Donderdag 11 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 27 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 27 - Rooi Mier
"Lawrence antwoord nou nie sy foon nie. Hy is seker nou baie kwaad en teleurgesteld in my. As daai Paul vent net nie alles kom ruïneer het nie. Ek glo hy sou dit met tyd aanvaar het. Wel, ek glo so maar ek sukkel nog self."
Sahara is sommer weer kwaad. "Hoe en hoekom het Paul in my lewe gekom? Ek sal maar later weer probeer. Hopelik antwoord hy."
Paul kan homself skop. "Hoe het ek alles so opgemors. Nou sal ek hard moet werk om Sahara se guns te wen. Hoe doen ek dit?
Dit was nou impulsief, ondeurdag of sommer net dom."
Lawrence probeer opstaan.
"Nee meneer. Bly lê stil. Toelaat my om jou eers te ondersoek. Ek is 'n geregistreerde verpleegkundige." Die vrou voel aan sy arms en bene. "Dit is oraait. Jou asemhaling is bietjie vinnig maar dit is dalk die adrenalien." Sy lig sy hemp op. "Hier is 'n blou kol op jou ribbes. Kom ons hanteer dit liewer as ernstig. Die ambulans sal nou hier wees."
Die dame wat die motor bestuur het lyk angstig. "Ek hoop nie hy het ernstige inwendige beserings nie. Hy het net skielik voor my ingeloop." Sy praat met niemand spesifiek nie.
Die polisie is eerste daar. Hulle vra of iemand weet wat gebeur het maar soos dit deesdae gaan wil niemand betrokke raak nie. Net die bestuurder praat.
Lawrence hoor. "Ek weet nou nie wat u rang is nie offisier maar sy praat die waarheid. Ek was nie myself nie en het voor die motor ingeloop."
"Was dit 'n selfdood poging?"
'n Vrou uit die omstaanders vra wat selfdood is. Iemand lag.
"Waar was jy dan; onder die klip? Dit is die nuwe woord vir selfmoord."
"Ja, ek was. Ek het jou daar gesien. My vader, vir my wil beledig. Hy is eintlik dom van slimgeid."
Die offisier sê, "Toe nou julle, ek kan nie die betrokkenes hoor nie." Hy probeer sy glimlag wegsteek maar kry dit nie heeltemaal reg nie."
Die ambulans kom. Die verpleegkundige sê van die blou kol op sy ribbes. Hulle neem vinnig sy bloeddruk, voel of sy pols normaal is en vra waar seer is waarop hy oraal antwoord. Hulle rol hom op 'n draagbaar en dra hom na die ambulans toe. 
Die polisieoffisier loop saam en sê hulle sal die volgende oggend 'n verklaring kom neem. Roetine ondersoek sê hy.
By die hospitaal word Lawrence deeglik ondersoek. 
"Daar is geen uiterlike ernstige beserings nie meneer. Ons kan ongelukkig eers môre xrays doen. Jy sal moet bly. Kan ons iemand bel?" Die verpleegster klink oorvriendelik.
"Waar is my foon? Kan jy my sak aangee asseblief."
Lawrence kry nie sy sel nie. "Kan jy nie dié nommer afskryf nie asseblief. Gelukkig ken ek dit. Dit is Mevrou van Wyk, my ma se nommer." Hy gee die nommer.
"Ek bel haar sommer nou." Sy en die ander verpleegster stap weg.
"Nogals glad nie onaardig nie."
"Aida nee, hou jou in."
Hulle stap giggelend weg.
"Wie bel nou van 'n vreemde nommer af? Mevrou van Wyk."
"Goeie middag mevrou, dit is Somerset Hospitaal in Kaapstad."
"Hoe kan ek help?"
"Ken u vir Lawrence van Wyk?"
Iris antwoord huiwerig. "Ja?"
"Hy is hier by ons in die hospitaal opgeneem."
"Bennie kom hier" skree sy paniekerig.
Sy praat verder met die verpleegster. "Wat het gebeur?"
"Niks ernstigs nie mevrou. 'n Voertuig het hom omgery."
"Omgery en jy sê niks ernstigs nie. Hoe gaan dit met hom?"
"Hy het geen ernstige beserings nie mevrou. Ons hou hom net vir observasie en dan gaan ons môre x-strale doen. Hy is regtig ok."
"Ok en oulik" hoor Iris in die agtergrond.
"Ek gaan hom nou bel as hy dan so ok en oulik is."
"Wil mevrou nie oor tien minute bel nie? Sy sel het op die toneel weggeraak. Ek sal dan my foon vir hom leen."
"Maak so verpleegster. Wat is jou naam?" 
"Amelia mevrou. Neem my nommer mevrou."
"Wat gaan aan my vrou?"
"'n Motor het vir Lawrence gestamp. Hy is glo ok. Net ligte beserings. Ek bel hom later."
"Wat nou nog. Gelukkig is ons môre alweer oppad Kaap toe."
Dit is 'n lieflike namiddag by die Daries woning. Die braaiery het goed afgeloop. Elton is 'n bobaas braaier. Hy het selfs die slaaie voorberei.
Jolene wou help maar hy het haar verbied. Haar ma, Linda het vroeër opgedaag en gehelp. Sy wou natuurlik weet hoekom Jolene weggegaan het maar Jolene het gesê sy wil almal dieselfde tyd inlig.
