Donderdag 11 Mei 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 20 - Rooi Mier

 #Stukkendeharte Hoofstuk 20 - Rooi Mier


Dit voel vir haar of sy nie vordering maak nie. Daar is seker nog heelwat Bennie van Wyk's in Suid Afrika want dit is 'n algemene naam net so ook met die van. Tog voel sy 'n vreemde konneksie met dié man wat sy net van agter gesien het. 

Dit voel soos 'n ewigheid voordat sy die onderpunt van die trappe van die bereik. Sy is uitasem toe sy bo kom. Haar oë begin dadelik soek na die man en vrou. Net toe sy dink hulle is weg sien sy hoe hy besig is om dié deur oop te maak vir die vrou wat saam met hom is. 

Sy sit vinnig alles neer en probeer hulle in fokus te kry met haar selfoonkamera. Hopelik kyk hy om. Net toe hy omkyk verskyn iemand anders in die beeld.

Lawrence.  Dit kan mos nie wees nie. Is sy nou so behep met die man dat sy hom, wat dood is, op haar sel sien. Sy laat sak die sel stadig. Het Lawrence 'n dubbelganger? Dit ís mos hy daai.

Haar bene voel lam en haar keel droog. Sy is onbewus van alles wat rondom haar aangaan behalwe die toneel wat by daai motor afspeel. 

Lawrence neem die sak wat die man langs die motor neergesit het en laai dit in die kattebak. Maak die kattebak toe en klim agter by die motor in.

Almal is nou in die motor. Sahara fokus lankal nie meer op Bennie  nie. Haar oë is vasgenael op die motor se agtervenster. Sy kry nie 'n duidelike beeld nie. Die son weerkaats van die venster af.

Sahara reageer nog steeds nie toe die motor uit die straatparkering trek en wegry nie.

Sy hoor nou hoe hy, " môre  Juffrou Sahara van Wyk, agga Muller" sê. Lawrence van Wyk. Bennie van Wyk. 

Lawrence haal sy sel uit sy sak om te kyk of Sally nog nie die nommer gestuur het nie. Hy raak nou ongeduldig met haar. Vir wat stuur die vroumens nie net die nommer en kry klaar nie. 

Hulle ry nou naby die waterfront verby. Hoekom is die brug half? Die geld het seker maar weggeraak. 

Hy dink nou aan die vrou op die strand. Waarom het sy so bekend gelyk? Daar was iets geheimsinnigs aan haar met haar sonhoed oor haar gesig, iets bekends aan haar hand wat op die sak gerus het. 

Sahara het eindelik uit die trans gekom. Sy buk om haar handdoek en sak op te tel. Daar lê net 'n handdoek. Iemand het haar sak gesteel. Sy gee nie eintlik om nie. 

Dit voel of sy een of ander derderangse film gekyk het. Om die een of ander rede was sy deel van die film. Sy droom seker maar. Sy stap na 'n bank daar naby, gaan sit en kyk na die mense wat so rustig op en af loop. Nie een van hulle gee 'n duit om vir haar drama nie.

Net toe sy wil opstaan kom 'n jongman na haar toe aangestap. Hy het haar sak in sy hand.

"Juffrou, is dit jou sak?"

"Ja Meneer. Waar kry jy dit?"

"Ek het gesien hoe 'n meisie dit gryp en aan 'n manspersoon oorhandig. Die het toe by die trappe afgehardloop na die strand toe. Dit was maklik om hom te kry want hy het nie vermoed ek is agter hom aan nie.

Ek dink nie hy het kans gehad om enigiets uit te haal nie."

Hy oorhandig die sak aan haar. 

"Baie dankie Meneer."

"Paul. Die naam is Paul." Hy merk dat sy nie haarself is nie.

"Kan ek help?"

"Weereens dankie Paul. Ek moet gaan."

Dit lyk of sy rigtingloos is toe sy wegstap.

Paul kyk haar agterna. "Glad nie moeilik op die oog nie. Ek wonder of  sy gereeld hierheen kom."

Sy kan nie op enigiets konsentreer in haar woonstel nie. Lawrence lewe. Lawrence van Wyk het by Bennie van Wyk in die motor geklim. Wat beteken dit? Haar gedagte verban die moontlikheid wat in haar kop wil opkom.

"My pa is ook 'n Bennie van Wyk. Lawrence was saam met 'n Bennie van Wyk.  Bennie van Wyk, Lawrence van Wyk.  Bennie Lawrence van Wyk. Stop!!! Stop net Sahara," skree sy histeries.

Dan skielik sagter, "Stop asseblief Sahara. Stop asseblief Here. Hoekom martel U my so. Waar het ek U dan gefaal?" Die trane begin vloei terwyl sy opkrul op die rusbank. Sy huil haarself aan die slaap.

