#Stukkendeharte S2 Hfst 62 - Rooi Mier
Na die soen staan sy uitasem terug en hou sy hande vas.
“Wat wou jy sê? Daar was ‘n ‘maar’.”
Skielik begin Sahara weer te tweifel.
“Miskien wou die man nie trou nie en het hy verplig gevoel om ja te sê om my nie seer te maak nie.
Ek sal nie kan toelaat dat negatiwiteit my gedagtes lei nie.”
“Uit met dit, Lawrence. Gee dit vir my reguit.”
Sy probeer die onsekerheid in haar verdiesel met ‘n kamma glimlag.
“Sahara, hoe moet ek dit nou sê?”
Sy gesig is ernstig.
“Jy het vanaand ‘n vraag gevra wat ek nie eintlik wou antwoord nie.”
Sahara kry ‘n sinkende gevoel.
“Die ding is, jy het my voorgespring.”
Hy gaan op sy knieë voor haar.
“Ek wou jou vanaand vertel hoe lief ek jou het en hoeveel tyd ons al verloor het. Ek het ja gesê, nou is dit jou beurt.
Sahara Muller, sal jy my ook die eer doen om my ander helfte te word. Trou met my Sahara!”
Hy haal ‘n ring uit sy sak, neem haar linker hand en gly dit oor haar ringvinger. Dit pas perfek.
‘n Groot glimlag breek oor haar gesig uit. Dit voel of sy uit ‘n uit kom opsweef.
“Net solank jy onthou ek het eerste gevra Lawrence, ja natuurlik my toekomstige man, ek wil beslis”
Sahara sit die radio aan. Die vuil skottelgoed van die vorige aand staan nog. Hulle het nooit aan die hoofdis geraak nie.
Grover Washington se lied, ‘Just the two of us’ klink op.
Sahara, wat nog nooit eers gedans het nie, probeer jazz met die stofsuier.
“Dit is agtuur en hier volg die hoofnuus.
Max Adriaanse, alias Meneer M, is gisteraand op ‘n plaas buite Upington gevange geneem. Daar was ‘n skietgeveg waarin een persoon doodgeskiet was wat probeer het om hom te help ontsnap.”
Die glimlag verdwyn van Sahara se gesig af.
“So, hy is uiteindelik vasgetrek, my pa, Max.”
Sy weet nie wat om te voel nie.
Die nuusberig gaan voort.
“Meneer M is ernstig siek en word in die hospitaal aangehou in die intensiewe eenheid.
Hy was vroeër uit die hospitaal ontvoer deur ‘n tot nog toe onbekende man en ‘n vrou wat haar voorgedoen het as ‘n verpleegster.
Die polisie is nog op soek na dié persone. Hulle kon ook nie vasstel of dié verdagtes Max wou help of hom geneem het om weerwraak te neem.
Meer inligting sal bekend gemaak word soos die gebeurtenis verder ontvou.”
Sahara gaan sit op ‘n rusbank.
“Wat nou? Hoe is ek as dogter nou veronderstel om te voel? Bekommerd? Hartseer? Kwaad of net niks?
Niemand het haar voorberei vir enige van dié nie.
Die nuusberig gaan voort maar Sahara hoor maar luister nie. Niks registreer verder nie.
“Daar was ook gisteraand ‘n grusame ongeluk tussen ‘n vragmotor en ‘n motor. Die vragmotorbestuurder is nog geskok oor die gebeurtenis en vertel hoe die motor skielik reg op hom afgepyl het van die teenoorgestelde rigting.
Die persoon in die ander voertuig is ook in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.
Ons verslaggewer het intussen vasgestel dat die bestuurder van die motor Janice Louw is. Die inligting is egter verwarrend want die vrou verlam is en dat die viertuig nie aangepas was om deur ‘n verlamde bestuur te word nie. Daar was ook geen ander insittende nie.
Die vragmotorbestuurder word net vir skok behandel.
Ons gaan u ook ingelig hou hieroor soos meer inligting bekom word.
‘n Verteenwoordiger van die Dawid Kruiper Munisipaliteit het die volgende te sê gehad na aanleiding van die toestand van …”
Sahara skakel die radio af.
“Ek moet vir Lawrence in die hande kry. Sy teenwoordigheid sal my help om meer sin te maak van die nuus oor my pa.”
Hy antwoord nie sy foon nie.
“Hy slaap seker nog.”
“Derek, hoe maak ons sin van die hele besigheid? Wat het Janice in haar motor op die oad gemaak?”
Angela leun moeg teen haar man aan waar sy moeg en met dikgehuilde oë op die bank in die wagkamer van die hospitaal sit.
“Ek weet ook nie my vrou. Kom ons konsentreer maar nou eers op ons gebede vir haar. Die Vader moet net ons gebede verhoor. Sy het nog twee kinders wat nie nou hul moeder kan verloor nie.”
“Mammie, Mammie!”
Lorenzo strompel in die gang op na haar ma se kamer. Hy is nie seker of hy sy ouma hoor skree het in die nag nie. Sy is nie daar nie.
“Waar is jy Mammie? Mammie!”
Lawrence hoor die roep asof van ver af. Skielik tref dit hom dat hy nie tuis is nie.
Hy sit vinnig regop. Dit is Lorenzo wat roep.
“Renzo, kom hier. Ek is hier in die sitkamer.”
“Daddy? Het Pappie hier geslaap?”
“Ja my seun, kom hier en gee my ‘n stywe drukkie.”
Hy sien Lanice agter Lorenzo staan. Sy vee haar ogies uit.
“Jy ook, my prinsessie. Kom haal baie liefde by jou pa.”
Hy beweeg om plek te maak alkant van hom. Sy liggaam voel seer en hy is moeg.
“Ek moes maar in die spaarkamer gaan slaap het.”
“Waar is Mammie? Ons moet nog skool toe gaan.”
“Kom sit eers gou hier Prinsessie. Daar is iets wat ek julle moet vertel.”
Die kinders neem alkant van hom plaas. Nadat hy albei ‘n drukkie gegee het, sit hy om elk ‘n arm.
“Mammie is nie op die oomblik hier nie. Sy is siek.”
“Nou waar is sy Pappie? Is sy by die dokter?”, vra Lorenzo.
“Ja, by die hospitaal my seun.”
“Kom ons gaan na haar toe Pappie.”
“Later my prinsessie. Oupa en Ouma is by haar. Gaan borsel nou julle tande. Ek maak solank ontbyt vir ons.”
“Ek wil help Pappie! Jy weet tog nie waar ons ons melk hou nie.”
Lawrence glimlag.
“Hopelik in die yskas Prinsessie. Gaan nou. Ek sal wag dan kan julle my help.”
Lawrence se gedagtes gaan terug na die vorige aand toe. Hy was in die sewende hemel toe hy gisteraand van Sahara af ry. Dit het hom ‘n tydjie geneem om te registreer wat Oom Derek hom wou sê.
Na ‘n tydjie het hy verstaan dat Janice in die hospitaal is en dat Oom Derek hom vra om na die kinders te kom omsien.
Hy verstaan nou nog nie hoe en wat nie.
“Ek moet Sahara bel en ook Oom Derek om te hoor hoe dit met Janice gaan.”
Hy voel vir sy selfoon. Niks.
Dan onthou hy dit het in die motor gelê.
“Ek sal dit later gaan haal.”
Die tweeling kom die vertrek binne.
“Gaan Pappie ons skool toe neem?”
Lorenzo klink nie baie entoesiasties nie.
“Nee, julle gaan vandag by my bly. Ons gaan later by ander Oupa en Ouma kuier en dan kan ons almal vir Mammie gaan besoek.”
“Dankie tog Daddy, jammer, Pappie. Wil Pappie nie in my plek skoolgaan nie?”
Lawrence en Janice maak die kinders tweetalig groot maar hulle mag nie die tale meng nie.
“Nee Bulletjie, ek het my beurt gehad. Skool is dan so lekker.” “Is nie Pappie. Moet ek skool gaan?”
Lawrence kyk verwonderd na Lorenzo.
“Wat is fout pa se Bulletjie. Hoekom wil jy nie skool toe gaan nie?”
“Niks nie Pappie!”
“Is nie Pappie, hy het sy broek natgemaak.”
“Ag my kind. Jy moenie skaam wees nie. Van jou maatjies gaan ook nog dalk broek natmaak.”
“Pappie, Neville het hom voor die bors geslaan. Hy spot ook elke dag vir hom.
Ek het vir hom gesê my broer is nie bang vir hom nie. Hy is maar net groter.”
Lawrence besef nou hoekom Lorenzo nie skool toe wil gaan nie. Hy sal ondersoek moet instel. Sy seun word moontlik geboelie.
“Het julle vir Mammie gesê Bulletjie?”
“Nee daddy. Neville het gesê as ek my Mammie vertel is ek ‘n sissie.”
“Nee Bulletjie. Dit is nie waar nie. Dit is braaf. Jy red eintlik ander kinders.”
“Hoe so Pappie?”
“As jy nie praat nie dink hy hy sy optrede is reg. Hy kan dan ander kinders ook boelie.
As jy praat word nie net ander kinders beskerm nie maar hy kan ook hulp kry.
Ons sal weer daaroor praat op ‘n ander dag. Nou moet ons eers eet.”
Sahara probeer weer vir Lawrence bel.
“Waar is die man? Hoekom antwoord hy nie net sy foon nie?”
Sy dink weer terug aan die oomblik toe sy gehoor het haar pa lê kritiek in die hospitaal. Sy weet nog steeds nie hoe om te voel nie.
Dan onthou sy skielik dat sy Janice se naam gehoor het.
“Het ek reg gehoor? Sy was in ‘n ongeluk betrokke en dat haar toestand ook kritiek is.
“Dit is dalk hoekom Lawrence nie antwoord nie. Hy en die kinders is dalk by die hospitaal.
Die intensiewe sorg is besig vanoggend. Nie net is daar ‘n hoë profiel gevangene nie maar daar is ook die verlamde vrou wat in ‘n ongeluk was.
Hulle maak ook gereed vir nog pasiënte wat moet inkom. Daar was ‘n taxi ongeluk.
Dit lyk na chaos vir die buitestander maar elkeen weet presies wat hulle moet doen.
Skielik weerklink daar ‘n lang biep op. Iemand se hart het gaan staan.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023