Nadat almal klaar geëet het, het sy hulle ingelig. John het natuurlik onmiddelik die pastoor gevra om vir haar te bid.
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 26 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 26 - Rooi Mier
Dit is Sondagoggend. Bennie en Iris is vroeg op. Hulle maak gereed om kerk toe te gaan.
"Ek voel so onrustig Bennie. Miskien moet ek maar vir Lawrence bel. Iets voel nie reg vanoggend nie."
"Los die klong af Iris. Miskien gaan hy kerk toe. Jy het hom dan so mooi aangeraai om by 'n kerk uit te kom. Weet jy dit sal sy eerste diens wees vandat hy besef het daar is 'n God?"
"Nou hoekom voel ek onrustig. Mens voel mos nie so as iemand kerk toe gaan nie. "
"Iris jy gaan tog nie ophou nie. Jy moenie die klong so op piep nie. Hy is 'n man."
"Hy bly my babatjie en sal my babatjie bly al het hy ook al ses kinders.
Ek moet hom bel. Iets in my moederhart sê daar is iets fout. Julle pa's ken nie daai gevoel nie."
Bennie "ghmmf! Bel en kry klaar. Sê groete vir my klonge-long-tong."
Iris kyk hom skuins aan en glimlag.
"Jy aanvaar óók maar nie dat hy groot is nie."
Sy skakel Lawrence se nommer.
"Môre Mammie. Hoe gaan dit?"
"Goed my kind. Die vraag is hoe gaan dit met jou."
"Baie goed my besige ma. Ek gaan vandag vir Sahara ontmoet."
Iris druk die telefoon toe. "Bennie hoor hier. Hy gaan Sahara ontmoet."
Bennie staan benoud nader.
"Sê hy kan nie. Dink aan 'n verskoning."
"Lawrence gaan jy dan nie kerk toe nie. Jy mag nie na Sahara toe gaan nie."
"Hoekom nie mammie?"
"Sy , sy iiiis. Sy is moontlik kerk toe."
"Ons het 'n afspraak mammie. Sy wag vir my. Bye eers Mammie. My 'uber' is hier. Sê groete vir die toppie."
Hy lui af.
"Lawrence! Lawrence kind waar is jy. Hy het afgelui."
"O hel Iris. Wat nou?"
Hulle probeer weer bel maar Lawrence antwoord nie.
"Ons moes lankal met hulle gepraat het my man. Net môre gaan ons terug Kaap toe en ek vra nie Bennie, ek sê."
"Ons sal moet ja. Netnou is ons te laat. Wat as hulle … jy weet. Ek kan nie die woord uiter nie want dit is my kinders."
"Iris ek kan nie nou in die kerk gaan sit nie. Nié nou nie."
Iris kyk hom net aan. Haar kyk sê alles.
"Ja okay. Laat ons maar gaan maar ek gaan tog nie konsentreer nie."
"In tye van krisis is die huis van die Here die beste plek Bennie van Wyk."
Lawrence het 'n nuwe kamermaat in die plek van Anton. Hy vra verskoning dat hy nie kan help skoonmaak nie en gaan klim in sy die uber.
Dit is nog baie vroeg maar hy gaan liewer vroeg. Vir nou moet die bestuurder hom by die Waterfront aflaai. Dan kan hy maar 'n vroeë middagete het en miskien sjokolade of iets koop vir Sahara.
"Ja so begin my nuwe lewe. Die lewe as Sahara se aanstaande. Sy is sekerlik die mooiste meisie suid van die ewenaar."
Sahara sit in die kerk. Niks kan egter haar gedagtes wegneem van wat kom nie. Haar eerste ontmoeting met Lawrence as haar broer.
"Ek moes nie ja gesê het vir die ontmoeting nie. Hoe gaan ek sy teenwoordigheid hanteer?"
Na die diens stap sy na haar woonstel. Dit is nie ver nie. As iemand haar nou moet vra wat gepreek was sal sy moet lieg. Is daar nie 'n manier om die tyd stadiger te laat loop nie?
Lawrence stap al langs Beach Weg af in die rigting van Seepunt. Hy het baie tyd want dit is nou eers 12:00 en hy hou eintlik daarvan om te stap.Hy dra 'n rugsak waar sy persoonlike goed in is. Hy het gemaklike 'name' skoene, 'n driekwart  broek en 'n Engelse premierliga sokkerklub hemp aan.
Hy loer net so nou en dan op die sel se gps of hy nog op roete is.
Bennie en Iris is al terug van die kerkdiens af. Hy maak onmiddelik aanlyn besprekings. Daar is plek vir hulle die volgende dag.
John en Martin is oppad Ravensmead toe. Martin het vir Elton goed leer ken. Hy hou verskriklik baie van hom en sy vrou. Hy wonder hoekom sy weg is. Vir John is dinge altyd eenvoudiger; die Here het haar teruggebring. Hulle is eintlik bietjie laat want hulle wou Elton help braai het. 
Sahara kyk uit oor Seepunt promenade. Van haar woonstel op die vyfde vloer sien sy die jongman. Dit is bietjie ver maar sy weet instinktief dat dit hy is.
"Laat ons dit agter die rug kry. "
Lawrence staan teen die reëlings naby die bankie waarvan Sahara gepraat het. Hy kyk links dan regs langs die promenade af of hy haar sien. Hy verwag haar nie van die pad se kant af nie. 
Sy woon net oorkant die pad. Sy staan en kyk na hom vir 'n rukkie. Haar hart verraai haar alweer. Die ding wil nie ophou spring nie.
Paul Slingers staan 'n entjie weg. Hy het Seepunt toe gekom in die hoop dat hy Sahara gaan sien. Sy kan dalk besluit om bietjie langs die see te kom stap. Daar is sy nou. Hy gaan nou maak of hy haar toevallig raakloop. Hy wil net na haar kant toe loop toe hoor hy sy roep, "Lawrence, hier." Sy stap na die bank toe.
Lawrence se hart ruk. Haar stem.  Daar is sy. Sy mond voel droog. Hy begin stadig in haar rigting stap.
Paul stop in sy spore. Hy kyk rond. "Wie is Lawrence? Volgens sy kennis het sy nie iemand in haar lewe nie." 
Dan sien hy die jongman. "Is dit dan nie Bennie se seun nie? Wat maak Sahara met hom? Ek was onder die indruk Bennie ken nie vir Sahara nie."
Lawrence en Sahara gaan sit op die bank. Paul kyk in 'n ander rigting toe hy verby hulle stap sodat Sahara hom nie miskien sal herken nie. Hy gaan sit so vyf treë weg plat op die gras met sy rug na hulle toe ingeval Sahara dalk omkyk. 
"Ek hoop hulle gaan hard genoeg praat sodat ek kan hoor. As ek nader sit gaan dit suspisieus lyk. Nou mis ek my klankversterkers wat ek gebruik as ek gesprekke moet afluister."
"Middag Sahara. Hoe gaan dit?"
Lawrence probeer normaal te klink. Hy dink, "As ek my hand uitsteek kan ek aan haar raak."
Sy keel trek toe.
"Lawrence. Dit is goed om jou weer lewend te sien."
"Wat bedoel jy?"
"Ek het gedink jy is saam met Anton dood. Dit was 'n verligting om jou saam met jou ouers te sien?"
"Wanneer het jy hulle ontmoet? Ek weet nie daarvan nie.
Kom ons praat liewer oor wat belangrik is. Hoe het jy dit hanteer toe hulle jou inlig oor ons?"
"Waarvan praat jy Sahara. Dit is die tweede keer dat jy so iets noem. Waarvan moes my ouers my ingelig het?"
Sahara besef dat Lawrence in die duisternis is oor hul verwantskap. Hoe nou gemaak? Waarvoor is hy dan hier? 
"As hy nie weet nie kan dit wees? Dit kan tog nie wees nie. Nee!!"
Sy hoor nog hoe hy haar Juffrou Sahara van Wyk genoem het.
"Sahara, jy weet mos dat ek al van skooldae af .."
"Nee, nee Lawrence. Jy mag nie. Ons kan nie."
"Het jy dan iemand in jou lewe?"
"Nee Lawrence ons kan net nie."
"Sahara, dan verstaan ek nie nou nie. Ek is nie meer jou leerder nie of is ouderdom dan so belangrik vir jou?"
"Lawrence ek sê mos ons mag nie."
"Is dit die geloof ding? Ek glo nou dat daar 'n God moet wees, alhoewel ek nog nie alles verstaan nie. Jy kan my leer."
Sahara dink ek sal maar moet vir Lawrence sê. Dit is nou nie my skuld dat sy ouers hom nie ingelig het nie.
Paul hoor groot gedeeltes van die gesprek. So Bennie se seun wil  Sahara sy meisie maak maar sy wil nie. Hy staan vinnig op en loop om die bank.
Sahara besluit dit is tyd. "Lawrence, ek moet jou iets vertel. Jou pa is ook .."
"Middag Sahara. Is jy oraait?"
Sahara stop en kyk in Paul se rigting.
"Hi Paul."
"Jammer ek is laat vir ons afspraak."
Sahara is verbaas. "Maar .."
"Maar niks nie. Ek sal opmaak vir dit. Middag jongman. My naam is Paul. Dankie dat jy vir Sahara solank geselskap gehou het. Jy kan nou maar gaan."
Lawrence kyk verward van Sahara na Paul. Nou verstaan hy nie. Hy staan stadig op.
"Wat gaan nou aan Sahara?"
"Jammer Lawrence.."
"dat jy nou moet loop. Ek en Sahara moet nog iewers heen gaan."
Hy trek Sahara eenkant toe aan haar arm en fluister, "Ek red jou?"
Lawrence weet nie wat om te doen nie. Paul hou Sahara aan die arm was en stuur haar in 'n rigting weg van hom af. Sy is te oorbluf om te reageer.
Lawrence kan sy oë nie glo nie. Wat gebeur nou? Hoekom het Sahara nie vir hom gesê sy het 'n afspraak nie? Hy is die grootste dwaas ooit. Hy stap stadig weg van hulle af. 
Sahara ruk haar arm los. "Wat dink jy doen jy? Die vermetelheid. Hoekom is jy alweer op die toneel? Volg jy my. Loop net voor ek skree."
Sy was nog nooit so woedend in haar lewe nie. Die seer in Lawrence se oë was net te veel. Dit sou vir hom beter gewees het om liewer die waarheid te hoor.
"As ek jou ooit weer naby my sien gaan ek 'n klag teen jou lê. So die handsak ding was net 'n leuen om naby my te kom."
"Maar Sahara"
"Bly stil!!" My skree en mense kyk. "Bly net stil!".
Sy draai om maar sien Lawrence nêrens nie. Daar is heelwat meer mense as vroeër.
Die eerste helfte van die jaar is nog nie verby nie en hy het nou al sy beste vriend verloor. Nou verloor hy ook sy Sahara, of was sy nooit syne nie. Hy stap sommer net 'n rigting in weg van die see af, heeltemaal onbewus van sy omgewing. Hy huil nou openlik. 
'n Bergie sien hom en kry hom jammer. "Wat gaan aan boetie? Toe maar, die lewe kou 'n mens en spuug jou weer uit. Jy is nog jonk. Jy sal op jou voete land. Glo net."
Dit veroorsaak net meer trane. Hy beland in die hoofweg waar hy blindelings oor stap. 
Hy hoor die remme en val op die grond.
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 25 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 25 - Rooi Mier
Elton staan vasgenael op een plek. 
"Droom ek? Dit moet wees of het ek toegegee aan daai begeerte om weg te kom van al die pyn al is dit net vir 'n uur? Ek onthou ek het verby my ex-verskaffer gery toe die dwelms letterlik my naam roep. Het ek gestop en nou kan ek nie die fantasië van die werklikheid onderskei nie."
Hy maak sy oë toe vir 'n paar sekondes. Sy brein probeer seker maar die pyn verlig. Hy maak sy oë oop. Sy lê nog steeds daar. 
Hy begin ander dinge waar te neem. Die tafel is gedek. Die huis lyk ordelik. Hy ruik lugverfrisser. Hy stap nader aan die rusbank. Dit ruik na Jolene. Daardie onmiskenbare geur van die parfuum wat sy dra as sy hom spesiaal wil laat voel. 
Hy raak liggies aan haar hare. 
"My Jolene is hier. Sy is tuis."
Elton sak op sy knieë en al gebed wat uitkom is baie dankie Here herhaaldelik.
Hy staan op en gaan sit op die bank oorkant haar. Sy trane begin vloei; nie hartseer trane nie, trane gebore uit 'n hart wat uit sy bors wil spring van blydskap. 
Elton hou nie boek van tyd nie. Hy sit daar en kyk, te bang sy kan wegraak as hy roer.
Hy is onbewus daarvan dat hy aan die slaap geraak het. Hy maak sy oë oop. Daar is 'n kombers oor hom. Jolene sit regop oorkant hom en glimlag.
"Ek het gedink jy raak nooit wakker nie."
Sy het intussen haar slaapklere aangetrek. Haar hand is uitgestrek na hom toe.
"Kom ons gaan slaap my man."
Die volgende oggend raak hy wakker en hy kyk in haar donker oë wat liefderik na hom staar. 
"Jy moet opstaan dit is kerk."
"Nee, ek gaan nie vandag nie."
"Elton my man, jy het nog nooit voorheen 'n diens gemis nie. Ek het gister gesien jy het voorberei om te preek. Pastoor gaan op jou staatmaak."
"Jy weet ook net hoe om my knoppies te druk. Kom ons maak klaar."
Terwyl hulle oppad na die diens is onhou hy dat hy nog nie sy skoonma gebel het met die goeie nuus nie. Dan onthou hy dat sy ook deesdae by hulle dienste bywoon. Miskien moet hy haar verras.
Hulle is effens laat. Die eerste lied word gesing. Dit is 'Turn your eyes upon Jesus'. Dit klink of sommige mense 'n paar woorde vergeet toe hulle instap. Hierdie paartjie is geliefd in die kerk. Almal was verstom toe sy skielik weg was. 
Jolene sien haar ma, los sy arm en beduie hy moet aanstap. Sy gaan by haar ma sit. Dié sing gewoonlik toe oë en merk nie dat Jolene langs haar inskuif nie.
Sy maak eers haar oë aan die einde van die lied oop.
"Jolene my kind!" Sy het vergeet sy in die diens. Jolene glimlag, wys met haar vinger op haar lippe en omhels haar ma.
Dit verhoed egter nie 'n "Dankie Vader, U het my gebed verhoor nie."
Die gemeente sing 'Môre sal die son weer skyn'. 
Toe dit Elton se beurt is om die preekstoel bestyg sê hy met 'n groot glimlag, "My son skyn alreeds".
Ons woord is vanoggend opgeteken in Psalm 123. Ek lees die eerste twee verse, 
"Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon.
Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres — so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is."
Na die diens draai almal rondom hulle en wil groet.
"Oudie, dit was sommer nou woord daai. U mag maar preek." Die ouer broer druk Elton op die skouer as teken van goedkeuring.
Elton het geleer om nooit eer toe te eien nie. " Gee God al die eer."
Jolene lyk bleek en moeg. Elton merk dit op en vra bekommerd, "Is jy okay my vrou?"
"Ek is bietjie moeg."
"Verskoon my mense, ons moet gaan. Ons praat weer Dinsdagaand by die biduur." 
Hy sien nie John en Martin wag vir hul beurt om te groet nie.
"Kan ons hulle môre besoek", vra John. Martin knik instemmend.
