Sondag 11 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 63 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 63 - Rooi Mier

Rachel word die oggend wakker. Sy voel redelik gespanne. Die huis is stil want Martin en John is weg werk toe sy het besluit om liewer tuis te wag alhoewel die koerier die tas by Martin se firma gaan aflewer. Sy pak vir haar 'n tassie om op kort kennisgewing  te kan vertrek. Sy hoop sy gaan dit waarvoor sy soek in die tas vind. Om een of ander rede glo sy daai boekie tussen sy besittings is die sleutel.
Sy voel opgewonde. As kind wou sy altyd 'n speurder word. Haar ouers het egter geglo meisiekinders raak verpleegsters of onderwyseresse. 
Sy verwonder haar daagliks oor hoe die sienings van mense verander het. Meisies kan deesdae word net wat hulle wil. Van 'n staatspresident tot 'n straatveër, chef tot rugbyspeler, model tot trokbestuurder, ja, die wêreld is oop vir almal wat iets daarvan wil doen.
Nou voel sy soos 'n speurder op 'n groot misie; afwagtend, opgewonde en gereed vir enige aksie.

Martin skakel vir Rachel. 
"Die koerier het so pas die tas afgelewer. Moet ek dit huistoe stuur of moet John jou kom haal?"
"Laat John my kom haal. Julle twee kan my dalk help om vinniger te soek as jy nie te besig is nie."
"Ek stuur hom. Ons kan die leë kantoor gebruik."
"Dankie, ek wag."
'n Uur later is hulle in die leë kantoor by Martin se maatskappy. Rachel maak die tas oop. Daar is verskillende items in, van 'n Rolex horlosie tot notaboekies. Alles word soort by soort uitgepak. 
Daar is 'n paar items in wat heelwat geld moes gekos het. Rachel het nooit veel aandag daaraan gegee nie en doen ook nie so nou nie.
Martin hou 'n goue sigaretaansteker in sy hand.
"Dit moes 'n hele paar rand gekos het. Sover ek onthou het hy nie gerook nie."
"Nee, hy het nie Martin."
"So dit was maar net een van die goed wat hy wou hê omdat iemand anders dit het."
Rachel tel 'n boekie op wat lyk of daar heelwat notas in gemaak is. Sy vra John om ook een van dié boekies deur te gaan. Martin begin ook deur 'n boekie te soek.
Na so 'n paar minute roep John opgewonde uit;
"Hier is iets. Die inskrywing sê sy is swanger."
Rachel neem die boekie en besef as sy wil weet wie swanger is sal sy bietjie terug moet blaai.
John en Martin wag in spanning. 
Rachel gaan sit op 'n stoel. Sy kan haar geluk nie glo nie.
"Ek het dit. Hier is die hele storie. Die vrou het in Upington gewoon. Hy noem egter nie haar naam nie."
Sy blaai verder in die boekie. Amper aan die einde van die boekie is 'n inskrywing wat sê;
"Ek het vandag gehoor dat ek 'n dogter het. My dogter is gebore in die Oranje Hospitaal in Upington. Ek hoop haar ma maak haar goed groot want ek kan haar nie as my dogter opeis sonder om myself te inkrimineer nie.
Ek wonder hoe lyk sy. Het sy my karaktertrekke?"
Martin skryf die datum van die kind se geboorte neer en skakel onmiddelik sy privaatspeurder. Hy moet onmiddelik probeer vasstel hoeveel meisies was dié dag gebore in dié hospitaal en wie die vroue was wat geboorte gegee het.
Rachel, ons moet onmiddelik Upington toe. As ek dit nie mis het nie is Sahara ook van Upington. Sy moet saamgaan sodat sy ons kan help. 
Hy skakel onmiddelik die lughawe om vas te stel of daar 'n vlug is nog vandag.
Daar is plek. Hy bespreek drie sitplekke. 

Shane ontvang 'n oproep van Martin Adriaanse af. Martin vertel hom van sy ontdekking. Van die oproep is Shane onmiddelik op die foon hoofkantoor toe. 
Hy moet 'n onmiddelikke magtiging kry om sy span in Upington te kry. Die feit dat hy noem dat Max Adriaanse alias Meneer M dalk daarheen oppad is help natuurlik. Binne 'n uur het hy die magtiging. Die wiele is aan die rol met vlugbesprekings en akkomodasie. Transport word aan die anderkant gereël.
Shane voel weer daai opgewondenheid wat hom laat dans. Dit is egter van korte duur. Hy moet nog die nuus dat hy weer moet weggaan tuis gaan oordra.
Sy vrou is glad nie gelukkig nie. Net die anderdag het sy van skei gepraat. Hy vermoed egter dat dit nie regtig sy wegganery is wat die probleem is nie. Daar is 'n ander meneer wat maar net te gretig is om sy plek vol te staan as hy weg is.

