Sondag 17 September 2023

#Stukkendeharte S2 Hfst 24 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 24 - Rooi Mier


Shane voel dat hy nou op sy werk kan konsentreer. Nadat hy by sy gewese vrou was en sy verklaar het die kinders maak stories op, het hy hulle geneem en reguit na haar ouers gery.
Daar het hy die kinders die praatwerk laat doen en haar ouers vertel dat sy glo die kinders maak stories. 
Sy gewese skoonouers het dadelik gegaan en haar 'n ultimatum gestel. As sy nie afstand van hom wil doen nie, gaan hulle die kinders met die hulp van 'n maatskaplike werker by hulle hou totdat hulle tevrede is die kinders is veilig.
Met die kinders by haar ouers voel Shane hy kan nou weer konsentreer op sy werk.
Dit is Sondagoggend vroeg en die bus is besig om daai laaste klompie kilometers van Keimoes na Upington af te lê.
Shane sit en dink aan die laaste paar dae se gebeure voordat hy hom na Kaapstad gehaas het. Dit voel al vir hom dat hy iets misgekyk het die dag. 
Hy probeer al die gebeure in herinnering roep. Wat het hy gemis? Sy speurdersinstink is terug.
Daar was 'n stadium dat dit vir hom gevoel het hy is in lewensgevaar maar hy kon dit nie plaas nie. Hy het dit afgeskud want hy het geglo dit was omdat sy kinders in gevaar verkeer het. 
Dit was toe hy die telefoongesprek buite op die parkeerarea van die hospitaal gehad het. Hy probeer vasstel of daar iets in sy agterbewussyn is wat hom 'n leidraad kan gee. 
Skielik sien hy dit. Hy was besig om sy gesprek af te handel toe hy iets sien flits het. Dit was uit die motor wat reg voor hom gestaan het. Die gevoel van dreigende gevaar was op daardie oomblik die grootste.
Shane neem homself weer deur die gebeure. Dan sien hy dit. Die man voor hom in die motor het iets laat sak. Shane kan onthou dat die man se oë vasgenael was op hom en hy het geglimlag.
Wie was die man en hoekom was daar 'n gevoel van gevaar alhoewel die man geglimlag het? Daar was iets bekend aan die man.

"Steven, ek is lus vir lekker gebakte sagopoeding met warm vla. Kan jy vir ons vla, melk en eiers gaan koop? Ek wil vir Magaret en Sahara oornooi."
"Is jy gereed om met jou suster te praat?"
"Ja, ek het gaan dink aan wat jy gesê het en besef dat sy ook baie gely het. Ek gaan haar nie verder straf nie."
"Miskien moet jy leer om haar Jenny te noem?"
"As sy so verkies maar dit gaan moeilik vir my wees."

Max sit en eet 'n wegneem ete. 
"Ai my Rachel. As jy nog gelewe het en ons was bymekaar sou jy nou vir my die lieflikste Sondagmiddagete voorberei het. Dit sou jy afgesluit het met my gunsteling nagereg; 'n outydse rooi jellie met vla. So lekker. Nou moet ek hier sit met die Kolonel se hoender.
Ons het tog ook lieflike tye saam gehad né my liefling. Daardie tye wanneer ek net 'n man vir my vrou was en 'n pa vir my seun.
Nou is jy dood, my seun is dood en my gehoorsame Candice is dood. Al wat nou vir my oorbly is om my dogter te vind. Sy sal my enigste oorblywende familie wees. 
Martin weet dat hy ook reeds dood is vir my. Die foto's wat ek ontvang het van hom by Rachel se graf het my net nog meer vasberade gemaak om hom self dood te maak.
My broer, jy het my baie diep seergemaak.
Nou moet ek my dogter oplei om my besigheid verder te neem, anders vir wie versamel ek skatte? So my dogter, wie jy ookal is, jy is skatryk maar jy weet dit nog nie."
Max het darem al vasgestel dat die vrou na wie hy soek, jare gelede uit Upington weggetrek het. Hy probeer nog iemand vind wat hom op die regte spoor sal bring.

Shane neem hom voor om namiddag 'n draai te ry by Larry. Hy sal maar môreoggend 'n draai by Sahara gaan ry. Miskien kan sy nou al iets onthou om te bevestig dit was Max wat Rachel Adriaanse geskiet het. Dit is maar net nog een klag wat bygevoeg moet word by 'n lang lys.
"Max. Max! Die man agter die stuurwiel in daai motor was Max.
Hoe kon ek so blind wees? Ek kon dood gewees het. Hoekom het hy my nie geskiet nie? Ek kon dood gewees het.
Aan die anderkant; hy was daar binne vyf treë van my af. So, so naby!"
Shane spring op en loop op en af in sy hotelkamer. Daardie bekende gevoel van opgewondenheid begin knaag aan hom. 

Max se foon lui. Net 'n paar mense ken dié nommer en dan ook net tot môre want dan verander hy weer van nommer.
Hy antwoord nogtans nie met sy naam nie.
"Hallo?"
"Meneer, dit is James. Ek wil net rapporteer dat die speurder, Shane Cupido, is terug in Upington."
Die man lui onmiddelik af. 
"Oeeh, lekker. My waardigste teenstaander is terug. Nou lewe ek weer. Op elke hoek en draai moet ek nou op die uitkyk wees. Sjoe!! 
Dit brand hier binne my om die sneller te trek terwyl ek hom in die gesig staar. Hy sal weet sy dood kom en dat ek die sneller getrek het."

Shane is soos 'n opgewende tol. Hy loop op en af, op en af, al in die rondte.
"Max Adriaanse, alias Mnr M die verkleurmannetjie is hier. Hoeveel keer het ek hom dalk mis gekyk want hy lyk elke keer anders.
Daar is mense wat gewaarsku en bewaak moet word. Larry natuurlik, Janice, alhoewel sy niks konkreets van die aanval getuig het tot dusver; dieselfde met Sahara.
Ek wou alleen werk maar met al hierdie mense in gevaar moet ek van my eie spanlede uit die Kaap laat kom. Ek weet nie hoeveel polisielede in Upington Max alreeds omgekoop het nie. Dit is nie veilig om hulle te gebruik nie."
Shane voel aan dat iets groots gaan gebeur binne die volgende paar dae.
©Rooi Mier 17.01.2023

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...