Dinsdag 19 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 54 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 54 - Rooi Mier


Larry wonder nog steeds oor Yvonne.
"Wat het sy by dié gebou kom doen? Dit was nog te vroeg dat sy by enige van die besighede iets kon doen behalwe as sy 'n vroeë afspraak met iemand gehad het. Hier is ook net kantore en nie wooneenhede nie. Die kanse dat ek haar weer hier gaan sien is dus skraal."
Larry, wat nie 'n roker is nie neem vandag soos die rokers breke. Hy gaan dan na buite om te kyk of hy nie 'n motor soos wat sy gery het in die parkeerarea sien nie. 
Hy sien wel so 'n voertuig teen 14:00. 
"Is dit haar motor of toeval? Ek moes vanoggend kop gehou het en die registrasie gekyk het. Dit is egter nou gedane sake."

Yvonne is bo by Max, besig om hom voor te berei vir wanneer die dokter kom. Max lyk vir haar te kalm vir iemand wat weet wat op hom wag. Andy het nie 'n geheim daarvan gemaak dat dit vandag sy laaste dag is nie.
Daar is 'n klop voor by die voorste kantoordeur. Sy stap deur, gee 'n kodeklop van binne af. Die klop word beantwoord deur 'n ander kode wat haar vertel dat dit die dokter is. Sy sluit oop.
"Hallo dok."
"Goeie middag Verpleegster. Is ons pasiënt gereed?" 
"Ja hy is maar iets pla my?"
"Wat is dit?"
"Hoekom moet die pasiënt voorberei word as hy in elk geval nou doodgemaak gaan word?"
"Ag, sê maar net ek hou van skoon en netjiese werk."
Yvonne kyk hom aan en trek haar skouers op. 
" Vir my maak dit nog steeds nie sin nie." 
Sy mompel meer onderlangs sodat hy noe regtig moet hoor nie.
"Sê jy iets?"
"Nee dok, 'n verpleegster vra nie vrae nie."
"Ons is mos nie in die Weermag nie."
"Soms voel dit so as jy 'n verpleegster is."
"Hoe laat kom die ander vervoer?"
"Hulle sal oor minder as 'n halfuur hier wees."
"Ek het alreeds die inspuitings wat gister voorberei was reggesit dok." 
"Baie dankie. Meneer Ryneveld het laat weet hy sal 'n bietjie laat wees, ons moet maar aangaan."
Max kyk na hulle.
" Doen jou ding dokter."
"Ek is op die punt om dit te doen. Is jy gereed?"
"Om dood te gaan? Altyd maar sover het almal misluk. 
Kom ons kyk of jy dit gaan regkry."
Max kyk die dokter stip aan en Yvonne merk dat die dokter hom ook aankyk. Sy maak of sy niks gesien het nie.
Die inspuitings wat die dokter gister voorberei het met haar hulp lê uitgestal op 'n tafeltjie. Dit is gemerk 1, 2 en 3.
Die dokter maak sy aktetas oop en haal 'n ander stel inspuitings oop.
Yvonne frons. Iets is definitief fout. 
Sy dink, "Hoekom 'n tweede stel inspuitings?"
"Ek gaan dié inspuitings gebruik!"
Max kyk na Yvonne maar sy toon geen teken dat sy weet alles is nie pluis nie.
"Hulle dink ek is dom maar ek gaan hulle uitvang."
Sy maak Max se arm kaal, draai 'n band om om die are te laat uitstaan en staan terug. 
Die dokter staan nader. Hy kyk na waar hy 'n aar op Max se voorarm sien en spuit hom in.
Hulle wag so 'n rukkie en gesels om koeitjies en kalfies. Max lyk of hy vaak word.
"Die eerste inspuiting gaan jou net vaak maak. Die tweede gaan verlamming bring dan gaan die laaste een die werk doen."
"Ga gaan voo voo…"
Max is weg aan die slaap.
Die dokter kry die tweede inspuiting gereed.
Daar is weer 'n klop aan die deur. Yvonne haas om oop te gaan maak want sy weet dit is Andy.
Die dokter is net besig om die tweede inspuiting toe te dien toe sy en Andy instap.
"Hoekom het julle sonder my begin? Ek wou van die begin af hier gewees het want Max dink ek het dit nie in my nie."
Yvonne kyk nou stip na die dokter. 
"Hy het dan gesê ons moet voortgaan op Andy se aandrang."
Sy verwoord egter nog steeds nie haar gedagtes nie.
"Jy was 'n paar minute laat toe begin ek maar solank. Dit was nou die tweede inspuiting. Max is alreeds aan die slaap. Nou het ons sy liggaam verlam met die tweede inspuiting. 
Ons sal nou moet voortgaan."
"Ja, gaan nou maar voort maar jy sal moet leer om opdragte uit te voer anders gaan dit jou duur te staan kom."

Larry kom weer na buite. Die motortjie wat hy dink Yvonne sn is staan nog steeds daar buite.
Hy bel vir Paul.
"Middag Paul. Kon jy enigiets uitvind?"
Paul klink baie meer entoesiaties as vroeër.
"Ja, ek het! Hier by Dokter Richard Surtie Hospitaal werk 'n verpleegster met die naam, Valencia Smith. Dit is mos een van die name wat Yvonne gebruik het. Sy het glo ook rooi hare soos jy beskryf het. My suster, ons weet nou my suster is hier in Upington. 
Ek het jou nie vroeër geglo nie. Hulle sê sy was egter vir 'n paar dae nie in die werk nie."
"Nou hoekom het sy dan vanoggend uniform aangehad Paul?"
"Dit is nogals snaaks ja."
"Wag 'n bietjie, was Max nie in dieselfde hospitaal aangehou nie? Is dit toeval? Hy is weg en sy daag nie by die werk op nie?"
"Noudat jy dit noem Larry. Dit is nogals vreemd. Ek en jy moet nog vanaand bymekaar kom sodat ons dit kan bespreek."
"Ek het 'n afspraak met Janice maar sal probeer om aan 'n verskoning te dink."
"Dan sien ek jou. Larry, jy sal 'n goeie privaatspeurder uitmaak."
Larry lui af en loop om die motor om te sien of daar enige merke aan is. Hy het hom verbeel daar was 'n skraap aan die linker voordeur. Dit is daar.
Hy haal weer sy foon uit.
"Ja Larry?"
"Janice, kan ons nie ons afspraak na môreaand skuif nie? Iets dringends het opgekom."
Daar is 'n betekenisvolle stilte aan die anderkant.
"Janice?"
"Ja Larry. Dan sien ek jou môreaand."
Hy druk sy foon af.
"Sê ek nou vir Paul of nie?"
Hy stap terug na sy werksplek.

Die dokter tel die derde inspuiting op. 
Yvonne kyk hom gespanne aan.
Andy sien die ander stel inspuitings op die tafel lê.
"Waarvoor is daai inspuitings?"
Hy stap na die tafeltjie met die ander stel.
"Ek het maar net 'n ander stel voorberei. Ek voel dit sal meer effektief wees."
Die dokter stap na Max toe en spuit hom in.
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Maandag 18 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 53 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 53 - Rooi Mier

"Waar het jy haar gesien?"
"Net hier in dié parkeerarea. Ek het haar eers nie herken nie want haar hare is rooi en sy het 'n donkerbril opgehad.
Nadat ek uit my motor geklim het, het sy verby gery. Diê keer was haar bril af. Nog het ek haar nie onmiddelik herken nie totdat ek by die gebou wou instap.
Ek het skielik besef wie die verpleegster is maar dit was te laat. Sy het alreeds weggery. Omdat ek haar in die eerste plek nie verwag het nie, het ek nooit regtig gekyk na haar motor nie."
"Jy kan sweer dit was sy?"
"My ma gaan nie daarvan hou dat ek sweer nie maar dit was sy. Dit was Yvonne."
"Jy sê verpleegstersuniform.  Dan moet ons begin soek by die hospitale en privaatpraktykke. Sy moet iewers werk as sy uniform dra. Laat dit aan my oor. Jy werk mos nou so ek sal onmiddelik na my afspraak begin. Hopelik kry ek haar gou.
Ek moet nou gaan anders is ek laat vir my afspraak. As ek jou nie so goed leer ken het nie sou ek jou nooit geglo het nie. Sien jou. Kom, klim nou uit man. Ek moet gaan."

Andy sit in sy hotelkamer en gaan deur die dokumente wat Max onderteken het.
"Ek kan sweer dat die dokumente wat Max onderteken het meer was. Iets is nie pluis nie."
Hy besluit om die dokumente een vir een deur te gaan. Dan sien hy dit. Daar is 'n blad van die een dokument wat nie 'n bladsy 1 het nie. 
"Is dit per ongeluk? Hoekom voel ek nie te gerus hieroor nie."
Andy pak alles vinnig in sy aktetas en ry na die prokureur se kantoor. Anton Beyers is net besig om sy kantoor te sluit toe hy daar aankom.
"Sluit asseblief weer oop. Ek wil net vinnig uitvind of jy 'n ander rekening het. Ek het besluit om jou 'n bonus te gee maar wil nie dieselfde rekening gebruik nie."
Anton huiwer. Die gedagte van 'n bonus laat hom egter oopsluit. Nadat hulle ingegaan het druk Andy die deur toe en gaan staan teen die deur. Hy haal 'n vuurwapen uit. 
Met 'n kalm stem sê hy, "So, jy wil my verkul nê? Ek wil nou al die dokumente sien wat jy deur Max laat onderteken het."
"Wi, wi, wat bedoel jy nou? Ek het mos al die dokumente vir jou gi, gegee."
"Hoekom hakkel jy dan nou skielik? Jy het mos nie 'n spraakprobleem nie. Kom nou! Ek het nie nou tyd vir speletjies nie. As jy nie wil praat nie kan ons 'n ander plan maak. Hy haal iets uit sy sak.
Weet jy wat dié is?"
"Nee maar ek speel nie."
"Dit noem ons 'n knaldemper. As 'n mens hom voor aan die wapen monteer is die knalgeluid sag en niemand kan eintlik hoor dat daar geskiet word nie. Praat! Jy het nog 'n kans."
Andy begin die knaldemper monteer.
"Daar is genoeg vir Sahara om 'n luukse lewe te hê totdat sy oud is. Die bietjie wat ek vat sal haar beslis nie raak nie aangesien sy nie enigiets van Max verwag nie."
"So, nou erken jy eintlik dat jy gesteel het. Gee my jou skootrekenaar en jou aktetas. Jy gaan nêrens totdat ek weet wat jy alles wou steel nie."
"Mi, mi, my vrou wag vir my. Ô, ons vlug vertrek oor twee en 'n halfuur. Ons moet vroeg daar wees vir internationale vlugte."
Anton het nie verwag om so gou uit gevang te word nie en hy bewe. Hy is mos nie bekend met vuurwapens nie. Sy tipe misdaad word met rekenaars en pen en papier gepleeg. Hulle noem dit blouboordjiemisdaad, nogal 'n mondvol in Afrikaans.
"Kanselleer julle vlug. Ek weet julle vertrek hiervandaan Oliver Tambo toe op 'n plaaslikke vlug. Daar is geen internationale vlugte van Pierre Van Ryneveld lughawe af nie."
"Upington lughawe. Die ander naam word al vir jare nie meer gebruik nie.
Weet jy dat dit een van die langste aanloopbane in die wêreld het? Aanloopbaan 17/35. Dit kan die Boeing 747 met gemak hanteer."
Andy grinnik. 
"Ons is hier besig met ernstige sake en die man gee my aardrykskunde lesse. Sit en haal al die dokumente uit wat jy vervals het. Maak sommer jou rekenaar ook daar oop. Moenie dat ek uitvind jy het iets weggesteek nie, anders vlug jy sonder 'n sent."
Anton gaan sit gedwee en wys alles. Hy is so senuweeagtig dat hy bang is hy vergeet iets. 
Andy neem al die dokumente en die rekenaar. 
"Kom klim in my motor. Bel jou vrou en sê dat iets voorgeval het. Julle gaan môreoggend per voertuig Johannesburg toe. Julle sal betyds wees vir julle vlug môreaand.
Moenie enigiets probeer nie. Ons gaan gou vir Max besoek."
Andy kyk na Anton en weet dat hy niks gaan probeer nie. Hy is te veel van 'n papbroek.
"As jy probeer wegkom slaap jy en jou vrou môreaand in die tjoekie en ek is weg."
Hy haal die knaldemper af, plaas dit in sy aktetas en die vuurwapen in sy baadjie se binnesak. Hulle vetyrek na die plek waar Max aangehou word.

Max lê nog steeds vasgemaak op sy bed. Hy probeer sy arms en bene beweeg om lewe in dit te kry.
"Vandag is d-dag. Dit is letterlik lewe of dood. Ek kan vandag sterf, of terug tronk toe gaan of wegkom en weer opvlug wees."
Vanoggend het Yvonne hom kom skoonmaak. Hy wou weet wat nou met hom gaan gebeur noudat hy sy rykdom oorgegee het aan sy dogter.
Sy het gesê hy moet maar wag totdat Andy later kom met finale opdragte.
"Ek wens net ek kon vandag my dogter sien. Wat ook al vandag gaan gebeur, versoening met haar sou enigiets draagbaar kon maak"
Die deur gaan oop. Die dokter stap in. Hy is alleen.
"Middag dok. Ek hoop dit gaan goed met jou. Jy dokter my en ek kan jou bankrekening gesond maak. Ek het net die regte medikasie vir dit. Dit sal kan doen met 'n paar ekstra nulle."
"Het jy dan nie gister al jou geld oorgeteken nie?"
"Jy dink so? Ek is Max Adriaanse. Niemand kry my onder nie. Kan jy jou indink, Max Adriaanse, arm! Ek was gebore om 'n koning te wees. 
Onthou jy die storie van Josef in die Bybel? Ek hoop nie jy is ook een van daai wat nie glo in 'n God nie!
In elk geval, niks kon Josef onderkry nie. Hy het ook in die tronk beland maar het uiteindelik weer bo uitgekom. Ek sal ook weer op my troon wees.
So, jy moet nou besluit. Besluit jy reg gaan jy in luukse op 'n eiland iewers in die Stille Oseaan 'n praktyk bedryf. As jy nee sê maak ons jou graf langs Andy Ryneveld sn in die warm moederaarde van Upington. Jy sal elke dag 'n voorsmaak van die hel beleef."
'n Sleutel draai in die voordeur. Dan hoor hulle twee mense gesels in die voorste vertrek.
Andy en Anton stap deur die deur.
"Ah Maxie. Ek sien jy is wakker. Ek hoop jy ken daai een gedig wat ek as standerd 2 kind so baie van gehou het. Daar is mos 'n reël in wat sê dat die muskiet maar verlaas moet sing."
"Ja, ek ken dit, maar sover ek onthou slaan die ou mis en die muskiet kom weg."
"Ai Maxie. Die ewige optimis."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Sondag 17 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 52 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 52 - Rooi Mier


"Ek ken jou te goed Selwyn. Al het jy nou ook jou naam verander bly jy nog maar dieselfde Selwyn wat nie instaat tot moord is nie.
Nou wil ek net rus."

Lawrence sien vir Sahara in haar tuin. Sy kan egter nie vir hom sien nie want sy is besig om die plante met 'n gieter nat te gooi.
Hy stap saggies nader met rose in die hand totdat hy ongesiens om die hoek van die huis kan glip. Van die kant kan hy tot by die voordeur kom. Hy sit die blomme voor die deur neer, lui die voordeurklokkie en hardloop weer om die hoek.
Sahara haas haar na die voordeur van waar sy haar bevind. Sy sien niemand.
"Het die persoon dalk in die huis gegaan? My pa het waarsku my om meer versigtig te wees want Upington is lankal nie meer so veilig soos 'n paar jaar terug nie.
Vandat tik na die dorp gekom het moet jy sorg dat alles agter slot en grendel is."
Dit val haar by dat Bennie nie meer haar pa is nie.
"Sê nou net dit is daai mal man wat haar biologiese pa is. Ek kan nou nog nie glo dat antie Jenny met hóm kon slaap nie. Slymbol!
Wie is daar?"
Sy staan 'n afstand van die deur af sodat iemand haar nie dalk sal oorval nie. Dan sien sy die blomme op die voordeur matjie lê. Sy ontspan onmiddelik en stap om dit op te tel.
Sy hoor 'n stem wat van om die draai praat.
"Onbeantwoorde deur Sahara Muller
Hoe vinniger ek die liefde najaag
Hoe vinniger vlug  dit op die wind
Dit systap my soos 'n springbokkie
Sodat die jagluiperd hom nie vind."
"Ja toe nou Lawrence. Jy kan nou maar uitkom. Van wanneer af ken jy my gedigte?"
Laerence kom om die hoek. 
"Sahara, die liefde vlug nie meer vir jou nie, jy verjaag nou die liefde. Ek is lief vir jou en sal vir altyd lief wees vir jou.
Van die eerste keer wat jy voor in die klas gestaan het en jouself voorgestel het, het ek geweet jy is die een. 
Moenie iets sê nie. Totsiens my liefling. Ek sien jou gou weer."
Lawrence stap na sy motor, klim in en ry weg terwyl Sahara hom agterna kyk. 
Sy tel die bossie rose op en ruik daaraan.
"Ai Lawrence. Hoekom moet jy dit so moeilik maak vir my. Jy wil nie Max se dogter as jou vrou hê nie."

Janice sit op haar rystoel in haar kamer. Sy vryf eers met haar hande oor albei haar bene. Omdat dit nie beweeg nie weet sy die massering help bloedsirkulasie aan. Terwyl sy masseer probeer sy vasstel of daar enige gevoel is maar niks. Na die massering probeer sy hard om haar bene te beweeg. Sy voel sommer mismoedig.
Sy soek vir 'n fisioterapeut op die internet en maak 'n afspraak. Haar ouers hoef nie hiervan te weet nie. Sy sal egter iemand moet kry om haar te ry. Larry is op die oomblik die veiligste opsie. Hy sal nie haar ouers daarvan vertel nie.

Larry sit buite 'n groot gebou in die parkeer area. 
"Wat as Yvonne nie gevind wil word nie?" 
Die gesoekery na haar maak dat hy baie aan haar dink. Die gevoelens wat hy destyds ontwikkel het kom lê weer vlak in sy geheue. Hy het gedink dit is lankal nie meer daar nie, nou is hy nie meer so seker nie.
"Wat nou van Janice? Ek was so seker daarvan dat sy die vrou van my toekoms is. Nou is ek nie meer so seker nie.
Wat sou gebeur het as ek en sy getrou het en dan het Yvonne weer op die toneel verskyn?"
'n Verpleegster kom by die gebou uitgestap. Hy gee nie veel aandag aan haar nie. Wat hom wel opgeval het is dat haar hare net 'n bietjie te rooi voorkom om natuurlik te wees. 
Sy selfoon lui. Dit is Janice.
"Goeie môre Janice."
"Hi Larry. Wat maak jy vanmiddag na werk?"
"Ek gaan reguit terug huis toe."
"Wil jy nie 'n draai kom maak nie? Ek wil met jou praat."
"Ek kom dan direk van die werk af. Sien jou later."
Hy druk sy selfoon af. Die verpleegster stap voor hom verby. Hy kyk net  vlugtig na haar en maak die deur oop. 
"Ek sien nie uit na 'n volle werksdag nie; nog minder vir 'n geselsie met Janice."
Nadat hy sy alarm geaktiveer het stap hy na die gebou toe. Hy steek vas. 'n Voertuig wil verby so hy staan om dit toe te laat. Dit is die verpleegster wat verby ry. Sy kyk 'n oomblik na hom en draai haar kop vinnig vorentoe.
Nadat die voertuig verby is, stap hy vinnig na die ingang van die gebou. Net toe hy wil ingaan tref dit hom dat die persoon darem baie bekend lyk. Hy draai om en sien hoe dit voertuig by 'n verkeerslig oor ry.
"Skielik tref dit hom. Yvonne! Dit is Yvonne daai."
Hy draai om en hardloop na sy motor. Larry besef dan dat dit te laat is. Waarheen het sy gery? Hy het ook net 'n paar minute voordat hy moet begin werk.

Yvonne is nog geskok waar sy ry. Die oomblik toe sy in sy oë kyk toe sy verby hom ry, het daar iets soos 'n skokgolf deur haar getrek. 
In daardie oomblik het sy besef hoe verskriklik baie sy vir Larry gemis het.
"G, ek is nog lief vir jou na soveel jare.  Wat is dit? Vier of vyf jaar gelede? Is dit regtig al soveel jaar?
Ek wonder of hy my herken het. Hopelik nie want hy en Paul blyk  ou vriende te wees wat beteken hulle praat soms oor my.
Maar dit sal tog ook lekker wees om te weet hy herken my  met my rooi kop en brille en al. Dit sal my so goed laat voel."
Sy glimlag.
"Jy is ook maar lekker vlak nê Yvonne."

Met sy teetyd skakel Larry vir Paul.
"Goeie dag Larry. Ek kan nie nou met jou praat nie. 'n Kliënt kom my sien oor 'n paar minute. As ek nie begin geld verdien nie sal ek maar by jou moet intrek."
Hy lag terwyl hy dit sê.
"Voor jy aflui, kan jy my met middagete buite my werksplek ontmoet? Dit is dringend."
"Wat is so dringend? Larry? Larry?"
Larry het alreeds afgelui.

Paul wag alreeds in die parkeerarea toe Larry uitkom.  Hy sien Paul se motor en gaan klim in.
"Hi."
"Jy het my nie hierheen laat kom om vir my te 'hi' nie. As kinders het ons altyd gesê 'n haai is in die see en jy daarby is twee.
Wat gaan aan?"
"Ek het haar gesien"
"Moenie in raaisels praat nie. Vir wie het jy gesien."
"Yvonne. Ek het vanoggend vir Yvonne gesien."
"Daai grap is in swak smaak. Wat wil jy sê? Ek het oor 'n halfuur 'n ete afspraak met 'n kliënt."
"Moet ek sweer? Ek het vanoggend vir Yvonne gesien. Sy het 'n verpleegsters uniform aangehad."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Vrydag 15 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 51 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 51 - Rooi Mier


"Geld wat stom is, … Andy Ryneveld, hoe durf jy Max Adriaanse probeer aanvat!"
Daar is iemand by die deur. Max maak of hy aan die slaap is. 
"Ek is nie nou lus vir nog 'n inspuiting nie."
Die deur gaan oop en Andy Ryneveld stap binne met die dokter.
"So wat dink jy dokter? Kan ons hom maar 'n inspuiting gee om hom vir ewig stil te maak? Ek is nou moeg daarvan om babaoppasser te speel."
Max se oë vlieg oop.
"Jy het dan nog nie vir my die dokumente gebring om te teken nie."
Andy en die dokter bars albei uit van die lag.
"Ek kon aan jou asemhaling sien dat jy nie regtig slaap nie. Hy hou hom so braaf maar lyk my hy wil nie nou al doodgaan nie, né dok.
Moenie bekommerd wees nie, die dokumente is vroeg môreoggend hier. Daar was net 'n vertraging met iets belangriks."
Andy stap terug na die voorste vertrek en laat die dokter agter om Max te ondersoek.

Lawrence is vasberade om vandag met Sahara te gesels. 
"Sy sal maar net moet verstaan dat ons liefde verewig sal bly staan. Ons sogenaamde vereantskap kon dit nie eers breek nie.
Nie eers die feit dat sy intussen Max Adriaanse se dogter geword het nie.
Dit was so bestem van die oomblik dat sy haarself voorgestel het as sy klas se matriek wiskundeonderwyser.
Ek gaan haar nie kans gee om verskonings uit te dink nie, daarom gaan ek haar nie bel en 'n afspraak maak nie."

Larry wonder hoe dit met Janice gaan.
"Ek is nog lief vir daai vrou maar sy het my liefde in my gesig teruggegooi. Ek sal haar nooit weer met my hart kan vertrou nie. Die probleem is net dat ek haar nie uit my gedagtes kan kry nie."
Hy onthou nog so goed die dag dat sy daar op Die Arkie hom bo Lawrence gekies het, net om daarna vir Lawrence bo hom te kies. Sy hart was stukkend toe hy verneem van hul troue. Nou is sy weer op soek na hom.
"Ek wonder hoe ek gaan optree as ons vir Yvonne gaan opspoor?
Was my gevoelens gebasseer op die feit dat ek haar bejammer het?"
Hy klim in sy voertuig om te gaan werk. Die vorige firma waar hy gewerk het kon nie die mas opkom na covid19 nie. Die eienaar het nog probeer na alles na 'die nuwe normaal' teruggekeer het maar dit was onmoontlik. 

Daar is 'n klop aan Andy se kantoordeur. 'n Man met 'n aktetas stap binne op Andy se uitnodiging.
"Goeie môre Meneer Beyers. Het jy die dokumente gebring?"
"Ja Meneer Ryneveld. Alles is gereed. Nou kort ons net sy handtekening dan is alles aan Sahara Muller bemaak."
Hulle stap deur na waar Max is. 
"Anton Beyers! Wat maak jy hier?"
"Ek het hom gebring Max. Hy is nie meer jou prokureur nie maar myne. Ek moes seker maak dat ek iemand kry wat kennis dra van al jou bates. In ruil daarvan teken jy ook 'n dokument wat 'n reuse bedrag aan hom uit betaal. Na dit gaan hy verdwyn. Die wêreld is groot en hy hoef nooit weer te praktiseer nie."
"Verraaier! Was die geld wat ek maandeliks aan jou betaal nie alreeds 'n fortuin nie?"
"Ja dit was maar iewers op 'n kol sou dit moes stop. Die tyd wat jy in die tronk was het ek niks van jou af gekry nie. Nou kan jy enige tyd sterf of terug tronk toe gaan.
Deur die jare wou jy nie hê ek moes enige ander kliënte hê nie. Hoe gaan ek aan my vrou verduidelik dat sy nie meer inkopies in Londen kan gaan doen en eerste klas vlieg nie?"
"As ek geweet het jy is so 'n lae omkoopbare luis het ek jou nooit my prokureur gemaak nie."
Anton Beyers lag.
"Hoeveel miljoene omkoopgeld het ek nie al namens jou betaal nie. Die lys is baie láááánk. So Meneer M, as ek bereid was om mense namens jou om te koop moes jy seker geweet het ek is ook omkoopbaar.
Jou geliefde sêding is mos 'Geld wat stom is, maak reg wat krom is maar ook krom wat reg is.'
Hoeveel hooggeplaastes het al krom gemaak wat reg is omdat hul bankbalanses skielik soveel verbeter het."
Andy maak keel skoon.
"Genoeg van julle twee. Anton laat hy teken. Die dokter het bevestig dat hy maar regop mag sit. 
Kom Max! Wil jy eers lees?
Ons het ook die DNA uitslae ingesluit wat bevestig dat Sahara jou dogter is. Dit is nou as iemand dalk jou testament wil betwis as jy nou per ongeluk uit 'n vliegtuig spring of 'n oordosis medikasie neem, 'n mens weet mos nooit wat in jou kop aangaan nie.
Ek het dié dag dat jy alles gaan verloor gevisualiseer, nou is dit uiteindelik hier."
"My dogter is dit alles werd. Bring die papiere laat ek teken."
Andy en Anton is geslaan vir 'n ses. Hoekom wil Max so maklik teken? Daar moet iewers 'n slang in die gras wees.
Anton help Max om regop te sit en oorhandig die dokumente aan hom. Sonder om te lees onderteken Max die dokumente.
Dit was net te maklik. Andy vertrou nie die vrede nie. Iets klop nie maar wat? Is hulle lewens nie dalk in gevaar nie?
Max tree op asof dit 'n plesier is om alles aan sy dogter te bemaak.
"Tevrede? Ek is moeg en wil slaap of gaan julle my nou doodmaak?"
Andy probeer om nie verward te klink nie.
"Nee, jy het nog die nag. Sing maar jou laaste area. Die dokter en die verpleegster sal jou nou wees kom vasbind en jou 'n slaapmiddel inspuit.
Later vanmiddag sal hulle weer sodat jy deur die nag kan slaap. Ek weet nie wat jy beplan nie maar ek kry ekstra wagte om jou deur die res van die dag en nag op te pas."
Max glimlag net en lyk werklik moeg. Nogtans wens Andy dat hy nou sy gedagtes kon lees.
"Ek ken jou te goed Selwyn. Al het jy nou ook jou naam verander bly jy nog maar dieselfde Selwyn wat nie instaat tot moord is nie. Nie eers geld kon jou in die verlede dit laat doen nie.
Arme Anton. Het hy werklik gedink dat ek al my bates aan hom bekend sou maak?
Hy het wel 'n lys van die meerderheid maar Max plaas nooit al sy eiers in een mandjie nie.
Nou wil ek net rus."
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Donderdag 14 Maart 2024

#Stukkendeharte S2 Hfst 50 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S2 Hfst 50 - Rooi Mier


Sahara wonder tog waar Max hom bevind. Sy maak die effense bekommernis af as nuuskierigheid.
"Ek wonder wat uiteindelik met hom gaan gebeur? Gaan die polisie hom vang en weer tronk toe stuur? Sal hy gesond word want hy was nog nie heeltemaal buite gevaar nie? Was hy uit die hospitaal ontvoer of het hy sy ontsnapping gereël?
Dit is definitief nie lekker om Max as jou pa te hê nie. Die mense begin my snaaks aankyk. Iewers het iemand uitgelek dat ek Max se dogter is.
Het ek ook sy wreedheid geêrf? Dit sal beter wees dat ek nie trou nie. Sê nou net my kinders gaan eendag na hul oupa aard?"
Die een vraag na die ander. Sy het al probeer skryf maar niks. 
"Al wat my nou rustig gaan maak is 'n gedig wat ek self skryf of die tweeling.
Dit is te laat vir besoek aan laasgenoemde en ek kan nie eers een reël van 'n gedig begin nie."
Sy besluit om Shane te skakel. Miskien weet hy iets oor Max.

"Shane Cupido goeie naand."
"Goeie naand Speurder Cupido. Dit is Sahara Muller hier.
Kan jy my enigiets sê oor my …. oor Max?"
"Sahara! Wat 'n verrassing. Ongelukkig is daar niks oor hom nie. Ons vermoed hy is ontvoer.
Het hy jou nie kontak nie?"
"Nee, hoekom vra jy nou so 'n vraag?"
"Jammer dat jy so voel. Ek is 'n speurder onthou. As ek nie die vraag vra nie doen ek nie my werk nie.
Belowe my jy sal my onmiddelik laat weet as hy probeer.
"Ek dink ons moet iemand kry om jou te beskerm."
"Het Max nie onder julle bewaking uit verdwyn nie?"
"Ja dit is so."
Shane klink afgehaal deur haar venynige, sarkastiese vraag.
Sy besef dit.
"Jammer Speurder. Ek het dit nie bedoel nie. Vandag is ek nie myself nie."
"Ek verstaan. Sodra ek iets hoor sal ek jou laat weet."
Hy wag nie tot sy die oproep beeïndig voor hy afdruk nie.

"Max gaan my nog my beroep kos. Ek beter mý emosies reg kry.
Hulle het alreeds vir Rencia Witbooi gegee om saam met hom te werk. 
Rencia! Hoekom bly die vrou in my kop? Ek kan nie eers meer 'n paar minute gaan sonder om aan haar te dink nie. Sy maak dit ook nie juis makliker nie. Daar is 'n uitlokkende aantrekkingskrag aan haar en ek dink sy is nie eers bewus daarvan nie."
Shane sit en staar droomverlore teen die muur oorkant hom.
"Kom nou Shane. Jy verloor fokus. 
Daar is nog die feit dat Valencia Smith verdwyn het. Dit is die tweede keer. Sy het voorheen ook verdwyn en ons het haar in Chicago by 'n kollege opgespoor waar sy Verpleegkunde studeer het.
Met Max wat weer verdwyn het kan sy dalk in gevaar wees. Die plek waar sy gehuur het staan leeg maar is glo vooruit betaald vir drie maande. Sy het gesê dit is haar kennisgewingstydperk.
Ons wil nou nie onbevoeg voorkom nie maar ons sal dalk Interpol se hulp benodig."

Yvonne sien Paul en Larry by die winkel uitkom. 
"Ek moet sê hy lyk nog goed. Altans, hy lyk beter as wat ek kan onthou."
Yvonne betrap haarself dat sy eintlik na Larry kyk.
"Natuurlik Yvonne. Wees maar eerlik met jouself. Jy het nooit van Larry vergeet nie.
Ek het myself wysgemaak dit was omdat hy my gered het destyds dat ek so gevoel het. Die probleem is dat daar nou al soveel tyd verby gegaan het; ek kan mos nie nou nog bewondering vir hom voel nie. Dié gevoel is meer blywend."
Yvonne klim uit die motor en kyk totdat hulle om 'n hoek stap.

Max lê wakker. Sy gedagtes werk oortyd.
"Hoe gaan ek uit hierdie penarie kom? As ek net iemand kon kontak.
Yvonne sal my beslis nie help nie want dit is duidelik dat Selwyn, of soos hy nou genoem wil word, Andy, haar goed beloon.
Dalk moet ek die ander verpleegster probeer of  dalk selfs die dokter.
Almal het 'n prys."
Hy voel nog liggamlik swak en weet dat hy nie iemand fisies kan oorrompel veral sonder 'n vuurwapen nie. 
"Geld wat stom is, … Andy Ryneveld, hoe durf jy Max Adriaanse probeer aanvat!"
#RooiMier
©Rooi Mier 17.01.2023

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...