Shane is bekommerd oor sy kinders. Hy kon nog nie vasstel wie dit is nie want sy vrou ontken dat daar iemand is. As iemand wat daagliks met misdaad te doen het kan 'n mens verstaan dat hy wil weet wie in sy kinders se binnekring gebring word.

Sahara is verbaas oor die feit dat sy ook Upington toe moet gaan. Dit sal nogals lekker wees. Martin vra of sy akkomodasie kan aanbeveel. Sy wou eers die Oranjehotel aanbeveel maar onthou dat daar nog 'n vrou by is. Dit sal dus nie vreemd lyk as sy haar eie woning voorstel nie. Sy weet haar werkgewer hou van eenvoudigheid. Sy voel soms hy is soos 'n pa en hy behandel haar ook soos 'n dogter buite die werksverband. 
Buitendien, sy kan haarself nie op 'n ander plek behalwe haar eie sien terwyl sy in Upington is nie.

Max het sy vermomming versigtig voorberei. Hy het sy valse identiteitsdokument en bestuurslisensie gereed. Die voertuig wat hy gehuur het is nie luuks nie en kan deurgaan as 'n voertuig wat 'n middelklas ouerige persoon sou huur wat oppad is na sy familie toe. Hy het selfs eetgoed gepak want hy wil nie onnodig stop behalwe vir brandstof nie. 
Sy vermomming is van 'n persoon in die middel tot laat vyftigs. Die kierie is afwesig. Hy dra 'n hoed soos Bheki Cele. Upington, hier kom Meneer M.

Larisa wil graag met Paul praat. Dit gaan egter desperaat lyk as sy sommer net bel sonder 'n rede. So sy moet maar Yvonne gebruik.
"Middag Paul, dit is Larisa hier. Hoe gaan dit?"
"O hallo Larisa, dit gaan goed en jy?"
"Dieselfde die kant. Hoe gaan dit met my vriendin?"
"Ons het ongelukkig geen direkte kontak met haar nie. Alles gaan via die polisie. Volgens hulle gaan dit goed.
Is jy nog op die kampus?"
"Nee, ek is in Upington, my tuisdorp."
"Wat 'n toeval. My maatskappy benodig iemand om dringend 'n ondersoek daar te gaan doen. Die tak in Kimberley kan dit nie hanteer nie. Ek is nog vanaand oppad daarheen. Ons kan dalk een aand iets gaan eet."
"Dit sal goed wees ja."
"Larisa, ek moet nou gaan. Ons praat weer as ek daar is."
Larisa probeer om nie te opgewonde te klink nie.
"Veilig ry. Totsiens."
Larisa kan haar geluk nie glo nie. Paul gaan in Upington wees terwyl Sahara in die Kaap is. Sy begin sommer te sing.

Janice begin haarself gereed te kry vir aandete met haar aanstaande skoonouers. Sy is nie eintlik lus nie maar potensiële skoondogters moet seker maar 'gesig koop.'
Sy wil nie vir haar ouers sê sy voel nie te goed vandag nie. Dit is immers nog twee tot drie weke voor die tweeling moet opdaag.

Upington is nie so warm soos gewoonlik nie want dit is al 'n week in Junie. Dit is amptelik Winter. Wat die Upingtonners egter nie weet nie is dat dit gaan kook nie.
Paul is oppad Upington toe. Martin, Rachel en sy Sahara gaan enige oomblik land. Shane en sy span is oppad na Kaapstad Internasionaal om hul vlug Upington toe te haal. Daar is 'n privaatvlug vir hulle gereël.
Die nuus van die dag, die man wat almal aan die praat het, trek op by 'n vulstasie in Upington. Dit is nou die berugte, voortvlugtende Meneer M.

***
Spreuke 12:5 Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog.
©Rooi Mier 13.07.2022

Vrydag 09 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 62 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 62 - Rooi Mier


"As jy iets gedoen wil hê, doen dit self Max. Dit is my dogter en ek gaan haar kry! Jammer vir Candice maar miskien is dié dogter beter. Ek sal haar persoonlik onder hande neem. Terwyl ek vlug staan my besigheid stil. Iemand anders kan inbeweeg op my terrein.
Nee Max. Jy moet in Upington kom. Ek moet eerstens probeer om die ma op te spoor, daarna behoort dit mos nie moeilik te wees nie."

Rachel skakel haar vriendin en buurvrou in Keetmanshoop. Sy moet die tas met persoonlike besittings van Max vir haar per koerier aanstuur nog vandag. Sy doen 'n efo om die bedrag te dek.
Sy het destyds toe sy die goed in 'n tas gepak het iets soos 'n dagboek opgemerk. Sy wou dit nooit lees nie want sy het gevoel hoe minder sy van sy onheilighede af weet hoe beter.
Dit het haar nogal verbaas dat Max op 'n tyd 'n dagboek gehou het. Van alle mense Max!

Shane het intussen ook uitgevind van die ander dogter. 

Die soektog is aan. Nou is dit 'n resies. Shane en sy span vs Max vs Martin, Rachel en hul privaatspeurders. Max het 'n voorsprong. Hy weet ten minste die dogter het in Upington grootgeword. 

Larisa sit rustig by die huis. Uiteindelik kan sy ontspan na die eksamens. Sy probeer doelbewus vir Paul uit haar gedagtes verban. Sy kan nie vir Janice gaan kuier voor môreaand nie. Lawrence wil haar verras.
Die oggend se Gemsbok, 'n Noord Kaapse nuusblad, lê op die rusbank. Sy begin dit te lees om bietjie 'op te vang' met gebeure in die Noord Kaap. Op bladsy 3 is 'n lang berig oor Max Adriaanse alias Meneer M.
Sy dink daaraan dat sy baie gelukkig was om nie vir Candice se streke te val nie. Sy sou dalk nie so gelukkig soos Yvonne gewees het nie. As sy net 'n manier kon kry om haar te kontak. Sy wonder hoe dit met haar gaan en of sy veilig is. 

Martin het 'n boodskap ontvang van sy privaatspeurder af wat sê dat dit amper onmoontlik is om die ander dogter op te spoor as jy nie min of meer 'n ouderdom van die meisie het nie.
Daar is 'n vrou in Oudtshoorn wat op 'n tyd 'n verhouding met hom gehad het maar die kind is 10 en dit gaan 'n tydjie neem om dna te doen. Dan is daar Upington maar weereens is die tyd te min om vas te stel of hulle 'n verhouding gehad het. Die vrou is jare getroud en dit is ook nie seker of haar dogter syne is nie. Daar is ook die moontlikheid van 'n vrou in Bloemfontein. 
Hulle vra vir meer tyd waarop Martin sê dat daar nie tyd is nie. Hy weet hy verwag die onmoontlike maar dit is uiters dringend.

Janice sit en wonder oor die Meneer M wat deesdae in elke koerant en amper elke TV nuus bulletin is. Sy dink aan die man se digter wat dood is. Hy klink maar na 'n aaklige persoon. 
Hoe moes dit vir haar gewees het om die dogter van so 'n monster te wees. Sy kan haarself dit nie eers indink nie.
Haar ma het ingekom en genoem dat Antie Iris hulle genooi het om die volgende aand by hulle te kom eet. Dit is glo omdat dit dalk die laaste keer gaan wees voordat  die tweeling die wêreld in kom. Na dit sal hulle nooit weer sonder kinders kan saamkuier nie.
Janice dink Lawrence is nog in die Kaap. Die laaste keer dat hy met haar kommunikeer het was om te sê die bus is vol. Sy verwag hom eers die naweek.
Wel, as hy haar nie wil kontak nie gaan sy dit nie forseer nie. Sy sien uit na sy tuiskoms. 
Vir 'n oomblik flits Larry se beeld deur haar kop. 

***
©Rooi Mier 13.07.2022

Donderdag 08 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 61 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 61 - Rooi Mier


Mevrou Williams, Candice se ma, wonder of die ander dogter van Max Rachel sin is. Sy het gister 'n oproep van 'n vreemde nommer af ontvang.  Sy het geantwoord en gehoor dat dit Max is. Hy het gesê sy moet nie praat nie want hy het min tyd.
Hy het sy simpatie aan haar uitgespreek oor die dood van haar dogter (nie syne nie maar hare). Hy het gesê dat sy binnekort 'n geldelike bydrae gaan kry sodat sy haar dogter 'n ordentlike begrafnis kan gee sodra die polisie haar oorskot vrystel na hul ondersoek afgehandel is.
Hy het ook gesê hy erken niks nie maar dit is so jammer dat Candice haar lewe moes verloor om haar pa te beskerm. Sy was glo net 'n klein vissie in 'n reuse akwarium.
Hy het ook genoem dat hy nou moet aanbeweeg na sy ander dogter toe. Sy wou nog vra toe lui hy af.
Na 'n rukkie het haar foon weer gelui. Dit was die polisie. Hulle het gevra dat sy volgende keer moet probeer om hom langer op die foon moet hou sodat hulle tyd kan hê om hom op te spoor.
Mevrou Williams het besef dat Max moes geweet het dat haar gesprekke afgeluister gaan word daarom het hy so vinnig gepraat en sommer so skielik afgelui het. 

Martin se foon lui. 
"Martin Adriaanse goeie dag."
"Goeie middag Meneer Adriaanse. Is Mevrou Rachel Adriaanse daar?"
"Voor ek enige inligting verskaf moet ek eers weet wie u is dame."
"Ek is Mevrou Williams, Candice van Max se ma."
"U sal verstaan dat ons versigtig moet wees; hoe het u my nommer in die hande gekry?"
"Maklik meneer, u is 'n sakeman."
"O , dis reg so. Ek gaan nie Rachel se nommer gee nie. Kan sy u terugskakel van my foon af? Sy sal oor 5 minute beskikbaar wees."
"Maak so meneer. Ek sal wag."
"Sahara, is Rachel terug van die winkel af?"
"Ja meneer, wil u haar sien? Sy wag hier binne vir Oom John om haar na u huis te neem."
"Vra haar om eers na my kantoor toe te kom dan laat weet jy vir John om te wag."
"Ek maak so Meneer."

Rachel stap Martin se kantoor binne. 
"Sahara sê jy soek my."
"Sit. Hier is nou verwikkelinge. Candice se ma soek jou. Sy het na my foon toe gebel. Wil jy met haar praat?"
"Is sy op die foon?"
"Nee, ons moet haar terugbel as jy wil."
"Ek wonder wat sy wil hê. Kom ons bel haar terug anders gaan ek altyd wonder."
"Is jy seker?"
Rachel knik haar kop.
Martin skakel die nommer. Mevrou Williams antwoord omtrent oombliklik.
"Mev Williams!"
"Mev Williams, Mev Adriaanse is hier. Ek gee oor aan haar."
"Mevrou Adriaanse hier. Ek is so jammer vir u verlies."
"Dankie. Kan ek u Rachel noem?"
"Gaan voort Mevrou."
"Rachel, het u nog 'n dogter?"
"Hoekom wil u weet?"
Rachel dink sy sê nie eers wat haar eerste naam is nie maar dit is okay. Sy gaan tog nie vriende met die vrou wees nie. Sy wonder liewer oor die vraag.
"Dit is belangrik Rachel. Max het my vroeër gebel en gesê hy wil nou kontak met sy ander dogter maak. Hy het toe afgelui sodat die polisie nie die oorsprong van die oproep kon opspoor nie.
Ek is net bang dat hy die dogter waarvan hy praat ook in sy mag wil hê."
"O. Baie dankie vir u bekommernis. Ek en Max het net 'n seun gehad. Hy was jare terug al vermoor as gevolg van sy bedrywighede. 
Ek weet presies hoe jy voel. Nee, ek lieg. Ek weet nie. Jy het geweet jou dogter werk vir Max. Hoekom het jy dit toegelaat?"
"Rachel, ek is nie hier om deur jou beledig te word nie. Ek wou jou net uit die goedheid van my hart waarsku. 
Vir jou informasie, ek het nie geweet my dogter werk vir Max nie. Ek het net geweet hy betaal vir haar studies en het haar bederf met sakgeld en 'n motor. Daar was niks snaaks daaraan nie.
Totsiens!"
"Jammer mevrou. Ek het nou net gedink aan my seun. Dit was regtig nie my doel om jou sleg te sê nie. Ek is regtig vreeslik jammer.
Dalk kan ons weer op 'n ander dag gesels."

"Sahara! Kan jy asseblief vir Meneer Adriaanse laat weet ek is klaar."
Martin het uitgestap nadat hy die foon aan haar oorhandig het.
Hy stap in.
"Martin, Max het nog 'n dogter behalwe Candice. Ons get gedink die dogter wat ons na gesoek het was Candice. Ons sal moet verder soek.
Hy wil glo probeer om haar op te spoor. Hy soek 'n plaasvervanger vir Candice."
"Ons sal vinnig moet speel voor hy haar vind Rachel en voor nog 'n jong lewe verwoes word.
Ek maak onmiddelik kontak met my privaatspeurder."

Lawrence en Larisa is nou in Upington. Hulle het vroeër hier aangekom. Sy ma het hulle by die busafsetpunt kom haal en Larisa by die huis afgelaai.
"Mammie, sal dit moontlik wees om Janice en haar familie môreaand oor te nooi vir aandete?"
"Natuurlik my kind maar jy weet jou ma is nuuskierig. Hoekom?"
"Mammie, nooi net die mense. Agie wat jy is."
Hy lag.
"Moenie vir my sê jy gaan haar vra om te trou nie. Gaan jy?
Ons gaan bruilof hou. Wanneer? Ons moet iets ordentliks hou."
"Mammie, ek het nog nie eers gevra nie."
"Het jy 'n ring? Is dit darem ordentlik? My aanstaande skoondogter moenie die diamant onder die vergrootglas soek nie."
"Ek gaan môre kyk Mammie en ek gaan alleen. Ek wil met haar trou. Belowe my Mammie gaan niemand anders vertel nie. Nie eers vir Pa nie. Dit moet 'n verrassing wees."

Max wonder hoe sy dogter lyk. Hy het nog nooit eers 'n foto van haar gesien nie. Al wat hy weet is dat sy in Upington grootgeword het.  Hy is nou in Bloemfontein, moet hy nie sommer deur gaan daarheen nie?
Na 'n rukkie van oordenking besluit hy daarteen. Hy sal maar liewer iemand stuur. Miskien het Candice se ma vir Rachel gebel en dit kan wees dat die polisie meer inligting as hy het oor sy dogter. Wat hom frustreer is dat hy nie weet wie aan die hoof van die ondersoek teen hom is nie. Geen een van sy kontakte kon nog vasstel nie. Hulle word net ingelig wat hulle moet doen wanneer daar iets groots is soos die dag dat hulle hom in Reiger Park gaan soek het.

Larisa is nog nie haarself nie. Sy kan nie verstaan dat sy so reageer het toe sy uitgevind het Paul en Sahara gaan saam koffie drink. Is sy nou oor Anton? Dit kan nie wees nie. Sy was, is darem nog te lief vir hom. Miskien is dit maar net 'n fisiese aantrekkingskrag.

***
Spreuke 22:10 Dryf die spotter weg, dan gaan die twis weg; en die stryery en die geskimp hou op.
11 *Hy wat reinheid van hart liefhet, wie se lippe aangenaam is — die koning is sy vriend.
©Rooi Mier 13.07.2022

Woensdag 07 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 60 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 60 - Rooi Mier


Lawrence, Larisa en Sahara het lieflike dag saam op Kampsbaai. Larisa en Sahara geniet mekaar se geselskap. Dit het Larisa 'n tydjie geneem om te ontspan en nie aan Sahara as haar onderwyser te dink nie. Dit lyk of hulle goeie vriendinne kan word want hulle kon oor enigiets gesels, soveel so dat Lawrence soms uitgesluit voel. Hy gee nie regtig om nie want hy verwonder hom aan die pragtige dames op die strand.
As Anton nou hier was dan sou hy vir hom gesê het die mooiste meisies woon in die Kaap. Anton sou gesê het dit is waar want sy Larisa is nou in die Kaap. Sodra sy Upington toe gaan verander die prentjie drasties wat dan is die mooiste meisies in Upington. 
Daai vriend van hom sou 'n baie getroue huweliksmaat vir die vrou wat hy liefhet gemaak het. 
Hy kyk ongemerk na Sahara en dwing dan sy oë om oor die see uit te kyk. Wat die beste medisyne is, is om aan sy tweeling te dink. Dit bring sy gedagtes dan na hul ma, Janice.
Sal hy met haar kan trou wetende dat hy nog sukkel. Hoe sê jy ja op die pastoor se vraag as jy in wese nog iewers anders vassteek.
Hy praat met homself in sy gedagte: "Jy sal net moet Lawrence. Dit gaan jou help om daai laaste tree te gee. Janice is 'n mooi meisie en sy het ook glad nie 'n slegte persoonlikheid nie."
Sahara en Larisa gesels oor modes, oor Janice en hoe hulle uitsien om hul verskillende rolle in die tweeling se lewens gaan vervul; die een as antie en die ander as peetma. Die gesprek gaan later oor aantreklike mans op die strand. 
"Ek het Maandagmiddag 'n afspraak met 'n man wat nogals sag op die oog is Larisa."
"Regtig? Is die man regtig so aantreklik? Het hy 'n naam?"
"Ek dink jy ken hom. Hy is 'n privaatspeurder.  Paul, sy naam is Paul Slingers!"
"Paul Slingers? Het ek reg gehoor?"
"Die einste. Wag, hoekom lyk jy so geskok?"
"Ag, ek dink maar net hoe klein die wêreld is. Paul is my vriendin se broer."
Larisa kan nie langer gesels nie. Sy is te ontsteld.
"Ek het skielik 'n swaar hoofpyn. Ek is nie meer gewoond daaraan om lang tye in die son te spandeer nie."
"Dit is nou 'n jammerte vriendin. Kom ons gaan maar huistoe dan kan jy bietjie gaan lê. Jy kan nie bekostig om siek te word nie want jy het nog 'n vraestel of twee om nog te skryf.
Lawrence! Lawrence, ons moet gaan. Larisa voel siekerig."
"Gee jou motor se sleutel Sahara. Ons het ver parkeer. Ek gaan dit kry dat kan julle sommer net hier langs die pad opklim."
Larisa sou veel eerder dat Lawrence haar nie alleen met Sahara los nie. Daar was 'n tyd op skool dat sy gedink het sy is verlief op Lawrence, toe was Sahara in die pad. Nou het sy 'n ogie op Paul Slingers en weer is Sahara in die pad. Sal hulle regtig vriendinne kan wees?
Daardie aand gee sy maar voor dat haar hoofpyn nie wil weggaan nie. Liewer dit as om voor te gee sy kan vriendelik met Sahara gesels. Deur dit alles besef sy dat sy onredelik is. Hoe moes Sahara weet? Die groen monster laat hom egter nie so maklik verjaag nie. Sy moet maar net erken dat sy jaloers is en klaar.
Die Sondagoggend vroeg stel sy voor dat sy maar liewer terug uber want sy voel nog steeds nie goed nie.
Sahara stel egter voor dat sy hulle ry want sy was nog nie regtig in daai omgewing nie. Sy wil ook sien hoe lyk Eersterivier waar Lawrence woon.  So hulle kan haar gaan aflaai by die koshuis nadat hulle by die apteek 'n draai gemaak het. Dan kan sy en Lawrence iewers gaan eet voordat sy hom Eersterivier toe neem.

Maandagoggend is Paul vroeg op die lug met Sahara om die afspraak te bevestig. Hy het besluit om maar sjokolade vir haar te koop. Sondag het hy met Yvonne gepraat en sy het voorgestel dat hy sjokolade koop; nie die goedkoop vetterige soort nie maar hy moet haar ook nie afskrik met die duurste sjokolade nie. Dit gee glo die boodskap dat hy belangstel maar hy lyk nie desperaat nie.
Hy het geglimlag en gewonder wanneer het sy sussie so grootgeword. Hy kry glad verhoudingsadvies van haar af.
Die middag loop goed af. Hulle gesels oor ligtelike onderwerpe soos wat Charlize Theron te sê gehad het. Hulle gesels oor dieper dinge soos die toestand van Suid Afrika en beurtkrag.
Albei van hulle is baie gemaklik oor watter onderwerp hulle ook al praat.
Hulle sal goeie vriende uitmaak. Die toekoms sal leer.
Paul vra of hulle weer so kan maak en sy stem in.
Paul se hart bokspring van opgewondenheid. 
 
Gavin vind uiteindelik uit dat hy Upington toe gestuur word. Sy ma is blykbaar klaar daar.  Hulle gaan onder ander name en 'n ander van, miskien tydelik, miskien permanent. Wat van Yvonne? Sal hulle ooit weer in kontak kom? As Meneer M nooit gevang word nie, kan hulle dalk vir die res van hulle lewe geskei wees. 
Hy begin onmiddelik navorsing doen oor die plek. Vir hom klink dit maar na 'n droë, klein plekkie. 
Hy is aangenaam verras. Al wat waar is van wat hy gehoor het is dat Upington vreeslik warm kan word in die Somer. Daar is baie geriewe wat jy in die stede ook kry. Hy sal daar kan aanpas. Hy sal dalk net die koeler weer en die berge wat Stellenbosch omring mis. Daar is selfs wingerde in Upington omgewing.

Die week gaan gou. Lawrence het klaar eksamen geskryf. Hy kry egter nie plek op die bus nie. Daar is eers plek twee dae later. Dit sal hom leer om te wag tot op die laaste oomblik. Hy het besluit dat hy versigtiger moet wees met sy geld. 'n Vlug Upington toe is nogals taamlik duur. Hy wil vir sy ouers bewys hy kan op sy eie voete staan.
Larisa het plek op dieselfde bus. Hulle ry saam.

In Upington loop Larry en kyk na die winkels. Die mense van die plek is vriendelik. Hulle sê hy klink soos 'n Kapenaar.
Daar was kere wat hulle gevra het wie hy is dan was dit op die punt van sy tong om te sê Gavin. Die plek is glad nie so sleg nie. Hy moet net gewoond raak aan die feit dat daar altyd 'n polisieman iewers naby is. Dan het Speurder Cupido ook 'n voorwaarde dat hy moet sê wanneer hy of sy ma uitgaan sodat hulle kan reël dat iemand hom of haar kan vergesel. Sy ma is maar moeilik oor die hele storie maar sy is gehoorsaam ter wille van haar seun se veiligheid.
Shane moes wel reël dat sy haar voornaam kan behou want sy sou te veel foute maak. So sy het net 'n ander van. 
Larry loop hom amper vas in 'n vrou wat hoog swanger is. Daar is 'n ouer dame saam met haar. Dit lyk of sy skielik 'n pyn kry en laat haar inkopies val.
Die ouer vrou staan besorg vinnig nader.
"Ek het jou gesê jy jan nie meer rondloop nie Janice maar jy bly mos hardkoppig. Jy gaan net nie hier kraam nie."
"Ag mammie. Die pyn is alweer weg. Ek moes net uitkom."
Larry tel haar inkopies op en gee dit vir haar. Hul oë ontmoet. Daar is iets in haar oë wat hom tref. Wat is dit?
"Baie dankie meneer."
Hy knik net en stap weg. Daardie aand terwyl hy op die stoep in Leeukop Straat sit sien hy weer daardie oë. Hoekom sal hy nou aan 'n vreemde vrou se oë dink.

Max het in Bloemfontein aangekom. Hy sal maar hier moet bly totdat sy informante hom laat weet dat die polisie op sy spoor is. As hy gevange geneem moet word asgevolg van die inligting wat Martin en Rachel aan die polisie verskaf het, sal hy hulle kan vergewe? Meer nog, sal hy hulle kan laat bly lewe? 
Hy was en is nog steeds baie lief vir Rachel en sal haar nie graag leed wil aandoen nie. Martin sal miskien nie saamstem nie maar hy wat Max is was nog altyd lief vir sy broer. Dit is net dat Martin altyd geregtigheid bo alles stel. Max glo weer dat sy geregtigheid bo alles gestel moet word. As sy geregtigheid sê sy vrou en broer moet sterf sal hy kan?
Hy wonder hoe dit gaan met sy ander dogter. Hy het nooit kontak met haar gemaak nie. 
Is sy darem 'n bietjie soos hy?

***
©Rooi Mier 13.07.2022

Dinsdag 06 Junie 2023

#Stukkendeharte Hoofstuk 59 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 59 - Rooi Mier


Larisa is opgewonde. Sy gaan 'n bietjie wegkom uit die koshuis. Om dag na dag neus in die boeke te sit is glad nie lekker. Sy het nou wel nie veel van 'n sosiale lewe nadat Anton gesterf het nie maar sy kon darem soms met Yvonne gesels. Nou is dit haar ook nie meer beskore nie. 
Sy pak vir haar 'n naweektas. Miskien moet sy maar net een boek saam neem om dalk net Sondagoggend deur haar werk te lees. Sy is egter reeds goed voor berei. Daar is einlik niks meer wat sy nog moet leer nie. Dit was die afgelope tyd net boeke en nogmaals boeke. Universiteit is beslis nie skool nie.
Sy glimlag. As haar ma moet hoor dat sy gedurende eksamens tyd het vir naweek uit het sy die horries gekry. Sy is egter nie hier nie en dit is nie nodig vir haar om hiervan te hoor nie.
Sy bestel 'n uber om haar tot by Lawrence in Eersterivier te neem. Daarvandaan gaan hulle verder uber Seepunt toe. Hulle sou oorspronklik die Saterdagoggend gegaan het maar Sahara het gevra hoekom hulle nie Vrydagaand al kan oorslaap nie. Dan kan Lawrence vir hulle braai op die balkon. Dit belowe om 'n lekker naweek te word. 
Dit raak 'n heerlike aand in Seepunt. Sahara wou bier bestel vir Lawrence maar hy wou niks daarvan weet nie.  Sy is dankbaar daarvoor want die naaste wat sy al aan alkohol gekom het is druiwesap.
Larisa het een keer op skool dronk geraak maar het besluit dat dit nie vir haar is nie. Drie jongmense met geen alkohol by 'n braai? Dit is raar maar waar.
Sahara het twee slaapkamers. Lawrence eindig op op die rusbank. Hy lê wawyd wakker. Die kere wat hy na aan Sahara gekom het, het hy besef dat daar nog baie water in die see moet loop.
Miskien sal dit die beste wees as hy maar so spoedig moontlik met Janice trou. Mens kan mos aanleer om iemand lief te kry of hoe? Dit is ook immers die ma van sy kinders. Hulle is goeie vriende en hy weet dat hulle gelukkig kan wees.
Larisa raak aan die slaap met Paul in haar gedagtes. Wat 'n aantreklike man. Lank en lenig soos sy dit sal kies uit 'n katalogus. 
Sahara dink ook aan Paul. Moet sy maar kyk waarheen hulle oppad is? Miskien kan daar iets van kom of sal hy net 'n tweede prys wees? Sy besluit om hom te bel die volgende oggend. 

Paul se sel lui. Hy wonder wie dan nou so lastig is op 'n Saterdagoggend. Hy laat dit lui vir 'n rukkie. Dit stop. Hy kyk wie dit was. Dit was Sahara.
Skielik skrik hy helder wakker.
"Sahara!" 
Hoekom soek sy hom? Hoekom het hy nie vroeër opgetel nie. Is sy in die moeilikheid. Hy bel haar.
"Sahara goeie môre."
"Goeie môre Sahara. Paul hier. Jy soek my."
"Ek het? Nee, ek het jou nie gebel nie. Laat ek gou kyk. Jammer, ek sien ek het. Dit is per ongeluk. Ek het my sel oopgemaak om my boodskappe te lees. Ek moes met die neersit per ongeluk jou geskakel het. Nou voel ek baie verleë. Wat moet jy nou van my dink?"
"Nee, niks."
"O jy dink niks van my nie?"
"Nee Sahara. Dit is nie wat ek bedoel nie."
Sy begin lag aan die anderkant. Hy glimlag. Die vrou vang my elke keer. Hy het haar nooit opgesom vir iemand vol grappies nie.
"Noudat jy my gebel het, wat van Maandag?"
"Wat van Maandag! O, jy bedoel die koffie."
"Ja Paul."
Sy lag weer. 
"Reg so Sahara. Maandag is reg met my."
Paul is sommer op en wakker. Kan dit nie nou al Maandagoggend gewees het nie? Wat koop 'n mens vir 'n date wat nie 'n date is nie? Help.

Gavin het vandag gehoor hy gaan na 'n plek van veiligheid ver uit die Kaap geskuif word. Hy en sy ma gaan daar herenig word. Alhoewel hy al met Yvonne gepraat het weet hy ook nie waar sy haar bevind nie. Hy is kwaad vir homself dat hy ooit betrokke geraak het by die mensehandel sindikaat. Nou het hy nie meer 'n lewe van homself nie. Alles draai nou rondom Meneer M.

Shane is bekommerd. Hoekom probeer Max nie uit die land vlug soos die meeste misdaadbase sou probeer nie? Hulle weet te min van hom om te weet wat hy volgende gaan probeer doen. Op die grensposse, die lughawens en hawens word daar uitgekyk vir hom. Hy is juis nou besig om al die video- en fotomateriaal op sosiale media van die dag in Reiger Park te bestudeer. Miskien is daar iewers 'n leidraad. Die munisipaliteit vat ook hul tyd met die verslag oor aan wie al die huise in die straat behoort. Miskien is daar iewers 'n leidraad. 

Mavis sit alleen in haar huisie. Sy het geen kind of kraai wat haar plekkie met haar deel nie. Hoe dikwels is sy bang om hierheen terug te keer. Sy is nie bang omdat sy glo enigiets fisies gaan met haar gebeur nie. Dit is eerder die eensaamheid wat haar bekruip en dan oorweldig. Sy weet sy staan bekend as die grootste skinderbek suid van due ewenaar.
Die mense wat haar so noem weet nie dat dit haar ontvlugting is nie. Mense sê haar sleg en val haar aan. As daar net een persoon kan wees wat haar wil leer ken vir wie sy eintlik is.
Weet hulle hoe voel dit om aand vir aand alleen te sit en wens dat jy deel van 'n gesin kan wees. Sy maak kos vir een. Niemand nooi haar oor vir 'n ete nie. Sy kyk TV alleen. Niemand om saam met haar te lag nie. As daar 'n tranetrekker op TV is huil sy alleen. 
Dit is nie dat sy nie eensaamheid ken nie. Dit is van kleins af deel van haar lewe. Sy onthou hoe sy dikwels alleen in die huis gesit het as kind. Elke geluid haar laat opkrul het van die vrees. Elke skaduwee het 'n monster geword.
Op 'n dag het sy per ongeluk by die skool uitgevind dat wanneer sy nuus het, sy die middelpunt van enige gesprek  kon word. 
Sy het egter ook geleer dat na die tyd sy nog meer soos 'n uitgeworpene voel. Die meisie wat eenkant op die skoolgrond sit en wag soos 'n hondjie vir 'n been.
As sy tog net haar kinderdae kon oordoen. Dit sou seker ook nie moontlik wees met dieselfde ouers nie.
Sy sit en kyk verlangend by haar venster uit. By die huis langsaan word daar oudergewoonte gestry oor watter kanaal.
Aan die anderkant word daar gelag. Hulle het altyd iets snaaks om mekaar te vertel. Oorkant is Steven en Sarie se deur nog oop. Hulle was vandag so gelukkig. 
Wanneer sal sy dan eendag gelukkig kan wees? Al is dit net vir 'n dag; wel, selfs 'n uur sal doen.
Sy trek haar gordyne toe, sit haar ligte af en klim in haar bed. Die boom buite maak skadu's op haar muur. Monsters wat haar wil gryp. Hoekom beleef sy dit dan vanaand so erg?
Sy lê klein opgekrul op haar bed. Mammie wanneer kom julle huistoe? Ek is bang.

*****
Ons almal het stories, van trane en spyt. 
Ons almal het verhale van liefde en verwyt. 
Niemand is perfek nie en nie almal is mooi nie, 
maar onthou, die lekkerste appels is nie altyd rooi nie. 
Wees jouself, laat jou lig vir die wêreld skyn en weet dat God jou lief het!!!!
Gedig deur Jacobet en Gert
©Rooi Mier 13.07.2022

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...