Lawrence stuur 'n whatsapp aan Sally om haar te herinner dat hy die nommer dringend nodig het. Hy het sy vriend belowe Sahara sal eendag Mevrou Lawrence van Wyk wees. Hy en sy ouers sit sommer op die rusbank voor die Televisie en eet wegneemetes. Niemand was meer lus vir 'n restaurant nie. Hy eet 'n burger en hulle Chinees.

Die gedagte aan Anton bring 'n tikkie heimwee. "Wie sal ooit weer vir my L of ou L noem."

Sy gedagtes is skielik weer terug by die vrou op die strand. Hy sien haar hare en skielik sien hy dieselfde hare voor die swartbord met daardie hand wat skryf. Daar was tye dat hy vergeet het wat rondom hom aangaan dan het hy elke beweging gevolg wat daai hand maak terwyl dit op die swartbord skryf.

Sahara se hand, Sahara se hare. Kan dit wees? Hy stort 'n klomp sap op die mat. 

"En nou?" vra Bennie. 

"Sê my seun, wat het geword van die onderwyseressie op wie jy verlief was."

"Waar kom pa daaraan?" Lawrence klink verbaas. Dit is asof sy pa sy gedagtes gelees het.

"Jong, ek weet van die lewe. Ek is mossie vandag se kind nie."

"O julle manne het geheime? Hoekom weet ek niks daarvan nie."

"Seker omdat Mammie so besig is. Soos ek vir Mammie ken sal jy die arme meisie onder kruisverhoor geneem het. Sy sou met 'n stink spoed van my af weggevlug het.

Pa, sy weet nog nie ek is verlief op haar nie."

"Hoekom nie, jy gaan mos nie meer skool nie of skrik haar ouderdom jou af?"

"Nadat sy bedank het by Carlton - Van Heerden, het sy Kaapstad toe gekom. Ek het kontak met haar verloor."

"Daar moet mos 'n manier wees om haar op te spoor seun."

"Bennie, moenie die kind sterk in sy kwaad nie. Wie sê die meisie stel belang in hom? Miskien het sy iemand en dan is sy nog ouer ook."

"Iris!! Nee my vrou. Is ouderdom vir jou belangriker as ons kind se geluk? Het ons hom dan nie geleer om nie bang te wees vir uitdagings nie."

"Ag man. Jy weet mos ek het dit nie bedoel nie. Dit is net dat ons kleinkind oppad is en Janice is 'n oulike meisie."

"Hy is nie lief vir Janice nie. Lawrence, wat is haar naam?"

"Sahara Muller."

Bennie en Iris kyk vinnig na mekaar. 

"En nou? Hoekom lyk julle so geskok?". Lawrence kyk van die een na die ander.

Na 'n stilte sê Bennie, "Niks nie seun. Jou ma en ek moet nog iets bespreek." Hy trek Iris op aan die arm en hulle stap slaapkamer toe sonder 'n woord.

"Wat gaan nou aan met dié twee? Hulle tree vreemd op."

Daar kom 'n whatsapp boodskap deur. Eintlik meer as een.  Dit is fotos. Dit is Sally geklee in verskillende uitrustings. 

"Lawrence, hoe dink jy watter klere laat my op my beste lyk?"

"Ag tog. Gaan die vrou nie einde kry nie?" Hy kies sommer die swart rokkie en laat haar weet. 

"Dankie Law. Ek stuur nou Sahara se nommer. Jy het goeie smaak. Nou kan ek Vrydagaand die rokkie aantrek want jy het dit gekies. Jy gaan uitmis en ek gaan jou mis."

Daar kom soentjies deur en dan die nommer.

"Dankie Sally. Geniet die partytjie."

Hy sug van verligting want nou is hy klaar met haar.

"Môre is die begin van nuwe dinge."

Hy druk die selfoon teen sy hart vas.

©Rooi Mier 13.07.2022


#Stukkendeharte Hoofstuk 19 - Rooi Mier

 #Stukkendeharte Hoofstuk 19 - Rooi Mier

Sally probeer weer om vir Lawrence te bel. Sy probeer al van Donderdagaand af. As dit nie was dat sy baie graag weer met hom wou praat nie het sy lankal tou opgegee. Sy wou vir hom sê dat Sahara nie haar oproepe beantwoord nie maar terselfdertyd vir hom oornooi na haar verjaardagparty toe die naweek. Net miskien is hy nog in Upington. Wat 'n aantreklike jongman het hy nie geword nie.

Lawrence besluit om sy ouers alleen te los en stap in die rigting van die jong vrou onder die sonhoed. Daar is iets aan haar.

"Lawrence van Wyk goeie middag."

Haar hart raak akrobaties toe sy daardie stem hoor wat deesdae dieper klink as toe sy met hom eendag gepraat het terwyl hy leerder was.

"Goeie middag Lawrence, hoe gaan dit?"

"Goed. Met wie praat ek nou?"

"Sally. Sally September, die sekkie." Sy voel nogals sleg dat hy nie haar stem onthou nie.

"Haai goeie middag Ju … agge Sally." Hy klink opgewonde. Uiteindelik gaan hy Sahara se nommer kry. Hy het al op facebook gekyk maar sy het haar persoonlike inligting privaat gemaak. Sy plaas ook nie eintlik enigiets nie.

Aan die anderkant dink Sally. "Hy klink nogals opgewonde om met my te praat. So hy het my raakgesien."

Hardop sê sy, "Sahara antwoord nie my ooroepe nie. Ek weet nie wat daar aangaan nie. My verjaardag is Donderdag. Kom Vrydagaand oor. Dit gaan net ek en drie vriendinne met hul metgeselle wees. Ek hou van klein intieme partytjies."

Lawrence dink, "Nou moet ek versigtig antwoord want ek moet nog Sahara se nommer kry."

"Dit is nogals 'n groot jammerte Sally. Ek is ongelukkig terug in die Kaap. Nou mis ek uit op 'n lekker party."

Nou is Sally sommer opgewonde. Hy sien daarna uit om by haar te wees. Sy wens sommer dat Juniemaand vinnig moet kom.

Lawrence dink dit is nou die tyd om 'n kans te vat. "Kan jy nie maar 'n uitsondering maak en Sahara se nommer vir my stuur nie? Ek sal dit sooo baie waardeur Sally."

Die manier waarop hy haar naam sê laat haar voel asof sy die enigste Sally in die wêreld is.

"Net vir jou Lawrence, net vir jou gaan ek die reël breek. Jy moet asseblief nie sê dat jy die nommer by my gekry het nie. Ek wil nie my werk verloor nie. Hou jou whatsapp dop."

"Dankie Sal. My ouers is hier. Sien jou."

Sally druk af. Haar glimlag adverteer 'n tandepaste. Sy begin onmiddelik na haar beste foto soek op haar sel. Sy gaan dit saam met die nommer stuur.

"Juffrou September! Juffrou! Gaan jy nie huistoe nie? Jy lyk ver weg."

"O jammer meneer. Ek kom."

Sy woon naby die skoolhoof en ry saam met hom. Hy is 'n wewenaar. Soms voel dit vir haar dat hy anders na haar kyk. Daar is iets in daai kyk wat haar ongemaklik laat voel.

"Ek sal vanaand die nommer en die foto vir Lawrence stuur. Miskien kan ons dan gesels.

Nadat Sally afgelui het draai Lawrence terug en stap na waar sy ouers lê. As hy maar geweet het hy was 'n paar treë weg van Sahara af toe hy terugdraai. Hy voel sommer nou lus vir die lewe. Hy prewel, "Dit gaan gebeur Anton my vriend. Uiteindelik gaan dit waar word."

Hy kyk elke paar minute of daar nog nie 'n whatsapp van Sally af deurgekom het nie. Het sy van plan verander? Later voel hy teleurgesteld. Haar gewete pla haar seker. Hy voel self skuldig. Hy misbruik nooit mense om sy doel te bereik nie maar hy het vandag daai lyn oorgesteek. Hy skud dit af met die gedagte dat hy enigiets sal doen om net met Sahara te kan praat. Die bekoring van die geheimsinnige vrou onder die sonhoed is vergete.

Na 'n uur sê sy pa hulle moet gaan want hy wil hê dat Lawrence saam met hulle aandete moet gaan eet by 'n restaurant in Somerset Wes. Hulle huur daar vir die paar dae.

Iris stel voor dat hulle eers by die studentenwoning van Lawrence stop en klere kry. Hy kan mos maar die week by hulle oorslaap dan kan sy pa hom soggens UWK toe ry. 

Bennie en Lawrence stem in. Hulle stap terug in die rigting waar Sahara is. 

Sy sit nou met haar bene opgetrek en haar kop op haar knieë, hare los langs haar gesig af. Lawrence kry 'n whatsapp boodskap.

"Seker nou Sally" dink hy opgewonde. Dit is Janice. Sy laat weet maar net dat sy en die baba gesond is. Daar is 'n foto by waar sy met groot maag poseer, hand op die maag. Intussen stap hulle voor Sahara verby.

Bennie trek Iris nader en soen haar terwyl Lawrence die boodskap antwoord. 

"Bennie van Wyk, gedra jou in die publiek." 

Lawrence kyk na hulle met 'n glimlag en skud net sy kop. Hy gaan voort met sy boodskap.

Sahara is besig om te dink aan wat haar Antie Jenny haar vertel het.

"Jou pa se naam is Bennie van Wyk".

Bennie van Wyk! Sy ruk soos sy skrik, lig haar kop vinnig op en kyk in die rigting van waar die vrouestem so pas gekom het.

"Nee, dit is seker maar net toeval."

