Maandag 15 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 37 - Rooi Mier

#Stukkendeharte  Hoofstuk 37 - Rooi Mier

"Ja Lawrence, ek is jou suster."
Bennie en Iris skrik en kyk albei om na die deur toe.
"Sahara? Sahara!" Bennie kan net haar naam uitkry.
"Dit kan nie wees nie. Hoe kan sy my suster wees?" Hy kyk na die pragtige vrou wat sy hart laat wild skop maar praat met sy pa.
"Sy is my kind." Iris probeer nog om by Lawrence te kom maar hy storm verby Sahara die deur uit.
"Lawrence, Lawrence" roep sy agterna.
Hy is egter uit by die hek en stap die pad af.
Iris wil nog agterna maar Bennie keer haar.
"Gee hom kans Iris. Sahara, is jy dan nie in die Kaap nie? Wat maak jy hier?
" Ek kom soek die waarheid maar ek het dit nou gekry."
"Sahara my kind." Iris stap na haar toe.
Sy gee egter 'n tree terug en hou haar hand op. Sahara staan en kyk hulle woordeloos aan vir 'n paar sekondes voordat sy omdraai en hek toe stap waar haar motor buite staan.
Bennie roep agterna, "Sahara! Sahara!"
Sy stap egter aan na die motor toe, klim in en ry. 
Bennie kyk sy kinders agterna. Die een stap die een rigting en die ander ry die ander rigting.
"Dit was nou 'n gemors. Ek wou nie hê sy moes so uitvind nie."
Lawrence wens sy vriend was hier. Hy sou nou geweet het wat om te sê.
"Anton my vriend, hoekom moes jy gaan? Jy het my verlaat. Ek gaan 'n pa word en ek is nie gereed nie. Die vrou wat ek lief het met my hele hart mag ek nie lief hê nie. Suster, my eie suster. Hoekom behandel die lewe my so?
God, ek het geleer dat U wel bestaan nou hoekom red U my lewe en laat my met soveel pyn?"
'n Motor stop langs hom. Dit is Larisa en Janice. Larisa is agter die stuurwiel maar dit is Janice hulle se motor.
"Lawrence klim in. Hoe lyk jy dan so? Ons het jou kom haal om'n bietjie uit te ry."
Lawrence klim in. "Ek is nie gereed om met julle te praat nie. Is dit okay?"
"Ons twee praat klaar genoeg nê Larisa."
Hulle ry verby Lawrence hulle huis in die rigting wat Sahara gegaan het.
Bennie staan nog steeds in die deur. Hy het gesien Lawrence het in die motor geklim. Hy kyk hulle agterna.
"Kom my man." Iris vat sy hand van agter af. Hy wil egter nie ingaan nie. Sy staan nader en sit haar arms om sy middel. Haar kop rus op sy rug.
"Liewer nou as nooit my liefde. Ons moet Sahara se adres by Janice kry sodat ons met haar kan gaan praat. Maar ons moet haar eers tyd gee."
Sahara ry oor die rivierbrug en draai links in die palmlaning. Sy trek daar af in die skadu. 
"So Lawrence is my broer. Dit is  nou bevestig. Ek weet dit nou al lankal maar ek het tog gehoop ek was verkeerd. Noudat ek verseker weet, gaan my hart dit nou aanvaar? Sal ek nou kan aanbeweeg?"

In Vanwyksvlei klim 'n polisiesersant uit sy voertuig. Willem is skielik regop en gee voor om nugter te wees. Steven is hardgebak. 
"Nie mand vat vat vi my nie. Eksh by my huish.  Wat shoek kulle."
"Steven hou jou dronk bek. Hier kom die polisieman."
"Woon die Septembers hier?"
"Wats jou probleem konshtabel?"
"Steven bly stil! Moenie dat jou karatewater jou agterent in die tronk laat beland nie.
Ja Meneer. Dit is die Septembers"
"Ek is Sersant Fisher. Kan ons binne praat?"
"Steven bly jy hier buite, ek sal met die Sersant gaan praat."
"Met my vrou alleen? Nooitie. Eksh shalie buite bly nie. Lyk my ish ou gewoonte."
Willem wat die heeltyd stil was praat ook nou, "Dit werki sscho nie. Wat wil djy alleen ini huisch met my schuschter maak."
"Hou julle monde. Sersant kan jy hulle nie solank agter in die vangwa hou tot jy klaar is nie."
Nou ja die platteland is die platteland. My besigheid is jou besigheid en jou besigheid is ons almal se besigheid. Eers was die toeskouers buite die erf. Nou is sommige binne. Antie Mavis is voor in die koor.
Sy staan heel voor. Sy wil seker maak sy hoor eerste sodat sy eerste kan gaan oordra aan selfs die wat saam met haar hoor.
"Kom binne Sersant."
Die sersant trek vir Steven ook binne aan die arm. Willem sorg dat hy binne is want hy is mos darem familie. Antie Mavis is in die deur.
"Mavis skinderbek jy ishie family nie. Loop." Willem probeer haar uitkry maar sy is geplant.
"Meneer en Mevrou September. Ek het slegte nuus vir u. U dogter Sally is gister dood."
Die polisieman het niks takt nie. Hy berei nie eers die Septembers voor nie. 
Sarie is nie seker of sy reg gehoor het nie.
"Wat sê jy sersant?"
"Julle dogter is dood. Meswond in die hart."
Steven is skielik doodstil. Sarie begin saggies te sê, "Nee, nee Sersant. Dit kan nie wees nie."
Sy skree skielik, "Sersant dit is nie waar nie nê. My kind is nie dood nie."
Sy spring op en gryp die sersant was. "Sê my jy lieg asseblief. Sê my." Die seer in haar stem duidelik hoorbaar.
Steven stap in kamer toe.
Willem se dronkmans huil weerklink in die huis, "My sweetheart is nie dood nie nee."
Mavis is klaar besig om oor te vertel. "Die skollies van Upington het Sally vermoor. Haar liggaam is vol gate gesteek"
Sy is so oortuigend dat dié wat die Sersant gehoor het dink hulle het verkeerd gehoor. Binne minute gons die dorp se whatsapp groepe.
Mense staan op die hoeke om die moord op Sally te bespreek. Een meswond het nou so baie geword dat die polisie dit nie kon tel nie. Hulle moet glo wag vir 'n outopsieverslag.
Antie Mavis was nou al by drie groepies wat sy self versamel en as sy klaar is beweeg sy vinnig aan. Dit blyk dat whatsapp nie by haar kan byhou nie.
Die polisieman is terug by die polisiekantoor.
"Sersant, hoekom vertel jy die mense Sally September is deur die skollies vermoor?"
Die Sersant klink verbaas. "Nee Adjudant, ek het nie so gesê nie."
Die Adjudant lag en wys hom 'n whatsapp boodskap.

Larisa en Janice klim uit die motor. Hulle besef nie hulle is binne treë van Sahara af nie. Sy sien hulle in haar truspieël.
Lawrence het begin huil. Larisa en Janice besluit om hom vir eers alleen te los totdat hy reg is om te praat. Hulle stap in die rigting van Sahara se motor. Janice stap swaar.
"Ek wonder wat het gebeur Janice. Wat het ons vriend so ontstel?"
"Ek wonder of dit weer daai Sahara is. Dit moet net sy wees. Lawrence kry elke keer seer maar hy wil nie hoor nie." Tipies swanger vrou is druk sy met haar hande agter haar rug.
Sahara luister. Sy is verbaas om te hoor dat sy Lawrence altyd seermaak. Larisa sien haar toe hulle regoor haar motor kom. Sy trek aan Janice en wys met die kop.
Sahara besluit om uit te klim. 
"Hallo julle."
Die meisies skrik want Sahara was hul onderwyser. Daai respek in haar teenwoordigheid is nog steeds daar. 
"Kan ek gou iets sê?"
"Ja Juffrou." Larisa klink nog soos die leerder.
"Asseblief julle. Sahara. Dit is nie omdat ek iets gedoen het nie julle. Lawrence sal julle self vertel wanneer hy gereed is. Nou moet julle hom net ondersteun asseblief."
Haar stem verraai dat sy nog diep gevoelens vir hom het.
"Larisa, ek het gehoor van Anton. My innigste meegevoel. Jy is mos in Stellenbosch. Ek sal graag 'n draai by jou wil maak. Die Kaap kan eensaam raak. Ons praat weer. Totsiens julle."
Lawrence sit kop onderstebo en het haar glad nie gesien nie. Hoe sal ek kan vergeet dat my groot liefde my suster is. 
"Hoekom het my pa niks gesê toe hy in die Kaap was nie? Hy het mos gehoor ek praat van Sahara."
Sy kop ruk skielik op. "Larisa het geweet. Hoe? Hoekom voor hom? Het sy maar altyd geweet? Dit kan verklaar hoekom sy so opgetree het teenoor hom."
Hy wil antwoorde hê. Intussen het Sahara reeds in haar motor geklim en is besig om weg te ry. Hy sien en herken haar motor. 

Willem lê en slaap sy roes af.
Steven het nog nie 'n woord gesê vandat hy die nuus gehoor het nie.
Sarie sit en huil. Haar buurvrou het langs haar kom sit en druk haar styf was.
"My kind is dood. Ek het haar agtergelaat in Upington nou is sy dood."
Sy klem die brief wat nog steeds in haar hand is styf vas. 
Verdriet spoel oor haar soos 'n golf in hooggety. Haar geliefde dogter. Sy voel die pyn in haar hart.
**
Jesaja 41:10 *Wees nie bevrees nie, *want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met My reddende regterhand.
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 36 - Rooi Mier

#Stukkendeharte  Hoofstuk 36 - Rooi Mier
"Mammie, Pa, julle lyk ernstig. Wat het die arme ekke,  Lawrence van Wyk die uwe, nou weer gedoen? Ek het nie melk uit die bottel gedrink nie; ook nie die yskas oopgelos nie." 
Lawrence is lus vir grappies.
"Kom sit Lawrence. Ek het iets om met jou te deel."
"Julle lyk ernstig. Is een van julle siek? Is Mammie swanger?"
"Nee Lawrence, moenie laf wees nie, luister na wat jou pa te sê het."
"Gaan julle skei? Net nie dit nie."
"Sal jy nou luister kind. Ek sal verduidelik as jy my net kans gee."
Dit is 'n warme dag. Die deur staan oop.
"My seun, ek wil jou iets vertel maar jy moet belowe om kalm te bly."
"As pa so begin kan ek mos nie kalm bly nie. Hier is iets groots aan die kom né."
"Luister jy net eers. Jy weet hoe ek jou waarsku om versigtig te wees met drank en dwelms."
"Ja pa, ek het mos nou geleer met Janice. U kan mos nou nie hammer op die verlede nie."
"Ek sal dit nooit genoeg kan benadruk nie. Die rede daarvoor is dat ek as jongman ook daardie fout gemaak het. Jy kan gelukkig verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Ek het nie."
"Wat het pa dan gedoen?"
Iris, wat langs haar man sit, wys hom met vinger op die lip om stil te bly.
Sy pa begin hom te vertel van die partytjie wat hulle as studente een aand gehad het by die hostel.
Hy vertel van sy eerste keer wat hy dagga geneem het omdat hy nie uit wou wees nie. Hy het ook meer drank gedrink as wat mens nodig het om sosiaal te wees.
"Daardie aand het daar 'n bakleiery uitgebreek omdat een persoon altyd almal wou beheer.
Ek was beseer gedurende die bakleiery. Om die waarheid te sê kan ek nie onthou of ek deel gehad het aan die bakleiery of ek net per ongeluk beseer was nie.
Almal het begin uithardloop en ek is omgestamp. 'n Meisie het my opgehelp of ten minste probeer want ek kan onthou ons is slingerend daar weg. 
Ons het in my kamer beland. Ek weet nou nog nie hoe nie en ek weet ook meisies mag daai tyd nie in manskamers gekom het nie.
Die oggend het ons wakker geword op my bed. Daar was 'n verband om my kop maar baie slordig. Ek aanvaar ons moes intiem gewees het want ons klere het daar gelê.
Die slegste van alles is dat ek nie eers onthou nie."
"Moet pa my nou dit vertel het. Kinders wil nie van hul ouers se seksuele bedrywighede weet nie. Jgghhh."
"Komaan, jy is mos groot. Nie te min, ek het 'n paar weke later die meisie by 'n dokter raakgeloop. Sy was swanger maar wou niks van my weet nie. Dit was die laaste keer dat ek haar gesien het."
"So pa weet nie of daar 'n kind is nie. So ek het dalk 'n ouer suster of broer daar buite?"
By Rosedale polisiestasie in Upington probeer hulle nog om motiewe vir die moord op Mnr Solomons en Juffrou September se selfdood te kry.
"Sers May, het ons al haar naasbestaandes opgespoor? Dit is nou al 'n dag en ons het hulle nog nie laat weet nie."
"Ons het vasgestel dat haar ouers in Vanwyksvlei woonagtig is. Die kantoor daar sal hulle opspoor en die nuus oordra Kaptein."
In Vanwyksvlei sit Sarie September met 'n kennisgewing in haar hand dat daar 'n brief by die poskantoor is wat sy moes gaan afhaal omdat daar nie 'n posseël op was nie.
Sy het haar man 'n boodskap gestuur om sy Identiteitsdokument te gebruik om dit af te haal. 
"Ek hoop maar net hy het nog geld by hom gehad en was nie te dronk nie. Hy glo dat mens Saterdae moét drink en sommer baie."
Dit was half een. Sy sou dit nie maak tot by die poskantoor voor een uur nie. Nou is dit al amper 17:00. Dit is ook snaaks dat Sally nog niks laat weet het nie. Sy bel gewoonlik of Vrydagaande of Saterdagoggend.
Verlede week toe sy gebel het, was Willem reeds hier uit Carnavon om vir 'n paar dae te kom kuier. Hoekom hy so lank moet bly weet Sarie nie.  Vanwyksvlei is mos nie so ver van Carnavon af nie.
Hulle twee suip seker weer iewers. Sy kyk in Kokerboomstraat op of hulle nie aankom nie.
Sy hoop maar Steven het die brief afgehaal. Dit lyk my dit is nou hulle wat daar waggelend aankom. Sarie dink aan wat Sally altyd gesê het van Willem. 
"Nee dit kan nie wees nie. Willem is eintlik 'n goeie mens. Hy het juis in daai jare ons finansieël ondersteun. Hy het selfs klere gekoop vir Sally.
Al wat snaaks was is dat hy altyd aangedring het daarop dat Sally van die klere dra wat hy gekoop het as hy kom kuier.
Sy moes ook altyd saam met hom winkels toe gaan maar dit was nie snaaks nie want dit was dan dat hy vir haar klere gekoop het, kruideniersware vir die huis ensovoorts."
"Alweer gesuip Steven. Kan jy dan nie net een naweek nugter bly nie."
"Wie's dronk? Ekke? Nog nooit my bokkie. Ek moez an vir Willem ly. Hy willie erken ma hyz gesuip. Waar iz dai brief nou?
O ja, Sjee dai brief Willem."
"Nee iz mosi julle briefie. Die brief iz vamy sweetheart af. Hie staa ha naam agterop. Sally September."
Sarie gryp die brief uit Willem se hand. Sy woorde ontstel haar.
Die polisie stop voor die huis in Vanwyksvlei.
In Upington is Lawrence geskok. So daar loop iewers 'n broer of suster van hom rond en sy ouers weet nie.
"So voel pa nie sleg nie? Ek dring daarop aan dan pa die vrou moet opspoor. Pa wil altyd hê ek moet die regte ding doen maar dit is duidelik nie van toepassing op Pa self nie."
Lawrence spring op en wil uitstorm maar Iris gaan staan voor hom.
"Sit."
"Ek was nog  nie klaar nie. Onthou jy dat jy kwaad was vir my omdat jy gehoor het ek soek na 'n geliefde van my?
Jy het nog verkeerd verstaan en gedink ek het liefde gesê. Wel, Paul, die privaatspeurder, het die vrou opgespoor. Sy is ongelukkig 'n klompie maande gelede oorlede. Sy het 'n dogter."
"So ek het 'n suster. Het pa vasgestel waar sy is?"
"Ja, ek het. Sy is in die Kaap."
"En haar naam?"
Daar is beweging by die deur. Lawrence kyk.
Hy dink sy kop is deurmekaar. Daar staan sy.
"Dit kan 'n skok vir jou wees my seun. Haar naam is Sahara, Sahara Muller."
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 35 - Rooi Mier

#Stukkendeharte  Hoofstuk 35 - Rooi Mier
"Juffrou September? Is u nog hier."
Haar deur is toe. Die opsigter sien Mnr Solomons se kantoordeur staan nog oop. Hy stap eers daarheen. Mnr Solomons is nie daar nie. 
"Lyk my my vermoedens is reg. Die anderdag was Mnr Solomons se klere deurmekaar toe hy en Juffrou September uit haar kantoor kom. Haar hare was ook nie in plek nie. Mens kan haar altyd deur 'n ring trek. Ek kan nie sien wat sy in hom sien nie. Hy is soveel ouer. Wel, is seker maar haar smaak."
Hy is egter haastig om by die huis te kom so hy roep weer. Hy gaan staan om die draai sodat hulle nie dalk verleë sal voel as hulle hom sien nie.
"Mnr Solomons? Mnr Solomons?" Miskien misgis hy hom. Dalk is hy in die kleedkamer. Sy motor is nog hier. Hy kyk deur die venster. Juffrou September se motortjie is ook nog hier.
"Hoe de duiwel pas mens in daai speelgoedkarretjie." Hy besluit om Juffrou September te roep. Geen antwoord. Nou moet ek gaan klop. Hy gaan klop aan haar deur. Geen antwoord. Hy besluit hy gaan nou maar oopmaak. 
"Jammer juffrou ma.. Wat gaan hier aan?" Bloed oor die lesenaar en vloer. Mnr Solomons lê op sy maag. Die mat is rooi onder hom. Juffrou September lê skuins, bloed uit haar bors, mes in die hand.
Die opsigter se bene kan hom nie dra nie. Hy sak teen die muur af.
Die mense oorkant die skool kyk verwonderd toe. Eers het die polisie daar ingejaag. Minute later 'n ambulans. Antie Caroline se hart sal nooit kan hou as sy nie nou weet wat daar aangaan nie. Sy hardloop oor die pad by die hek in. Nie lank nie of ander volg.
Hulle sien die opsigter sit buite. Dit ambulansmanne stoot twee trollies uit met bedekte liggame. Daarna klim die opsigter by 'n speurder se motor in.
Antie Caroline kan nie wag om haar mening te deel nie.
"Haai julle, die opsigter het twee onderwysers vermoor. Ek het julle mos gesê die man lyk gevaarlik."
'n Halfuur later hoor Janice wat Radio Riverside luister.
"Ons moet hierdie program onderbreek. Ons het so pas 'n berig ontvang van 'n betroubare bron dat twee onderwysers by Carlton - Van Heerden Sekondêr dood aangetref was. Die opsigter was gearresteer in verband met die voorval. Sodra ons dit bevestig het sal ons u die volledige verslag bring."
Janice sit geskok. Watter onderwysers kan dit wees? Nee, nie die opsigter nie. Daai man is te saggeaard.
Paul wil net uit sy motor klim toe hy  Lawrence uit die voertuig sien klim wat Mevrou van Wyk gehuur het vir die week. 