Tuis sê Jolene, "Ons moet praat my man maar ek is nou te moeg. Kan ek eers gaan rus?"
"Natuurlik Jolene."
Elton is bekommerd. Iets is fout. Sy vrou het gewoonlik dae se energie.
Lawrence se oë is elke paar minute op die horlosie. Hoekom kan die tyd nie so vinnig loop soos wanneer jy 'n sperdatum het om 'n taak in te handig nie? Die paar uur voel soos weke.
Hy het al na Eersterivier Sentrum toe gestap. Hy het al na die stasie toe gestap om na aan Anton te voel. Nog voel die tyd verskriklik stadig, as tyd 'n dier was is dit vanoggend beslis 'n sloth. Elke beweging is in stadige aksie.
Nog so 15 minute dan gaan hy bel. Op die kop 14:00 bel hy. 
Sahara het sit en wag vir die oproep. 
"Kan my hart nie na my brein luister nie? Dit is jou broer Sahara. Hoekom klop jou hart so wild? Hoe gaan ek 'n gesig tot gesig gesprek hanteer?"
Sy antwoord nog voordat die eerste lui klaar is. Sy probeer so kalm moontlik klink.
"Sahara"
Lawrence sukkel net so om sy opgewondenheid weg te steek.
"Goeie middag. Het jy 'n goeie vlug gehad?" 
Hy weet dan nou nie wat om te sê. Sy voorbereiding was verniet.  
"Ja, is maar 'n kort vlug."
"Kan ons ontmoet? Ek wil jou graag sien. Daar is iets wat ek van my hart af moet kry."
"Ek sukkel nog om dit te aanvaar Lawrence maar ons moet seker iewers begin."
Waarvan praat sy? Dit klink of sy van iets weet waarvan hy nie weet nie. 
"So kan ek jou iewers ontmoet en wanneer?" Lawrence klink hoopvol.
"Ja. Ek woon in Seepunt. Kan jy my môre ontmoet waar julle die anderdag julle voertuig parkeer het toe julle hier op die strand was?"
"Wie?" Lawrence is verward.
"Jy en jou ouers was mos hier op die strand laasweek. Hier is 'n bankie. Ek sal hier wag. Gee my tyd asseblief."
Hoe weet sy? Sy moes hulle gesien het. Hoekom het sy nie kom groet nie? Hoekom het sy my oproepe geïgnoreer na die tyd? Nou is hy nog meer verward.
Hy sê egter net, "Ek is in Eersterivier. Hopelik kan ek 'uber'. Is dié tyd reg of kan ons dit 13:00 maak. Dit is Sondag so ek moet nog weer huiswaarts. Publieke vervoer is sleg op 'n Sondag."
"Reg so Lawrence, dan sien ek jou môre."
Elton gaan loer elke keer of Jolene nog slaap. Laat die middag kom sy dit sitkamer ingestap.
"Elton, ons moet praat."
"Is jy okay liefde? Koffie of sap?"
"Kom sit Elton. Ons kan later koffie drink. Moet my asseblief nie in die rede val nie. Jy wonder seker hoekom ek verdwyn het."
Elton sit doodstil langs haar en luister. Hy hou haar hand vas terwyl hy luister.
Hy druk skielik haar hand hard. Jolene besef dit is onbewustelik.
"Jy maak my hand seer Elton."
"Jammer my vrou." 
Hy staan op en loop op en af.
"Kanker sê jy. Ons moet onmiddelik gaan vir 'n tweede opinie. Ek is seker dit is 'n fout."
"Kom sit my man. Gee my kans om klaar te praat."
Elton bly stil maar hy hou aan op en af loop. Eers toe sy verskoning vra omdat sy weggegaan het kom sit hy langs haar. Hy druk haar styf vas.
"Daar is niks om voor vergifnis te vra nie liefde. Ek sou dalk dieselfde gedoen het. Wanneer gaan ons weer die dokter sien?"
"Ons?"
"Ja ons. Dink jy ek gaan nie my vrou ondersteun nie?"
Jolene glimlag. "Dinsdag." Dit is net haar man dié. Hoe kon sy nie sy waarde waardeur jare terug al nie?
"My liefde, ek wil jou ma, Oom John en Oom Martin oornooi vir 'n braai môre, maar net as jy belowe jy gaan absoluut niks doen nie. Hulle was almal so bekommerd oor jou. Belowe? Ek weet jy wil hulle graag sien. So in plaas van oral ry, laat hulle hierheen kom."
"Ek moet seker maar belowe, mits jy nie vir pastoor vergeet nie."
"Ek bel hulle sommer nou. Dit gee Oom John kans om vir Mammie van naderby te bekyk. Het jy gesien hoe loer hulle mekaar?"
"Jy praat van my ma né."
Sy glimlag en gee hom 'n speelse houtjie op sy boud toe hy wegloop om sy sel te gaan haal.
Sy ken haar man. Hy is besig om sy emosies te onderdruk. 
"Hoekom Here? Ek het my vrou so baie nodig. Is dit sonde as ek vra dat ek liewer gaan?"
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 24 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 24 - Rooi Mier
"Vandag is die dag. My man verdien om die waarheid te weet. Vandag gaan ek huistoe."
Jolene is koorsagtig haastig om te pak.
"Elton, ek kom my skat. Jy verdien nie dié onsekerheid nie. Met Die Here en jou aan my kant kan geen storm my, ons oorweldig nie.