Sy kyk hulle agterna. Moet sy hulle agtervolg en 'n skelm foto probeer neem om aan haar Antie Jenny te stuur. Daar loop 'n jongman so paar treë skuins voor hulle maar sy konsentreer net op die paar. Die man se arm is om die vrou se middellyf.

Sahara staan vinnig op en kry haar goed bymekaar. Sy hou haar sel in die hand om 'n foto te neem as sy net in 'n posisie kan kom.

Hulle loop al ver; sy sal haar moet haas. Haar hart klop wild.

Al sien sy net die man van agter is daar iets bekend aan hom. 

"Ag, ek wil maar net iets sien."

" Dame, wil u nie net gou hier help nie." 'n Vrou roep haar nader. Sy wil eers nie maar haar ma se gesig verskyn voor haar. Sy draai toe weg om te sien wat die probleem is.

Sy moet net die dame help om 'n ouer vrou op te trek. Die vrou wil haar nog bedank toe is sy alweer oppad. Die mense is nie meer te sien nie. Hulle is al by die trappe op seker oppad na hul voertuig toe.

Sahara bly hoopvol en stap so vinnig sy kan op die seesand.

©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 18 - Rooi Mier

 #Stukkendeharte Hoofstuk 18 - Rooi Mier

"Goeie môre meneer". Sahara is vroeg op kantoor. Haar werkgewer vertrek vandag Windhoek toe vir besigheid.

"Goeie môre Sahara, was jy al in Namibia?"

"Nee, nog nie meneer. Ek is van Upington en beskou dit eintlik as 'n skande. So naby en tog so ver. Baie Upingtonners het familie daar uit die dae toe dit nog Suidwes Afrika was. My pa het gesê dat hulle vrylik tussen Suid Afrika en Suidwes Afrika kon beweeg. Daarom is daar so baie familiebande oor die grens."

"Volgende keer moet jy saam gaan. Toe maar, ons kan nog 'n dame saam neem sodat jy nie ongemaklik hoef te voel nie. Jy moet 'n paspoort kry."

"Ek maak so meneer."

Sahara ken die verhaal van haar werkgewer se onlangse verlede. Dit is merkwaardig hoe hy dit hanteer. 'n Man wie sy hele familie in 'n motorongeluk verloor het, geheueverlies gehad het en onder 'n brug gewoon het. 

Hy moes die stukkies van sy lewe weer optel en sy lewe en besigheid weer opbou. 

Sahara weet hy is gelowig want hy het 'n Bybel op sy lesenaar. Dit is nie net 'n ornament nie want sy sien hom gereeld daaruit lees.

Die telefoon lui. 

"Goeie môre, Meneer Adriaanse se kantoor."

"Goeie môre my kind, dit is oom John hier. Is Meneer gereed om na die lughawe geneem te word?"

"Ja oom John. Ek roep hom."

Oom John Daries is Meneer Martin Adriaanse se persoonlike drywer. Hulle het blykbaar saam onder 'n brug gebly. Dit is vir haar maklik om Oom John te sê want daar is 'n konneksie weens die feit dat hulle albei uit Upington omgewing kom.

Meneer Adriaanse wil ook Oom gesê wees maar sy verkies Meneer want dit is hoe mens professioneel optree met jou werkgewer. Hy is 'n aangename mens om mee saam te werk. Altyd oplettend en hy sal weet as sy die dag af voel. 

"Sahara, jy werk jouself oor 'n mik, onthou nou om die res van die week af te vat. Daar is iemand wat die kantoor gaan behartig. As ek kantoor toe bel en jy antwoord is daar moeilikheid. Totsiens hoor!"

"Totsiens meneer."

"Goeie môre my vriend. Hoe gaan dit vandag?"

"Dieselfde soos toe jy my 'n uur vroeër by die huis gevra het. Goed." John glimlag as hy na Martin kyk. So suksesvol en tog so nederig. Tuis is hulle bloot net vriende; vriende in die ware sin van die woord. By die werk sal John hom altyd respekteer as sy werkgewer. Hulle kom deur diep waters. Die band tussen hulle is onbreekbaar. Hulle ken mekaar se pyn en is nie bang om wanneer een van hulle swaarkry dit met die ander te deel nie. Dit is mans wat nie bang of skaam is dat die een die ander sien huil nie. Ja, hulle albei is sterker maar so nou en dan kom kuier hulle oorlede geliefdes in hul koppe. Albei voel ook dat hulle die oorsake van hul gesinne se dood is.

John wil glad niks met drank te doen hê nie. Martin weier om oor Chapman's Peak te ry.

Die ander mense by die werk verstaan nie hoe hul werkgewer sy persoonlike drywer sommer net in sy huis kan laat woon nie. 

John praat gereeld daarvan om sy eie plekkie te kry maar Martin wil niks daarvan hoor nie. 