"Wat maak hy hier? Hy is mos by UWK, nie Stellenbosch nie."
Twee minute later kom hy met 'n tas uit. By hom is 'n meisie. Paul haal vinnig sy sel uit om 'n foto te neem. 
"Miskien sal dit my help met Sahara. Sy ontsteltenis was skynheiligheid. Hy knyp lankal die kat in die donker.
"Jammer ek kan hulle nie nou volg nie. Yvonne behoort nie 'n foon te hê as sy dit nie antwoord nie. Ek is net goed vir data en lugtyd."
Toe hulle wegry sê Larisa. " Ek verbeel my die man in daai motor het 'n foto of foto's van ons geneem."
Lawrence kyk maar herken nie die motor nie of die man met donker brille agter die stuur nie. Paul besluit om eers weer Yvonne se nommer te skakel. Na 'n rukkie antwoord sy.
"Hallo Paul.
"Hoekom antwoord jy nou eers jou foon. Ek bel al die hele dag."
"Jammer maar ek was besig. Stuur 'n paar rand asseblief, ek het dit dringend nodig."
"Geld kan jy vinnig vra. Kom pluk dit af hier by die boom op my rug. Ek is hier buite."
"Buite waar?"
"Hier waar jy woon. Ek wag vir jou."
O hel, "Ek kan nie so uitgaan nie. Hy sal nie glo ek is per ongeluk op my oog geslaan nie. Wat nou?"
Paul ek is ongelukkig uit. "Ek sal eers later terug wees. Jy sal dit maar moet stuur. Sê vir Mammie ek mis haar. Ek het nie lugtyd nie."
Sy druk vinnig af. Paul is woedend. "Verniet so ver gery. Ek sal haar nooit weer kom opsoek nie. Bedorwe meisiekind."
Hy trek weg. Mens kom agter dat die bestuurder van daai voertuig kwaad is.
Dit is 19:00. Die nuus op Radio Riverside kom nou op.
"Soos belowe vroeër bring ons u die volledige verslag oor die gebeure vroeër by Carlton - Van Heerden.
Die skoolhoof, Mnr Solomons en die sekretaresse, Mejuffrou September is deur die opsigter dood in Juffrou September se kantoor aangetref. Dit blyk dat Juffrou September Mnr Solomons verskeie kere met 'n mes gesteek het en daarna haarself. Die opsigter het hulle later daar ontdek.'
Janice is geskok. Wat het Juffrou September  tot dié uiterstes gedryf? Wat het Mnr Solomons gedoen? Sy onthou hoe hy eendag toe Juffrou Muller haar gestuur het om 'n dokument na hom toe te neem hoe hy 'per ongeluk' aan haar bors gevat het. Sy het altyd gewonder daaroor maar hom die voordeel van die twyfel gegee. Sy het egter maande later 'n paar graad 11 meisies hoor praat. Die een meisie het vertel dat hy glo per ongeluk op haar boud geslaan het en dan was daar ook nog 'n borsvat ongeluk.
Soos die storie ontrafel loop die bespiegelinge. 
Sahara is geskok waar sit en 'n ruskans neem in Kenhardt. Die nuus is skokkend.
"Is dit hoekom ek so onrustig oor Sally was." 
Iris, Lawrence en Larisa sit en wag op Upington lughawe vir Bennie. Larisa ontdek die berig en wys dit aan Lawrence. Hulle is albei geskok en bespiegel ook maar wat dié reaksie van Sally uitgelok het.
Lawrence onthou sy laaste interaksie met haar. Ek wens ek het meer geduld met haar gehad. Miskien was dit haar manier om uit te reik na iemand toe.
Spyt het mos die verskriklikste kort bene. 
Die volgende oggend, Saterdag, is daar 'n miernes van bedrywigheid by die skool. Daar is onderwysers, leerders, ouers, gemeenskapleiers, mense van die departement van onderwys en die forensiese afdeling van die polisie. Mense word deur die polisie weggehou van die administratiewe blok.
Sahara stap verby Lawrence. Hulle sien nie mekaar nie.
Bennie en Iris is by die huis.
"Bennie, ek dink ons kan nie langer die waarheid van Lawrence af weg hou nie. Hoe langer ons wag, hoe groter gaan die verwyte wees. Kom ons praat met hom vanmiddag."
"Ek stem saam Iris. Dit pla my dat ek my seun kan verloor maar dit moet gedoen word."
"My man, hy sal kwaad wees maar jy gaan hom nie verloor nie."
Lawrence en Janice loop in die winkelsentrum. Hy het daarop aangedring dat hy iets wat sy benodig vir haar wil koop. 
"Onthou Janice, ons is albei verantwoordelik vir jou toestand."
"Watter toestand? Ek is tydelik swanger. Een van die dae is ek nie meer swanger nie. Dan is daar 'n raasbekkie."
"Nou dan swangerskap. Ek wil iets vir joú doen, die raasbekkie gaan sy beurt kry."