Vergewe my my man. Ek het amper toegegee aan die preek van min of geen hoop; 'n preek dat my einde in sig is."
 Sy belewe weer daardie oomblik toe die predikers in hul wit jasse die einde aankondig met strakke gesigte en geen tekens van emosies nie. Vir hulle was dit 'n saak van mediese geskiedenisboeke of was dit dalk graad 1 somme waar 1 +1 = 2?
"Mevrou Daries, u het kanker. Ons noem dit Angiosarcoma.
Daardie oomblik het die woord kanker verby haar gevlieg maar die vreemde woord Angiosarcoma het bly vassteek.
"Wat vir 'n ding is dit dokters? Praat tog net Afrikaans."
"Dit is 'n rare kanker wat in jou endoteel selle kan begin. Dit is die selle wat jou bloedvate en of limfvate omring. In jou geval blyk dit dat die kanker begin het in die bors maar versprei het na ander gedeeltes van die liggaam."
"Prognose dokters", sy weet darem dat prognose iets te doen het met jou kanse op herstel of oorlewing. Sy is nog kalm want vir haar klink dit of hulle praat van iemand anders.
"Dit is ver gevorder mevrou. U het 6 maande, maksimum 'n jaar."
Dit het haar eers regtig getref toe sy daar uitstap. Hulle wou so spoedig moontlik verdere toetse doen maar was seker van die diagnose. 
Tuis het Jolene na 'n foto van haar en Elton sit en kyk kort na hul troue. Hulle was regtig gelukkig maar sy kon net nie haar enkeldae vriende en gewoontes afskud nie; trouens hulle albei totdat Elton wonderbaarlik tot inkeer gekom het.
"Hoeveel jare het ek vermors met vriende en drank? Hoeveel keer was ontrouheid 'n bitter beker wat Elton maar gesluk het?
Na sy bekering kon sy werklik sien dat die Here vir haar die beste gegee het, geduldig, liefdevol en verdraagsaam. Sy wou dit nie raaksien nie want dit het haar skuldig laat voel. As sy skuldig voel het dit beteken sy moes verander. Sy was nie gereed nie.
Nou het die vyand gedreig om hom wat al soveel gely het nog verdere lyding toe te dien.
Sonder om hom in te lig het sy Amstelhof toe gevlug. Nou het sy klaar gevlug. 
"Ek wil en sal lewe vir Elton. Ja, mense sê as jy iets doen moet jy dit vir jouself doen, maar ek wil dit doen vir my dierbare man."
Sahara kyk na haar sel voor sy opstaan. Alweer Lawrence wat gebel het. Vandag gaan ek hom terug bel. Nadat sy aangetrek het sien sy dat daar nog baie tyd is. Daar en dan besluit sy om hom te bel.
Lawrence is in die trein oppad kampus toe. Sy pa kon hom nie wegneem nie want hulle moet 08:00 by die lughawe wees. Met die oggend verkeer sal dit onmoontlik wees om eers vir hom af te laai. Gelukkig het die motorhuurmaatskappy 'n tak by die lughawe.
Die trein is vol soos gewoonlik en daar is heelwat lawaai. Hy hoor dus nie sy sel lui nie.
Sahara probeer nog twee keer. Die voertuig wat haar moet wegneem is reeds daar so sy vertrek. 
"Hy bel my dag en nag nou antwoord hy nie"
Dit is al 08:45 toe L op Unibell stasie aankom. Hy kyk op sy sel en hy skree hardop van opgewondenheid. Ander studente kyk na hom en glimlag. Een druk sy wysvinger teen sy kop as aanduiding dat daar iets fout is met L.
Lawrence sien dit maar waai net vir hom. My liefde het gebel so dink maar wat julle wil. Sy eerste klas is eers 09:45. Hy het tyd. Van sy medestudente wat hom leer ken het groet nog. Hy beduie net na sy horlosie en stap vinnig aan. 
By sy geliefkoosde bank. Hy noem die bank 'Anton en L', gaan sit hy. Nou of nooit.
Hy skakel die nommer. Teen die derde lui antwoord sy.
"Goeie môre Lawrence."
"Sahara? Sahara." Sy keel trek toe. Die oomblik is oorweldigend.
"Hoe voel jy oor dit Lawrence?"
"Oor wat?" Hy is so opgewonde hy wag nie vir 'n antwoord nie.
"Sahara ek moet jou so gou as moontlik sien. Nog vandag?"
"Onmoontlik, ek is in Gqeberha of sal ek sê PE."
"Wanneer kom jy terug Sahara. Ek kan nie langer nie."
"Ek land Saterdagoggend. Hier is nog 'n werksfunksie vanaand. So môre is ek terug.
Ek weet waaroor gaan dit. Jou pa wil my oor dieselfde ding sien. Bel my môremiddag. Totsiens."
Sahara het hard probeer om nie emosioneel te voel nie. Dit is immers net my broer, bloedbroer. Hy is net so goed in Wiskunde. Dit is in die bloed."
Lawrence weet nie hoe hy deur die dag gaan kom nie. 
"Wat het sy bedoel met my pa wil haar oor dieselfde ding sien? Ek kan mos my eie praatwerk doen. Wat moet sy van my dink? As hy wil praat dan moet hy dit met Iris doen. Dit is mos sy liefde. Sahara is myne."
Hy sit en dagdroom nou. Hy, Sahara, hul seun en dogter en sy seun by Janice sit in die park en eet roomys. 
"O hel. Ek moet nog vir Sahara inlig oor die kind by Janice." 
Ag wat. Daai is anderdag se probleme. Vandag skyn die son helder en die lug is blou. Hy hoor selfs 'n mossie of twee bokant hom. Môre se reënwolke sal ons môre hanteer. Vandag wil hy net gelukkig wees. Dan voel hy dit, nat voëlmis op sy hand. Hy vee dit met toiletpapier wat hy in sy sak dra. Niks gaan hom onderkry nie.
Jolene staan voor haar deur. Sy het 'n huurmotor uit Bellville geneem. Dit voel of sy jare weg was. Die gras is effens lank en dit lyk onnet op die erf.
"My man was duidelik nie homself die afgelope tyd nie."
Sy sit 'n rukkie voordat sy haar sak gaan wegsit. Nadat sy gestort en verklee het gaan sy deur die koskaste.
"Ai Elton. Ek wil jou verras as jy tuiskom maar hier is dan net 'n blikkie vis en brood en eiers. Nou ja, ek moet maar inkopies gaan doen."
Sy bel sommer die man wat soms hul gras sny as Elton te besig is.
Martin land op Kaapstad Internasionaal. Waar begin hy? Dit gaan nie maklik wees om die inligting vir Rachel te bekom nie. Miskien sal hy maar 'n privaatspeurder moet kry.
"Goeie middag Martin, is jou kop nog in Namibia?"
"Middag my vriend. Daar is 'n paar dinge wat my pla. Vat my reguit kantoor toe eers."
Op kantoor google hy en vind Adams and Slingers Private Eye. Hy skakel hulle.
Elton is nie lus vir die huis nie besluit om net 'n draai te ry. 
"Wat maak ek by 'n leë huis? Elke aand is ek vol verwagting dat sy tuis gaan wees maar verniet."
Hy ry sommer net doelloos. Na 'n rukkie stop hy vir vis en chips en eet dit sommer in die motor. Dit is al oor agt die aand toe hy huistoe ry. Môre het hulle kerkdiens aan so hy sal maar gaan slaap., maar eers wil hy by sy skoonma om gaan om te hoor of hulle oraait is. Dit lyk tog of Jolene se afwesigheid hulle nader aanmekaar gebring het.
Dit is amper 21:00 toe hy tuiskom. Hy sluit die deur oop en skakel die lig aan. Daar lê sy, vas aan die slaap.
©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 23 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 23 - Rooi Mier
Elton is swaarmoedig vanoggend. Hy weet nie wat om te dink nie. Voorheen het hy geweet waaroor dit gaan. Dan het hy geweet waar sy is en ook dat sy gaan terugkom.
Nou is alles net 'n groot vraagteken. Hulle was nie kwaad vir mekaar nie. Die aand voor sy verdwyn het was 'n baie romantiese aand. Die kos wat sy voorberei het was al sy gunstelinge. Die ete by kerslig en die liefde daardie aand. 
Was dit hoe sy my gegroet het? Die oggend het hy haar liefderik gesoen toe hy werk toe gaan. Sy het nog geslaap. 
Hy het nog speels vir haar 'n rapsie op die boud gegee, "Jy het my heelnag uit die slaap gehou nou slaap jy en ek moet gaan werk."
Hy het haar liggies gesoen want hy wou haar nie wakker maak nie. Min het hy geweet dat sy weg sou wees as hy tuiskom.
Nou is dit al twee maande. Sy antwoord nie eens haar sel nie. 
Nadat hy tronk toe was kon hy nie sy werk terugkry nie. Hy kon ook geen ander werk kry nie totdat Martin hom aangestel het om by die maatskappy se sosiale projekte betrokke te raak. 
Vandag wens hy hy kon net bly lê. Hy het egter 'n verantwoordelikheid. Nadat hy sy ontbyt geniet het probeer hy weer vir Jolene bel. Soos gewoonlik antwoord sy nie. Hy stuur dan maar die gewone whatsapp om te sê hoe lief hy haar het.
Jolene lê en wag vir daai oproep. Sy kyk na sy naam totdat hy aflui. Dan druk sy die foon teen haar hart. Sy weet die whatsapp gaan volg. Sy voel die trilling toe dit deurkom. Sy kan dit nie oopmaak voordat sy seker is hy is nie meer oplyn nie. 
Haar vriendin se man is onlangs dood. Dus waardeur sy die geselskap en ondersteuning maar sy het ook gesê Jolene sal moet die werlikheid in die oë staar. 
"Ja ek sal moet, maar nog nie vandag nie."
Sy trek haar kamerjas aan. Na die badkamer trek sy die gordyne oop. Soos gewoonlik begroet stilte haar uit die straat uit. Amstelhof is stil, maar Kanarie Straat nog stiller. Baie anders as Ravensmead. Daar is die mense altyd besig. Selfs die willie-werkers is besig.
Gister het Bennie vir Paul gebel. Hy moet vasstel of Sahara uit die stad is. Groot was sy verbasing om te hoor dat sy weg is. Hy het juis daai tyd in Seepunt geloop in die hoop dat hy haar sou raakloop. 