Terwyl hulle twee oppad is lughawe toe, skakel Sahara vir Elton Daries om te hoor of hy daar gaan omkom om te kom teken vir die oordrag van finansies vir die werk en die kerk se gesamentlike welsynprojek.  Hulle voed dakloses vier dae 'n week met ' gekookte maaltyd en 'n pakkie kos vir later. Die ander drie dae voed 'n ander organisasie hulle. John gaan gereeld saam. Hy noem dit huistoe gaan want dit is waar hy gewoon het, onder die brug.

Sahara was ook al daar. Sy is eerlik; dit was nie maklik nie. Vuil mense met die reuke wat daar rondhang. Tog het sy dit reggekry om haar weersin te verberg. Nou ken sy selfs 'n paar gesinne persoonlik.

Sy onthou haar ma se woorde, "'n mens is 'n mens deur 'n ander mens."

Met Meneer Adriaanse weg is daar nie veel te doen nie. Sy moet net die middag, as sy persoonlike assistente, 'n afspraak nakom dan is sy vry.

Miskien moet sy saam met Oom John en Meneer Elton Daries ry om die mense te gaan voed. Daar is regtig niks anders te doen nie.

Die ledigheid laat haar weer aan Lawrence dink. Dit is nou twee weke vandat hy oorlede is. Sally het haar Donderdag probeer bel maar sy het nie geantwoord nie want sy was nie lus vir skinderstories nie. 

Min het sy geweet dat dit juis dié oproep was wat sy moes neem. Sally wou eintlik vertel van Lawrence wat haar nommer kom vra het. Sy rou eintlik oor 'n man wat nog lewe.

Lawrence is die middag na klas oppad na die hoofingang by UWK. Sy ouers kom hom optel dan gaan hulle bietjie Seepunt toe. Hy sien nogal uit daarna alhoewel dit nog vreemd voel dat Anton nie by gaan wees nie. 

Terwyl hy wag by die hek bel hy vir Janice om te hoor of sy ok is. Dit maak hom, eerste keer vader, angstig as sy nie dadelik antwoord nie.  Sy is ok en hul groeiende bulletjie is ok. Hy kan nie wag om gebore te word nie en skop soms soos 'n sokkerspeler.

Sy ouers daag op en hulle ry.

Sahara het na die vergadering huiswaarts gekeer. Daar is mos niks te doen vir haar nie. Die sekkie hanteer al die ander goed. 

Sy stap af see toe met gemaklike klere wat sy aangetrek het. Gooi 'n handdoek oop en sit haar sonhoed oor haar gesig en lê op haar rug.

Ai, wat is dit dan tog met haar vandag. Sy hoor dan nou so duidelik Lawrence se stem. Haar verbeelding bak haar 'n poets dink sy.  Aanvaar tog nou net dat hy dood is.

Lawrence en sy ouers stap skoene in die hand op die los seesand. Hulle loop om 'n meisie wat met 'n sonhoed op haar gesig lê. Iets omtrent haar lyk bekend maar hy dwing sy oë weg. Dit is ongeskik om so na ander mense te kyk en sy pa gaan hom 'n mondvol gee as dié hom sien staar.

Hulle stap so 'n hele end verder voor hulle sommer op die sand gaan sit. Hy loer nog een keer vinnig na waar hy die meisie omtrent is maar hy kan haar nie sien nie.

©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 17 - Rooi Mier

 #Stukkendeharte Hoofstuk 17 - Rooi Mier

Lawrence en sy ma arriveer by die Le Fleur woning. Larisa is ook daar. Mev Le Fleur het 'n vingerete voorberei want sy wil dinge ontspanne hou. Dit raak 'n heel gesellige middag met Iris en Wilmien Le Fleur wat onmiddelik begin gesels soos mense wat mekaar jare ken.

Anton se broer en dié se vrou is ook nog daar. Hulle gaan glo die volgende dag vertrek Johannesburg toe.

"Oom James, ek wil graag met u hulle praat. Kan ek 'n paar minute kry asseblief. Almal is welkom om te luister as dit u goedkeuring wegdra."

"Laat elkeen net gou-gou iets in hul bordjies kry en dalk ook iets om te drink." Wilmien beduie na die disse op 'n tafel.

Nadat almal weer hul sitplekke ingeneem het begin Lawrence eers deur te simpatiseer en verskoning te vra dat hy nie by die begrafnis was nie.

"Dit is reg so seun, ons verstaan. Jy en Anton was die beste vriende wat ek in jare gesien het daarom weet ons dit was en is vir jou ook moeilik."

James staan op, kom sit langs Lawrence en gee hom 'n drukkie op sy skouer.

"Ek voel nogtans so skuldig oom. Hoekom nie liewer ek nie?" Dit klink of sy stem wil breek.  Hy is opnuut hartseer."

"Dit was 'n dag wat ek wil uitvee uit my lewe."

Hy begin vertel hoe hulle uit die trein geklim het en die verkeerde besluit geneem het deur die stroom te volg in plaas van oor die brug te gaan.

"Die oomblik toe ons voete teenmekaar kap en ek die trein sien aankom het ek gedink dit is klaar met ons." Hy sluk en snik hoorbaar.

"Al wat ek kon doen was om Here help te skree. Ek het die mense hoor gil terwyl die trein op ons afgepyl het. Skielik het iemand my aan my arms getrek en die trein het milimeters van my linkervoet verby gekom.

Ek kon hoor dat die trein iets of iemand tref en my gedagtes het heeltemaal stil gaan staan.

Dit het my 'n hele paar sekondes geneem om te besef dat ek nog lewe. Dit was eintlik die geraas van mense rondom my wat wat my tot my sinne geruk het.

Ek het onmiddelik opgespring en vir Anton begin roep. Toe hy nie antwoord nie het ek histeries geraak. Die trein was besig om by die stasie tot stilstand te kom. Mense het uit die trein gepeul om en terug gehardloop na die plek waar ons die spoor oorgesteek het. My brein wou nog nie reggestreer wat aan die gang is nie en ek het plat gaan sit en my ore bedek om al die geraas uit te doof maar ek kon nog steeds die gezoom van hordes stemme hoor. Niks kon dit uitdoof nie. 

Na 'n rukkie het die nooddienste opgedaag en iemand het my weggelei. 

Hulle het my vasgedruk en iets ingegee om te kalmeer. Daar het 'n vreemde kalmte oor my gekom want ek dink nie net veroorsaak was deur die medikasie nie.

Een van die noodhulppersoneelede het vir my gesê dat my vriende dit nie gemaak het nie. 

Ek het later uitgevind dat 'n ander student wat in dieselfde studentehuis bly vir Anton probeer red het. Die trein het hulle albei getref.

Ek is so jammer Oom James en Antie Wilmien, ek kon jul seun nie red nie."

James staan op, trek Lawrence aan die arm op en druk hom styf was. Wilmien en Larisa sluit by hulle aan. Almal se trane vloei maar daar is geen hoorbare gehuil nie.

"My kind, daar was niks wat jy kon doen nie." Wilmien vryf oor sy kop en gee hom 'n sneesdoekie.

Nadat almal rustiger begin word het, kondig Lawrence aan dat hy die Vrydag gaan terugkeer Kaap toe. Hy sal die Donderdag kom groet. 

Iris vra dat hy haar later moet kom optel want sy wil eers vir Wilmien help skoonmaak. Larisa ry saam met hom. Hulle wil net bietjie in die winkelsentrum gaan ronddwaal.

Tuis besluit Lawrence dat hy en sy pa nodig het om te gesels. 

Hy vra sy pa of hulle 'n persoonlike gesprek kan hê. Iris dink dit is manssake en sê hulle kan mos bietjie uitry want sy het hulle lanklaas sien gesels.

Bennie wonder waaroor dit kan gaan maar stem in. Op sy beurt het hy die afgelope maande gevoel dat iets nie pluis is nie maar hy kon nie sy vinger daarop plaas nie.

Sy pa stel voor dat hulle sommer burgers kan gaan kry vir aandete waarop Iris vra dat hulle vir haar een moet saambring aangesien sy nie aandete gemaak het nie.

In die motor besluit Lawrence om sommer die bul by die horings te pak.

"Pa, ek het een dag per ongeluk gehoor praat met 'n persoon wat u moes help met iets. Ek gaan nie sê wat ek gehoor het nie want ek wil hê pa moet eerlik met my wees en my vertel wat aangaan. Weet mammie daarvan?"

"O dit? Jammer dat jy so moes hoor. Ek sal jou vertel en ja jou ma weet daarvan."

Die volgende oggend is Lawrence amper weer die ou Lawrence homself. Hy is in 'n beter luim en terg sy ma soos voorheen. 

"Ai Lawrence, het jy weer vergeet om jou pille te neem."

"O nou is ek mal nê. Skaam jou Iris om jou eie seun koekoes te noem."

"Daar is iets wat ek vir Mammie wil sê."

"Ja?"

"Ek glo nou Mammie."

"Glo wat?"

"Ek glo nou dat Die Here moet bestaan. Daai aand van die ongeluk het ek gesukkel om te slaap. Ek kon nie ophou huil nie. Alhoewel ek nie 'n antwoord kon kry oor hoekom Anton moes sterf nie het ek duidelik gehoor 'n stem sê, Ek het jou twee keer gered uit die hand van die dood. Ek is nog nie klaar met jou nie. Eers het ek gedink dit is net my eie gedagtes maar ek het 'n teenwoordigheid gevoel. Daar moet iemand wees wat in beheer is.

Dankie dat Mammie nie oogegee het op my nie."

"Dankie Vader." Iris sê niks verder nie.

Die volgende paar dae gaan vinnig verby. 

Lawrence gaan groet die Le Fleurs die Donderdag. Larisa vra of sy saam met hom kan ry in plaas van bus.  

Daardie aand kom sy pa tuis. Hy lyk vreemd opgewonde maar ook asof hy nie kan praat daaroor nie.

"Iris, kom ons gaan saam met die jong Kaap toe vir 'n week."

"Wat makeer die mans in die huis. Bedoel jy ons moet môre al ry want die klong vertrek dan môreoggend."

"Ja, môre. Ek het 'n week afgevat. Ons kan 'n motor huur daar en dan terug vlieg."

Iris, kyk hom aan, "Ek neem julle albei reguit Lentegeur Hospitaal toe as ons daar aankom. Daar is sommer heelwat skroewe weg by julle."

"Dit sal lekker wees om julle naby te hê maar onthou ek het klas van Maandag af. O ja, Iris, moet nou nie die hangkas inpak nie, Larisa ry ook saam. Julle vroumense."

Lawrencese sel lê in sy kamer. Iemand het gebel maar dit is 'n vreemde nommer. Hy besluit om nie terug te bel nie.

©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 16 - Rooi Mier

 #Stukkendeharte Hoofstuk 16 - Rooi Mier

Die persoon in die ander motor sit kop op die stuurwiel. Sy skouers ruk en dit is duidelik dat hy baie bedroef is.

Hoekom, hoekom Here? Jy red en tog toelaat jy ook die dood. Sy trane vloei opnuut. 

Hy kyk op in Janice se gesig waar hulle verby hom stap.

"Lawrence, is dit jy?"

Hy klim uit die motor en stap na hulle toe. Sonder 'n woord omhels hy Larisa. Sy trane laat haar trane opnuut vloei.

Na 'n rukkie stap hy na Janice en gee haar ook 'n drukkie.

Lawrence vee sy trane af met 'n sakdoek wat alreeds nat lyk en stap na Janice se ouers toe en vra of hulle met hom kan ry. Hy sal hulle kom aflaai. Hulle stem in en ry weg.

Die twee meisies klim by hom in die motor.

"Larisa, ek wil eers verskoning vra omdat ek nie betyds vir die begrafnis was nie. Ek het jou vertel van die taak wat Maandag ingehandig moet word. Wel, ek het Vrydagaand heelaand en Saterdag tot namiddag gewerk aan dit. 

Na dit het ek 'n bietjie gaan skuins lê en aan die slaap geval. Toe ek wakker word was dit alreeds te laat vir die bus.

Ek het my pa gebel en hy het deur 'n huurmaatskappy vir my 'n voertuig gereël wat ek eers teen 20:00 die aand gekry het.

Omdat ek so moeg was moes ek baie aftrek en het eers hier aangekom toe julle van die kerk af oppad was begraafplaas toe.

My hart is so seer dat ek nie my vriend kon begrawe nie.

Hoe het jy dit hanteer Larisa?"

Sy begin weer te snik. Hy sien in die truspieël dat sy nie nou kan praat nie. Haar kop rus op Janice se skouer.

"Janice, hoe gaan dit met jou en die baba? Jammer ek het julle die week afgeskeep maar dit was 'n harde week vir my."

"Ons is ok Lawrence. Dit raak elke dag net moeiliker om die vrag rond te dra. Jou kind maak my klaar."

"Larisa gaan mos nog 'n week bly. Ek het ook besluit om eers volgende naweek weer Kaap toe te gaan. Ons drie kan mos môre eiland toe gaan? So namiddag want ek wil nog na Anton se ouers toe gaan. Ek wil hulle net gaan inlig oor wat daai dag gebeur het."

"So gaan julle nou na Anton hulle se huis of moet ek julle by julle huise gaan aflaai?"

"Huistoe"antwoord die meisies gelyk. 

"Ok. Ek wil gaan slaap."

Janice is dankbaar om te hoor hy gaan die week bly. Hy laai eers Larisa af.

Oppad na Janice se huis vra hy, "Het jy en die baba enigiets nodig? Ek sal by my pa solank geld kry."

"Met jou en my ouers sal ons 'n aparte huis moet kry om net die kind se goed in te stoor. Moet jy asseblief nie ook nog goed gaan koop nie. Ons albei is gesond so ek benodig ook nie nou geld nie.

Jy probeer jou seer wegpraat maar ek weet dat jy en Anton na aanmekaar was."

"Dit is baie seer Janice. Ek probeer dit nie wegsteek nie. Weet jy hoe voel dit om skuldig te voel dat jy lewe en jou beste vriend het dit nie gemaak nie?"

Nadat hy Janice afgelaai het ry hy na Sahara se huis net om te sien of haar motor daar staan. Daar staan 'n vreemde motor. Net toe hy wil wegtrek kom daai orige vrou aangestap. Sy loop direk na hom toe so uit goeie maniere moes hy wag.