Janice vat sy hand terwyl hulle stap en hy trek dit nie uit nie.
Is dit Sahara wat by daai winkel ingaan? Dit is sy. Janice trek Lawrence skielik na 'n winkel aan die anderkant toe en wys hom iets in die venster. Toe sy seker is trek sy hom weer aan die hand sodat hulle vinniger moet stap na 'n winkel verder af waar klere vir swanger vrouens is. Ten minste sal Sahara nie hier inkom nie.
Later laai hy haar by die huis af. Hy gebruik sy pa se tweede motor. 
"Môremiddag gaan ek jou en Larisa optel dan kan ons saam kuier. Ons kan hier by julle huis ook kuier as jou ouers nie gaan omgee nie. Jy moet rustig wees."
"Lawrence, ek en jou ma het iets baie belangriks om met jou te bespreek. Kan jy 'n bietjie later tyd maak?" 
"Reg so ou man."
"Ek slaan jou dinges warm. Jy is nie te oud nie."
"Ek en pa moet bietjie gaan draf?"
"Gaan draf? Ek wou al maar die Bybel sê die goddelose hardloop sonder dat hy gejaag word. (Spr 28:1) Is ek dan goddeloos?"
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 34 - Rooi Mier

#Stukkendeharte  Hoofstuk 34 - Rooi Mier
Sally was al vyfuur die oggend op. Sy was kalm omdat sy 'n besluit geneem het. 
Sy gaan sit en skryf vir haar ouers 'n brief. Hulle glo nog aan briewe.
Posbusse is skaars maar daar is nog een buite die skool. Sy het die anderdag gesien hulle haal die pos om 09:00 uit. Sy glimlag vir die eerste keer in dae.
"My arme ma verstaan nie eers reg wat e-pos is nie."
Sy kyk na die rok wat sy die vorige dag gaan koop het. "Dit is nie ek nie en ek gaan dit nie dra om iemand anders se siening oor my te beïnvloed nie."
Teen 07:30 sluit sy haar deur. Sy sien Mnr Solomons verby ry. Hy bekyk haar van onder af op.
"Net soos ek gedink het. Sy het nie genoeg gehad nie. Die feit dat sy nie 'n klag gaan lê het nie spreek boekdele. Sy sal seker weer vir my wag in haar kantoor. Ek sal 'n voorstel aan haar maak dat ons na haar huis toe kan kom. Sy woon tog alleen. Ons kan nie na my huistoe kom nie. Wat gaan die mense van my sê? Ek wil ook nie hê Miriam moet weet nie. Sy kom kuier soms laataand.
Ek kan mos nie help dat haar man drink tot hy uit is nie. Volgens haar help sy hom aan met 'n slaapmiddeltjie. Dan is hy uit vir die nag. Sy het behoeftes, ek het behoeftes. Hoekom moet sy weet van Sally."
Sally klim in haar Motortjie en vertrek skool toe. Sy stap soms omdat dit nie ver is nie maar vandag gaan sy ry.
Buite die skool klim sy uit en gooi die brief in die posbus. 
"Mammie kan maar die posgeld aan die anderkant betaal. Ek kan nie nou nog eers 'n seēl gaan koop nie."
Larisa antwoord haar selfoon.
"Hi L. Jy hoef mos nie elke paar minute hoor of ek oraait is nie."
"Hi Larisa. Kan jy bekostig om Maandag af te vat? Ek het my ma oortuig om Upington toe met 'n gehuurde motor te gaan. Ek gaan saam. Wil jy nie ook saam ry nie?"
"Natuurlik L. Elke geleentheid wat ek het om in Upington te kom gryp ek aan met albei hande. Totsiens, ek wil pak."
"Wag eers Larisa. Jy weet nog nie eers wanneer ons ry nie."
Sy het egter al afgedruk. Hy stuur maar 'n whatsapp. "Malkop vriendin van my."
"Bennie, ek en Lawrence gaan met 'n gehuurde motor Upington toe kom. Jy moet my vlugbespreking kanselleer."
"Nee, ek bespreek eerder vir hom ook. Dit is minder vermoeiend om te vlieg."
"Maar sal jy dan vir Larisa ook bespreek en betaal? Sy kom saam. Jy weet haar ouers is trots maar ons kan nie verwag hulle moet op kort kennisgewing geld spandeer nie."
"Kry net haar idnommer asseblief. Sy kan saam vlieg."
"Dankie my bul."
"Lawrence?"
"Ja mammie."
"Jou pa gaan vir jou en Larisa ook op laat vlieg. Kry haar idnommer so vinnig moontlik."
"Maak so Mammie."
Sahara wonder hoe dit met Lawrence gaan. Hy het haar geblok. Sy neem hom nie kwalik nie. Verdomde Paul.
Miskien is dit tyd om in Upington uit te kom. Een of ander tyd moet sy vir Bennie in die oë kyk. Sy moet sekerheid kry. As hy dan nou nie die moed het nie, as hy te veel van 'n lafaard is, sal sy dan maar die inisiatief neem.
Dit is beter om haar broer in haar lewe te hê as dat hy haar haat. Sy sal dit nie kan verdra nie.
Gelukkig was haar motor net laasweek gediens. Sy hou daarvan om kuier kuier te ry. Sy is uitgerus. Mnr Adriaanse het gesê sy kan volgende week ook kry. Dan het sy vir Sally ook afgeskeep. 
Sahara begin pak onmiddelik. Binne 'n uur is sy by 'n garage, besig om vol te maak, water en olie te kyk en iets te koop om te knibbel op die pad.
Die vinnigste roete uit die stad is die N1 dan op die N7.
Sy dink aan 'n gediggie waarmee sy besig is, "Die plek van my naelstring."
'Dit roep my in die son wat skyn, dit roep my in die donderbui.
Ek hoor sy fluistering op die wind
Hier is jou plek my kind.'
Weet mense ooit wat dit beteken om huistoe te gaan? Sy verbeel haar altyd sy kan die Oranjerivier ruik sodra sy in Kenhardt aankom. Dit is 'n hele sewentig kilometer weg voordat jy die Oranje oorsteek by Keimoes. Keimoes, net so goed sy is al in Upington.
"Nee wag Sahara, jy is nog in die Kaap. Daar lê nog 'n lang pad voor."
Sy besluit om af te draai van die N7 en Klawer in te gaan vir 'n stop en petrol. Sy het nog altyd net verby gery. Vir eers ry sy met Kerk Straat af verby die Een Stop net om te kan sê sy was al in Klawer. Sy draai regs af op die R362 tot by Jakaranda.
"Nou moet ek omdraai anders verdwaal ek. Upington is nog ver."
 By Engen Een Stop maak sy die motor vol. Twee anties staan en praat oor 'n verhaal met die naam van Stukkende Harte.
Sally se hart klop vinniger. Die laaste personeellid is weg. Dit is net sy en Mnr Solomons. Hy sal seker nou klop. Sy gaan sit by haar lessenaar.
Die verwagte klop kom.
"Binne!"
Mnr Solomons stap selfversekerd in.
"Mooi ding jy hoef mos nie hier vir my gewag het nie. Jy kan my mos gevra het om na jou plek toe te kom vanaand.
Maar ek verkwalik jou nie. Natuurlik het jy dit so geniet die ander dag dat jy smag na nog. Ek het dit sommer vanoggend gesien toe jy die mooiste mini aangetrek het.
Ek is nou hier om jou te plesier. Jy kan dit nie verhelp dat jy is wie jy is nie. Die mooiste slet in Upington."
Hy kom stap tot by die lessenaar. Kom om na haar kant toe terwyl hy sy baadjie uittrek. Hy vat aan sy lyfband om dit los te maak.
Sally staan vinnig op en steek hom in sy bors. 
"Jou lae vark. Vat so." 
Sy steek hom weer. "Ek is nie jou slet nie meneer." 
Sy klink woedend en steek hom weer. "Ek is nie jou hoerjaer nie Oom Willem." 
Sy hou aan steek en draai die mes.
"Voel my pyn Oom Willem."
Dit is nie net meer Mnr Solomons nie; haar Oom Willem sien sy ook.
Sy sak op die vloer neer. "Ek kan nie meer nie. As jy daar is God help my." Sy steek haarself in die bors.
Haat. Haat. Haat. Wanneer dit ontvlam tot 'n onblusbare inferno verkool dit jou tot as. 
As. As. As. Teken dat daar eens op 'n tyd 'n vuur was. Vuur wat nie geblus was voordat dit die brandende voorwerp verteer het nie. Die wind kan dit nou maar weg waai.
Bloed hier, bloed daar. Bloed wat spuit uit gapende wonde.
Solomons se afbrekende woorde het vir altyd stil geword.
Spreuke 18:21 'Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet."
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 33 - Rooi Mier

#Stukkendeharte  Hoofstuk 33 - Rooi Mier
Elton en Jolene is al vroeg by die hospitaal. Hulle kon nie slaap tot heelwat later nie. Dit was goed en op 'n manier ontspannend om bietjie langs die see te kuier maar teen die aand was al die spanning weer terug. 
Jolene het haar man so jammer gekry. Hy probeer so hard om haar by te staan dat hy nie uiting kan gee aan sy eie emosies nie. Sy het teen 02:00 na die skynbaar slapende Elton gekyk en prewelend gebid.
"Here, as dit dan so is dat ek nie hierdie kanker sal oorleef nie, dan wil ek U nou bedank vir die wonderlike man wat U aan my toevertrou het. Ek bid dat U elke tree met hom sal stap en dat u die pyn vir hom sal verlig. Maak dit dan vir hom moontlik om iemand te ontmoet wat hom waardig sal wees. Met sy groot ruim hart en vertroue in die goedheid van sy medemens is dit baie moontlik vir hom om die verkeerde vrou te trou, daarom beroep ek my op U o Heer. Ek dank U daarvoor Amen."
"Dit was nou die negatiefste, ongelowigste gebed wat ek al ooit in my lewe gehoor het my liefde. Wat wil ek met 'n ander vrou doen as jy aan my sy gaan wees? My God beantwoord gebede waarin daar geen geloof is nie. Al wat jy nodig het is daai mosterdsaadgeloof."
"Ek het gedink jy slaap my man."
Elton trek haar nader en laat haar kop op sy skouer lê. Sy skouer raak nat van haar trane. Hy kan nie meer voorgee nie. Die damwal breek. Die trane vloei. Twee liggame ruk in rou snikke. Hul hartseer vloei oor in 'n intense huwelikssamesyn wat albei uitgeput laat en binne minute aan die slaap.
Die alarm het hulle om 06:30 terug uit droomland geroep. Jolene is eerste wakker. Sy streel oor Elton se kop. 
"Net my man die. Jy is reg Elton, ek is nog nie gereed om jou weg te gee nie. Ek en jy sal oud en grys op die stoep sit."
Sy skud liggies aan hom. "Die Fillistyne is op jou."
Hy was seker al halfpad wakker want hy glimlag sonder om sy oë oop te maak. "Ek sal nie eens kan terug veg nie Delila want jy het my van al my kragte ontneem."
Nou wag hulle vir die dokter.
"Elton, jy het eendag genoem dat jy eendag die stad wil verlaat. Ek is bereid om saam met jou Upington toe te trek. Dit het mos meeste van die geriewe van die stad."
"Regtig my vrou?"
Hy trek haar nader en soen haar so laat die ouer vrou wat daar sit glimlag en vir haar man sê, "So wil ek gesoen wees" en glimlag terwyl sy vir Elton knipoog.
Hy raak skaam en Jolene sê, "Sal jou leer om in die openbaar te kafoefel."
"Mevrou Jolene Daries, die dokter is gereed vir u."
Elton stap saam met haar.
Sally is al wakker van 05:00 af. Sy het 'n besluit geneem. Nie langer as vandag nie. Vandag moet alles tot 'n punt kom. 
"Hy sál die gevolge van sy dade dra. Ek was vir te lank 'n slagoffer."
"Goeie môre Meneer en Mevrou Daries. U lyk anders as eergister, so ontspanne."
Elton kyk na hom en glimlag. "Goeie môre dokter. Ons wil en gaan lewe. Na ons afspraak by u begin ons planne maak vir die toekoms. Weet U hoekom? God is in beheer."
Die dokter kyk verwonderd na hulle. Hy kon nog nooit verstaan hoe die sogenaamde Christen groep mense die mediese feite kan verwerp omdat hul glo hul God sal hulle gesond maak nie.
Jolene is vanoggend heel ontspanne; wel, nou nie heeltemaal nie maar beslis baie minder as eergister.
"Ons is gereed dokter."
"Ek het die uitslae van die laaste toetse hier. Dit bevestig die eerste diagnose.
Daar is egter ander nuus ook. Soos ons verduidelik het begin Angiosarcoma soms in die bors maar kan soos met dit meeste ander kankers versprei. 
In u geval het dit in die bors begin en die lewer is aangetas."
Die Dariese sit doodstil. Hulle lyk nog steeds kalm. 
Die dokter gaan voort. "Die prognose was verkeerd. Ons kan die geaffekteerde bors verwyder, met chemoterapie en bestraling is dit moontlik om die lewer te behandel. As dit nie suksesvol is nie kan 'n gedeelte van die lewer verwyder word. U kan 'n lang gelukkige lewe hê."
"Dankie Here!" Elton se dankbaarheid wys in trane.
"U moet gaan dink en terugkom na my toe met 'n besluit teen Maandag. As julle die bors wil laat verwyder moet dit so spoedig moontlik gebeur. Daarna die res van die behandeling."
Jolene kyk na Elton maar praat met die dokter. "Wat is daar om oor te dink dokter. Wanneer kan ons begin."
Toe hulle daar uitstap sê Jolene. "Mammie en Oom John is seker gespanne. Bel jy vir Oom John en nooi hom vir aandete. Ek sal Mammie nooi."
Elton glimlag. "My oom gaan die aandete in 'n dankseggingsdiens verander. Ek wens sy vrou kon dié nuwe John sien."
"Toe maar my man. My ma sien dit alte goed raak. Ek wonder of sy ooit die goeie nuus gaan hoor of gaan sy net in Oom John se gesig sal kyk."
"Hmmm. So jy sê sy sal kom oor die halsbandjie, nie die hondjie nie."
Jolene slaan hom liggies met die vuis teen die bo-arm. "Wies jou hondjie en jy praat mos van my ma."
Sally is gespanne. Soos gewoonlik is die res van die personeel al weg. Dit is weer net die skoolhoof en sy. Die opsigter maak klaskamers skoon.
Net soos sy verwag het is daar 'n klop aan die deur.
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...