#Stukkendeharte S2 Hfst 22 - Rooi Mier
"Goeie middag Meneer. Ek weet nie eers wat u naam is nie."
"En jy het ook nie nodig om te weet nie want ek betaal jou kontant."
"Reg so meneer. Ek het vir u fotostate gemaak van die geboortes op die gegewe dag. Ongelukkig het die vrou na wie u spesifiek gevra het nié op die dag, die dag tevore of die dag daarna hier geboorte gegee nie."
"Dit kan nie wees nie. My informant het my verseker dat my dogter op dié spesifieke dag gebore is."
"Meneer, mense hier rond het soms tuis geboorte geskenk. Dalk het 'n vroedvrou gehelp met die geboorte. Hulle was ook meestal ouer vroue so daar is 'n kans dat die vroedvrou dalk nie meer lewe nie."
"Sjoe, maar jy is skerp. Ek gee jou sommer 'n noot of twee ekstra. As jy my na dié transaksie ooit iewers gesien het, gee ek jou familie ekstra vir jou doodskis."
"Ek verstaan meneer. Baie dankie."
"Net om jou te verseker dat ek weet waar jy bly, jou geld sal onder die middelste potplant, die groot wit pot, wees."
Dit was 'n plesier om met u besigheid te doen meneer."
"Watter besigheid? Ek ken jou nie."
Mnr M stap weg.
"Ek sal 'n ander plan moet maak want die vals snor laat my jeuk."
"Hoe voel jy vanoggend my lief?"
"Ek weet nie Steven. Natuurlik is ek bly om te weet my suster lewe en is nog gesond. Ek sukkel net met die feit dat sy my alleen gelos het."
"Mavis, sy was basies ontvoer. Onthou ook dat sy maar 'n kind was. Miskien moet jy haar kant van die storie oordink. Sy wou jou eintlik beskerm van die misdadigers daarom het sy daarna stilgebly."
"Sy het nogtans vir jare niks gesê nie."
"Ek hoor jou. Jy moet ook onthou dat sy, nes jy, getraumatiseer was deur al die gebeure."
"Kom ons bid daaroor my liefling."
"Gepraat van bid, ons moet aan ons troue werk. Is maar eensaam daar op daai groot bed met jou in die kamer langsaan."
"Ek kan mos om kom vanaand."
Steven gee 'n ondeunde oogknip.
"Here, verlos my tog net van die bose asseblief."
Mavis lag.
"So ek is die bose? My baie, baie outydse aanstaande bruid."
"Ons sal sien wie is outyds op ons huweliksnag."
Lawrence se kop is 'n warboel van gedagtes. Daar is so baie dinge om nou in ag te neem.
"Janice sal nooit toelaat dat ek die kinders in my sorg neem nie.
Ek kan dit ook nie van haar verwag nie. As kind het ek geleer wat die waarde van 'n ma in my lewe was.
Ja, pa's het ook 'n onskatbare waarde; dit sal ek nie kan ontken nie, maar daar is net iets besonders aan die band tussen ma en kinders in die meeste gevalle.
Is Janice 'n goeie ma vir my kinders? Ja, sy is.
Sal sy 'n goeie ma vir hulle uit 'n rystoel wees? Ek weet nie.
Die toekoms is nou skielik so onseker. Miskien moet ek maar vir Janice vra om met my te trou, dan is die kinders mos in ons albei se sorg.
Dit klink nogals na 'n plan. Ja, dit is definitief 'n oplossing.
Ek gaan haar weer vra om te trou."
Hy besluit om sy besluit eers net met Larisa te deel. Hulle twee kom darem al baie lank aan as vriende.
"Dalk moet ek Sahara saam neem as ek na Larisa toe gaan. Dit sal vandag nog moet wees want Larisa gaan môre terug Kaap toe."
Martin is na die begrafnis van Rachel nog meer verbitterd. Max het Rachel so vervreem van haar eie familie dat daar nie 'n enkele van hulle was nie.
Dit was net hy en 'n paar van sy personeellede van sy firma. Sy het gereeld daar kom kuier dan het sy sommer saam met die vrou wat die tee maak vir hulle aangedra en soms skons gebak en vir hulle gebring.
Dit is jammer dat Sahara nie daar kon wees nie. Sy het vir hulle albei soos 'n dogter gevoel.
Hy voel meteens hartseer. Watter beroepe sou sy kinders gevolg het? Sou een van hulle dalk al getroud gewees het? Sou hy al 'n oupa gewees het?
Leo en Craig het hul suster Sandra soms so geïrriteer maar hulle was baie lief vir mekaar.
Dan was daar sy oorlede vrou Estelle. Wat 'n liefdevolle mens was sy nie. Martin het gedink ná haar sou hy nooit weer liefhê nie totdat Rachel weer in sy lewe gekom het. Ou liefde roes nie of hoe?
Skielik kom Max se beeld weer voor hom.
"Hoe maak mens 'n kokkerot dood?"
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking