#Stukkendeharte Hoofstuk 17 - Rooi Mier
Lawrence en sy ma arriveer by die Le Fleur woning. Larisa is ook daar. Mev Le Fleur het 'n vingerete voorberei want sy wil dinge ontspanne hou. Dit raak 'n heel gesellige middag met Iris en Wilmien Le Fleur wat onmiddelik begin gesels soos mense wat mekaar jare ken.
Anton se broer en dié se vrou is ook nog daar. Hulle gaan glo die volgende dag vertrek Johannesburg toe.
"Oom James, ek wil graag met u hulle praat. Kan ek 'n paar minute kry asseblief. Almal is welkom om te luister as dit u goedkeuring wegdra."
"Laat elkeen net gou-gou iets in hul bordjies kry en dalk ook iets om te drink." Wilmien beduie na die disse op 'n tafel.
Nadat almal weer hul sitplekke ingeneem het begin Lawrence eers deur te simpatiseer en verskoning te vra dat hy nie by die begrafnis was nie.
"Dit is reg so seun, ons verstaan. Jy en Anton was die beste vriende wat ek in jare gesien het daarom weet ons dit was en is vir jou ook moeilik."
James staan op, kom sit langs Lawrence en gee hom 'n drukkie op sy skouer.
"Ek voel nogtans so skuldig oom. Hoekom nie liewer ek nie?" Dit klink of sy stem wil breek. Hy is opnuut hartseer."
"Dit was 'n dag wat ek wil uitvee uit my lewe."
Hy begin vertel hoe hulle uit die trein geklim het en die verkeerde besluit geneem het deur die stroom te volg in plaas van oor die brug te gaan.
"Die oomblik toe ons voete teenmekaar kap en ek die trein sien aankom het ek gedink dit is klaar met ons." Hy sluk en snik hoorbaar.
"Al wat ek kon doen was om Here help te skree. Ek het die mense hoor gil terwyl die trein op ons afgepyl het. Skielik het iemand my aan my arms getrek en die trein het milimeters van my linkervoet verby gekom.
Ek kon hoor dat die trein iets of iemand tref en my gedagtes het heeltemaal stil gaan staan.
Dit het my 'n hele paar sekondes geneem om te besef dat ek nog lewe. Dit was eintlik die geraas van mense rondom my wat wat my tot my sinne geruk het.
Ek het onmiddelik opgespring en vir Anton begin roep. Toe hy nie antwoord nie het ek histeries geraak. Die trein was besig om by die stasie tot stilstand te kom. Mense het uit die trein gepeul om en terug gehardloop na die plek waar ons die spoor oorgesteek het. My brein wou nog nie reggestreer wat aan die gang is nie en ek het plat gaan sit en my ore bedek om al die geraas uit te doof maar ek kon nog steeds die gezoom van hordes stemme hoor. Niks kon dit uitdoof nie.
Na 'n rukkie het die nooddienste opgedaag en iemand het my weggelei.
Hulle het my vasgedruk en iets ingegee om te kalmeer. Daar het 'n vreemde kalmte oor my gekom want ek dink nie net veroorsaak was deur die medikasie nie.
Een van die noodhulppersoneelede het vir my gesê dat my vriende dit nie gemaak het nie.
Ek het later uitgevind dat 'n ander student wat in dieselfde studentehuis bly vir Anton probeer red het. Die trein het hulle albei getref.
Ek is so jammer Oom James en Antie Wilmien, ek kon jul seun nie red nie."
James staan op, trek Lawrence aan die arm op en druk hom styf was. Wilmien en Larisa sluit by hulle aan. Almal se trane vloei maar daar is geen hoorbare gehuil nie.
"My kind, daar was niks wat jy kon doen nie." Wilmien vryf oor sy kop en gee hom 'n sneesdoekie.
Nadat almal rustiger begin word het, kondig Lawrence aan dat hy die Vrydag gaan terugkeer Kaap toe. Hy sal die Donderdag kom groet.
Iris vra dat hy haar later moet kom optel want sy wil eers vir Wilmien help skoonmaak. Larisa ry saam met hom. Hulle wil net bietjie in die winkelsentrum gaan ronddwaal.
Tuis besluit Lawrence dat hy en sy pa nodig het om te gesels.
Hy vra sy pa of hulle 'n persoonlike gesprek kan hê. Iris dink dit is manssake en sê hulle kan mos bietjie uitry want sy het hulle lanklaas sien gesels.
Bennie wonder waaroor dit kan gaan maar stem in. Op sy beurt het hy die afgelope maande gevoel dat iets nie pluis is nie maar hy kon nie sy vinger daarop plaas nie.
Sy pa stel voor dat hulle sommer burgers kan gaan kry vir aandete waarop Iris vra dat hulle vir haar een moet saambring aangesien sy nie aandete gemaak het nie.
In die motor besluit Lawrence om sommer die bul by die horings te pak.
"Pa, ek het een dag per ongeluk gehoor praat met 'n persoon wat u moes help met iets. Ek gaan nie sê wat ek gehoor het nie want ek wil hê pa moet eerlik met my wees en my vertel wat aangaan. Weet mammie daarvan?"
"O dit? Jammer dat jy so moes hoor. Ek sal jou vertel en ja jou ma weet daarvan."
Die volgende oggend is Lawrence amper weer die ou Lawrence homself. Hy is in 'n beter luim en terg sy ma soos voorheen.
"Ai Lawrence, het jy weer vergeet om jou pille te neem."
"O nou is ek mal nê. Skaam jou Iris om jou eie seun koekoes te noem."
"Daar is iets wat ek vir Mammie wil sê."
"Ja?"
"Ek glo nou Mammie."
"Glo wat?"
"Ek glo nou dat Die Here moet bestaan. Daai aand van die ongeluk het ek gesukkel om te slaap. Ek kon nie ophou huil nie. Alhoewel ek nie 'n antwoord kon kry oor hoekom Anton moes sterf nie het ek duidelik gehoor 'n stem sê, Ek het jou twee keer gered uit die hand van die dood. Ek is nog nie klaar met jou nie. Eers het ek gedink dit is net my eie gedagtes maar ek het 'n teenwoordigheid gevoel. Daar moet iemand wees wat in beheer is.
Dankie dat Mammie nie oogegee het op my nie."
"Dankie Vader." Iris sê niks verder nie.
Die volgende paar dae gaan vinnig verby.
Lawrence gaan groet die Le Fleurs die Donderdag. Larisa vra of sy saam met hom kan ry in plaas van bus.
Daardie aand kom sy pa tuis. Hy lyk vreemd opgewonde maar ook asof hy nie kan praat daaroor nie.
"Iris, kom ons gaan saam met die jong Kaap toe vir 'n week."
"Wat makeer die mans in die huis. Bedoel jy ons moet môre al ry want die klong vertrek dan môreoggend."
"Ja, môre. Ek het 'n week afgevat. Ons kan 'n motor huur daar en dan terug vlieg."
Iris, kyk hom aan, "Ek neem julle albei reguit Lentegeur Hospitaal toe as ons daar aankom. Daar is sommer heelwat skroewe weg by julle."
"Dit sal lekker wees om julle naby te hê maar onthou ek het klas van Maandag af. O ja, Iris, moet nou nie die hangkas inpak nie, Larisa ry ook saam. Julle vroumense."
Lawrencese sel lê in sy kamer. Iemand het gebel maar dit is 'n vreemde nommer. Hy besluit om nie terug te bel nie.
©Rooi Mier 13.07.2022