"Jongman, jy was mos eendag hier om na Sahara te vra.? Ek onthou gesigte goed."

"Ja mevrou".

"Ek is nie 'n mevrou nie"

"Ek is jammer …"

"Sandra, my naam is Sandra, soos in Sandra sonder man of kêrel. Hoor mooi, niemand in my lewe nie.

Het jy iemand?"

"Nee uh uh  Sandra. Waar is Sahara?"

"Kan ons miskien 'n koffietjie gaan drink iewers of jy kan by my kom drink dan vertel ek jou alles."

Sy knipoog vir hom.

"Nee, Sandra. Ek moet by die huis kom. Ek is baie moeg. Ons praat weer."

"Dit is 'n date." Sandra flip haar hare en byt op haar onderlip.

Lawrence kan nie vinnig genoeg daar wegkom nie.

Hy glimlag en praat met homself, "Wat makeer Antie Sandra?"

Die Maandagoggend besluit hy om by die skool om te gaan. Miskien, net miskien sal die sekretaresse Sahara se nommer het.

"Lawrence is dit jy? Jy lyk darem oulik sonder skooluniform."

Soos haar gewoonte is gee sy nie kans nie. "Hoe kom jou baba aan? Jammer jy is alreeds gevat, mens maar jy is aantreklik."

"Wat makeer die vroue? Is daar iets in die water?" Lawrence voel skaam. Hy was nog nooit iemand wat agter vrouens aan gehardloop het nie.

"Weet juffrou dalk waar Juffrou Sahara Muller haar bevind? Ek moet haar dringend sien, of dalk net haar nommer."

"Jy hoef nie meer vir my juffrou te noem nie. My naam is Sally September, jy weet mos, maar noem my net Sally.

"Ek mag nie haar nommer gee nie. Sy is mos in die Kaap. Gee my jou nommer dan kan ek dit vir haar gee en vra dat sy jou bel."

"Ok. Kom ek skryf dit op 'n papier."

"Jy was seker hier vir Anton se begrafnis. Of nee, ek het jou nie gesien nie."

"Ek was daar. Sally, ek moet nog iewers heen. Dankie en totsiens."

By Anton se huis is sy ouers besig om uit tery net toe hy naby kom. Hy ry toe maar verby. "Ek moes gebel het."

Hy ry maar eers weer huistoe. 

"So Sahara is in die Kaap. Nou kan ek haar gaan opsoek as ek weer terug in die Kaap is."

Gistermiddag het hy gaan slaap. Toe hy opgestaan het, het hy tot laat toe met sy ma gesels. Dit het meestal oor die verwagte baba gegaan en oor hoe hy voel omdat sy beste vriend dood is. Hy voel nog bietjie tam maar besluit om liewer sy ma te help in die tuin totdat hy later vir Janice en Larisa gaan optel.

Hulle gaan koop vir hulle biltong en droëwors plus sap en skyfies voor hulle eiland toe gaan. Dit is 'n lekker middag. Hulle sit sommer op die gras op 'n kombers wat Lawrence in die kar gegooi het. Die geselskap gaan meer oor hulle herinneringe aan Anton.

Lawrence is elke keer vinnig by as Janice net beweeg. Hy het selfs gevra of hy aan haar maag mag vat. 

Larisa loer in sy rigting en glimlag net. Sy wonder of hy besig is om aan te beweeg. Die tye wat hulle saamgekuier het in die Kaap het hy óf van sy naderende vaderskap gepraat óf van Sahara.

Sy kan op haar een hand tel hoeveel keer hy Janice se naam genoem het, maar sy weet ook dat hy elke dag gebel het.

Na 'n heerlike ontspanne middag laai hy eers weer vir Larisa af. By Janice klim hy uit en stap saam met haar tot by die deur.

Angela maak oop en nooi hom binne. Hulle gesels oor die baba wat sy opwagting einde Junie sou maak. Lawrence het gelukkig vakansie dan so hy hoef nie klas te mis nie.

Tuis skakel hy Anton se pa. Hy sê Lawrence kan die volgende middag kom dan sommer by hulle middagete geniet. Hy is nog die week by die huis. As Lawrence wil mag hy sy ouers saambring. 

Bennie werk egter. Lawrence belowe om sy ma te vra. Aan aandetetafel vertel Lawrence sy ouers van sy planne vir die volgende dag.

"Ek het mos nog nie eintlik vir julle vertel wat daai dag met die ongeluk gebeur het nie. Dan vertel ek sommer een keer."

"Ek is net dankbaar dat dat die Here jou weereens gered het."

"Ja Hy het Mammie. Hy het."

Iris kyk hom verwonderd aan."Is daar 'n verandering in my kind", dink Iris. "Die kind wat ek ken sou gesê het dit is toeval."

©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...