#Stukkendeharte S2 Hfst 21 - Rooi Mier
Max is vroegoggend by Gordonia Hospitaal om rekords te probeer kry wat dalk die identiteit van sy dogter bekend gaan maak. Die administrasie personeellid vir wie hy genader het vra of hy later of dalk die volgende oggend kan terugkom want dit gaan hom tyd gee om te soek.
Die liaseerstelsel van die argiewe is glo baie deurmekaar vir 'n nuweling.
Max sê dat hy hom net tyd gee tot 16:00 wanneer die administratiewe personeel se werksdag eindig.
Shane is vroeg by die bushalte. Die vorige aand het hy vasgestel dat vlugte uit Upington nou hopeloos te duur geraak het. Hy moet sy kinders so vinnig moontlik uitsorteer sodat hy sy volle aandag weer op Max kan plaas. As daar een persoon is wat hy glo binne die landsgrense sal bly al is hy 'n vlugteling van die gereg is dit Max Adriaanse. Dit is asof hy 'n uitdaging aan die polisie rig.
" Vang my as julle kan."
"Nou sit ek met nog 'n raaisel, Selwyn Rooi. Is hy vermoor en in die see gedamp of het hy net verdrink. Ek verwerp egter die verdrink storie."
Sahara het dieselfde bloutjie geloop met die vliegkaartjies. Sy het egter vir Martin gebel en verskoning gemaak omdat sy dit nie betyds gaan wees vir die begrafnis nie, daarom gaan sy maar liewer bly in Upington.
Sy is vroeg op omdat sy nie meer kon slaap nie. Tot haar verbasing vind sy Antie Jenny ook in die kombuis.
"Goeie môre Antie. U is vroeg op?"
"Ag, ek kon nie meer slaap nie. Goeie môre."
"Maak twee van ons."
"Antie skuld my nog 'n verduideliking oor hoekom u hier is."
"Ek sal jou hopelik binnekort kan inlig Sahara."
In haar kop het sy nou al al die gesprekke en scenarios afgespeel.
"Hoe gaan Mavis my ontvang?
Sal sy verstaan dat ek haar alleen agtergelaat het by daai vrou wat veronderstel was om ons ma te wees?
Hoe vind ek nou vir Mavis? Is sy getroud met die man aan haar sy?"
Steven laai vir Mavis by die adres af net voor 11:00 daardie oggend. Hy sal haar weer so oor 12:00 kom optel.
Mavis kon dit gister uit die vrou kry wat haar so hartseer maak. Sy het haar tweeling dogters bietjie meer as 'n maand gelede in 'n fratsongeluk albei verloor, nadat sy net 'n paar dae vroeër verneem het dat haar man nog net om en by twee maande oor het om te leef. Kanker is deur sy hele liggaam versprei.
Mavis, wat almal voorheen 'n skinderbek genoem het, het in die laaste dae ontpop tot Mavis die versorger. Dit lyk of die moederliefde wat sy nooit ontvang het nie, uit gaar vloei na andere al is hulle soms ouer as sy.
Teen 12:00 kom sy en die vrou uitgestap. Dit lyk of hulle ou vriendinne is. Mavis belowe om weer gou te kom inloer terwyl sy na Steven toe stap in die voertuig. Sy sien beweging uit die hoek van haar oog by die huis langsaan.
Dit is sowaar die vrou van die eetplek gister. Die vrou het haar ook gesien en is vinnig oppad na die hek toe. Sy kom na die voertuig toe.
"Mavis? Is dit jy?"
"Ja, moenie vir my sê dit is Margaret nie. Is dit?"
"Ja, dit is ek, jou suster Margaret."
Mavis staan versteen. Sy weet glad nie hoe om op te tree nie. Jenny se trane begin vloei. Sy omhels vir Mavis maar Mavis se liggaam verstyf net.
Sy weet dat dit haar suster is want sy kan haar vaagweg onthou as 'n dogtertjie so drie jaar ouer as sy.
Hoe het sy nie verlang na die herontmoeting nie maar nou kan sy nie reageer nie.
Steven klim uit die voertuig. Hy kon sy oë noe glo toe hy die ooreenkoms tussen die vroue van nader aanskou nie.
"Dames, ons is in die straat. Kan ons nie iewers gaan gesels nie?"
"Ek bly net langsaan by my kleinniggie. Kom ons gaan daarin."
Binne die huis toe almal sit stel Jenny haarself voor aan Steven want Mavis is nog nie by magte om te reageer nie.
"My naam is Jenny meneer, maar eintlik is ek Margaret, Mavis se ouer suster."
"Ek is Steven. Mavis is my aanstaande."
Mavis reageer uiteindelik.
"Margaret, is dit regtig jy? Waar was jy my suster? Ek was so alleen."
Sahara stap daar in. Sy het die voertuig buite gesien en gewonder wie dit kan wees. Verwonderd steek sy in die deur vas en kyk van die vreemde en tog bekende vrou af na Antie Jenny toe en terug.
Steven staan op.
"Dit is Steven en dit is sy verloofde Mavis. Hierdie jong dame is Sahara."
Jenny sien die vrae in Sahara se oë.
"Aangename kennis."
Steven kan nie help om te glimlag oor die verwarring op Sahara se gesig nie.
Jenny neem Sahara aan die hand.
"Sit, ons moet praat."
Sahara gaan sit stadig.
"Het my ma-hulle 'n suster waarvan ek nie kennis dra nie?"
"Dit is my suster Mavis."
"Ek verstaan nou nie. So dit is my auntie. Hoekom dra ek nie kennis van haar nie?"
"Nee, dit is my suster maar nie jou auntie nie."
"Nou verstaan ek glad nie antie."
"Eintlik is ek nie regtig jou auntie nie. Ek is nie jou ma se bloedsuster nie."
"Wat bedoel antie nou?"
"Jou oupa en ouma het my aangeneem, of soort van aangeneem."
Sahara staan op en loop op en af.
"Wat is dit met julle grootmense? Hoekom hou julle altyd geheime? Dit is mos nie 'n skande om aangeneem te wees nie."
"Dit was nie so eenvoudig nie Sahara. My aanneming was nie wettig nie daarom het Pappie en Mammie stilgebly daaroor."
Mavis kan sien dat beide Magaret, of dan Jenny soos sy nou bekend staan, en Sahara ontsteld is.
"Dan moet jy dit aan haar verduidelik sodat sy verstaan wat jy bedoel. Ek sal ook graag wil hoor want ons ma het gesê dat jy aangeneem was deur ander mense."
"Kom ek vertel julle wat ek kan onthou.
Ek was vyf jaar oud en Mavis so drie. Ons ma het ons weer een aand alleen gelos.
Ek kon Mavis nie daardie aand troos nie. Sy het aanhoudend gehuil. Ek weet ek kon dit nie meer verdra nie.
Ons ma het altyd vir my blameer as sy terugkom en jy huil. Sy het my 'n slegte ouer suster genoem en dan vir my 'n vreeslike pakslae gegee.
Dit kon ek hanteer want ek was al gewoond aan die slanery. Wat ek egter nie kon hanteer nie was wanneer sy jou pakgegee het totdat jy jouself natmaak. Dan het sy jou verder pakgegee omdat jy jouself natmaak.
Vergewe my Mavis. Ek kon dit nie meer hanteer nie. Sy het ons altyd van buite af toegesluit so ek het deur die venster geklim.
My doel was om hulp te gaan soek. Daar was 'n bakkie in die hoofstraat. Ek het die man genader vir hulp. Hy het my ingelaai en begin ry.
Die man wou nie ry na waar ek beduie het nie maar aanhou ry. Deur verskeie dorpe. Ek het later gesien daar lê 'n ander man agter op die bakkie.
Die man onder die seil het probeer wegkom van die polisie af. Na ure het hy weer gestop. Ek kon die ligte van 'n dorp sien. Dit was Upington. Terwyl hy en die man in die bos gegaan het, het ek uitgeklim en in die veld gehardloop.
Die mans het my gesoek. Ek het gehoor hoe hulle belowe om my, sowel as my familie dood te maak as ek enigiemand sou sê van hulle. Dit het my vreesbevange gemaak Mavis. Ek was meer bekommerd oor jou as oor myself.
Toe dit heeltemaal lig word was ek in die dorp. Daar het jou ouma my in die straat gevind Sahara. Sy het my versorg en omdat ek nie wou sê wie ek is en waar ek vandaan kom nie, kon sy julle nie probeer opspoor nie.
Hulle het my Jenny genoem. Ek het een aand gehoor hoe Pa en Ma baklei oor my. Pa wou dat ek aan die maatsksplike werkers oorhandig moet word. Ma het gesê net as hy nie lief geword het vir my nie.
Daarna het ek net aangebly en Jenny geword."
"Magaret of Jenny, ek weet nie hoe ek oor jou storie moet voel nie. Weet jy hoeveel aande ek daarna alleen moes sit en wag.
Mammie het gesê dat as ek nie soet is nie sal die skaduwees teen die muur my ook kom haal en opeet.
Weet jy hoe ek probeer het om nie saans 'n geluid te maak nie veral as die skaduwee teen die muur my bekruip het?
Besef jy hoeveel oggende ek pak gekry het omdat ek myself bevuil het want die skaduwee het 'n verlammende uitwerking op my gehad?
Al wat verligting gebring het was toe ek skool toe moes gaan. Ten minste kon ek uit die huis ontsnap en namiddae slaap sodra ek die huis skoongemaak het voor Mammie tuis kom.
Ek het op 'n stadium regtig geglo dat jy dood is totdat Mammie vir iemand vertel het 'n kinderlose egpaar het jou aangeneem.
Toe het ek jou begin haat. Hoe kon jy alleen weggaan?
So my suster, as ek jou nie om die nek val nie vergewe my."
©Rooi Mier 17.01.2023
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking