Vrydag 23 Desember 2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 6 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 6 - Rooi Mier


Lawrence het sy pa se motor geleen en is oppad na Janice toe. Hy ry Koper Straat af verby die straat waar Sahara in woon. Hy begin twyfel of dit die regte ding is om Janice te vra. Moet hy nie maar alleen matriekafskeid toe gaan nie? Hy hou egter aan ry en draai links in Beryl Straat waar Janice woon.
By sy bestemming klop hy aan die deur. 'n Groot man maak die deur oop met 'n "Ja?". 
"Goeie naand Meneer, bly Janice hier?"
"Sy doen. Wie sê ek is dit?"
"Ek is haar klasmaat, Lawrence van Wyk. Sy weet nie ek kom nie."
Die man steek sy hand uit om te groet terwyl hy Lawrence op en af bekyk. Sy oë bly langer staan op die blomme en sjokolade. "Ek is Meneer Derek Louw. Kom binne. Dit is my vrou Angela." 
Die vrou is klein en skraal in vergelyking met hom. Sy staan op uit die bank en stap in Lawrence se rigting. "Ek het nie geweet my kind het so 'n aantreklike boyfriend nie." Sy glimlag ondeund.
Lawrence se gesig raak warm, "Nee mevrou ons .."
"Toe maar jongman. Ek grap maar."
"Janice! Hier is iemand vir jou!" Die man se stem kan jou bangmaak.
" Wie is dit? Ek kom daddy!"
"Lawrence?" Sy klink opreg verbaas. "Wat maak jy hier?"
Sy het 'n sweetpak aan en sy lyk glad nie onaardig nie dink Lawrence. 
"Die blomme is vir u Mevrou." Hy gee die blomme vir Janice se ma.
"Is daar fout? Lyk vir my na sag maak. Janice? Is daar iets wat ons moet weet?"
"Nee mevrou. Ek wil vir Janice iets vra." Lawrence se warm gesig is nog warmer.
Mens kan die verligting op albei die ouers se gesigte sien. 
"Nou dan sê ek dankie. Jy is 'n sjarmante jongman. Kom ons los hulle alleen my man. Help my gou in die kombuis."
Meneer Louw lyk onwillig maar hy volg sy vrou.
Lawrence gee die sjokolade vir Janice. Sy wys hy moet sit.
"En nou L? Ek het nie eers geweet jy weet waar ek woon nie. Anton het jou natuurlik my adres gegee."
"Ja hy het." Lawrence begin praat oor die dag.
"Los daai L. Waarvoor is jy hier?"
"Janice, het jy al iemand om jou matriekdans toe te vergesel?"
"Nee." Sy probeer haar opgewondenheid wegsteek.
"Wil jy nie saam met my …"
"gaan nie. Ja Lawrence." Sy kon nie meer voorgee nie; sy voltooi sy vraag en antwoord sommer ook.
"Mammie!"
Mevrou Louw kom vinnig binne. "Wat is dit nou my kind? Wat het gebeur."
"Ek gaan saam met hom matriekafskeid toe."
"Regtig? Jy gaan dan nie."
"Nou gaan ek Mammie."
"Dan moet ons begin beplan. Lawrence bel jou ouers. Jy gaan hier eet." Mevrou Louw vra nie, sy sê.
Hy is eers so 20:15 oppad huistoe. By Lood straat draai hy in en ry tot regoor Sahara se woning. Hy sit 'n rukkie en kyk na die huis en besef toe dat die inwoners van die straat dit verdag mag vind. As hy maar net vir Sahara nog een keer kon sien.
Terwyl hy wegry kan hy nie help om aan Janice te dink nie. Sy is mooi. Hoekom sien hy dit nou eers? Daardie aand is sy gedagtes in 'n warboel. Dan is dit Sahara; dan is dit Janice. Hoe kan hy aan Janice dink as sy hart by Sahara is? Hy weet hy is lief vir Sahara. So Janice is seker net 'n fisieke aantrekking. Sy is pragtig.
Sy ma sou gesê het mans se gedagtes word deur hul hormone gedryf.


Hy spandeer meer tyd met Janice die volgende paar weke.
Die aand van die matriekafskeid breek aan. Janice lyk asemrowend. Lawrence voel 'n tinteling deur sy liggaam toe hy aan haar arm vat om haar die saal in te lei.


Sahara sit in haar motor en kyk na Lawrence. Hy is sooo aantreklik. Dit is dalk haar laaste keer dat sy hom sien. Alhoewel sy nie die huis gaan verkoop nie gaan sy weer Kaap toe binnekort. Sy moet iets met haar lewe doen.
Vanaand gaan sy stadigaan begin pak. By die huis gekom sien sy weer vir Lawrence vanaf die voertuig stap met Janice aan sy arm. Is dit jaloesie wat sy voel?
Hy is nog nie volwasse genoeg vir haar nie. Dan is daar nog die feit dat hy 'n ateïs is. Sy glo onwrikbaar in God. Dit sal nie werk nie. Haar gedagtes is nogtans by hom selfs nadat sy gebid en gaan slaap het.
©Rooi Mier 13.07.2022

Maandag 19 Desember 2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 5 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 5 - Rooi Mier

Maandagmiddag stap Lawrence en Anton by die skoolhek uit. 

"Juffrou Muller het mos 'n soortgelyke motor in dieselfde ligblou gehad L." Hy wys na 'n motor wat 'n entjie op in die pad staan. Hulle nader die voertuig van agter af.

Sahara sien hulle aankom in haar truspieël en besluit om te ry. "Wat het ek nou eintlik hier kom soek?" Sy weet haar eerste gedagte Saterdagoggend was Lawrence. So was hy die hele naweek in haar gedagtes.

"Dit kan tog nie wees nie, nie 'n kind nie. Is dit oor die aandag wat hy haar gegee het?"

Sahara het heelwat aandag gekry van mans, oud en jonk. Sy was 'n pragtige vrou maar het hulle altyd ignoreer. Nou het sy vir langer as 'n uur in haar kar gesit net om hom te sien. Daar is 'n vreemde aantrekkinskrag aan hom.

Sy ry huis toe.

Lawrence het klaar middagete gehad en sit en staar na sy Wiskundeboek. Hy was nie van plan om Wiskunde te doen nie maar tog het hy die boek uitgehaal. Hy sien vir Sahara voor die swartbord staan. Sy verduidelik 'n Algebra som.

Sy pa is met verlof vir 'n week. Hy sê hy wil net rus. Hy kom ingestap met kort broek, t-hemp en sandale aan. 

"Ek sien jy staar net na jou boeke. Wat gaan aan?"

"Niks nie pa."

"Aangesien dit niks is; ek wou jou nog altyd vra wat van daai Juffrou geword het wat die dag so ongeduldig was by die skool se hek. Daar was iets vreemds in jou stem toe ek jou uitgevra het oor haar."

"Wat bedoel pa?"

"Ek wil weet of jy verlief is."

Iris, Lawrence se ma stap die vertrek binne. "Is my Lawrence verlief? Wie is sy. Kan sy darem 'n koppie koffie maak en 'n eier kook?"

"Ai my vrou. Los die klong af."

Die ouers stap albei uit.

"Ek sal moet aanbeweeg. Anton het juis voorgestel dat ek Janice vra om my na die matriekafskeid te vergesel. Ek sal haar môreaand gaan vra."

Sahara kom net nie aan die gang met haar planne nie. Sy sou 'n week bly maar dit raak twee, later 'n maand. Sy het haar amper in Lawrence vasgeloop in die nuwe winkelsentrum maar hom eerste gesien en vinnig by 'n winkel ingeglip. Hy het haar nie gesien nie en verby gestap. 

Gister het sy op haar ma se dagboek afgekom. Sy het besluit om dit te lees. Miskien is daar 'n antwoord op haar vraag oor wie haar biologiese pa is en hoekom haar ma gedoen het wat sy gedoen het. Noudat sy weer bid voel sy beter maar kan nog nie kerk toe gaan nie.

Daardie aand gaan lê sy met die dagboek. Sy besef onmiddelik dat sy niks gaan vind nie want die dagboek begin 12 jaar gelede. Sahara besluit om tog te kyk of haar ma nie net dalk iets laat glip het oor haar verlede nie. 

Onderaan op die vyfde bladsy staan die woorde "eerste weggesluit." Die dagboek praat meestal van haar en haar pa. Sy voel ongemaklik omdat sy voel dat sy haar ma se privaatheid skend. Net die wete dat sy dood is laat haar verder soek.

Sy kry niks verder behalwe oor dinge wat sy reeds weet nie. Die volgende dag besluit sy om die goed in die motorhuis uit te sorteer. In die hoek staan 'n ou trommel wat toegesluit is. Dit is haar ma se ou resepteboeke. Sy was baie heilig daaroor niemand mag daarin gekrap het nie.

Skielik tref dit Sahara. "Eerste weggesluit"  beteken dalk iets belangriks is weggesluit. Waar anders as in dié trommel. Sy was altyd verbaas oor haar ma se heftige reaksie as iemand wou weet wat daarin toegesluit was. Alhoewel sy altyd nuuskierig was oor dié kookboeke en breipatrone wat daarin was het sy nooit die trommel oopgesluit nie alhoewel sy geweet het waar die sleutel is.

Sy gaan kry dit in haar ma se kamer. Sluit die trommel oop. Daar is inderwaarheid resepteboeke in, boeke oor blomme en breipatrone. Sy begin die boeke uit te pak; soort by soort. Dan is daar een waarop geskryf staan Maria.

Sy maak dit oop en sien dat dit 'n dagboek is. Dit begin so 'n jaar voor haar geboorte. Sy merk dat die datums ingeskryf is en daar soms weke verloop het sonder enige inskrywings.

Sahara besluit om alles eers net so te los, neem die dagboek en gaan sit en deursoek dit in die sitkamer. Dit kom soms voor of daar bladsye uitgeskeur is. Sy voel opgewonde maar tog ook bang. Wat gaan sy vind?

Nogtans besluit sy om dit eers weg te sit toe sy nie onmiddelik iets vind nie. 

Die dagboek sou vir nog 'n paar dae daar lê sonder dat sy dit oopmaak.

Lawrence gaan die volgende dag na skool winkel toe. Hy koop sjokolade en blomme. Tuis vra sy ma wat gaan aan.

"Mammie ek gaan vir Janice vra om .."

"Om jou meisie te wees" val sy hom in die rede.

"Nee Mammie." 

"Die vrou is altyd so haastig," dink hy. 

"Sy moet my matriekafskeid toe vergesel."

"Ooo", sê sy.

Skielik skree sy, "Matriekafskeid! Hoekom sê jy nou eers? Wanneer?"

"Volgende maand."

"Volgende maand? Jy sal laat ek 'n oorval kry. My seun moet 'n behoorlike afskeid hê en jy bly stil? Net vanaand gaan ons begin beplan. Wat gaan jy aantrek? En die kar? Watter kleur gaan die meisie se rok wees?"

"Stadig Mammie, jy moet kalm wees. Ek is nie iemand vir groot gedoentes nie."

"Ek is jou ma. My seun sal nie soos 'n vaaljapie lyk nie. Hy gaan kwaai uitsteek."

Lawrence lag, "Waar leer Mammie daai. Nogals kwaai uitsteek."

"My kind, jou ma is nie vaak nie. Ek hoor mos hoe julle jongspan praat."

Lawrence lag. "As Bennie nou hoor hoe sy Iris praat is jy 'n geskeide vrou en ek gaan by hom bly. Jy is net te vinnig en te besig in ander mense se sake."

"Jy raak te groot vir jou skoene. Moenie dat daai bietjie haartjies daar onder jou opmaak nie."

"Mammie nee man. Jy maak my skaam."

"Op 'n ernstige noot; hoe gaan dit met jou skoolwerk. Is jy gereed vir die komende eksamen?"

"Ons moet die Here dank dat Hy jou gedra het tot hier."

"Mammie weet mos ek glo nie daaraan nie."

"So jy was ook eers 'n bobbejaan toe word jy 'n mens. My kind, ek bid dat jou oë eendag gaan oopgaan. God het Homself aan my openbaar toe ons in daai groot ongeluk was. Jy was basies dood maar Hy het jou teruggegee aan my nog voordat die nooddienste daar was. Daar was geen hartklop en asemhaling nie totdat ek jou opgetel en na God toe opgelig en Hom gesmeek het vir 'n wonderwerk. So jy is my eie wonderwerk van God af."

"Mammie!"

Iris vryf oor sy kop en stap weg.

"Vanaand gaan ek ongesond eet." Sahara bestel 'n pizza. Sy gaan stort solank want dit neem omtrent 'n halfuur voor die pizza afgelewer sal word. Nadat sy haar slaappak aangetrek het gaan haal sy 'n 5ooml bottel Coke uit die yskas. Die pizza word afgelewer. Sy plaas dit op die koffietafel by die Coke. Toe gaan kry sy 'n kombers en haar ma se dagboek. Hopelik vind sy vanaand iets.

Sy laat waai twee snye pepperoni pizza en 'n halwe glas Coke. Nou is sy gereed vir die soek. 

Dit vat ook nie lank nie of sy sien 'n inskrywing. "Lionel het my vanaand gevra om met hom te trou. Ek is so opgewonde maar tog ook bang. Sê nou hy vind uit? Ons het selfs 'n datum vir die troue. Dit is 26 April 1981.

"Maar dit is mos nie die datum waarop hulle getrou het nie. Hulle het  2 Julie 1980 getrou." 

Sy het voorheen uitgewerk dat haar ma omtrent drie maande swanger was toe hulle getrou het. Sy was 22 Desember 1980 gebore. Die inskrywing wat sy nou lees is gedateer 15 Mei 1980. 

"Miskien het hulle uitgevind sy is swanger en besluit om vroeër te trou." 

Haar selfoon lui. Dit is antie Jenny wat wil weet hoe dit gaan. Sy weet sommer dit gaan 'n lang gesprek wees. Terwyl sy praat gaan sit sy die res van die pizza en die Coke in die yskas. 'n Halfuur later sê antie Jenny eers totsiens. 

Nou is sy nie meer lus vir daai dagboek nie. Dit pla haar egter nog dat haar ma geskryf het, "Sê nou hy vind uit." Daar is dus nog die moontlikheid dat Lionel nie haar biologiese pa was nie maar dan het dit voor die huwelik gebeur. Haar ma was dus nie ontrou in haar huwelik nie.

Skielik tref dit haar, "As my pa nie regtig my pa was nie, wie was dit dan? Hoe lyk hy? Waar is hy? Lewe hy? Weet hy ooit van my?"

©Rooi Mier 13.07.2022

#Stukkendeharte Hoofstuk 4 - Rooi Mier

#Stukkendeharte Hoofstuk 4 - Rooi Mier

Die skoolvakansie is verby. Al die grade is terug by die skool. Lawrence gaan net skool toe en terug. Hy glimlag nooit meer nie. Anton probeer af en toe maar kan nie tot hom deurdring nie. 

"Anton, wat gaan aan met jou vriend? Hyt baie verander die laaste paar weke. Is dit omdat Juf Muller weg is?" Janice knik in Lawrence se rigting. "Kyk hoe sit hy daar. Dit lyk vir my na opregte liefde. Onbeantwoorde liefde."

Anton glimlag, "Wat weet jy tog van liefde af?" Terwyl hy dit sê is sy oë vasgenael op Larisa. "Die lewe is snaaks", dink hy hardop.

"Meer as wat jy dink, meer as wat jy dink", fluister Janice. "Ek wonder of hy my nou sal raaksien noudat Juf Muller weg is." Sy loer net vinnig is Lawrence se rigting.

Mnr Figland kom die klaskamer binne net toe die klok lui vir pouse. "Jammer julle. Dit het langer geneem as wat ek verwag het. Sien julle mos weer die tweede laaste periode." 

Die leerders verlaat die klaskamer met hul sakke. Na pouse gaan hulle na die Afrikaanse klaskamer toe.

Anton en Lawrence sit nie by hul gewone plek teen die heining nie. Lawrence staan in die snoepie lyn terwyl Anton op 'n bank daar naby sit. Janice kom sit by hom. 

"Anton, jy is eintlik die verkeerde persoon om mee te praat maar ek voel nog steeds meer gemaklik om met jou te praat. Dink jy dit is lelik van my om bly te wees dat Juf Muller weg is?"

"Janice wat gaan aan. Jy is mos nie daaí tipe nie. Sahara het mos niks aan jou gedoen nie." Hy kyk na haar en merk dan op dat sy na Lawrence kyk.

Dit is die kyk wat mens gee as jy iemand bewonder.

"Janice, jy is tog nie, óóóf is jy? Ja jy is. Hoekom het jy niks gesê nie."

"Wat bedoel jy?"

"Ek kan mos sien jy is verlief op Lawrence. Jy het dan nog nooit 'n aanduiding gegee nie."

Janice staan vinnig op. "Nie 'n woord verder nie en jy vertel hom nie." Sy stap weg.

Sahara stap stadig rond tussen die winkels by die Waterfront. Sy is netjies en konserwatief aangetrek want sy was weg na 'n onderhoud toe. Net daar besluit sy om maar weer te kyk vir 'n onderwyspos. 

Haar gedagtes dwaal terug na Carlton - Van Heerden toe in Upington. Sy was gelukkig by daai skool voordat haar lewe omver gegooi is.

Sy voel so eensaam hier in die Kaap. Hier is familie maar hulle weet nie dat sy hier is nie en sy wil dit so hou. Net gister het sy besluit dat haar lewe nie gaan stilstaan omdat haar ouers, of so het sy gedink, oneerlik met haar was nie. 

Die naweek gaan sy Upington toe sodat sy die huis beskikbaar kan maak vir 'n huurkontrak, haar ma se voertuig te verkoop en die meubels te verkoop, stoor of weggee. Haar ma het 'n baie duur smaak in meubels gehad. Miskien moet sy dit net verkoop en die geld aan die weeshuis skenk.

Om die een of ander rede dink sy van gister af baie aan Lawrence, haar gewese graad 12 leerder. Dit het begin gebeur net nadat sy besluit het haar lewe kan nie vir ewig stil staan nie. Sy het op 'n manier tog die aandag geniet. Sy glimlag, "Mev van Wyk nogals. Ek wonder wat doen hy nou; nee hulle. Sahara jy het hom 'n kind genoem, dink tog net helder." Tog is daar 'n afwagtende opgewondenheid in haar. 

Dit is Vrydagaand. Sahara trek by die oprit in. Dit voel vreemd om hier te wees na 'n paar maande. Sy klim uit en die nuustak is alreeds daar met die sleutel.

"Goeie naand my kind. Jy lyk goed. Kom ek maak vir ons koffie dan vertel jy my alles. Gaan jy bly? Hoe is die Kaap? Waar .."

"Stadig antie, ek sal u môre vertel. Ek was so pas vir amper 12 ure agter die stuurwiel. Nou wil ek net stort en slaap."

"Net een koppie koffie."

"Asseblief antie. Ek is regtig moeg. Sien antie môre."

Sahara maak die motorhuis oop met afstandbeheer in trek die kar in.

"Ongeskikte , ongemanierde, ondankbare kind." Sandra stap om na haar huis toe.

"Goeie nag vir antie ook en baie dankie."

Sy stap die huis binne. Sandra het die deur oopgesluit. Dit is duidelik dat daar vandag skoongemaak was. "Sy is tog 'n dierbare mens, net bemoeisiek."

Terwyl Sahara stort begin die herinneringe terugkom. Al die vreugde wat sy as kind ervaar het, die hartseer van die sterfte van die man wat sy as haar pa beskou het. Dit was 'n lelikke ongeluk. Kop-aan-kop botsing met 'n trok.

Sy onthou hoe sy en haar ma mekaar ondersteun het. Hoe die lag teruggekom het. Dan die skielike sterfte van haar ma. Volgens die outopsieverslag was dit maagkanker. Haar ma moes dit weggesteek het want die pyn moes soms ondraaglik gewees het.

Sahara het op 'n jong ouderdom besluit om die Here aan te neem. Hoekom het Hy toelaat dat haar ma sterf? Vandat haar ma begrawe was, was sy nog nie weer in die kerk nie. 

Daar kom skielik 'n bitterheid in haar op. Sy onthou skielik die middag toe sy gehoor het dat haar pa nie haar biologiese pa was nie. "Hoe kon haar ma dit aan haar pa doen? Wie is die man wat haar verwek het?" 

Sy kan nog nie glo dat haar ma so vals en ontrou kon wees nie. Nie haar moeder Maria nie.

Nadat sy haar slaapklere aangetrek het raak die stilte in die huis oorweldigend. Sy begin skielik te huil. Eers was dit net trane maar later is dit rou snikke. Toe sy later bedaar begin sy spontaan haar hart voor die Here uitstort. Sy het laas die oggend voor haar ma afgesterf het gebid.

Sy gaan klim onder die komberse in en raak omtrent onmiddelik aan die slaap.

©Rooi Mier 13.07.2022

Hoofstuk 1

Hoofstuk 2

Hoofstuk 3

Onder die Brug 1


#Stukkendeharte S1 Hoofstuk 3 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S1 Hoofstuk 3 - Rooi Mier

Sahara is nie haarself die volgende dag by die skool nie. Sy klink onsamehangend en onvoorbereid. As iemand 'n vraag wil vra sê sy net, "Nie nou nie." Sy het haar eie klas, 12A vir Wiskunde die laaste periode. 

Hulle het haar nog nooit so gesien nie.

Lawrence is bekommerd en probeer om haar met sy Mev van Wyk grappie op te beur.

"Moenie familiër raak nie kind. Bepaal jou by jou ouderdom. Ek speel nie met kinders nie," snou sy hom toe. 

Daar heers 'n doodse stilte. Sy het nog nooit so opgetree nie. Lawrence voel of hy in die aarde kan wegsak. Anton kyk na hom met 'n vraagteken op sy gesig.

Anton voel by moet ten minste sy vriend verdedig, "Juffrou is maar net vier of vyf jaar ouer as hy."

"Wil my dit verder vat in die hoof se kantoor of gaan my jou mond hou."

Toe die klok lui gryp Sahara net haar sak en storm uit.

Gewoonlik is omtrent almal teen die tyd by die deur uit, maar vandag bly almal verstom sit. Dan begin dit skielik te gons want hulle ken nie hul geliefde juffrou so nie. Vir so 'n jong onderwyseres het hulle hope respek vir haar.

Anton stap na Lawrence toe, vat aan sy skouer en fluister, "Het jy haar vertel?"

"Nee!" 

Dit is 'n baie kortaf antwoord. Lawrence gryp sy sak en stap vinnig uit.

Gewoonlik moet die onderwysers nog 'n tydjie aanbly voor hulle huistoe gaan. Sahara is egter ìn haar motor oppad uit. Sy blaas ongeduldig vir 'n ouer wat 'n leerder sommer in die hek oplaai. 

Lawrence stap verby. Gewoonlik stap hy saam met Anton maar sy pa kom hom vandag optel. Hy moet 'n nuwe skootrekenaar kry. Hulle gaan sommer direk hiervandaan winkel toe.

"Middag oom Bennie", groet Anton in die verby gaan.

" Middag Anton." Bennie van Wyk skakel die motor aan en sê, "Middag seun. Wie is daai ongeskikte onderwyseres?"

"Middag pa. Sy is nie 'n ongeskikte onderwyseres nie. Dit is my Wiskunde onderwyseres." 

Lawrence klink driftig. Sy pa kyk hom aan. Iets is fout met my kind. Hy bly egter stil. "Ek sal maar later vra" dink hy.

Hy skakel die lugversorging aan want dit is nogal warm. Upinton is mos meestal baie warm. In Schroeder Straat parkeer hy en hulle stap verder op soek na 'n eetplek voor hulle verder gaan.

Tuis stap Sahara reguit na haar kamer. Jenny wil nog vra of sy iets wil hê maar sy maak haar kamerdeur toe. Sy kom nie weer uit nie.

Die volgende paar weke gaan dit nie beter  by die skool nie. Dit is amper Junie vakansie maar die matrikulante gaan nie met vakansie nie so hulle maak nie planne nie. Winterskool wag vir hulle. Hulle gee ook nie juis om nie want dit is hul laaste paar maande met die meeste van hul vriende. Na dit gaan hulle verskillende rigtings in. Die oorgrote meerderheid sal seker in Kaapstad of Johannesburg opeindig, hetsy vir studies of werk. Kimberley en  Bloemfontein is ook genoemde bestemmings met 'n Gqeberha hier en 'n Durban daar.

Twee weke voor die skole sluit vir Junie vakansie tref 'n slag hulle. Sahara het bedank. Die dag as die skole sluit is dit haar laaste dag. Die leerders is geskok. Dit is skielik. Sy is op haar jong ouderdom 'n baie goeie onderwyseres en die beste Wiskunde onderwyser op die skool.

Lawrence en Anton sit by die omheining en bespreek dit. 

"Wat nou L. Gaan jy haar vertel voor sy weggaan?"

"Ek kan nie Buds. Vandat haar ma afgesterf het, het sy baie verander. Ek sal haar maar gaan opsoek by haar huis."

"Oeeeeh, ek weet nie so mooi nie L"

"Ek moet net Anton. Sy is my toekoms." 

Die vakansie breek aan. Die matrikulante is die enigste leerders wat klasse bywoon. Dit is gewoonlik so van 09:00 tot 11:00. 

Lawrence besluit die tweede Maandag van die vakansie dat hy nie langer gaan uitstel nie. Hy gaan na klas by haar 'n draai gaan maak. "Hoe gaan sy weet hoe hy voel as hy haar nie gaan vertel nie?"

Hy weet min of meer waar en besluit om nie vir Anton te sê nie. Na klas glip hy vinnig weg toe Anton eers by die kleedkamer ingaan.

In Bellvue vra hy bietjie rond. Hy kry die huis en stap by die hek in. 

"Wat soek jy?" Sandra vra oor die heining. 

" Woon Juffrou Muller hier mevrou?"

"Ek is en was nog nooit 'n mevrou nie. Hoekom vra jy?"

Lawrence dink, "Dit is 'n bemoeisieke antie die."

Hardop sê hy, " Ek het 'n boodskap vir haar van die skool af." 

"Sy is in die Kaap. Seker haar pa gaan soek. Gee maar die boodskap vir my. Ek sal sorg dat sy dit kry."

"Ek kan nie mevrou, jammer mejuffrou. Dit is privaat. Weet u wanneer sy gaan terugkom?"

"Miskien oor 'n maand, miskien nooit. Sy gaan die huis verkoop. Gee maar die boodskap."

"Nee mejuffrou." Lawrence stap vinnig hek toe. Hier moet hy wegkom.

"Onbeskofte kind!", kastig nie vir sy ore bedoel nie maar Sandra praat hard genoeg vir hom om te hoor.

Sahara staan en uitkyk oor die see uit die woonstel wat sy huur in Seepunt.

"Hoe kon my ouers so 'n groot geheim van my weggehou het?"

Die trane vloei opnuut teen haar wange af.

"Ek is gebreek. Stukkend." 

Sy is onversorgd. Sy gee nie om nie. Haar hare is geborsel maar net vinnig. Dit was ook maar net omdat sy melk moes gaan koop.

©Rooi Mier 13.07.2022

Hoofstuk 1

Hoofstuk 2

Hoofstuk 4

Onder die Brug 1

#Stukkendeharte S1 Hoofstuk 2 - Rooi Mier

#Stukkendeharte S1 Hoofstuk 2 - Rooi Mier

Die Maandagoggend is hy vroeg oppad skool toe. Sy naweek was glad nie lekker. Hy het ook tot 'n besef gekom dat hy nie net Juffrou Muller bewonder nie; hy het diep gevoelens vir haar.

Al die leerders beweeg na die saal toe die klok lui. Dit is die Maandagoggend byeenkoms.

Na skriflesing en gebed deur Mnr Jacobs, gaan staan Mnr Solomons, die skoolhoof agter die mikrofoon. Nadat hy die gewone gesê het oor samewerking tussen onderwysers en leerders, kondig hy aan dat Juffrou Muller nie die week by die skool gaan wees nie. Haar ma het skielik Vrydag afgesterf. Die begrafnis sal Donderdag wees maar net 'n onderwyser of twee gaan dit bywoon ter ondersteuning. Die Mullers wil dit klein hou. 'n Hulponderwyser gaan haar klasse waarneem. 

Dit was die langste week in Lawrence se skoolloopbaan. Hy deel nie sy ontdekking van liefde met sy beste vriend, Anton, nie, want hy weet wat die gaan sê, "Chill L, jy is nog jonk buddy. Los daai vir die adults".

Die volgende Maandag is Juffrou Muller terug by die skool. Sy is stil en effens teruggetrokke.

Lawrence is ook stil. Hy gaan haar respekteer want haar seer is sekerlik nog vlak en tweedens weet hy nie hoe om sy nuutgevonde gevoelens te hanteer nie. Teen Woensdag besluit hy om dit met Anton te deel.

Gedurende die pouse sit hulle teen die heining naby die rugbyveld.

"Buds, daar is iets wat ek vir jou moet sê."

"Daai moet iets groots wees L want jy issie jouself nie."

"Ek is lief vir Sahara."

"Ag man, nie weer nie. Ek weet mos jy het 'n crush op haar."

"Anton, my buddy, ek is lief vir haar, hoor jy, lief vir haar."

"L, jy is toggie ernstig nie." Anton kyk na Lawrence en sien dat hy ernstig lyk.

"Dit kan nie wees nie L, of is dit? Chill man, jy is nog hopeloos te jonk. Jou lewe lê nog voor en daar is nog hope tyd voor jy ernstig moet raak. Los die adult goed af."

"Ek kan nie Anton."

"Man, miskien moet jy vir Larisa bietjie uitneem. Jy weet hoe sy oor jou voel."

"Sy is oraait maar nie vir my nie."

Twee weke later. 

"Klas, ek gaan vanmiddag bietjie vroeër weg. Daar is dringende sake wat ek moet afhandel. Moenie dit moeilik maak vir Janice nie. Respekteer haar as julle klasprefek."

Sy kyk na Lawrence, "volg Lawrence se voorbeeld. Hy is deesdae stil en konsentreer net op sy skoolwerk.

Die klas giggel; almal behalwe Anton. Lawrence kyk uitdrukkingloos na haar en almal is verbaas dat hy niks sê nie.

Sahara weet nie wat om te dink nie want dit is nie dié Lawrence wat sy ken nie. Sy tel haar handsak op, sê, "Sien julle môre en stap uit."

Oppad huistoe stop sy by 'n winkel en koop 'n pakkie beskuitjies en groente. Sy en haar ma het altyd 'n pakkie opgeëet ten minste een keer per week. Skielik wel daar trane op in haar oë. 

"Here, hoe kon U so iets aan my doen? Ek het my ma nog sò nodig."

Daar staan 'n seuntjie by die uitgang van die winkel se parkeerarea. Sy gee die pakkie beskuitjies en 'n R20 vir hom deur haar motorvenster.

Toe sy in Bellvue in haar straat, Lood straat, afdraai stop sy eers, vee haar trane af voor sy by haar oprit inry. Dit voel vreemd om op die ouderdom van 22 die eienaar van 'n huis te wees. Dit is 'n lekker plek in 'n stil  doodloop straat. Wat meer soek 'n mens. Wanneer die boedel vanmiddag afgehandel word sal sy moet besluit oor haar toekoms sonder ouers. Haar pa is ook oorlede en sy was 'n enigste kind.

By die voordeur steek sy vas. Dit staan oop en sy hoor haar tannie wat tydelik by haar woon se stem. 

"Ai, Sandra, ek weet nie wat die arme kind gaan doen as sy moet uitvind haar pa was nie haar biologiese pa nie." 

Sahara weet nie van wie sy praat nie maar bly staan tog.

"Regtig? Wat vertel jy my nou?" Dit is duidelik dat daar geskinder word. 

Sy glimlag want sy dink aan haar ma se woorde. "Sandra is ons nuustak. As jy iets oor die buurt wil weet vra haar."Sy sal dan onmiddelik daarna sê, "Here vergewe my want ek skinder nou van Sandra."

Sandra en haar tannie Jenny kom goed oor die weg. Dit is duidelik hoekom. Sahara wil net verder ingaan toe haar tannie sê. "Maria moes nooit so 'n groot geheim van haar weerhou het nie."

Maria was Sahara se ma.

"Ek dink tog jy moet dit maar op jou neem om Sahara te vertel Jenny," sê Sandra.

Sy sien skielik Sahara se weerkatsing in die spieël. 

"Ek moet gaan Jenny," raak sy haastig. Sy vlug sommer by die sydeur uit.

"Middag tannie Jenny. Wat moet u my vertel?"

"Middag Sahara. Het jy ons afgeluister?" Sy wag nie vir 'n antwoord nie, "Ons moet onmiddelik ry anders is ons laat."

Oppad na die prokureer toe is dit doodstil in die kar. Sy hoor maar ook nie wat die prokureur te sê het nie; net soos sy wil hoor maar ook nie wat haar tannie haar gaan vertel.

©Rooi Mier 13.07.2022

Hoofstuk 1

Hoofstuk 3

Hoofstuk 4

Onder die Brug 1

Plekke in #Stukkendeharte -Upington

Plekke in #Stukkendeharte -Upington Gordonia Hospitaal Dr Harry Surtie Hospitaal Upington Medi -Clinic ...