Sy is glo in Port Elizabeth. Hy probeer nie die nuwe naam nie. Dit sal seker lank vat maar hy sal moét as gevolg van die aard van sy werk. 
"Hoe kan jy jou hart so halsoorkop verloor Paul?"
Martin het vanoggend in Keetmanshoop aangekom. Rachel was bly om hom te sien. Dit is die eerste keer in tien jaar dat sy familie van haar oorlede man se kant sien. Sy het 'n besonderse band met haar skoonmense, beter as met haar eie. Haar verhouding met Martin was nog altyd soos regte broer en suster. Hoe het sy hom nie nodig gehad toe Max op sterwe lê nie.
Sy kon hom nie in die hande kry nie. Uiteindelik het sy verneem van die ongeluk. Hoe hy sy gesin verloor het en toe uit die hospitaal verdwyn het. Daar was dinge wat sy met hom wou deel.
Max het 'n geheime lewe gehad waarvan sy eers verneem het toe hy op sy sterfbed lê. Uiteindelik is Martin hier. Sy is egter nie meer so seker of dit nog saak maak nie.
Die middag toe hulle uit Keetmanshoop Shoprite parkering ry besluit sy om hom tog met aandete te vertel. Dit is haar enigste geleentheid want hy vertrek vroeg die volgende oggend weer Windhoek toe.
Daardie aand vertel sy vir Martin die hele storie. Martin sit verstom om te hoor sy broer was by die onderwêreld betrokke. 
"Ek kon nooit verstaan dat hy soms vir weke aaneen net verdwyn het sonder 'n woord nie. Wanneer hy teruggekom het, het hy net gesê dit was 'n saak waarmee hy besig was. Dat dit baie sensitief was.
Wat my wel gepla het was dat omtrent elkeen van sy kliënte een van die gure elemente in die onderwêreld was nie."
"Hy was natuurlik 'n goeie prokureur voordat julle skielik Johannesburg verlaat het en uiteindelik in Keetmanshoop op geëindig het. Hoe het jy uitgevind dat hy in die onderwêreld betrokke was?" vra Martin.
"Ek het nie. Hy het my op sy sterfbed vertel.
Hy was betrokke by dwelms, diamante en mensehandel.
Onthou jy nog hou julle niggie verkrag en vermoor was?"
"Ek sal dit nooit vergeet nie," sê Martin.
"Dit was asgevolg van 'n transaksie wat skeefgeloop het. Hulle wou hom straf deur sy familie."
"En het hulle nie. Sy was soos ons suster." Martin skud sy kop asof hy dié gebeurtenis uit sy kop wou skud. 
"Nadat ons seun, jou naamgenoot, in 'n ongeluk dood is het ons skielik Johannesburg verlaat en hier beland.
Ek moes op ons sterfbed hoor sy onderwêreldse vriende was verantwoordelik vir my kind se dood. Weet jy hoe seer dit my gemaak het om te hoor my kind is dood asgevolg van hom."
"Met sy begrafnis het ek geen familie naby gehad nie. Ek wou hom net in 'n graf gooi en wegstap. Ek het dit egter nie gedoen nie. Hy het 'n ordentlike begrafnis gehad.
Daar is meer Martin. Max het jonk begin. Daar is iets wat jy vir my moet doen asseblief."
Nadat hulle klaar gesels het was Martin geskok en het gewonder hoe sy al hierdie trauma alleen kon hanteer.
Bo en behalwe die ander goed was Rachel verkrag ook. Dit is die eerste keer dat hy dit hoor. Sy vermoed dit was ook asgevolg van sy broer se geheime lewe. Na sy bekentenis op sy sterfbed het sy eers die moontlikheid oorweeg. 
Die mans het in hul woning gekom. Sy onthou dat sy geskree het haar man kom nou enige tyd huistoe. Die mans het gelag en een het gesê hulle weet hy is ver weg uit Johannesburg. 
Sy het so 'n mooi hart want watter vrou sou hom vergewe het vir al die trauma.
"Martin, ek moes hom vergewe anders het my lewe gestagneer. So jy moet asseblief vir my daai guns doen."
Hy het nog altyd 'n sagte plekkie vir Rachel gehad.
"Ag wees eerlik met jouself. Ek was destyds verlief op Rachel voordat ek Estelle ontmoet het. Hy dink aan die mooi lewe wat hy en Estelle gehad met met hul drie kinders, Sandra, Leo en Craig. Op een dag het ek hulle almal verloor."
Hy groet Rachel en vertrek na die gastehuis. Hy gaan teen 05:00 die oggend al vertrek Windhoek toe.
Lawrence lê en dink, "Hoekom is die lewe so onregverdig? Noudat ek Sahara uiteindelik gevind het antwoord sy nie haar sel nie. As ek net haar adres kan kry."
Bennie lê wakker. "Ek sal moet terugkom Kaap toe want dit is tyd. Jammer dat alles nie uitgewerk het soos dit moes nie." Hy en Iris gaan die volgende dag Upington toe vlieg.
Elton verlang verskriklik baie na sy vrou.
"Kom tog net huistoe Jolene."
Sahara weet nie hoe mens 'n mens liefde vir 'n man omskakel in liefde vir 'n broer nie. Sy bid vir leiding.
Jolene huil haarself aan die slaap.
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...