vergewe my."

Die voertuig sal nou enige tyd om die laaste draai kom,  dink Shane. Hy sit agter die stuurwiel van die voertuig wat skuins oor die pad staan met sy kop op die stuurwiel.
Daar kom dit nou. 
G skree, "Stop, daar is 'n ongeluk voor."
Die bestuurder trap hard op die remme. Shane klim uit soos iemand wat in skok is. Sy hand is ongemerk op sy vuurwapen. Net toe die voertuig tot stilstand kom gebeur iets onverwags.
Skote begin te weergalm deur die kloof. Dit was nie deel van die plan nie iets is besig om skeef te loop. Die bestuurder van die dubbelkajuit versnel skielik. Hy pyl af op die voertuig wat skuins staan. 
Die 'beseerde' in die pad rol vinnig weg want sy dood pyl reguit op hom af. Shane probeer sy wapen uitpluk maar van skrik steek dit vas. 
Daar klink nog skote op wat deur die poort weergalm. G sien hoe hulle op die voertuig wat skuins staan afpyl. Die bestuurder pluk aan die stuurwiel om regs voor verby te gaan. Hulle raak skrams aan die skuinsvoertuig. 
Nou pyl die voertuig af op die rotse regs. Die bestuurder pluk weer aan die stuurwiel.  Vir 'n oomblik het hy die voertuig onder beheer.
Shane het sy wapen uiteindelik uit en skiet na die wiele. Die bakkie swenk skielik gevaarlik links. Groente waai in alle rigtings. Die voertuig  tref die rotse aan die linkerkant en kom tot stilstand.
Die bestuurder se deur vlieg oop. Hernude skote weergalm deur die kloof. Dit laat Shane vir 'n oomblik weifel. Die bestuurder van die bakkie hardloop om en agter 'n rots in. Hy begin skiet op Shane.
Die slag van die skoot laat Shane steier. Daar kom nou skote uit die bakkie ook. Dit is die ander wag. Sy skote tref die skuinsvoertuig. 
Die dans is in volle gang. G kan nie uit nie. Die deur aan sy kant is teen die rotse. Hy besef dat die wag agter hom in die voertuig ook besig is om te skiet. Hy kyk om en sien dat die wag omgedraai het weg van hom. Die 500ml koeldrank bottel by sy voete is al wapen. Hy tel dit op en slaan die wag teen sy agterkop. 
Die wag is besig om om te draai en hy slaan weer. Die keer tref hy hom teen die slaap. Sy volgende hou steek die wag in sy slaap want die bottel het gebreek. 
Met die val van die wapen gaan nog 'n skoot af. Dit gaan deur die agtersitplek in die bak agter.
Shane staan op van waar hy geval het en hardloop gebukkend oor die pad. Hy voel bloed aan sy linkerskouer. Die bestuurder agter die rots skiet nog.
Die skote wat deur die kloof weergalm het, het opgehou.
Shane besef dat sy venoot ook stil is. Hoekom skiet hy nie? Daar is egter nie tyd om te wonder nie. Hy probeer om uit die bestuurder se gesigsveld te kom. Dit raak skielik stil. Hy loer versigtig om sy voertuig. 
Daar hardloop iemand in die ander rigting. 
Dit is G hulle se bestuurder. G het oor die voorsitplek geklim en maak nou die agterdeur oop. Shane duik weg, gereed om te skiet.
"Dit is ek, G!"
G klim uit. 'n Skoot weergalm. G val verder by die deur uit. Shane besef dit sy vennoot was wat geskiet het.
Hy skree, "Hy werk met ons." Hy begin agter die bestuurder aan te hardloop.

Waar Paul by die vulstasie in Beaufort Wes in sy motor sit trek 'n voertuig op. Die bestuurder klim uit. Dit is Candice. Hy skrik. Dit het hy nie verwag nie. 
Sy klim uit en stap die winkel in. Paul sien dat sy na die koffiemasjien toe beweeg. Na 'n minuut stap sy met wat hy glo is 'n koffie na die kasregisters toe en betaal. 
Paul klim uit maar maak seker dat sy hom nie miskien sien nie. Hy sit 'n pet op sy kop en gaan staan naby haar voertuig met sy rug na haar voertuig toe. Na 'n rukkie hoor hy sy maak die voertuig deur oop. Hy haal sy pistool uit, draai om om haar te konfronteer. 
Iemand staan klaar by haar met 'n vuurwapen in haar rug.
"Candice Williams. Ek neem jou in hegtenis vir mensehandel.
Sit daai wapen weg Meneer Slingers. Iemand kan dalk seerkry."
"Wat van my suster? Sy het vir Yvonne."
"Moenie bekommerd wees nie meneer. Sien u die voertuig daar oorkant? Gaan daarheen. Die dame daar sal u inlig."
Candice het nog nie 'n woord gesê nie.
"Jy het die reg om stil te bly. Enigiets wat jy sê kan in 'n hof teen jou gebruik word. Jy het die reg op 'n prokureur. As jy nie een kan bekostig nie sal die staat aan jou een voorsien."
'n Boeie word om haar hande geplaas en sy word weggelei na 'n voertuig daar naby.
Paul stap na 'n ander voertuig daar naby waar 'n vrou in sit. Sy weet blykbaar ook wie hy is.
"Klim in privaatspeurder Slingers. Moenie vir my naam vra nie. Ek mag jou nie sê nie. Vergeet van hoe ek lyk want dit is 'n pruik en jy sien ek dra donkerbrille in die nag. 
Al wat jy moet weet ons is besig met 'n operasie om jou suster te red. Privaatspeurdertjie, jy weet natuurlik om niemand te vertel nie. Klim nou uit, gaan na jou kar, ry weg. Ons sal jou kontak sodra ons jou nuus het."
Sy klink taamlik sarkasties. Paul is al gewoond daaraan dat SAPS lede sarkasties is teenoor privaatspeurders is. Hy weet egter dat dit beter is om nou stil te bly; hierdie is nie die gewone SAPS nie.

'n Man wat aan die oorkant van die pad in sy motor sit maak 'n oproep.
"Meneer M, Candice is in hegtenis geneem."

**
Romeine 6:20 Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid.
21 *Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want *die uiteinde daarvan is die dood.
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...